Nuwe radioprogram, Die Kwik Styg – jou no. 1 klimaatsverandering inligtingsbron
Die uitwerking van klimaatsverandering word oral gevoel, met verreikende gevolge. RSG het onlangs ‘n nuwe reeks, Die Kwik Styg, geloods waarin dié kwessie indringend bespreek sal word. Dié reeks is ‘n inisiatief van die Wes-Kaapse Departement van Landbou, wat dit ook vervaardig.
Kenners verwag dat minder water Suid-Afrika se voorland is wat voedselsekuriteit in gedrang sal bring. Aanbieder Lizma van Zyl gesels in die reeks met mense van regoor die spektrum en win ook kennerswenke in om Suid-Afrika meer veerkragtig te maak. Lees gerus meer oor wat in hierdie program verwag kan word hier.
Nie naby ‘n radio? ‘n Potgooi van die program sal ook weekliks op RSG se webwerf onder Middag op RSG 1 geluister kan word. Skakels na vorige programme word ook hier onder gelys.
Moenie Die Kwik Styg mis! Elke Vrydagmiddag om 12:45 op RSG 100 -104fm. Volg ons ook op Twitter @WCGovAgri om die tema van die week te volg.
Ná twee jaar waarin Die Kwik Styg op klimaatsverandering gefokus het, is dit tyd om te groet. Lizma van Zyl gesels in die laaste program met dr. Ilse Trautmann van die Wes-Kaapse Department van Landbou, wie se breinkind die reeks was. Hulle bespreek die uitdagings wat deur die uiteenlopende groep kundiges oor die afgelope twee jaar uitgelig is, asook die pad vorentoe.
Lizma van Zyl sit haar gesprek voort met een van die wêreld se voorste kenners van klimaatsverandering. Prof. Francois Engelbrecht van Wits is onder meer lid van die Verenigde Nasies Interregeringspaneel vir Klimaatsverandering. Hy lig die grootste uitdagings uit, en bespreek ook die teenvoeters.
Lizma van Zyl gesels in die eerste van twee programme met prof. Francois Engelbrecht, ‘n lid van die Verengide Nasies se Interregeringspaneel vir Klimaatsverandering, oor die afgelope jaar se welslae en mislukkings, wat betref die beperking van kweekhuisgasvrystellings.
‘n Bekende en hoogsgerespekteerde wetenskapskrywer en -joernalis met ‘n belangstelling in klimaatsverandering het wenkbroue laat lig én ‘n debat ontlok ná haar ontboeseming oor haar ineenstorting. Lizma van Zyl gesels met Leonie Joubert oor haar wanhoop weens die gevolge van klimaatsverandering, en haar dapper reis sedertdien.
Die onmiddellike droogteprobleme in Suid-Afrika wat dringende aandag verg, is dié wat die land se boere raak, nie dié wat munisipale watervoorsiening beïnvloed nie. So sê ‘n wêreldkenner op die gebied van waterbestuur en -beplanning, prof. Mike Muller. Lizma van Zyl, gesels met prof. Muller oor die noodsaaklikheid van veel beter waterbeplanning en -bestuur in Suid-Afrika.
Die Wêreldnatuurfonds bestempel klimaatsverandering as een van die grootste bedreigings vir die wêreld, en as ‘n reuse maatskaplike en ekonomiese kwessie. Lizma van Zyl gesels met die bestuurshoof van WWF Suid-Afrika, dr. Morné du Plessis, oor dié organisasie se inisiatiewe, en die toekomsprentjie vir Suider-Afrika.
‘n Sogenaamde “groen boek” verskaf waardevolle inligting en praktiese wenke aan van Suid-Afrika se mees kwesbare menslike nedersettings in die stryd teen klimaatsverandering. Lizma van Zyl gesels met projekbestuurder Willemien van Niekerk oor dié innoverende en uiters belangrike projek deur die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad en vennote, waarby sowat 18 miljoen mense reeds baat.
Die oorlewing van die wildbedryf te midde van klimaatsverandering is in die kollig. Lizma van Zyl gesels met wildlewe-wetenskaplike Deon Furstenburg oor die noodsaaklikheid daarvan dat wildspesies van habitat moet kan verander om klimaatsverandering te kan oorleef. Soos Furstenburg verduidelik is dit egter makliker gesê as gedaan.
Om deesdae gesond en lekker, maar ook klimaatslim te eet, is ‘n uitdaging en almal het ‘n stuiwer in die armbeurs te gooi oor wat nou eintlik die regte dieët vir die planeet is. Navorsing wys dat die voedselketting se koolstofvoetspoor groot afdrukke laat. Lizma van Zyl gesels met koskenner Aletta Lintvelt oor hoe ons klimaatslim kan eet sonder om afstand te doen van ons kosplesiertjies.
Een van Afrika se voorste natuurbewaringssorganisasies, Leadership for Conservation in Africa, bring al hoe meer jongmense vanoor die vasteland bymekaar om hulle stories te vertel. Lizma van Zyl gesels met Ruaan Schlebusch wat help om die LCA Spark Talks byeenkomste in Kaapstad te fasiliteer. Ons hoor onder meer waarmee hierdie innoverende jongmense vorendag kom om klimaatsverandering te help beperk.
