RSG Landbou Archives
The RSG Landbou Archive. Right click on the audio and select Save As. This allows you to download the sound clip to your device.
2025 Archive
Vrydag, 4 Julie 2025
Suid-Afrikaners drink jaarliks 3,5 miljard koppies rooibostee! Afgesien van die gesondheidsvoordele daarvan, het rooibos ook ‘n rol te speel in herwinningsprosesse. Vir aande voor die kaggelvuur vind ons by Shawn Thomson van DTK Wines uit wat die verskil is tussen Cape Ruby en Rooi Muskadel. Groenteboer Peta Malan praat oor die gebruik van voordelige insekte. Sy verduidelik waarom sy graag die uitheemse tamarillo of tamatieboom aanplant, en sy deel ‘n ingelegde eiervrugresep.
Saterdag, 5 Julie 2025
Ons hoor die storie van die vestiging van peuselvrugte, en die rol wat Suid-Afrikaanse produsente speel. Deon Joubert, ‘n spesiale gesant vir marktoegang in die VSA en Europese markte by die Citrus Growers’ Association of Southern Africa, verduidelik waarom hy glo dat Suid-Afrika een van die beste landboulande is. Volgens hom is daar ‘n legio geleenthede in voedselsekuriteit en die lewering van gehalte produkte.
Vrydag, 11 Julie 2025
Ons vind meer uit van die jongste kwartaallikse uitgawe van Smart Agri Barometer. Ons hoor watter klimaatslimoplossings van stapel laat loop is te danke aan vennootskappe en aksieplanne van die Mediterranean Climate Action Plan.
Saterdag, 12 Julie 2025
‘n Chileense labrador het destyds poot bygesit op ‘n plaas waar wyndruiwe verbou word. Só het sy die boer attent gemaak op die voorkoms van ‘n produksiefout wat kurkbederf tot gevolg gehad het. Honde wat ingespan word om landboupeste uit te snuffel, is reeds ‘n realiteit in Suid-Afrika.
Vrydag, 18 Julie 2025
Dr. Vivian Malan, ‘n staatsveearts in die Boland, praat oor die huidige stand van voëlgriep in die land. Granville Stander van die Elsenburg Navorsingsinstituut, vertel waarna voornemende studente kan uitsien. Deona Strydom van die Wes-Kaapse Departement van Landbou gesels oor die provinsie se prestige agri-toekennings.
Saterdag, 19 Julie 2025
Lizette Nowers doen wetenskaplike navorsing by die Departement van Landbou in die Wes-Kaap, hoofsaaklik oor swamsiektes wat in canola voorkom. Canola is ‘n plant met vele gebruike vir mens sowel as dier. Sy en Arie van Ravenswaay van dieselfde departement is onlangs met ‘n toekenning vereer ná ‘n grensverskuiwende navorsingsprojek oor die bestuur en voorkoming van canola-siektes.
Vrydag, 25 Julie 2025
‘n Diagnostiese evaluasie van die Vierde Industriële Rewolusie is deur die Wes-Kaapse Departement van Landbou onderneem. Die uittredende sirekteur van sake-ontwikkeling en strategie by die department, dr. Dirk Troskie, verduidelik wat dit behels en wat dit tot gevolg gehad het. ‘n Besondere edelkultivar-mylpaal is gevier toe Suid-Afrika se top muskadelprodusente vir die 20ste jaarlikse Muskadel SA-toekennings in die Paarl byeengekom het. Badsberg Wine Cellar naby Rawsonville in die Breederiviervallei het ‘n platinum toekenning gewen vir hul Badsberg Red Muscadel 2023.
Saterdag, 26 Julie 2025
Francois Rossouw van Mooigezicht Estates op De Doorns is as 2025 se Agri Wes-Kaap Santam Jongboer van die Jaar aangewys. Hy boer met tafeldruiwe op 310 hektaar, en is ’n dinamiese jong leier wat reeds ’n sleutelrol in sy familieboerdery en gemeenskap speel. Rossouw se toekomsvisie sluit die uitbreiding van bemagtingsinisiatiewe, sosiale ontwikkelingsprojekte vir plaaswerkers en hulle kinders in.
