RSG Landbou Archives
The RSG Landbou Archive. Right click on the audio and select Save As. This allows you to download the sound clip to your device.
2024 Archive
Vrydag, 5 Julie 2024
Bosbou bestaan uit landbouers wat met bome boer. Ons bekyk die beleggingshorison hieraan verbonde, asook die legio werksgeleenthede wat binne bosbou bestaan.Soné Nell, ‘n doktorale student in veekunde by Stellenbosch Universiteit, is besig met ‘n opname onder melkboere in die Wes-Kaap om data in te samel oor metaangasvrylatings en toekomskoolstofkrediete. Ons vind uit waarom dié studie van groot waarde vir boere sal wees.
Saterdag, 6 Julie 2024
Ons kyk terug op ‘n lewe van diens aan dier en mens. Op ouderdom 74, deel afgetrede veekundige professor Chrisjan Cruywagen ook van die mees komiese oomblikke in sy loopbaan.
Vrydag, 12 Julie 2024
Landbou het in die eerste kwartaal ‘n beduidende rol in werkskepping gespeel. Dr. Tracy Davids, ‘n landbou-ekonoom by die Buro vir Voedsel en Landboubeleid, praat hieroor en handelsdata en landbou-uitvoere. Gerhard Meyer boer met granate in die Klein Karoo, en het onlangs ‘n groter verwerkingsaanleg geopen, waar granaatsap, granaatstroop en granaatroomys op groot skaal gemaak word.
Saterdag, 13 Julie 2024
Louw Pienaar, ‘n senior landbou-ekonoom by die Buro vir Voedsel en Landboubeleid, praat oor tendense en statistieke van landbou in Suid-Afrika.
Vrydag, 19 Julie 2024
Ons vind meer uit van ’n velsorgreeks, wat deur ‘n slakboer van Witrivier in Mpumalanga ontwikkel is. Chrisjan Cruywagen is afgetrede veekundige. Hy praat oor loopbaanmoontlikhede in die veld van forensiese ontleding vir veekundiges. Hy verduidelik ook waarom dit belangrik is om altyd te bly leer, ongeag mens se ouderdom.
Saterdag, 20 Julie 2024
Hoe verbeter boere produktiwiteit en effektiwiteit? Wat moet ‘n landbouer in gedagte hou in terme van investering en veranderlikes buite ons grense? Louw Pienaar, ‘n landbou-ekonoom by die Buro vir Voedsel en Landboubeleid, beantwoord hierdie vrae. Hy praat ook oor die toekoms, tegnologie en die toonaangewende manier waarop Suid-Afrikaners boer.
Vrydag, 26 Julie 2024
Deon Joubert is ‘n spesiale gesant vir marktoegang tot die VSA en Europa by die Citrus Growers’ Association of Southern Africa. Hy vertel van vanjaar se seisoen en marktoegang en uitdagings wat daarmee verband hou. Onlangse gevalle van hondsdolheid is aan die Weskus aangemeld. Staatsveearts dr. Vivian Malan verduidelik hoe jy jouself en jou diere hierteen kan beskerm.
Saterdag, 27 Julie 2024
Kelp kan jou help, en seewier jou laat seevier. Ferdie Endemann werk by die Wes-Kaapse Departement van Landbou as ‘n spesialisvoorligter in akwakultuur. Van alge, weet hy alles.
Vrydag, 2 Augustus 2024
Beginnerspakette vir saffraanboere word beskikbaar gestel deur die departement van landbou in die Wes-Kaap. Boere in die Wes-Kaap word aangemoedig om vloedskade te rapporteer deur middel van ’n aanlynhulpmiddel. Roy Nienaber, voorsitter van die Porterville-landbouskou, verduidelik hoe skouruimtes innoverend aangewend kan word om veral die jeug aan landbou-aktiwiteite bloot te stel.
Saterdag, 3 Augustus 2024
In die eerste program van ons Vrouemaand-reeks, stel ons jou voor aan ’n vrou wat vloeibare goud produseer. Met planmaak, pluk, en pars, is Louise Rabie daagliks doenig binne die ekonomie van genade. Sy is ‘n bekende in die plaaslike olyfbedryf.
Vrydag, 9 Augustus 2024
Die wêreld se eerste renosterveld-toepassing is bekendgestel, wat veral boere met renosterveld op hulle plaas, help om plante en diere te identifiseer. Die FIELD GUIDE TO RENOSTERVELD bevat foto’s van meer as 1 600 spesies van 12 taksonomiese groepe. Dr. Chanel Lombard, staatsveearts op Vredendal, verduidelik watter diere deur bek-en-klouseer geraak word, en hoe produsente hulle kuddes daarteen kan beskerm.
Saterdag, 10 Augustus 2024
Ons bring vir jou die storie van ‘n jong raakvatter. Daar’s diere en dankbaarheid ter sprake. Sy is Alta Eybers, die kaasmaker op die plaas Babylonstoren buite Franschhoek in die Wes-Kaap.
Vrydag, 16 Augustus 2024
Dr. Daan Louw, buitengewone lektor aan die Universiteit Stellenbosch, vertel van die Departement Landbou in die Wes-Kaap se onlangse oorvlug oor plase, en waarom hierdie metode van data-insameling gebruik word. Lewensafrigter Jo Marsh gee raad vir boere oor introspeksie.
Saterdag, 17 Augustus 2024
Elani Heyneke, ‘n seniorvoorspeller by die Suid-Afrikaanse Weerdiens, was in Julie ‘n spreker by die negende wêreldkongres oor bewaringslandbou, wat in Kaapstad aangebied is. Sy deel haar kennis oor onlangse weertendense, en haar navorsing wat verband hou met lyndonderstorms en stikstof.
Vrydag, 23 Augustus 2024
Gert Conradie, ‘n senior navorser in onkruidwetenskappe by die Departement Landbou in die Wes-Kaap, vertel van jaarlikse SKOG-dag wat op 29 Augustus by Langgewens Navoringsplaas tussen Moorreesburg en Malmesbury plaasvind. Corné Botha, die president van die George-landbouskou, praat oor die skjou wat op 29 Augustus by die George Skougronde plaasvind. Dr. Adriaan Smit, besturende direkteur van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Gourmet-sampioene, verduidelik hoe bestaande en voornemende produsente, wat in gemengde boerdery belangstel, hulle wins kan aanvul en verhoog deur middel van sampioene.
Saterdag, 24 Augustus 2024
Andries Wiese, die hoof van landbou by ‘n internasionale versekeringsmaatskappy, het oor dekades eerstehands beleef hoe vroue in Suid-Afrika medemenslikheid vergestalt.
Vrydag, 30 Augustus 2024
Dirk Uys is verantwoordelik vir die navorsing- en bemarkingsportfeuljes by Aartappel Suid-Afrika. Hy vertel van sy ervaring by die negende wêreldkongres oor bewaringslandbou wat in Julie in Kaapstad gehou is. Jacques Bester, die president van die Swartlandskou op Moorreesburg, vertel van vanjaar se skou wat van 7 tot 10 September plaasvind.