Koolstofdioksiedvrystellings moet binne die volgende elf jaar met 45% verlaag word as ‘n ramp afgeweer wil word. So sê klimaatsverandering-deskundige, prof. Francois Engelbrecht. Lizma van Zyl praat in die eerste van twee programme met hom oor die bevindings van hulle interregeringspaneel-verslag, veral wat vir suidelike Afrika voorlê, gegewe die verwagte skerp temperatuurstygings oor die volgende paar dekades.
Daar word gesê dat klimaatsverandering en toerisme die spreekwoordelike twee kante van ‘n muntstuk is. Terwyl klimaatsverandering groot bedreigings vir ekostelsels en biodiversiteit inhou, dra toerisme-verwante bedrywighede ook by tot klimaatsverandering. Lizma van Zyl gesels met prof. Gijsbert Hoogendoorn oor dié dilemma, veral vir Suid-Afrika wat swaar steun op toerisme.
Daar word beraam dat bykans die helfte van die wêreld se vrugbare landbougrond oor die afgelope 150 jaar verdwyn het weens konvensionele boerderypraktyke. Grondgesondheid is nie net iets wat die landbousektor raak nie, want as ons boere en produsente se grond vrugbaar is, beteken dit kos op die tafel. Lizma van Zyl gesels met grondwetenskaplike dr. Hendrik Smith van GraanSA oor die stand van Suid-Afrika se grond, en hoe dit deur klimaatsverandering geraak word. Die noodsaaklikheid van bewaringsboerdery word ook bespreek.
Mense wonder hoekom Suid-Afrika met sy sowat 2,500 kilometer-lange kuslyn nie al lankal, op grootskaal, met die ontsouting van seewater begin het as teenvoeter teen erge droogtes en watertekorte nie. Miljoene mense in ander dele van die wêreld het vars drinkwater danksy ontsoutingsaanlegte. Daar is op die oomblik sowat tien klein ontsoutingsaanlegte in Suid-Afrika, maar hoekom so min? Lizma van Zyl stel dié en ander vrae aan dr. Willem de Clercq, ‘n biowetenskap-ingenieur aan die Universiteit Stellenbosch se Waterinstituut.
Die voëlbevolking van die Kalahari word ernstig bedreig deur aardverwarming, soveel so dat navorsers vrees dat algehele uitwissing hulle voorland is. Hoewel voëls by veranderende klimaatsomstandighede kan aanpas, vind wat ons nou beleef heeltemal te vinnig plaas. Lizma van Zyl gesels met dr. Susan Cunningham, ‘n dosent in voëlkunde aan die Universiteit van Kaapstad en ‘n kenner van die uitwerking van klimaatsverandering op ons gevleuelde vriende.
Die meeste van ons weet nie veel van erdwurms nie, maar dié nederige spesie speel ‘n reuse rol in die natuur – soveel so dat die erdwurm as een van die natuur se voorste grondwetenskaplikes beskryf word. Lizma van Zyl gesels met tuinboukundige Ernst Moller oor alles en nog wat van erdwurms en die wat hulle in klimaatsverandering speel.
Navorsing oor klimaatsverandering is van kritiese belang, nie net vir die behoud van die ekonomie nie, maar ook die samelewing in geheel. Lizma van Zyl gesels met ‘n internasionaal-gerespekteerde navorser en projekbestuurder in landbou, voedselsekuriteit en klimaatsverandering oor dié belangrike saak. Prof. Stephanie Midgley werp lig op die uitdagings en die gehalte van navorsing oor klimaatsverandering, en hoe doeltreffend inligting aan die publiek oorgedra word.
Ons het al in hierdie reeks by kenners gehoor hoe klimaatsverandering stadig maar seker mense se psige begin raak. Al hoe meer navorsing kom aan die lig oor geestessiektes by mense wat bekommerd is oor wat met die planeet gebeur, maar wat van navorsers wat daagliks met dié kommerwekkende gegewens werk? Hoe affekteer dit hulle? Lizma van Zyl gesels met dr. Emma Archer van die Universiteit van Pretoria oor die uitdagings van haar en ander navorsers en wetenskaplikes se werk.
Met klimaatsverandering in gedagte, kyk motorvervaardigers toenemend na elektriese motors om ons koolstofvoetspoor te verklein. Is dié soort voertuie egter ‘n haalbare en volhoubare opsie vir Suid-Afrika met al sy energie-uitdagings? Lizma van Zyl stel dié en ander vrae aan die dekaan van die Fakulteit Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch, prof. Wikus van Niekerk.
Suid-Afrika genereer elke jaar sowat 360-duisend ton elektriese- en elektroniese afval, waarvan die oorgrote meerderheid op stortingsterreine beland. Lizma van Zyl gesels met die voorsitter van die E-afval Vereniging van Suid-Afrika, Keith Anderson, oor die gesondheids- en omgewingsrisiko’s van e-afval. Hy verduidelik hoe daar veilig en verantwoordelik van dié soort afval ontslae geraak kan word.