Vrydag, 1 Augustus 2025
Die Vroue Landbouvereniging van Kaapland Sirkel Weskus en Sirkel Namakwaland bied die 95e VLVK Kongres op 21 en 22 Augustus by Mykonos in Langebaan aan. Claudie Lintvelt boer buite Loeriesfontein in die Noord-Kaap. Sy gesels oor haar betrokkenheid by die VLV, en vertel van die dag toe dit begin reën het ná ‘n nege jaar lange droogte. Dr. Ilse Trautmann van die Departement Landbou in die Wes-Kaap deel haar wedervaringe by die Namakwaland VLV-sirkel in Loeriesfontein. Herman de Kock, die bestuurshoof van Nedbank Mid-Korporatief, verduidelik waarom volhoubaarheid deel moet wees van ‘n boer se sakestrategie ten einde winsgewendheid te verseker.
Saterdag, 2 Augustus 2025
Die uittredende hoof van Historic Wines of the Cape, Hein Koegelenberg, bring hulde aan vroue in landbou. Hy het in sy loopbaan baanbrekerswerk gedoen vir Suid-Afrikaanse wyn in die Verre Ooste, en is ook bekend as ‘n dinamiese figuur in wyntoerisme.
Vrydag, 8 Augustus 2025
The International Blueberry Organisation se wêreldsimposium vind van 25 tot 27 September in Kaapstad plaas. Siektevoorspelling en navorsing rakende kosproduksie is lewensbelangrik. Wetenskaplike navorser by die Departement Landbou in die Wes-Kaap. Lizette Nowers, verduidelik. Alani Janeke, senior multimediajoernalis by Landbouweekblad, is as een van die wenners aangewys by The Women’s Voice Competition, ‘n nasionale toekennings geleentheid, wat vroue in landbou vereer.
Saterdag, 9 Augustus 2025
Jannie Strydom, die uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, bring hulde aan vroue in die landbou. Hy bring ons ook op hoogte van die stand van sake in die sektor.
Vrydag, 15 Augustus 2025
InteliGro het met die Noordwes-Universiteit se Besigheidskool saamgespan om ’n pasgemaakte driejaar-opleidingsprogram vir gewasadviseurs te ontwikkel. Volgens Janet Lawless, bemarkingsbestuurder by InteliGro, is dié praktykgerigte opleiding noodsaaklik vir die unieke vaardighede wat dié beroep verg. Dr. Vivian Malan, ‘n staatsveearts in die Boland, bring ons op hoogte van alles wat ons van Afrika-perdesiekte behoort te weet.
Saterdag, 16 Augustus 2025
Daneel Rossouw, die hoof van landbouverkope by Nedbank Kommersiële Bankdienste, bring hulde aan vroue in landbou. Hy praat ook oor die stand van sake met invoertariewe.
Vrydag, 22 Augustus 2025
Saterdag, 23 Augustus 2025
Vrydag, 29 Augustus 2025
Tydens die skaapskeerkampioenskap by vanjaar se Swartlandskou kan jy kom luister na Tienie du Plessis. Hy is Suid-Afrika se eie skaapskeerkoning en houer van nasionale én internasionale rekords. Die uittredende hoof van Historic Wines of the Cape, Hein Koegelenberg, bring hulde aan vroue in landbou. Die Overberg Renosterveld Trust het saamgespan met die World Land Trust en die Mapula Trust om 270 hektaar bedreigde renosterveld te koop. Die ware bewaringswins hier is dat hierdie nuut verworwe grond ‘n belangrike vesting vir die bedreigde witkruisvleivalk is.
Saterdag, 30 Augustus 2025
Die internasionaal bekroonde wingerdkundige, Rosa Kruger, se intuïtiewe benadering het van die mees fynbesnaarde wyne tot gevolg gehad. Sy was onlangs ‘n spreker by ‘n oorsese geleentheid oor praktiese metodes in wingerde om klimaatsverandering aan te pak.
Vrydag, 5 September 2025
Toit Wessels, een van die organiseerders van Nampo Kaap 2025, gee meer besonderhede oor vanjaar se geleentheid. Hoe posisioneer landbouers hulleself in ‘n snelveranderende omgewing, veral met kunsmatige intelligensie in gedagte? Andries Wiese, die hoof van landbou by Hollard Versekering, praat hieroor aan die hand van risikobestuur.