Saterdag, 31 Augustus 2024
In ons laaste Vrouemaand-program vier ons twee vroue in landbou. Monique Vlok boer met aartappels tussen Piketberg en Redelinghuys in die Wes-Kaap. Prof. Karin Jacobs is die afgelope 21 jaar verbonde aan die Departement Mikrobiologie aan die Universiteit Stellenbosch. Sy is ‘n internasionaal bekroonde mikrobioloog, en een van die stigters van Sporatec. Hoe die grond lyk waarin gesonde plante groei, is iets wat sy graag navors. Hoe om produsente se grond gesond te kry, is een van vele dinge waarmee sy goed is.
Vrydag, 6 September 2024
Henk Aggenbach, voorsitter van Nampo Kaap se reëlingskomitee en voorsitter van Bredasdorp-park, wat in samewerking met Graan Suid-Afrika Nampo, aanbied, vertel waarna jy kan uitsien. Die direkteur van sake-ontwikkeling en strategie by die Wes-Kaapse Department van Landbou, dr. Dirk Troskie, verduidelik die waarde van die H2A-loopbaanskou wat by Elsenburg aangebied word.
Saterdag, 7 September 2024
Die afrigter van die Blitsbokke en voormalige kaptein, Philip Snyman, vertel van sy grootwordjare op ‘n plaas in Philippolis in die Vrystaat. Van jongs af het hy self geboer, en hy deel sy eie landbou-ambisies vir die toekoms.
Vrydag, 13 September 2024
Dr. Stephano Haarhoff, ’n landboukundige, het by die wêreldkongres oor bewaringslandbou gepraat oor die bestuur van stikstof, fosfaat en kalium sedert 1980. Die twee Bester broers, Cobus en JP, is die vierde geslag in ‘n familieboerdery wat hulle voorouers meer as 150 jaar gelede begin het. Die plaas Uitkyk is buite Moorreesburg in die hart van die Swartland, waar hulle onder andere boer met koring, dekgewasse, skape en beeste. Hulle vertel wat hulle by die kongres geleer het. Agri-Expo se ledekongres is onlangs gehou. Die hoofbestuurder, Breyton Milford, vertel wat daar gebeur het. Anri Vorster, president van die Tulbaghskou, vertel wat skougangers kan verwag.
Saterdag, 14 September 2024
Wilhelm Joubert is ‘n wingerdboukundige by Hartenberg Familie Wyne in die Wes-Kaap. Carl Schultz is keldermeester by dieselfde landgoed. Ons kuier op die enigste plaas in die land waar jy beeswyn kry.
Vrydag, 20 September 2024
Die Wes-Kaapse Minister van Landbou, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, dr. Ivan Meyer, praat oor dit wat hom na aan die hart lê, en sy wens vir elke Suid-Afrikaner wat landbou liefhet. Prof. Karin Jacobs van die Departement Mikrobiologie aan die Universiteit Stellenbosch, vertel van navorsing oor glifosaat, ‘n breëspektrum sistemiese onkruiddoder en gewasdroogmiddel. Chantelle Wasserman, president van die Villiersdorp-landbouskou, vertel wat skougangers van 10 tot 12 Oktober kan verwag.
Saterdag, 21 September 2024
Louw Pienaar, senior landbou-ekonoom by die Buro vir Voedsel en Landboubeleid, praat oor tendense en statistiek van landbou in Suider-Afrika, en die rol wat dit speel in werkskepping.
Vrydag, 27 September 2024
Martin Koorts, voorsitter van die Prins Albert Landbouskou, vertel wat skougangers van 17 tot 19 Oktober kan verwag. Op 17 Augustus vanjaar is 32 perde uit die Wes-Kaap na België uitgevoer. Vir tien jaar was dit nie toegelaat om perde van hioer af na die Europese Unie uit te voer nie. Dr. Vivien Malan, staatsveearts verbonde aan die Boland-kantoor, verduidelik waarom dit goeie nuus is. Edmund Terblanche, keldermeester by La Motte en voorsitter van die Suid-Afrikaanse Shiraz Assosiasie, vertel van die Top 12-kompetisie wat onlangs gehou is.
Saterdag, 28 September 2024
Liebre Jacobs, stigterslid van FruitLips, is onlangs aangewys as die beste agri-prosesseerder by die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling se vroue-entrepreneur van die jaar kompetisie in die Wes-Kaap. Sy’s dankbaar vir die ondersteuning wat landbouers in die provinsie ontvang.
Vrydag, 4 Oktober 2024
Doktorale student en dekgewasnavorser by die Universiteit Stellenbosch, Charne Viljoen, het vanjaar se wêreldkongres oor bewaringslandbou in Kaapstad baie leersaam gevind. Sy vertel wat sy daar oor onkruidbeheer geleer het. Dr. Vaughan Hattingh, hoof van Citrus Research International (CRI), vertel hoe honde gebruik word om sitrussiektes uit te wys op Suid-Afrikaanse plase.
Saterdag, 5 Oktober 2024
Die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het in 2023 ‘n agri-entrepreneur vereer met die Protea Boekehuis-toekenning. Die ontvanger, Hetta van Deventer-Terblanche, is ’n koshistorikus, en iemand wat glo dat haar grootwordjare op ‘n plaas intrinsiek deel is van die planmaker wat sy vandag is.
Vrydag, 11 Oktober 2024
Ons hoor van die samewerkingsinisiatief, PALS, se werksaamhede en suksesse. En ons hoor wat die Departement van Landbou in die Wes-Kaap beplan vir Wêreldvoedseldag op 11 Oktober.
Saterdag, 12 Oktober 2024
Ons hoor die storie van ‘n jong man, wat sy landboupassie uitleef met behulp van tydvereerde tegnieke. Op dertigjarige ouderdom het landbou hom ‘n paspoort na die wêreld gegee. Die internasionale uitnodigings wat aan hom gerig word, is ‘n bewys van sy kundigheid. Morgan Steyn is wynmaker op die landgoed, De Grendel, in die Wes-Kaap.
Vrydag, 18 Oktober 2024
Dr. Ilse Trautmann van die Departement van Landbou in die Wes-Kaap vertel van die hoogtepunte in die jongste uitgawe van die landbou-publikasie, Agriprobe. Johann Kotze van AgriSA praat oor vanjaar se Green Horizons landbou-kongres. Andries Wiese van Hollard Versekeringsdienste verduidelik hoe moderne landbouversekering in ‘n veranderende klimaat lyk.