Baie van ons stel eenvoudig nie belang in wetenskaplike inligting nie, omdat dit of te ingewikkeld is, of ons net te lui is om te luister. Hoe dit ook al sy: een so ‘n onderwerp wat nie langer geïgnoreer kan word nie is klimaatsverandering. Lizma van Zyl gesels met die bekroonde wetenskapkommunikasie-navorser, dr. Marina Joubert, oor die doeltreffendheid van klimaatsveranderingkommunikasie, en die eerste aanlynkursus in wetenskapkommunikasie in Afrika.
Die wind besoedel nie, en is ‘n onuitputbare bron van energie. Lizma van Zyl gesels met die dekaan van die Fakulteit Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch, prof. Wikus van Niekerk, oor windenergie – een van die oudste en mees doeltreffende vorms van herwinbare energiebronne. Prof. Van Niekerk beskryf hernubare energie as energie wat nie die natuurlike balans van die wêreld versteur nie.
Dit word beskryf as ‘n sluimerende tragedie – die vernietigende uitwerking wat klimaatsverandering op aasvoëls het. Lizma van Zyl gesels Charné Wilhemi van VULPRO, ‘n organisasie wat hom beywer vir die bewaring en beskerming van aasvoëls. Hoewel dié voëls dalk nie die mooistes onder die gevleueldes is nie, speel hulle ‘n noodsaaklike rol in die ekostelsel.
Miljarde rande gaan jaarliks verlore weens die skade wat indringerplante aanrig. Dit word beskou as die enkele grootste bedreiging vir plant- en dierebiodiversiteit in Suid-Afrika. Lizma van Zyl gesels met Cobus Meiring van die Suid-Kaap oor hoe hulle dinamiese grondeienaarsinisiatief dié toenemend ekologies-sensitiewe omgewing teen indringerplante en ander bedreigings weens klimaatsverandering beskerm.
Damme sal ‘n al groter rol speel soos klimaatsverandering vererger. Lizma van Zyl gesels met ‘n baanbreker op die gebied van volhoubare waterbestuur, prof. Tally Palmer. Sy sê dit is noodsaaklik dat die gemeenskap betrek word, omdat Suid-Afrika se water nie behoorlik bestuur en bewaar kan word sonder samewerking nie.
Suid-Afrika sal binnekort met ‘n nuwe weerwaarskuwingstelsel spog, wat na alle verwagtings sal bydra om rampe te voorkom. Die stelsel is deur die Suid-Afrikaanse weerdiens in samewerking met rampbestuurdienste ontwikkel. Lizma van Zyl gesels met weervoorspeller Elizabeth Webster oor die voordele van die nuwe stelsel, veral gegewe klimaatsverandering.
Ondergrondse water is by verre die grootste bron van varswater wêreldwyd, met sowat twee miljard mense wat daarop staatmaak om te kan oorleef. Lizma van Zyl gesels met geohidroloog, Riona Kruger, oor die langslewendheid van dié water soos die aarde verwarm. Sy verduidelik hoe noodsaaklik dit is dat ons verantwoordelik te werk gaan met die sink van boorgate.
Ons vierbeenvriende is kwesbaar wat klimaatsverandering betref, en benodig ons hulp in uiterste weersomstandighede. Lizma van Zyl gesels met veearts dr. Hilldidge Beer, wat waarsku dat mense nie in die warm somermaande hulle honde se pelse moet laat skeer nie. Sy sê dis hulle beskerming teen koud én warm.
Suid-Afrika sal eersdaags sy naam voeg by die lang lys lande wat spesifieke wetgewing het vir klimaatsverandering. Lizma van Zyl gesels met die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut se regsadviseur, Marthán Theart, oor wat die nuwe reëls en regulasies behels en wat oortreders se voorland is.
Heelwat Suid-Afrikaanse skole sal eersdaags hulle elektrisiteitsmeters vir sonkragpanele verruil. Lizma van Zyl gesels met ‘n onderwyseres van die eerste skool in die Wes-Kaap waar ‘n sonkragstelsel nou byna voltyds gebruik word. Soos Anchen Burger vertel, is leerders eerstehands by dié innoverende projek betrokke, en sommer baie opgewonde hieroor.
Lizma van Zyl gesels verder met die innoverende wynmaker Eben Sadie van die Swartland oor wat dit beteken om klimaatslim te wees. Eben kyk altyd na die groter prentji. Dit sluit nie net die natuur in nie, maar ook die mense wat elke dag in die wingerde werk. Hy glo ‘n boer te voet of perd is veel meer werd as een in ‘n bakkie.
Klimaatslim is die sleutelwoord in ‘n bekroonde wynmaker se woordeskat. Lizma van Zyl gesels met Eben Sadie van die Swartland in die eerste van twee gesprekke oor sy unieke boerderypraktyke. Sadie, wie se leuse dit is: proe die grond, nie die masjien nie, glo dis noodsaaklik vir boere om hulle horisonne te verbreed en álles te bevraagteken.
Klimaatsverandering het so ‘n groot uitdaging geword dat die tersiêre kurrikulum wat vir Suidelike Afrika ontwikkel is, reeds met groot sukses aangebied word. Lizma van Zyl gesels met dr. Melanie Skead van die Universiteit Stellenbosch, wat ‘n belangrike rol gespeel het met die ontwikkeling van dié meestersgraadstudies. Dit het ten doel om die nuwe generasie in klimaatsverandering en volhoubare ontwikkeling in die streek op te lei.