Saterdag, 6 September 2025
Professor Brand Wessels, mede-professor in Houtkunde by Universiteit Stellenbosch, vertel van onlangse gebruike van hout, soos die oprigting van ‘n 25-verdieping gebou van hout, en ‘n Japanese satelliet wat van hout aanmekaar gesit is. Daar is ook navorsing aan die gang om hout chemies te behandel sodat dit deursigtig te word!
Vrydag, 12 September 2025
Die uittredende adjunkdirekteur van landbou-ekonomie by die Wes-Kaapse Department van Landbou, Riaan Nowers, se navorsingsresultate is legio. Hy vertel van die inhoud van vele databasisse wat verband hou met wildsveilings en die jagbedryf in Suid-Afrika. Die lente is hier, en jou groentetuin kort seisoenspesifieke aandag. Peta Malan, ‘n groenteboer van Wellington, deel handige raad en voorstelle oor preservering.
Saterdag, 13 September 2025
Kleinjan Teubes van Vredendal in die Wes-Kaap is drie jaar gelede aangewys as Raisin SA se Jong Produsent van die jaar. Van kleintyd af wou Kleinjan boer. Hy gebruik die term, skuldfiks, en is van mening dat swaar tye karakter bou. Sy vrou Jana, se lewe sou onherroeplik verander ná ‘n kankerdiagnose. Sy deel ook haar inspirerende storie.
Vrydag, 19 September 2025
Jack Human word beskou as die pionier van bewaringslandbou in Suid-Afrika. Hy was 65 toe hy in 2015 in ’n fratsongeluk op sy plaas oorlede is. Die Jack Human Bewaringslandbouweek is verlede maand in die Wes-Kaap gehou. Professor Johann Strauss, senior navorser by die Wes-Kaapse Departement van Landbou en kenner op die gebied van volhoubare produksiestelsels en bewaringslandbou, praat oor die hoogtepunte van die week. La Motte Sémillon het die gesogte Generaal Smuts Trofee by die Suid-Afrikaanse Jongwynskou gewen vir die beste wyn in Suid-Afrika van die 2025 oesjaar. Keldermeester Edmund Terblanche verduidelik waaraan die onlangse sukses toe te skryf is.
Saterdag, 20 September 2025
Arie van Ravenswaay, Assistentdirekteur Innovasie, Tegnologie-ontwerp en Oordrag by die Departement van Landbou in die Wes-Kaap, is pas terug van Kalifornië waar hy landbouers ‘n ding of twee gaan leer het. Hy vertel van Google se landbou-investeringsplan.
Vrydag, 26 September 2025
Die Sitruskwekersvereniging van Suider-Afrika sê die Sitrus Sekondêr-program skep ‘n geleentheid vir leerders om ‘n reeds erkende plantproduksie-kwalifikasie op hoërskool te behaal. Dit word deur die Sitrusakademie – ‘n filiaal van die Sitruskwekersvereniging – aangebied. Daar word ook nou ‘n gratis kursus aangebied vir voornemende landbouvoorligters in die sitrusbedryf. Dr. Böhmer Skool leer praktiese lewensvaardighede aan leerders met intellektuele gestremdhede. Hulle het hulle landbouprogram met slegs 100 hoenders begin. Vandag het hulle 340 henne en ‘n skoolvoedingsprogram wat deur eierproduksie gedryf word. Santa Ferreira van Nutrifeeds deel hulle merkwaardige storie.
Saterdag, 27 September 2025
Francois Rossouw van Mooigezicht Estates op De Doorns boer met tafeldruiwe. Hy is passievol oor voorskoolse ontwikelingsprojekte. Hy verduidelik hoe dit op sy familieplaas gedy, en waarom hy soveel agting vir enkelma’s in die landbou het. Francois deel ook die fassinerende storie van sy voorsate, wat heelparty landboupioniers insluit.
Vrydag, 3 Oktober 2025
Die sesde NAMPO Kaap-ekspo het ’n rekordtal besoekers verwelkom. Dei voorsitter van Bredasdorp Park, Henk Aggenbach, praat oor vanjaar se tema, Slim Tegnologie vir Doeltreffende Hulpbronbestuur. Dr. Ilse Trautmann van die Departement Landbou in die Wes-Kaap vertel wat alles te lees is in die jongste uitgawe van AGRIPROBE.