Saterdag, 19 Oktober 2024
Aan die voet van Kasteelberg, neffens Riebeek-Kasteel, is daar ‘n klein olyfboerdery wat ‘n gróót verskil maak. Die Goedgedacht Trust boer al drie dekades lank met hoop én impak om die Swartland ‘n beter plek te maak vir landelike gemeenskappe. Vanjaar is dié olyfboerdery geseën met ‘n rekord-oes. Volgens Pieter Brand, Goedgedacht se plaasbestuurder, is die oes van 150 ton olywe nie net hulle tweede grootste ooit nie, maar ook hulle hoogste gemiddelde oesopbrengs teen 17% per blok. Boerdery en gasvryheidsaktiwiteite is noodsaaklik om die Goedgedacht Trust se ontwikkelingswerk moontlik te maak.
Vrydag, 25 Oktober 2024
Die bokafdeling by vanjaar se nasionale Lamb Champs-kompetisie wat in Pretoria gehou is, is gewen deur Danie Strauss van Rouxville in die Vrystaat. Ons vind uit hoe boerbokboere uitblink met vleis van uitmuntende smaak. Dr. Chris de Brouwer was tot onlangs wetenskaplike bestuurder by die Departement Landbou in die Wes-Kaap. Dié afgetrede veekundige deel navorsingshoogtepunte wat oor 40 jaar strek.
Saterdag, 26 Oktober 2024
Ons kyk terug op ‘n jaar vol landbou-hoogtepunte in die geselskap van twee moedige dienaars van die sektor. Daar was ook ‘n internasionale besoek aan die Statebond se landbou-kongres, waar Span Suid-Afrika hulleself weer as toonaangewers bewys het. Breyton Milford is die hoofbestuurder by Agri Expo, en Chris Fourie is president van Agri Expo.
Vrydag, 1 November 2024
Ons kyk terug op ‘n jaar vol landbou-hoogtepunte in die geselskap van twee moedige dienaars van die sektor. Daar was ook ‘n internasionale besoek aan die Statebond se landbou-kongres, waar Span Suid-Afrika hulleself weer as toonaangewers bewys het. Breyton Milford is die hoofbestuurder by Agri Expo, en Chris Fourie is president van Agri Expo.
Saterdag, 2 November 2024
Die wêreld se langste foefieslaaid in onlangs in Caledon in die Wes-Kaap geopen. Volgens Wes-Kaapse LUR vir landbou, toerisme en ekonomiese ontwikkeling, dr. Ivan Meyer, is dit een van vele bydraende faktore om toerisme in die Wes-Kaap te vier. 27 September 2024 staan ook uit as ‘n belangrike datum waarop agritoerisme en plaaslike gemeenskappe vereer is.
Vrydag, 8 November 2024
Die Hartenberg-wynlandgoed, wat die afgelope 20 jaar bewaringslandboupraktyke toepas, word gereken as pioniers in herlewingslandbou in die wynbedryf. Hier word beeste in die wingerde gebruik, wat gevolglik die grondgehalte verbeter. Ankoles is eer ingebring en daarna het Dexters gevolg. Louise Rabie is ‘n bekende in die plaaslike olyfbedryf. Suid-Afrikaanse olyfplase het vanjaar meer as een rekordoes aangeteken. Sy verduidelik waaraan dié suksesse toe te skryf is. Ons leer ook kultivars soos Picual en Melange Karoo beter ken.
Saterdag, 9 November 2024
Soetmelksvlei bied ‘n interaktiewe plaaservaring aan, wat in die laat 19de eeu afspeel. Stap hier terug in tyd na ‘n era voor industrialisasie, toe die wêreld teen ‘n stadiger pas beweeg het en mense hulle hande gebruik het om te skep wat nodig was.
Vrydag, 15 November 2024
Die premier in die Wes-Kaap, Alan Winde, verduidelik hoe ‘n gebied in die provinsie met ‘n hoë voorkoms van diabetes, by wyse van plaaslike groentetuin-verbouing ondersteun word. Anne van Heerden, keldermeester by Lomond-wyne in die Overberg, gesels oor vanjaar se Top 10 Sauvignon Blanc-kompetisie. Dr. Chris de Brouwer was tot onlangs wetenskaplike bestuurder by die Departement Landbou Wes-Kaap. Dié afgetrede veekundige praat oor insetkoste wat beperk is weens die toepassing van herlewingslandbou. Hy gesels ook oor ‘n destyde bulprojek wat veral vir opkomende boere van groot waarde was.
Saterdag, 16 November 2024
Op die plaas Achtervlei naby Piket-Bo-Berg word vrugte en groente geproduseer. Hulle toor ook konfyte, ingelegde produkte, blatjang en marmelade daar op. Liebre Jacobs is stigterslid van die handelsnaam, FruitLips. Sy is vanjaar aangewys as die beste agri-prosseseerder by die departement landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling se vroue-entrepreneur van die jaar kompetisie in die Wes-Kaap. Haar man, broer, ouers, en vennoot-vriendin Eloise is almal karakters in dié jong agri-innoveerder se boere-bestaan.
Vrydag, 22 November 2024
Plantpatologie-navorser dr. Gert van Coller vertel van die jongste navorsingsprojekte wat deur die departement landbou in die Wes-Kaap onderneem oor toedieningsmetodes en die effektiwiteit daarvan op kanola, en swartstam-weerstand. Die wêreld se eerste renosterveld-toepassing is bekendgestel. Dis ‘n toep wat veral boere met renosterveld op hulle plaas, help om plante en diere te identifiseer. Die Field Guide to Renosterveld bevat foto’s van meer as 1 600 spesies van 12 taksonomiese groepe.
Saterdag, 23 November 2024
Olyfbome van Getsemane is onlangs ingevoer na ‘n plaas in die Wes-Kaap. Ná die nodige kwarantynperiode word die steggies ingespan om nog bome te kweek op die plaas Goedgedacht naby Riebeek-Kasteel. Breyton Milford, die hoofbestuurder by Agri Expo, sê daar is ‘n gedeelde passie onder jongmense reg oor die wêreld om hulle landbou stemme dik te maak. Die president van Agri Expo, Chris Fourie, het ‘n spesiale plek is sy hart vir die suiwelboere van Suid-Afrika, en kyk terug op ‘n jaar se suksesse in dié bedryf.
Vrydag, 29 November 2024
Ons kyk ons terug na die afgelope jaar se landbou-skoue. By vele is rekordbywoningsyfers aangeteken. Dr. Chris de Brouwer, afgetrede veekundige, praat oor hoe die deel van navorsingsresultate met digitalisering verbeter het. Hy sê ook waarom hy glo dat Nguni-beeste ‘n belangrike rol in die toekoms kan speel. Volgens die Minister van Landbou, Toerisme en Ekonomiese Ontwikkeling in die Wes-Kaap, dr. Ivan Meyer, word daar veral klem gelê op agri-toerisme in aanloop tot die vakansieseisoen. Die Direkteur: Toerisme by die die Wes-Kaapse Departement van Ekonomiese Ontwikkeling, Jacques Scholtz, verduidelik hoe daar omgesien word na die veiligheid van agri-toeriste.