Veldbrande kom al hoe meer voor weens meer hittegolwe en minder water. Lizma van Zyl gesels met Louise Wessels van Greater Overberg Fire Protection Association oor die groot rol wat dié organisasie speel om mense in die streek te beveilig. Sy gee ook handige wenke oor hoe ons onsself en ons eiendom teen brande kan beskerm.
Die droogte in groot gebiede van Suid-Afrika is besig om krisisafmetings aan te neem. Daar word uit sekere oorde beraam dat minstens R3-miljard rand benodig word om ‘n volskaalse krisis in die landbousektor af te weer. Lizma van Zyl gesels met die bestuurshoof van Graan SA, Jannie de Villiers, oor wat graanboere wat hulself in dié benarde posisie bevind, te doen staan.
Lizma van Zyl gesels met dr. Johann Augustyn, ‘n wetenskaplike en sekretaris van die SA Deep-sea Trawling Industry Association, SADTIA, oor die wydverspreide gevolge van aardverwarming op oseane. Hy verduidelik dat fisiologiese gevolge op vis- en ander marinespesies ‘n versnelde metabolisme asook ‘n versteuring van hormoonvlakke insluit.
Boere kan eersdaags krag aan Eskom lewer… Ja, dit klink dalk vreemd, maar boere met sonkragstelsels sal volgens ‘n nuwe Eskom-skema enige oortollige krag in die netwerk kan stort. Die projek is nie net voordelig vir boere nie, maar sal help om die druk om die nasionale energienetwerk te verlig. Lizma van Zyl gesels met Chris Schutte van Sonfin oor dié projek waarby alle Suid-Afrikaners kan baat.
Bewaringslandbou word al hoe belangriker vir Suid-Afrikaanse boere, weens aardverwarming. Lizma van Zyl gesels met dr. Hendrik Smith van Graan SA oor dié vorm van boerdery wat, hy ‘n unieke wapen in die stryd teen klimaatsverandering noem. Ons hoor ook meer van Graan SA se koolstofvoetspoor-projek.
‘n Nederlandse maatskappy is besig om wêreldwyd naam te maak vir sy proses om afval en ongebruikte kos, wat baie soetgoed insluit, in veevoer te omskep. Lizma van Zyl gesels met Karel van der Velden vanuit Veulen oor Food-for-Feed wat nie net help om aardverwarming teen te werk nie, maar ook vir boere meer geld in die sak besorg.
Die wêreld se vleilande is aan die verdwyn, en klimaatsverandering is een van die hoofoorsake. Min mense besef watter groot rol dié ekostelsels in mens en dier se lewe speel. Lizma van Zyl gesels met varswater-ekoloog dr. Kas Hamman oor die bedreigings vir die voortbestaan en waarde van vleilande.
Wêreldleiers op die gebied van klimaatsverandering het onlangs in Portugal bymekaargekom om sowel uitdagings as oplossings te bespreek met spesifieke betrekking tot die wynbedryf. Lizma van Zyl gesels met een van Suid-Afrika se twee afgevaardigdes in Porto, Andre Roux, oor die uitkoms van die beraad, en die pad vorentoe.
Die spekboom word beskou as ‘n wonderplant. Dit is gehard, hoog in voedingswaarde vir mens en dier, en uiters doeltreffend met die verwydering van koolstof uit die atmosfeer. Lizma van Zyl gesels met Peter Shrimpton van Heart Capital oor hulle spekboomprojek, wat besig is om lewens te verander.
Ons hoor daagliks hoe nadelig plastiekbesoedeling is, maar wat is die vernaamste probleme en wat kan ons daaraan doen? Lizma van Zyl gesels met die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Plastiekherwinnersorganisasie, Johann Conradie. Hy deel ook wenke vir die landbousektor en stedelinge oor maklike en doeltreffende maniere om plastiek te herwin en dit so uit die natuur te hou.
Klimaatsverandering is nie selektief nie, en selfs ‘n gewas soos sorghum begin ly onder stygende temperature. Sorghum, ‘n stapelvoedsel vir miljoene, is egter ‘n geharde gewas wat soos die aarde verwarm selfs ‘n belangriker rol sal speel. Lizma van Zyl praat met die landbou-ekonoom Petru Fourie van Graan SA oor wat sorghum in die toekoms vir mens en dier kan beteken.
Lizma van Zyl gesels met bioveiligheidskemmer dr. Hennie Groenewald oor die genetiese modifikasie van landbougewasse. Hy verduidelik waarom sekere gewasse geneties gemodifiseer word, wat se rol klimaatsverandering speel en hoe daar seker gemaak word dat dié proses veilig en vlot verloop.
Hulle sê sáám is ons sterker, en ‘n inisiatief wat in die Wes-Kaap en Gauteng al hoe meer sukses behaal, getuig opnuut hiervan. Industriële simbiose is die deel van hulpbronne en kennis om ekonomiese groei te bevorder en ‘n meer eko-vriendelike omgewing te skep. Lizma van Zyl gesels met die bestuurder van die Wes-Kaapse Industriële Simbiose-program, WISP, oor dié sinergie wat wêreldwyd, veral weens klimaatsverandering, aan die toeneem is.