Saterdag, 4 Oktober 2025
‘n Rekordtal besoekers het NAMPO Kaap vanjaar besoek. Breyton Milford, hoofbestuurder by Agri Expo, sê NAMPO, en veral jeugskoue, is geleenthede waar toekomstige landbouers broodnodige ervaring opdoen. Die minister van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme in die Wes-Kaap, dr. Ivan Meyer, praat oor die uniekhede en landbougeleenthede van die Overberg.
Vrydag, 10 Oktober 2025
Dr. Carien Coetzee, sameroeper van die 2025 Sauvignon Blanc SA Top 10 kompetisie, praat oor hedendaagse digitale beoordelingstegnieke van wyn, asook die sensoriese ontleding daarvan deur middel van kunsmatige intelligensie. Met die somer wat om die draai is, maak gewasadviseurs noodsaaklike aanbevelings om suksesvol na die nuwe seisoen oor te skakel. Moorreesburg het vanjaar uit sy nate gebars met die Swartlandskou. Die president van die skou, Jacques Bester, verduidelik waaraan die sukses toe te skryf is. Volgens die internasionaal bekroonde wingerdkundige, Rosa Kruger, is die wynseël wat deur Suid-Afrikaanse bottelleerders gebruik word, enig in sy soort.
Saterdag, 11 Oktober 2025
Adre Prins is deur die departement landbou se vroue-entrepreneur van die jaar kompetisie, as beste vrouewerker aangewys in die Wes-Kaap. Sy is ‘n vragmotorbestuurder van beroep by Willow Creek Farm, en sy sit graag voet in die hoek oor haar eie ambisies en toekomsplanne. Tussen ander vragmotorbestuurders in landbou is Adre enigste hen tussen die hane.
Vrydag, 17 Oktober 2025
Ons hoor waar die grootse gesentraliseerde landbounavorsingskompleks in Afrika eersdaags opgerig word. Ons praat oor toegepaste loopbaangeleenthede in landbou, en kyk na onlangse gebruike van kunsmatige intelligensie deur produsente. Volgens die minister van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme in die Wes-Kaap, dr. Ivan Meyer, word landboubegrotings aan die hand van gereelde kontak met produsente saamgestel.
Saterdag, 18 Oktober 2025
Hier is ‘n storie oor kobras, korente en kool. Ons kuier op ‘n plaas tussen Klawer en Vredendal in die Wes-Kaap. Kleinjan Teubes boer met wyndruiwe, rosyntjies, en slaaisaad. Sy vrou Jana is ‘n onderwyseres.
Vrydag, 24 Oktober 2025
Uitvoermarkte raak strenger, chemiese opsies raak minder, en die wêreld kyk al hoe fyner na hoe kos geproduseer word. Martin Booyens word beskou as ‘n kenner wat geïntegreerde gewasoplossingsprogramme kan ontwikkel wat chemie én biologie balanseer. Ons ontmoet die nuwe Hoofdirekteur: Navorsing en Tegnolgie-ontwikkelingsdienste by die Departement Landbou Wes-Kaap, dr. Filicity Vries. Cobus Meiring van die Tuinroete Omgewingsforum vertel van ‘n inisiatief wat samewerking bevorder en volhoubare praktyke ten doel het, in vennootskap met die Nelson Mandela-Universiteit.
Saterdag, 25Oktober 2025
Ons vind uit waar die hoogste bome in Suid-Afrika en in die wêreld is. Ons ontmoet plaaslike boomboere, en bekyk loopbaangeleenthede in dié verband. Professor Brand Wessels, medeprofessor in Houtkunde by Universiteit Stellenbosch, verduidelik ook die funksie van ‘n vuuringenieur.
Vrydag, 31 Oktober 2025
Piet Lombard, ‘n navoringstegnikus by die Departement van Landbou in die Wes-Kaap, praat oor die voorkoms van die plantsiekte, antraknose. Daneel Rossouw, hoof van Landbou by Nedbank Kommersiële Bankdienste, praat oor biosekuriteit, naspeurbaarheid en tariefverhogings. Koolraap staan algemeen bekend as die Duitse raap of kohlrabi. Dit is verwant aan kool, en kan sowel rou as gaar geëet word, en groei fluks in Suid-Afrika. ‘n Groenteboer van Wellington, Peta Malan, verduidelik wat die beste manier is om dié lid van die Brassica-familie voor te sit.