Saterdag, 30 November 2024
Die Blitsbokke is op 7 en 8 Desember in aksie by die Kaapstad sewestoernooi. Afrigter Philip Snyman vertel hoeveel Springbok-rugbyspelers, hy inkluis, landbouers is. Volgens hom is die ervarings opgedoen tydens sy grootwordjare op ‘n plaas in die Vrystaat, intrinksiek deel van wie hy vandag is. Hy gesels ook oor die eetgewoontes van hoë werkverrigting atlete, en bring hulde aan ons boere wat sorg vir ‘n gesonde kosmandjie.
Vrydag, 6 Desember 2024
Gerrit van Vuuren, strategiese adviseur by die samewerkings-inisiatief, Partners in Agri Land Solutions (PALS), vertel van hulle nuwe projekte wat eersdaags afskop. Die direkteur van sake-ontwikkeling en strategie by die Wes-Kaapse Department van Landbou, dr. Dirk Troskie, verduidelik wat beplan word vir die toekoms van die Elsenburg-wingerd.
Saterdag, 7 Desember 2024
Gerhard Meyer boer met granate in die Klein Karoo, en het pas, met die hulp van verskeie rolspelers waaronderdie Wes-Kaapse departement van landbou, ‘n groter verwerkingsaanleg by Karoo Pak, die pakstoor op die plaas, geopen. Hier word granaatsap, granaatstroop en heelparty ander produkte op grootskaal vervaardig.
Vrydag, 13 Desember 2024
Professor Stephanie Midgley van die Departement Hortologie aan die Universiteit Stellenbosch vertel van die onlangse klimaatsberaad vir die jeug wat deur die Departement Landbou in die Wes-Kaap aangebied is. Deon Joubert, ‘n spesiale gesant vir marktoegang vir die VSA en Europese markte by die Citrus Growers’ Association of Southern Africa, praat oor vanjaar se seisoen en marktoeganguitdagings.
Saterdag, 14 Desember 2024
Lindie-Alet van Staden is in November aangewys as die Wes-Kaap se algehele wenner van die provinsie se Prestige Agriwerker van die Jaar 2024. Dié 34-jarige is die bestuurder van die tuin en olyfboord op L’Omarins Landgoed in Franschhoek in die Kaapse Wynlande. Haar take sluit alles wat groen is in – die instandhouding en ontwikkeling van L’Omarins se tuine, olyfproduksie vir tafelolywe en olie, die byeboerdery, kompos- en afvalbestuur, groentetuin en vrugteboorde op die landgoed en by die proelokale, die snyblomtuin. Ook omgewingsake, koördinering van instandhouding en herstelwerk, begrotingbestuur, personeelopleiding en -bestuur.
Vrydag, 20 Desember 2024
Wessel Lemmer is aangestel as die bestuurshoof van Raisins SA. Hy is ‘n gesoute landbou-ekonoom en sy ervaring in landbou strek oor meer as 30 jaar sedert die begin van sy M.Sc.Agric-graadstudie aan die Universiteit van die Vrystaat. Ashia Petersen, direkteur van volhoubare hulpbronbestuur by die Departement van Landbou in die Wes-Kaap, het nuus oor natuurlike hulpbrongebruik en -bestuur, asook R300 miljoen wat bewillig is vir rampbestuur-ondersteuning vir boere.
Saterdag, 21 Desember 2024
Dr. Ilse Trautmann, adjunk-direkteurgeneraal: landbounavorsing en regulatoriese sienste by die Departement Landbou Wes-Kaap het landbou ten diepste lief. Sy is die ontvanger van ‘n spesiale erkenning om haar bydrae, ondersteuning en toewyding tot die landboubedryf te erken deur die minister van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme in die Wes-Kaap.
Vrydag, 27 Desember 2024
Dr. Keith du Plessis, bestuurshoof van CASIDRA, praat oor opheffingswerk onder kleinskaal-boere. Dirk Uys van Aartappel Suid-Afrika vertel van ‘n toepassing wat kopers in staat stel om aartappelpryse so gereeld as wat hulle wil, dop te hou. Vic Brandt, president van die Heidelberg Skou, vertel wat skougangers kan in Februarie 2025 klanm verwag.
Saterdag, 28 Desember 2024
Ons kyk terug na van die mees humoristiese oomblikke op plase die afgelope twaalf maande. Ons word herinner aan die nuwe landbouers wat ons leer ken het, met stories van hoop en inspirasie. Ons besoek onder andere die kaasmaker op Babylonstoren buite Franschhoek. Lindie-Alet van Staden is in November aangewys as die Wes-Kaap se algehele wenner van die provinsie se Prestige Agriwerker van die Jaar. Sy beskryf hoe sy gesondheidsuitdagings hanteer, en hoe sy nie toelaat dat dit haar kniehalter nie.
Vrydag, 5 Januarie 2024
In RSG Landbou bespreek ons die rol en belangrikheid van landbou in terme van plattelandse vooruitgang. Ons gesels ook met Deon Joubert. Hy is spesiale gesant mark-toegang vir die VSA en Europese markte by die Citrus Growers’ Association of Southern Africa. Hy lewer kommentaar oor die afgelope seisoen asook marktoegang en uitdagings tans in hand wat daarmee verband hou.
Saterdag, 6 Januarie 2024
As daar ‘n slang in die gras is, is Eduan Niemand gereeld byderhand. Om die Bolander se ongewone dagtake op sosiale media dop te hou, voel na ‘n regop sit realiteitsreeks. Het jy geweet kobras in ons geweste verkies regterkanste hoeke van vertrekke wanneer hulle by mense kom besoek aflê? Hul naasbestaandes in die Noordelike halfrond, mik nou weer altyd na links. Onverklaarbaar en fassinerend. Dis ook goed om gedurende die somermaande paraat op jou plaas te wees.
Vrydag, 12 Januarie 2024
Gertrude Jacobs is projekbestuurder in landelike ontwikkeling by die Departement Landbou Wes-Kaap. Sy beskryf aan ons hoe daar deur verskeie programme tegniese vaardighede aan agri-werkers geleer word.
Saterdag, 13 Januarie 2024
Die Pebbles-projek stel kinders van boeregemeenskappe in staat om toegang tot kwaliteit onderwysprogramme en gesondheids-, voeding- en maatskaplikewerkdienste te kry. Sedert hul ontstaan in 2004 het hul die lewens van duisende kinders positief beïnvloed deur saam met plaaslike plase te werk om Vroeë Kinderontwikkeling en Naskoolklubs te stig en te bestuur vir plaaswerkers kinders wat óf op die plaas woon of hul ouers in diens is van die plaas.
Vrydag, 19 Januarie 2024
Suid-Afrikaanse wyndruifprodusente verwag ‘n goeie en ietwat groter 2024-wyndruifoes vergeleke met die relatief klein oes van 2023. Dit is volgens die eerste van vier wyn-oesskattings wat jaarliks deur wingerdboukundiges en produsente kelders uitgereik word. Dr. Etienne Terblanche is Bestuurder van die Vinpro Konsultasiediens.