Sy gee ons riviere ‘n stem – Dr. Jo Barnes van die Universiteit Stellenbosch. Lizma van Zyl gesels met dié baanbreker oor die stand van Suid-Afrika se riviere, wat sy as haglik beskryf. Dr. Barnes sê nie alleen word riviere toenemend die draers van siektes nie, maar beteken minder water weens droogtes, oormatige onttrekking en besoedeling, ook minder kos.
Wanneer klimaatsverandering bespreek word, doen volwassenes meestal die praatwerk. Maar hoe word jongmense geraak? UNICEF Australië het bevind dat kinders en jongmense in dié land baie bekommerd is oor hulle toekoms, veral diegene wat ‘n loopbaan in landbou oorweeg. Lizma van Zyl gesels met dr. Ilse Trautmann van die Wes-Kaapse Departement van Landbou oor wat die toekoms vir Suid-Afrika se jongmense inhou wanneer dit kom by werksgeleenthede in die landbousektor.
Die gesprek oor die uitwerking van klimaatsverandering op die internasionale koffiebedryf word voortgesit. Lizma van Zyl gesels met dr. Aaron Davis van die wêreldbekende Kew Royal Botanical Gardens buite Londen oor die koffiebedryf se toekoms in die algemeen, asook ‘n projek om Ethiopië se koffiebedryf én ekonomie meer klimaatsweerstandig te maak. Dié land is die sesde grootste koffieprodusent ter wêreld.
Die gewildste drankie ter wêreld, koffie, is in die klimaatsverandering-kollig. Lizma van Zyl gesels met dr. Aaron Davis, ‘n plantkundige by die wêreldbekende Kew Royal Botanical Gardens buite Londen, oor die toekoms van die koffiebedryf. Dr. Davis is nou betrokke by navorsing in dié verband, en speel ook ‘n groot rol om Ethiopië, die wêreld se sesde grootste koffieprodusent, met die uitdagings van klimaatsverandering te help.
Soos klimaatsverandering vererger, sal aansteeklike siektes toeneem en vinniger versprei. Lizma van Zyl gesels met prof. Martie van der Walt van die Mediese Navorsingsraad oor watter aansteeklike siektes reeds aan die toeneem is, en hoe ons onsself teen toenemende, uiterste weersomstandighede kan beskerm.
Klimaatsverandering en die droogte in Suid-Afrika wat oor groot dele net vererger, het ‘n boerelandbou-agenda genoodsaak. Die persoon wat dié projek dryf, is die president van die Wêreld Landbou-organisasie, dr. Theo de Jager. Lizma van Zyl gesels met hom oor projekte en programme om boere en landbouwerkers by te staan – nie net op die plaas nie, maar ook emosioneel.
Klimaatsverandering kan nie meer geïgnoreer word nie. Van die wêreld se slimstes noop ons om kweekhuisgasvrystellings vinnig en drasties te verlaag as ‘n ramp afgeweer wil word. Ons het die afgelope jaar hier op DIE KWIK STYG klimaat- en waterslim geword danksy kenners wat elke week agter die mikrofoon ingeskuif het. Lizma van Zyl kyk terug oor die afgelope 51 programme voordat ons volgende week met ‘n splinternuwe reeks begin.
Die stryd teen klimaatsverandering kan nie gewen word as die wêreld nié saamstaan nie. So sê die bestuurshoof van die landbousakekamer, Agbiz, dr. John Purchase. Lizma van Zyl gesels met hom oor die noodsaaklikheid daarvan dat die groot energieverbruikers, Amerika en Sjina, ook aanboord kom.
Suid-Afrikaners sal, soos klimaatsverandering vererger, moet leer om baie méér met baie mínder water te doen. Dis die mening van twee waterverbruik- en vrugteverbouiingskenners, prof. Wiehann Steyn en André Roux. Hulle vertel vir Lizma van Zyl van hulle onlangse besoeke aan Israel en Spanje waar hulle gaan kersopsteek het oor klimaatslim-waterpraktyke. Hulle is dit eens dat Suid-Afrika baie by dié lande kan leer wanneer dit by die herwinning en herverbruik van water kom.
Klimaatsverandering ontsien niemand of niks nie. Van die wêreld se hardwerkendste diere, donkies, ly reeds onder stygende temperature, meer hittegolwe en langer droogtes. Lizma van Zyl gesels met Annemarie van Zijl van die Eseltjiesrus Donkey Sanctuary oor wat gedoen kan word om dié werkesels, wat ‘n reuse rol in oorlewingsboerdery in Afrika speel, se lewens ‘n bietjie makliker te maak.
Die suksesvolle en hernubare gebruik van energie begin by bewusmaking. So sê ‘n wêrelddeskundige op die gebied, prof. Dieter Holm. Hy vertel vir Lizma van Zyl hoekom dit belangrik is dat jongmense die lig sien en leiding neem. Hy verduidelik ook hoekom kernenergie nie nou ‘n opsie vir veral die landbousektor is nie.