Saterdag, 1 November 2025
Vrydag, 5 Desember 2025
Saterdag, 6 Desember 2025
Vrydag, 3 Januarie 2025
Therina Wentzel van die Nasionale Raad vir en van Persone met Gestremdheid, verduidelik hoe persone met gestremdhede ondersteun word om kwalifikasies te kry, en wat die raad alles doen om regverdigheid in die werksplek te bewerkstellig. Boere in Suid-Afrika speel hierin ‘n groot rol. Op die oomblik word projekte van stapel gestuur om indringerplante uit te wis. Tonneltuine op plase vir persone met gestremdhede word ingerig. Ons maak ook kennis met boere met gestremdhede.
Saterdag, 4 Januarie 2025
‘n Samewerkingsooreenkoms tussen die regering en boere in die Klein Karoo het die bou van ‘n nuwe pad tot gevolg gehad. Só is nuwe markte deur produsente ontgin, en afsetpunte gevestig. Gerhard Meyer van die plaas Celebratio deel hierdie storie. Hy verduidelik ook waarom hy glo dat granate mistieke vrugte is, en deel die eskiedenis en simboliek daarvan.
Vrydag, 10 Januarie 2025
Die Suid-Afrikaanse Suiwelkampioenskappe is een van die oudste landbou-toekenningsgeleenthede in die land. Inskrywings vir vanjaar se kompetisie is reeds oop. Tegniese besonderhede oor deposisiekwaliteit en -kwantiteit, iets wat ons graag van nader bekyk. Wat betref gewas beskerming produkte is die moontlikhede vir produsente legio. Plantpatologie-navorser dr. Gert van Coller deel nuus oor die jongste navorsingsprojekte wat deur die departement landbou in die Wes-Kaap onderneem is.
Saterdag, 11 Januarie 2025
Met 2025 nog in die wegspringblokke, bring ons graag ‘n storie van landbou-optimisme. Diegene wat die sektor lief het, deel ook in ‘n wye belangesfeer. Een waarin voedselsekerheid, die koestering van mens en dier, asook ekonomiese groei sentraal staan. Aan boord die landbouskip in Suid-Afrika staan ‘n boegbeeld van ons boere. Hulle kapteinskap sorg daarvoor. Jannie Strydom, die bestuurshoof van Agri Wes-Kaap, glo dat georganiseerde landbou produsente help om nie vaart te verloor nie.
Vrydag, 17 Januarie 2025
Emile Jordaan is die hoofbestuurder by Metos Suid-Afrika, ‘n firma wat weerstasies bou om mikroklimaat te monitor. Gabrielle Redelinghuys is die projekleier op inkubasieprojekte in dieselfde veld, en fokus veral op markintelligensie. Hulle praat onder andere oor gewasbeskermingschemie. Maryna Calow van Wines of South Africa vertel van die grootste wynverwante skou in die suidelike halfrond wat eersdaags in Kaapstad aangebied word. Meer as 400 produsente sal onder een dak wees.
Saterdag, 18 Januarie 2025
In die week waarin die nuwe akademiese skooljaar afgeskop het, gesels ons oor gesonde kosblikbeplanning aan die hand van voedselveiligheid. Professor Pieter Gouws is werksaam by die Departement Voedselwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch. Die lewering van gesonde, veilige voedsel begin by Suid-Afrikaanse boere, wat hul besonder goed van hulle taak kwyt.
Vrydag, 24 Januarie 2025
Kleinjan Teubes boer met wyndruiwe, rosyntjiedruiwe, slaaisaad en korente tussen Klawer en Vredendal in die Wes-Kaap. Hy praat oor risiko, oesvooruitsigte en die nut en belang van ‘n skaalkaart. Pieter van Wyk, boer en president van die Riversdal Landbouskou, vertel wat alles by vanjaar se skou gebeur.
Saterdag, 25 Januarie 2025
Ons kyk terug op ‘n week waarin Donald Trump ingehuldig is as die 47ste president van Amerika. Die situasie in die Midde-Ooste is nog ver van ‘n opgeloste saak, en daar is ook nog geen vredesverdrag in Oekraïne nie. Op eie bodem het ons die afgelope Dinsdag 300 dae sonder beurtkrag gevier, die langste tyd daarsonder sedert 2018. Nog ‘n nuusitem die week was Wes-Kaapse damme. Gemiddelde vlakke het gedaal tot onder 80%. Jannie Strydom, die bestuurshoof van Agri Wes-Kaap, plaas dié sake in perspektief, en verduidelik hoe gebeurtenisse buite die landsgrense plaaslike boere raak. Hy deel ook ‘n staaltjie oor ‘n rondloperleeu wat destyds gesorg het vir ‘n kostelike oomblik.