President van die Heidelberg Landbouskou Vic Brand, sluit by ons aan met besonderhede rakende die geleentheid wat in Februarie aangebied word.
Dr. Ilse Trautmann is Adjunk Direkteur Generaal Landbou Navorsing en Regulatoriese Dienste by die Departement Landbou Wes-Kaap. Sy gesels oor die gratis landbou-publikasie, Agriprobe.
Saterdag, 20 Januarie 2024
Toe Sophia Warner in 2003 in Suid-Afrika kom besoek afle het, was haar aanvanklike plan om vir ‘n tydjie lank by haar suster te kom kuier wat op daardie stadium in die wynbedryf betrokke was. Vandag, meer as twintig jaar later, is die opgeleide onderwyseres aan’t stuur van ‘n nie-regerings organisasie wat verskeie dienste aan veral kinders in landelike gebiede lewer. Toe sy destyds die boere van ons land leer ken het, het dit duidelik geword dat sy in samewerking met hulle iets van onskatbare waarde sou kon vermag. Vandaar is The Pebbles Project gebore. Wat begin het as ‘n bystands-program vir kinders met fetale alkoholsindroom, het oor jare uitgebrei as ‘n volledige maatskaplike diens wat van onderwys tot gesondheids-sorg insluit. In 2023 het die Departement van Landbou in die Wes-Kaap ‘n klimaatsberaad in Oudtshoorn vir jeugdiges aangebied. Met die bywoon daarvan het ek self tot die besef gekom dat vrijwilligerswerk gereeld loopbaanopsies en aanstellings tot gevolg het. Estee Heyns, ook van The Pebbles Project bevestig my oortuiging
Vrydag, 26 Januarie 2024
Wendy Pieterson, die uitvoerende bestuurder van die SA Olive Association, praat oor die stand van sake in die plaaslike olyfbedryf. Daar is ‘n geleentheid vir bestaande en voornemende produsente wat op 26 Januarie in die Paarl plaasvind. Dit was ‘n hartseer oomblik vir Charlotte Molefe toe haar geliefde hond op ‘n plaas in Noordwes deur ‘n luislang ingesluk is. Ons vind uit waar luislange voorkom, en hoe om onsself en ons diere teen hulle te beskerm.
Saterdag, 27 Januarie 2024
Die Minister van Landbou in die Wes-Kaap, dr. Ivan Meyer, praat oor leierskap, sy drome, dinge wat hom na aan die hart lê, en sy wens vir elke Suid-Afrikaner wat landbou liefhet. Hy gesels ook oor die rol van landbou-media.
Vrydag, 2 Februarie 2024
Cornelius Oosthuizen van Koppert SA praat oor die ontwikkeling en groei van die mark vir biologiese beheer. Dr. Christoff Botha, energie-ontleder by GreenCape, het inligting oor hernubare energie-werkswinkels. Prof. Stephanie Midgeley praat oor die jongste uitgawe van die publikasie, Smart Agri Barometer. Die Direkteur van Sake-ontwikkeling en Strategie by die Wes-Kaapse Department van Landbou, dr. Dirk Troskie, het ‘n spesiale boodskap vir boere.
Saterdag, 3 Februarie 2024
Alles in ag geneem, is boere die nuwe jaar in met selfvertroue. Jannie Strydom, bestuurshoof van Agri Wes-Kaap, vertel waarna hy uitsien, en waaroor hy positief is.
Vrydag, 9 Februarie 2024
Die ondersteuningsprogram vir grondhervorming ná vestiging, word deur die Wes-Kaapse departement van landbou ondersteun. Grondhervormingsprojekte word ook ge-evalueer. Elandri Snyman, die ko-ordineerder van die Wes-Kaapse Jongboer van die Jaar-kompetisie, vertel watter pryse vanjaar op die spel is, en wat die vereistes vir die kompetisie is.
Saterdag, 10 Februarie 2024
Die Europese Unie se klimaatmonitors het 2023 aangewys as die warmste jaar nóg op rekord. Buitensporige hoë temperature word binne en buite ons landsgrense aangeteken. Landbouers gaan gebuk onder onder ernstige brande. Vloede is op die oomblik byna daagliks in die nuus. Daar word met erns planne beraam om die impak te verminder.
Vrydag, 16 Februarie 2024
Kachne Ross is die vaardigheidsontwikkeling-bestuurder by Vinpro. Haar taak is om geleenthede binne die wynbedryf te skep. Sy gee ‘n oorsig van die projekte wat Vinpro vanjaar aanpak. Hardus van Heerden van Sofralab praat oor byvoegings wat vir wynproduksie vervaardig word. Hy gesels ook oor veganistiese wyn en ‘n natuurlike filosofiese benadering in die maak van wyn. Soné Nell, ‘n doktorale student in Veekunde by Stellenbosch Universiteit, se navorsing handel oor die uitwerking van Ulva lactuca, ‘n groen seewier wat welig langs die kus van Suid Afrika groei, in skaapvoeding. Sy het die seewier ingesluit in ’n afrondingsrantsoen, met die doel om die metaanvrystelling van skape te bepaal.
Saterdag, 17 Februarie 2024
Een van dr. Ilse Trautmann, adjunkdirekteur-generaal landbounavorsing en regulatoriese dienste by die Wes-Kaapse Departement van Landbou, se fokuspunte is om die potensiaal van die jeug binne ‘n veranderende klimaat te ontsluit. Die Minister van Landbou in die Wes-Kaap, dr. Ivan Meyer, se aksieplanne in dié verband is reeds ter tafel gelê.
Vrydag, 23 Februarie 2024
Adele du Toit van die SA Rooibosraad praat oor stand van die bedryf. Die organiseerder van Nampo Kaap, Toit Wessels, het nuus oor die graanbedryf. Agri Wes-Kaap het onlangs ‘n aanlyn omgewingsdiensteportaal bekend gestel. Muller Cronjé, ‘n student by Stellenbosch Universiteit is besig met sy Meesterstudies in Veekunde by die Outeniqua Navorsingsplaas. Hy fokus op die winsgewendheid van weidingsgebaseerde melkproduksie.
Saterdag, 24 Februarie 2024
Daar is heelwat gratis aanlyn-inligting wat beskikbaar is vir boere. In ‘n era van kitsfeite en die teenwoordigheid van fopnuus, is dit gerusstellend om te hoor dat mens jou steeds kan wend tot navorsingsgebaseerde waarheid van onafhanklike bronne. Die adjunk-direkteur van Landbou-ekonomie by die Wes-Kaapse Department van Landbou, Riaan Nowers, vertel van vele databasisse, wat onder andere verband hou met wildsveilings en die jagbedryf in Suid-Afrika.