Onkruid is eintlik net ‘n plant wat op die verkeerde plek groei, maar dié plante rig groot skade aan – veral vir boere. Lizma van Zyl gesels met prof. Charlie Reinhardt oor hoe tegnologie en beplanning die landousektor kan help om van onkruid ontslae te raak. Hy vertel ook van ‘n onkruid wat onlangs in Suid-Afrika beland het en onder warm, droë toestande gedy.
Suid-Afrika se bessiebedryf vaar al hoe beter, en is boonop redelik bestand teen klimaatsverandering. Lizma van Zyl gesels met die voorsitter en operasionele bestuurder van die SA Bessieprodusente-vereniging, Jean Kotzé en Elzette Schutte, oor alles en nog oor dié uiters smaaklik en gesonde vruggies.
Hoe ‘n groot rol kan en behoort provinsiale regerings in munisipaliteite te speel met betrekking tot klimaatsverandering? Lizma van Zyl praat hieroor met die Wes-Kaapse klimaatsverandering direkteur, Goosain Isaacs. Hy vertel dat daar weens klimaatsverandering elders in Afrika, ‘n toestroming van mense na die Wes-Kaap verwag word, wat druk op hulpbronne soos water en elektrisiteit sal plaas.
Weerstandigheidsdenke is noodsaaklik in die stryd teen klimaatsverandering. So sê prof. Oonsie Biggs, ‘n wêreldkenner op die gebied van sosio-ekologiese stelsels. Lizma van Zyl hoor by hom oor wat weerstandigheidsdenke behels, en hoe ons dit tot positiewe verandering kan inspan. Die uitwerking van ‘n vinnigveranderende klimaat op bevolkingsgroei is ook in die kollig.
Die mens het nog die vermoë om verdere aardverwarming te voorkom, maar dit gaan ‘n drastiese omwenteling vereis wat betref energiebronne. Só sê prof. Francois Engelbrecht, ‘n wêreldkenner op die gebied van klimaatsverandering. Lizma van Zyl sit die gesprek met prof. Engelbrecht voort oor wat op Suidelike Afrika wag met die temperatuur wat oor die volgende paar dekades met tot agt grade Celcius kan styg. Die fokus val op die landbou en die regering se rol in die bekamping van klimaatsverandering.
Koolstofdioksiedvrystellings moet binne die volgende elf jaar met 45% verlaag word as ‘n ramp afgeweer wil word. Só sê klimaatsveranderingkenner prof. Francois Engelbrecht. Lizma van Zyl gesels met hom oor die bevindings van hulle interregeringspaneel-verslag, en veral wat vir Suidelike Afrika voorlê gegewe die verwagte skerp temperatuurstygings oor die volgende paar dekades.
Verskeie plaaslike dierspesies staar uitwissing in die gesig weens stygende temperature. Lizma van Zyl gesels met dr. Ernst Baard van Cape Nature oor die uitwerking van klimaatsverandering op veral kleiner diere, en ‘n langtermynplan om deur middel van bewaringsgebiede groter beweegruimte vir plant- en dierbevolkings te skep.
Soos ons al op Die Kwik Styg gehoor het, beïnvloed stygende temperature die varsvrugtebedryf beduidend, en dus word droëvrugte ook geraak. Soos die hoofbestuurder van Droëvrugte Tegniese Dienste, Dappie Smit, verduidelik, word klimaatsverandering gevoel, maar is dit nie ‘n eenvormige aanpassing nie, wat beplanning moeilik maak. Hy vertel wat die toekoms is van soveel mense se gunstelingpeuselhappie.
Professor Michiel Scholtz verduidelik waarom dit al hoe belangriker word dat beesboere vroeë waarskuwingstelsels kry, en hoekom sekere rasse meer hittebestand is. Hy lug ook sy mening oor sogenaamde “laboratorium-vleis.”
‘n Tuin is vir baie mense ‘n lushof en ‘n plek om te ontspan, maar met die watertekorte in groot dele van die land is talle tuine aan die verdor. Lizma van Zyl gesels gesels met die kurator van die Stellenbosch Universiteit se Botaniese Tuin, dr. Donovan Kirkwood, oor waterslim-tuine. Hy gee handige wenke oor hoe ons tuine te midde van die wateruitdagings kan floreer.
Koolstofbelasting is dalk in 2019 ‘n realiteit in Suid-Afrika wees ‘n poging om skadelike kweekhuisgasvrystellings te verlaag. Daar word wêreldwyd geglo dat dié soort belasting ‘n doeltreffende teenvoeter is teen klimaatsverandering. Lizma van Zyl praat met Theo Boshoff van die landbousakekamer, Agbiz, oor die toepassing van koolstofbelasting en die uitwerking wat dit veral op die landbousektor en breër publiek sal hê.
Die kollig val op huishoudelike afvalbestuur, en hoe om dit eko-vriendelik te doen. Lizma van Zyl gesels met die man wat in die Wes-Kaap in beheer is van dié reuse taak, Eddie Hanekom. Hy gee handige wenke en verduidelik hoekom dit so belangrik is dat ons twee keer dink voor ons koop én wanneer ons van ons oorskiet ontslae raak.