Vrydag, 31 Januarie 2025
Emmie Pietersen van Peritum Agri Instituut vertel van die Grain Depot-program wat in samewerking met Agbiz Grain aangebied word. Met die voltooiing van hierdie kursus word studente van ‘n werksplasing gewaarborg. Suzaan Smit van die Swellendam-landbouskou vertel wat vanjaar alle sby die skou te sien sal wees. Ashia Petersen van die Departement van Landbou in die Wes-Kaap praat oor die druk wat op produktiewe landbougrond geplaas word.
Saterdag, 1 Februarie 2025
Arie van Raavneswaay van die Wes-Kaapse Departement van Landbou verduidelik hoe kunsmatige intelligensie help met landbounavorsing. Vroeër vandeesmaand het brande groot dele van Los Angeles verwoes. In ‘n tyd van ‘n veranderende klimaat leer ons hoe om te onderskei tussen egte verslaggewing en fopnuus.
Vrydag, 7 Februarie 2025
Die minister van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme in die Wes-Kaap, dr. Ivan Meyer, verduidelik hoe geopolitieke realiteite, en die verkiesing van Donald Trump as Amerikaanse president, landbou in Suid-Afrika raak. Maritjie Cornelissen, adjunkdirekteur van kwaliteitsbestuur by die Elsenburg Landbou Opleidingsinstituut, belig loopbaangerigte landboukwalifikasies vir voornemende studente.
Saterdag, 8 Februarie 2025
Professor Johan Fourie van die Departement Ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch beklee die leerstoel vir ekonomie, geskiedenis en beleid. Hy is ook die skrywer van, SKATRYK – WAAROM ONS BETER LEEF AS ONS VOORSATE. Die tweede weergawe van die boek het pas die lig gesien. Hy gesels oor kosproduksie en die fassinerende geskiedenis van kunsmis. Ons vind uit wie die piramides in Egipte gebou het, met ‘n onvergeetlike blik op landboutradisies en boere van weleer.
Vrydag, 14 Februarie 2025
Volgens die Suid-Afrikaanse Rooibosraad bly die internasionale vraag na botaniese bestanddele en rooibosekstrak groei. Die jaarlikse wynoes-herdenkingsgeleentheid het onlangs by die Groot Constantia-wynlandgoed plaasgevind. Volgens Maryna Calow van Wines of South Africa is die groei in Suid-Afrika se verpakte wyn baie bemoedigend, soos blyk uit verskeie sleutelmarkte, soos Nederland, Kanada en Japan, en in Afrika, gelei deur Tanzanië, Zambië, Ghana en Mosambiek.
Saterdag, 15 Februarie 2025
Dean Barnard (41) van die Oppie Plaas-boerdery naby George is verlede jaar as Agri Wes-Kaap se Jongboer van die Jaar aangewys. Hy vertel hoe hy ’n uitdaging, wat byna sy lewe gekos het, oorkom het met gebed en toewyding.
Vrydag, 21 Februarie 2025
Plantpatologie-navorser dr. Gert van Coller deel die jongste navorsingsresultate oor swamdoder-deposisie op koring. Ashia Petersen, direkteur van volhoubare hulpbronbestuur by die Departement van Landbou in die Wes-Kaap, verduidelik hoe boere bevoordeel is deur die onderhou van die Lae Olifantsrivier-kanaal. Agri-Expo is op soek na Suid-Afrika se volgende jong grensverskuiwer in die suiwelbedryf.
Saterdag, 22 Februarie 2025
Toe ‘n groep boervroue destyds besluit het om kragte saam te span ter wille van die opheffing van plaaslike kinders, het ‘n organisasie tot stand gekom wat die lewensroete van honderde jongmense help rig na een van betekenisvolle deelname en selfwaarde. Patrizia van Zyl, Nelanie Bruwer en Amanda de Wet van Ashton in Action vertel van ‘n skool wat op die been gebring is met die bystand van die plaaslike landbougemeenskap.