Vrydag, 1 Maart 2024
‘n Nuwe uitbreking van Afrika-varkgriep is onlangs naby Groeneweide Park naby George aangemeld. Die gebied is onder kwarantein geplaas. Dr. Mike Wallace van Geografiese Inligtingstelsel in die Wes-Kaap vertel van die lug-en-grond-waarnemingsensus. ‘n Markplek vir landbou-insette is onlangs bekendgestel. Michael Prinsloo, voorheen van Overberg Agri, is aan die stuur daarvan. Hy praat oor die voordele hiervan vir boere. Suzaan Smit, president van die Swellendam Landbouskou, vertel wat skougangers vanjaar kan verwag. Francois Auret, ‘n landboukundige, bespreek die inhoud van sy MBA-navorsingstudie wat handel oor die uitwerking van klimaatsverandering op die Suid-Afrikaanse tafeldruifbedryf.
Saterdag, 2 Maart 2024
Warren Bam vertel hy het destyds by sy pa leer boer. Vandag is hy ‘n bekroonde organiese tafeldruifboer van Saron in die Wes-Kaap, wat die een eerbetoon na die volgende inpalm. Wat hy reeds vermag het, is bewonderenswaardig, hoewel hy gretig vertel dat hy nog lank nie klaar gedroom het nie. Warren neem ons op ‘n reis met ‘n onvergeetlike verhaal van risiko, beplanning en moed bymekaarskraap.
Vrydag, 8 Maart 2024
Op 8 Maart 2024 word geskiedenis in klimaatsbestuur gemaak. Die Minister van Landbou in die Wes-Kaap, dr. Ivan Meyer, verduidelik wat vir die eerste keer gaan plaasvind. Dr. Ilse Trautmann, Adjunkdirekteur: Landbou-navorsing en Regulatoriese Dienste by die Departement van Landbou in die Wes-Kaap, vertel van haar wedervaringe by die onlangse Green Week in Berlyn. Johan Botes, die president van die Beaufort-Wes Landbou-skou, vertel waarna besoekers vanjaar kan uitsien. Ons vind ook uit wat skaapsielkunde behels.
Saterdag, 9 Maart 2024
Jacqueline Pandaram, die hoofdirekteur verantwoordelik vir landelike ontwikkeling by die Departement van Landbou in die Wes-Kaap, vertel van die tyd toe sy deel was van die rampbestuurspanne van die Verenigde Nasies. ‘n Saak van lewe en dood het te doen met ‘n toename in onverwagte weerspatrone. Dit hou verband met klimaatsverandering. Sy neem ons op ‘n reis met reddingsverhale binne en buite ons landsgrense.
Vrydag, 15 Maart 2024
Elandri Strydom, die koördineerder van die Wes-Kaapse Jongboer van die Jaar-kompetisie, praat oor die kriteria en sluitingsdatum van vanjaar se kompetisie. Jannie Strydom, die bestuurshoof van Agri Wes-Kaap, bespreek die rol van georganiseerde landbou. Die bestuurshoof van Fruit SA, Fhumulani Ratshitanga, vertel van die projekte wat die organisasie aanpak, en wat beplan word vir 2024. Dr. Stephano Haarhoff, landboukundige in die Agri Carbon Koolstofkredietprogram by Climate Neutral Group Suid-Afrika, het nuus oor koringproduksie in en buite Suid-Afrika.
Saterdag, 16 Maart 2024
Francois Auret het onlangs ’n MBA-navorsingstudie voltooi oor die impak van klimaatsverandering op tafeldruifproduksie in Suid-Afrika. Hy is veral geïnteresseerd in risikofaktore in die bedryf. Hy verduidelik die waarde van basisnavorsing in klimaatstudies, en hoe dit boere kan bystaan in die toekoms. Hy vertel ook dat Suid-Afrika en Peru opvallend baie ooreenkomste het met betrekking tot landbou.
Vrydag, 22 Maart 2024
Dr. Lindy Rose, seniordosent by die departement plantpatologie by Universiteit Stellenbosch, praat oor die grondboontjie-produkte wat onlangs van winkelrakke verwyder is weens hoë vlakke van aflaktoksien wat daarin gevind is. Dr. Debora van der Merwe van die departement voedselwetenskap by US vertel van ’n nuwe produk van aartappelmelk, Kapoki, wat deur studente ontwikkel is. The Pebbles Project wat maatskaplike dienste aan kinders in landelike gebiede lewer, het onlangs die Soap for Hope-inisiatief begin.
Saterdag, 23 Maart 2024
Ons kuier by ‘n raakvatter en dapper dromer. Sy landboureis is vanjaar tien jaar oud. Ons gesels oor die betekenis en simbole van tien. ‘n Dekade. Tien Gebooie. Van twintigs na dertigs. Joel Stransky. Die gee van ‘n tiende. Byron Booysen bevind hom vandag by ‘n kruispad. Sy volgende hoofstuk gaan gepaard met die ontwikkeling van sy plaaslike gemeenskap. Dié ongewone roete na sy groenteboerdery in die Wes-Kaap, sorg vir ‘n storie vir die eeue.
Vrydag, 29 Maart 2024
Die Sitruskwekersvereniging van Suider-Afrika sê die Sitrus Sekondêr-program skep ‘n geleentheid vir leerders om ‘n reeds erkende plantproduksie-kwalifikasie op hoërskool te behaal. Dit word deur die Sitrusakademie aangebied. Jacomien de Klerk, die bestuurshoof van die akademie, sê meer as 450 leerders sal na verwagting vanjaar vir die program inskryf. Die opvoedkundige geleentheid word oor twee jaar gefasiliteer, en is gemik op graad 10 en 11-leerders. Het jy geweet Suid-Afrika plant meer Chenin Blanc aan as enige ander plek in die wereld? Ons kyk ook na die uitvoertendense. Cornelius Ooshuizen, hoofbestuurder van Koppert Suid-Afrika, praat oor mikro- en makro-gewasbeskerming.
Saterdag, 30 Maart 2024
Die SA Wynoes Herdenkingsgeleentheid word jaarliks aan die begin van Februarie gehou, ter herdenking van die eerste oesjaar op Suid-Afrikaanse bodem in 1659. By vanjaar se geleentheid, aangebied by Groot Constantia, is die 2024-oes geseën, die wynbedryf se 365ste bestaansjaar gevier, en voorlopers in die bedryf vereer. Ilse Ruthford, besturende direkteur van Compagniesdrift, het die toekenning vir Groeiende Inklusiwiteit huis toe geneem.
Vrydag, 5 April 2024
Prof. Pieter Swanepoel, hoof van die Departement Agronomie by Universiteit Stellenbosch, praat oor kanola as ‘n alternatiewe bron van proteïen in dierevoeding. Hy bespreek oor die rol van dié gewas in herlewingslandbou. Die suiwelbedryf het vanjaar die rekords laat spat by die 191ste SA Suiwelkampioenskappe. ‘n Rekordgetal van 78 suiwelvervaardigers het ‘n rekordgetal van 1 029 suiwelprodukte ingeskryf. Dr. Johann Strauss, ‘n senior navorser by die Wes-Kaapse Departement van Landbou, vertel van die wêreldkongres in bewaringslandbou wat van 22 tot 25 Julie in Kaapstad aangebied word.