Dis nou belangriker as ooit om in hernubare energie te belê. So sê internasionale kenners wat waarsku dat die aarde se temperatuur binne die volgende elf jaar met drie grade kan styg as daar nie drastiese ingryping is nie. Lizma van Zyl gesels met ‘n internasionale deskundige op die gebied van hernubare energie, prof. Dieter Holm, oor volhoubare opsies vir die toekoms.
Boere in die droogtegeteisterde Wes-Kaap kan danksy satelliet-gebaseerde inligting veel meer doeltreffende watergebruik toepas. Dié inligting kan verkry word op ‘n gratis openbare webportaal, Fruitlook. Lizma van Zyl praat met projekbestuurder dr. Caren Jarmain oor hoe die inisiatief boere se lewe vergemaklik én gemoedsrus verskaf.
Suid-Afrikaners moet deesdae twee keer dink wanneer hulle kos voorberei, want nie alleen word alles duurder nie, maar is water ook skaars. Lizma van Zyl gesels met ‘n koskenner en dosent oor hoe om waterslim te kook, sonder om smaak in te boet. Ons hoor ook watter produkte water-ekonomies is, en hoe belangrik maaltydbeplanning geword het.
Ons is baie hartseer om u mee te deel dat Selwyn October verlede week afgesterf het. Selwyn was vir meer as 10 jaar ‘n dosent aan die Institute of Culinary Arts in Stellenbosch. Hy het ‘n besonderse passie vir opleiding gehad en was veral bekend vir sy skerp oog vir detail en ‘n persoonlike credo dat om ‘n sjef te wees ‘n leefstyl veel meer as net ‘n werk is. Met groot deursettingsvermoë en standvastige karakter om ten alle tye standaarde te handhaaf, is talle top sjefs deur Selwyn opgelei en meer as 20 ICA Alumni het die afgelope 5 jaar op die gesogte Eat-Out lys verskyn.
Met die uitsondering van bye, gaan insekte toeneem en al hoe meer skade aanrig soos die klimaat verander en die aarde verwarm. Baie insekbevolkings is aan die skuif, en selfs ontplof, wat ‘n groot uitwerking op mens en natuur sal hê. Lizma van Zyl gesels met ‘n peste en plaekenner, dr. Gerhard Verdoorn. Hy is van mening dat die mens sy voetspoor onmiddellik en drasties moet verklein as die aarde nog vir ‘n duisend jaar wil oorleef.
Groot dele van die Suid-kaap het net begin herstel na verlede jaar se verwoestende brande, toe honderde brandbestryders die afgelope paar dae wéér moes bontstaan om ‘n tragedie in dié streek af te weer. Lizma van Zyl het onlangs met Gerard Otto, die hoof van Tuinroete Rampbestuur, oor verlede jaar se wegholbrande gepraat. Hy het toe gewaarsku dat dit net ‘n kwessie van tyd is voordat brande weer uitbreek. Otto vertel van die reuse taak wat dit verlede jaar was om die brande in bedwang te bring, en die verbete pogings deur inwoners om hulle lewe ná die tyd weer op koers te kry.
Wat gebeur alles agter én voor die skerms wanneer ‘n provinsie hom in ‘n krisis bevind, soos wat nog onlangs die geval in die Wes-Kaap was. Lizma van Zyl vra dié vraag aan ‘n man wat tydens die waterkrisis moes bontstaan om die publiek en media se vrae te beantwoord. James Brent Styan werp ook lig op rampbestuur in die algemeen, en deel die lesse wat uit ‘n krisissituasie geleer word.
Daar word beraam dat 30% van alle voedsel wêreldwyd jaarliks vermors word. Die massa afval op stortingsterreine is een van die hoofoorsake van klimaatsverandering. Lizma van Zyl praat met die WNNR se hoofnavorser, prof. Suzan Oelofse, oor hoe elkeen ‘n rol kan speel om kosvermorsing en voedselverliese te beperk.
Waterbeperkings in die Wes-Kaap is verslap, maar dit beteken nie dat die droogte gebreek is en dat mense water weer kwistig kan gebruik nie. Lizma van Zyl praat met André Roux, spesiale regeringswateradviseur vir dié provinsie, oor die pad vorentoe, en die stand van watersake in ander provinsies. Ons hoor ook by ‘n paar Kapenaars of hulle die goeie gewoontes wat tydens die ergste droogte aangekweek moes word, steeds gaan voortsit.
Boerderypraktyke moet in die lig van klimaatsverandering aangepas word. Een maatreël om boere veerkragtig te hou, is die plant van alternatiewe gewasse. Lizma van Zyl praat met die Wes-Kaapse Departement van Landbou se Hoofdirekteur: Navorsing en Tegnologie-ontwikkeling, dr. Ilse Trautmann, oor die noodsaaklikheid daarvan dat boere en produsente nie al hulle eiers in één mandjie sit met produksie nie.