Saterdag, 6 April 2024
Waarom leef ons beter as ons voorsate. Hoekom is ons ryker as ons voorsate? Wat het ‘n Indonesiese vulkaan met die Groot Trek te doen? En wat het Karel die Grote gemeen met koning Zwelethini? Dit vn die vrae wat prof. Johan Fourie verken in sy boek, SKATRYK. Hierdie leesbare ekonomiese geskiedenis strek van die migrasie uit Afrika 100 000 jaar gelede tot vandag. Hy verduidelik waarom die bouers en veral landbouers van ‘n samelewing – eerder as dié wat afbreek – uiteindelik seëvier.
Vrydag, 12 April 2024
Die adjunkdirekteur van landbou-ekonomie by die Wes-Kaapse Department van Landbou, Riaan Nowers, praat oor databasisse wat verband hou met agri-toerisme. Die besturende direkteur van Compagniesdrift, wynstoor-maatskappy, gesels oor werksgeleenthede in die bedryf. Jacqueline Pandaram, die hoofdirekteur verantwoordelik vir landelike ontwikkeling by die departement van landbou in die Wes-Kaap, praat oor ontwikkelingsfokuspunte in die provinsie. Professor Johan Fourie van die Departement Ekonomie by Universiteit Stellenbosch beskryf unieke bewysbare eienskappe van Suid-Afrikaanse boere.
Saterdag, 13 April 2024
Teen ‘n bergtop op ‘n plaas in die Wes-Kaap, wys fietsryers van regoor die wêreld elke jaar hulle staal. Deelnemers aan die Cape Epic beskryf hierdie deel van die roete as die mees uitmergelende een van die wedren. Cliffhanger is die naam van die kronkelpad op die plaas Canetsfontein. Dis ook hier waar organiese wyn, spesifiek vir marathon-atlete, geproduseer word. Frank Meaker is die hoof van wyn-ontwikkeling. Hy vertel hoe daar ook gewoeker word met swaelvrye preservasiemetodes, wat insluit die gebruik van heuningbos en rooibostee.
Vrydag, 19 April 2024
Dr. Ilse Trautmann, die adjunkdirekteur-generaal landbounavorsing en regulatoriese dienste by die Departement van Landbou in die Wes-Kaap, vertel van die gratis landbou-publikasie, Agriprobe. Statistieke SATATS het in die eerste kwartaal bekend gemaak dat landbou ‘n beduidende rol in werkskepping die afgelope jaar gespeel het. Dr. Tracy Davids, ‘n landbou-ekonoom by die Buro vir Voedsel en Landboubeleid, brei uit hieroor.
Saterdag, 20 April 2024
Op Warren Bam se plaas in die Wes-Kaap word tafeldruiwe organies geproduseer. Hy sê hy boer graag met die mond deur woorde, en dat die wingerdstok sy werkgewer is. Op sy plaas tree meer as 200 mense daagliks aan. Ons praat met hom oor leierskap in landbou, seisoenale suksesse en meer.
Vrydag, 26 April 2024
Francois Auret het onlangs sy meesterstudie voltooi oor die uitwerking van klimaatsverandering op die sagtevrugtebedryf. Hy gee raad aan nuwe toetreders, ook aan die hand van gratis hulpmiddels wat beskikbaar gestel word deur die departement landbou in die Wes-Kaap. Die heel eerste klimaatsindaba aangebied deur die Wes-Kaapse regering is verlede maand in Kaapstad gehou. Een van die deelnemers was Karen Shippey. Sy is Hoofdirekteur: Omgewingsvolhoubaarheid by die Wes-Kaapse Departement van Omgewingsake. Sy is onder andere ‘n kenner op die gebied van geslagsgelykheid en ‘n veranderende klimaat. Dr. Diane Mostert is ‘n navorser by die departement plantpatologie aan die Universiteit Stellenbosch. Sy bespreek haar navorsing ten opsigte van piesangverwelking en kanola.
Saterdag, 27 April 2024
Op ‘n plaas net buite Kaapstad word daar gretig met groente geboer. Byron Booysen sê dis vir hom veel belangriker om veilige, gesonde kos aan sy gemeenskap te lewer as om grootskaalse kontrakte los te slaan. Vasberadenheid is by hom ‘n wortelwoord. Dis ook heerlik om ‘n landbou-liefdesverhaal te deel. Dit was juis Byron se rissie-aanplanting wat destyds rooiwarm romanse aangevuur het. Ons kuier by ‘n jong man met ‘n hart vir sy naastes en ‘n oog op die toekoms, wat medemenslikheid sy mantra gemaak het.
Vrydag, 3 Mei 2024
Ons praat met Werner Nieuwoudt, die voorsitter van die rooibosprodusentevereniging, wat verlede jaar tot stand gebring is. Plantpatologie-navorser dr. Gert van Coller vertel van die jongste navorsingsprojekte wat deur die departement landbou in die Wes-Kaap onderneem is oor goedkoper teenoor duurder swamdoderprogramme op koring. Agri SA se adjunkpresident Nicol Jansen vertel van GraanSA se opnames en berekeninge wat daarop dui dat Suid-Afrika ‘n witmieliesurplus van sowat 1,1 miljoen ton behoort te hê om te kan uitvoer na buurlande, wat groot tekorte vanweë die droogte ervaar.
Saterdag, 4 Mei 2024
In Suid-Afrikaanse boorde word daar daagliks planne bedink deur boere. Ons deel ‘n storie oor uitvoere en uithouvermoë. Gerrit van der Merwe is die nuwe voorsitter van die Sitruskwekersvereniging. Dié 39-jarige landbouer vertel van die dinge wat hom na aan die hart lê, veral op die plaas ALG boerdery in Citrusdal.
Vrydag, 10 Mei 2024
Strategiese beplanning vir landbou-organisasies en die regering is ‘n weldeurdagte proses, en nie net ‘n moment nie. Die direkteur van sake-ontwikkeling en strategie by die Wes-Kaapse Department van Landbou, dr. Dirk Troskie, verduidelik. Professor Pieter Swanepoel, die hoof van die Departement Agronomie aan die Universiteit Stellenbosch en raadslid by die Proteïennavorsingstigting, gee ‘n oorsig van tien jaar se navorsing oor stikstof en stikstoftoediening.
Saterdag, 11 Mei 2024
Christi van den Heever boer die afgelope 16 jaar vir Graaff Fruit, waarvan die afgelope vyf jaar as landgoedbestuurder op die plaas Rietfontein in die Koue Bokkeveld. In 2023 is hy aangewys as Wes-Kaapse Jongboer van die Jaar.
Vrydag, 17 Mei 2024
Dr. Chanel Lombard, ‘n staatsveearts op Vredendal, praat oor die onlangse uitbreking van bek-en-klouseer. Die nuutopgeknapte en opgegradeerde Provinsiale Veterinêre Laboratorium is onlangs in Stellenbosch geopen. Dr. Riaan Putter, ‘n veearts in George, en Piet Kleyn, uitvoerende bestuurder by die Volstruis Besigheidskamer op Oudtshoorn, het daar besoek afgelê. Elizabeth Kuhn, verbonde aan ‘n firma wat sorg vir tegniese en wetenskaplike ondersteuning aan melkboer, vertel van die langslewendheidskongres van melkbeeste wat onlangs in die Kaap gehou is. Agri SA se adjunkpresident, Nicol Jansen, praat oor aspekte wat ‘n impak op die landbou-ekonomie het. Bid vir ons Boere is ‘n geleentheid wat by Koedoesfontein tussen Parys en Potchefstroom plaasvind. Paul Rossouw is die organiseerder, en vertel meer daarvan.
Saterdag, 18 Mei 2024
Niel Bruwer, ‘n vrugteboer van Prince Alfred Hamlet, is die voorsitter van Agri Wes-Kaap se Jongboerkomitee. Hy leef in verbondenheid met die natuur. Hy praat oor pasgeborenes, die plaaslewe en plekname.
Vrydag, 24 Mei 2024
Breyton Milford, die hoofbestuurder van Agri-Expo, gesels oor vanjaar se SA Suiweltoekennings. Johan Faure, die voorsitter van die Wes-Kaap Pluimveeklubskou, het nuus oor vanjaar se geleentheid wat in Villiersdorp aangebied word van 6 tot 8 Junie. Professor Pieter Swanepoel, die hoof van die Departement Agronomie aan die Universiteit Stellenbosch en raadslid by die Proteïen Navorsingstigting, vertel van die Wêreld Herlewingslandbou-kongres wat vanjaar in Kaapstad gehou word.
Saterdag, 25 Mei 2024
Dit lyk of Robotika, ChatGPT en fopnuus ‘n blywende plek in die samelewing inneem. Goeie oordeel hiermee is verpligtend. Heelparty van die nuwe toepassings is van waarde vir produsente.
Vrydag, 31 Mei 2024
Ons kyk na van die hoogtepunte op Agri Wes-Kaap se kalender vir die volgende paar maande. Louis Snyman, die voorsitter van die Lutzville-landbouskou, vertel van vanjaar se geleentheid. Peter Penz van die plaas, Groote Post, verduidelik wat verbruikers van 2024 se Sauvignon Blanc te wagte kan wees.
Saterdag, 1 Junie 2024
In Jeugmaand fokus ons op Suid-Afrika se jong boere. Warren Bam boer organies met tafeldruiwe buite Saron in die Wes-Kaap. Byron Booysen staan by ‘n kruispad. Hy is besig om ‘n nuwe werklikheid as boer in te gaan. Dié jong Kaapse groenteprodusent deel die storie van sy hiervandaan.
Vrydag, 7 Junie 2024
Suid Afrika het onlangs sy 38ste goue toekenning by die Chelsea Blommeskou in Londen ingepalm. Dit was ook die eerste keer dat ons die prys vir die beste uitstalling gewen het. Die geleentheid word as die Olimpiese Spele van Blommeskoue gereken. Die besturende direkteur van De Fynne-kwekery buite die Paarl, Jacky Goliath, is ‘n lid van Span Suid-Afrika, en het met ons vanuit Londen gesels. In ‘n spesiale Jeugmaandinsetsel praat ons met dr. Meiring du Plessis, wat op tagtig jaar sy doktorale studie in grondwetenskap voltooi het. Arie van Ravenswaay van die Departement van Landbou in die Wes-Kaap vertel van ‘n onlangse navorsingsprojek waar kameras op beeste se koppe geplaas is om, onder andere, weidingsgedrag te monitor.
Saterdag, 8 Junie 2024
Christi van den Heever is in 2023 aangewys as jongboer van die jaar in die Wes-Kaap. Hy boer vir Graaff Fruit as landgoedbestuurder op die plaas Rietfontein in die Koue Bokkeveld. Hy tree gereeld op as spreker by geleenthede en skoue vir jongmense.
Vrydag, 14 Junie 2024
Ons kry meer besonderhede oor vanjaar se Agri-Werker-toekennings en Jeugdagvierings in die Wes-Kaap. Staatsveearts dr. Vivian Malan bespreek onlangse gevalle van hondsdolheid in die Wes-Kaap. Plantpatologie-navorser dr. Gert van Coller vertel van die jongste navorsingsprojekte oor toedieningsmetodes en die effektiwiteit daarvan op kanola, en swartstam-weerstand. En, ons kry handige wenke oor hoe boere hulleself kan beskerm teen kuberkrakers wat hulle probeer fnuik by wyse van e-posse.
Saterdag, 15 Junie 2024
Die term, winshorison, is uniek aan die landbou. Dis beskrywend van planmaak, plant, optimale sorg en die vestiging van hoop. Ons fokus op Gerrit van der Merwe, die voorsitter van die Sitruskwekersvereniging en baas van die plaas, ALG boerdery, in Citrusdal. En Niel Bruwer, die voorsitter van Agri Wes-Kaap se Jongboerkomitee. Hy is ‘n vrugteboer van Prince Alfred Hamlet. In ‘n realiteitsreeks op TV het Niel ver meer gekry as waarvoor hy gehoop het.
Vrydag, 21 Junie 2024
Professor Chrisjan Cruywagen is afgetrede veekundige, en jonger broer van Riaan Cruywagen. Hy verduidelik die verskil tussen ‘n veearts en veekundige, en beskryf loopbaangeleenthede in dié rigtings, aan die hand van sy eie loopbaan. Dr. Etienne Terblanche gee ‘n oorsig van Vinpro se tegniese oesverslag. Dr. Chanel Lombard, ’n staatsveearts, verduidelik watter diere deur bek-en-klouseer geraak word, en hoe produsente hulle kuddes kan beskerm.
Saterdag, 22 Junie 2024
Wilmie Hough is besig met haar meesterstudies aan die Universiteit Stellenbosch. Voorgraads het sy haar in die veld van veekunde bekwaam. Nou is weidingsgedrag van vleisbeeste ‘n saak waaroor sy reeds diepdomein kennis het.
Vrydag, 28 Junie 2024
Sou mens die vastekoste komponent opweeg teen die finansieringskoste van onafhanklikheid in terme van kragopwekking, hou dit bepaalde uitdagings in. Agri SA se adjunkpresident, Nicol Jansen, praat hieroor aan die hand van kostepatrone wat voorlê vir Eskom. Ferdie Endemann, ‘n spesialisvoorligter in akwakultuur by die Wes-Kaapse Departement van Landbou, deel besonderhede oor ‘n internasionale akwakultuurkonferensie wat eersdaags plaasvind. Hy het ook nuus oor loopbaangeleenthede in die ornamentele visbedryf.
Saterdag, 29 Junie 2024
In die laaste program in ons Jeugmaand-reeks, belig ons dienste en loopbaangeleenthede in die landbousektor.