Gemeenskapsbetrokkenheid en eienaarskap staan aan die kern van die oplossing vir ‘n groot probleem in die landbousektor – indringerplante. Danksy onder meer Landcare Wes-Kaap en sy vennote, word daar op ‘n georganiseerde manier van die indringers ontslae geraak – een van die teenvoeters teen klimaatsverandering. ‘n Uitsonderlike vrou wat op grondvlak by die projek betrokke is, vertel van die harde werk wat sy elked dag doen, en hoe die projek help om die mense in haar omgewing op te hef.
Indringerplante is ‘n groot kopseer vir boere, veral in streke waar water skaars is. Dié plante, wat baie vinnig versprei en water soos sponse opsuig, dra onder meer by tot ‘n verlies aan biodiversiteit, verhoog die risiko van brande en veroorsaak blokkasies in rivierstelsels. Lizma van Zyl praat met twee kenners wat eerstehandse ondervinding het van die skade wat indringerplante aanrig.
Daar is onteenseglike bewyse dat klimaatsverandering ‘n uitwerking op die mens se psige het. Al hoe meer mense begin aan geestessiektes ly weens onsekerheid oor die toekoms. Boere gaan veral gebuk onder geweldige spanning. Lizma van Zyl praat met psigiater dr. John Parker oor wat mens te doen staan wanneer vrese oor klimaatsverandering en die toekoms gemoedsrus begin bedreig.
Die omvang van die sogenaamde Vierde Industriële Revolusie (4IR) waarin ons onsself nou bevind strek veel wyer as blote slim- en konnektiewe toestelle, masjiene en stelsels. Die 4IR mik na ‘n versmelting van die fisiese, digitale en biologiese wêrelde. Die uitwerking hiervan op die landbousektor is niks minder nie as ja – revolusionêr. Lizma van Zyl gesels vandag in Die Kwik Styg met twee kenners, Drs Dirk Troskie en Albert Strever oor wat hierdie “4IR” is en hoe boere dit in die lig van klimaatsverandering vir hulle kan laat werk.
Kommunikasie is noodsaaklik oor klimaatsverandering, en die media speel ‘n kardinale rol om boere van inligting te voorsien. Lizma van Zyl praat met die redakteur van ‘n landboutydskrif oor die rol van die media, en hoe inligting wat só versprei word, boere en produsente in staat stel om meer klimaatslim te werk te gaan en dus veerkragtig te kan bly.
Groen is veel meer as net ‘n kleur. Dis deesdae ook ‘n rigtingaanwyser van hoe ons moet leef om die aarde vir die nageslag te bewaar. Anél Blignaut van ‘n organisasie wat die landbousektor se koolstofvoetspoor meet, vertel van hulle spesiale rekenaar wat kweekhuisgasvrystellings bereken. Sy gee ook wenke hoe elkeen van ons ons koolstofvoetspoor kan verklein.
Aartappels is die één groentesoort wat 365 dae van die jaar, vars op die winkelrakke verskyn. Alles dui daarop dat die aartappel vir eers die uitdagings van klimaatsverandering kan weerstaan. Lizma van Zyl gesels met ‘n kenner oor hoe klimaatsverandering aartappelproduksie in die kort- en langtermyn sal raak. Suid-Afrika het 16 verskillende produksiegebiede, waarvan Limpopo, die Oos- en Wes-Vrystaat, die Sandveld en KwaZulu-Natal die grootste is.
‘n Derde van Suid-Afrika se wynprodusente trek baie swaar, en is nie winsgewend nie. So sê Rico Basson, Vinpro se bestuurshoof. Vanjaar se wynoes was weens die droogte 15 persent kleiner as verlede jaar s’n, wat ‘n bedryfsverlies van R700 miljoen beteken. Dié bedrag is egter drie keer meer as daar na die volle omvang gekyk word weens wingerde wat dood is en vervang moet word. Basson praat met Lizma van Zyl oor die toekoms van die bedryf, en hoe die verliese verbruikers se sak raak.
Boere in die droogtegeteisterde Wes-Kaap baat al hoe meer by ‘n plan om hulle boerdery meer klimaatslim en veerkragtig te maak. Dié omvattende plan, bekend as SmartAgri, is ook van toepassing op boere elders in die land wat hulleself in soortgelyke omstandighede bevind. Lizma van Zyl praat met dr. Ilse Trautmann en prof. Stephanie Midgley oor dié noodsaaklike hulpmiddel vir die landbousektor.
Bewaringsboerdery is ‘n noodsaaklikheid as jy as graan- of skaapboer wil oorleef. So sê MG Lotter van die plaas De Vlei buite Caledon. Lotter en Sakkie Rust wat by Riebeeck-Wes en Tulbagh boer, vertel vir Lizma van Zyl van die voordele van dié relatief nuwe praktyk, veral gegewe die droogte. Die twee boere maak ook hulle harte oop oor die uitdagings wat boere te bowe moet kom, en die noodsaaklikheid van ondersteuning.
Al hoe meer boere, nie net in Suid-Afrika nie, pas deesdae bewaringsboerdery toe. Dit is die praktyk om grond so ongestoord moontlik te hou om volhoubaarheid te verseker. Lizma van Zyl praat met landbouwetenskaplike dr. Johann Strauss oor dié soort boerdery, en hoe dit as teenvoeter vir klimaatsverandering kan dien.