Vrydag, 28 Februarie 2025
Die minister van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme in die Wes-Kaap, dr. Ivan Meyer, praat oor ’n kabinet-subkommittee vir voedselsekuriteit, marktoegang, en landbouprodukte. Ons fokus op gewasbeskermingschemie en mikroweerstasies op plase. Ons kyk na ‘n onlangse verslag deur die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid oor ondoeltreffende logistiek, en hoe dit die sitrusbedryf impakteer.
Saterdag, 1 Maart 2025
Dr. Renée Prins is ‘n wetenskaplike en entrepreneur. Sy is aan die stuur is van ‘n sosiale impak-program, wat aan jong Suid-Afrikaners lewensveranderende geleenthede bied.
Vrydag, 7 Maart 2025
Die SA Preserveer-kampioenskap word vanjaar vir die eerste keer gehou. Dis ‘n inisiatief van Agri-Expo. Phillipa en Julian Tailor boer met hops en graan in die noorde van Engeland. Hulle is lede van die Royal Agricultural Society of the Commonwealth. Tydens hulle heel eerste besoek aan Suid-Afrika, vertel hulle wat hulle by Suid-Afrikaanse boere geleer het. In 2026 is dit die beurt van Suid-Afrika om deelnemers te verwelkom by Die Statebond se landboukongres wat elke twee jaar plaasvind.
Saterdag, 8 Maart 2025
Wêreldwyd word 25% van voedsel wat geproduseer word, vermors. Ons kyk na maniere hoe om dié kwessie in ‘n Suid-Afrikaanse konteks aan te pak. Professor Pieter Gouws van die Departement Voedselwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch praat oor die waarde van binne-seisoen voedselprodukte, en hoe sekere organismes besig is om aan te pas by hulle omgewing. Ons stel ook ondersoek in oor waarom biltong beduidend beter smaak as Amerikaanse jerky.
Vrydag, 14 Maart 2025
‘n Internasionale afvaardiging is eersdaags op pad na Suid-Afrika nadat ‘n innoverende vennootskap onderteken is tussen verteenwoordigers van lande met ‘n Mediterreense klimaat. Marthane Swart bestuur die sekretariaat vir die Suid-Afrikaanse Rooibosraad. Sy het nuus oor ’n bewaringsinisiatief vir die Kaapse luiperd wat in die Cedergberg-gebied voorkom. Monique Vlok boer met aartappels in die Sandveld, tussen Piketberg en Redelinghuys. Sy praat oor waterbesparende metodes van verbouing.
Saterdag, 15 Maart 2025
Marcus Lewis is deur die Wes-Kaapse Departement van Landbou as die eerste Wyn-agriwerker gekies as deel van die jaarlikse kompetisie vir die Wes-Kaap Prestige Agri-toekennings. Hierdie inisiatief vereer die bydraes van wingerd-, kelder- en agriwerkers wat onmisbaar is vir die sukses van Suid-Afrika se wynbedryf. Lweis is die keldervoorman by Kanonkop.
Vrydag, 21 Maart 2025
Die beoordeling van Afrika se grootste en oudste suiwelkompetisie, die 192ste SA Suiwel Kampioenskappe, is afgehandel. Hoofbeoordelaar Graham Sutherland beklemtoon dat innovasie deelname bevorder. Dr. Huibre Schreuder het onlangs haar doktorale studies in plantpatologie voltooi. Sy praat oor har navorsing oor swartstam op canola. Professor Johan Fourie van die Departement Ekonomie by die Universiteit Stellenbosch verduidelik hoe mense langer leef te danke aan gehalte landbouprodukte en innovering in dié sektor.
Saterdag, 22 Maart 2025
Kobie van Breda is die afgelope 40 jaar doenig in die landboumasjienerie-bedryf. Hy het wye internasionale draaie geloop, met stories oor uiteenlopende kulture. Dis sy liefde vir landbou en Suid-Afrika wat hom aanspoor om werksgeleenthede aan ander te bied. Hy vertel stories van filantropie en medemenslikheid.
Vrydag, 28 Maart 2025
Die Suid-Afrikaanse span wat in 2024 deelgeneem het aan die Chelsea Blommeskou in Londen het verskeie pryse losgeslaan. Hulle uitstalling is ook as beste in die hoofpawiljoen aangewys. Die besturende direkteur van die De Fynne-kwekery buite Paarl, Jacky Goliath, was deel van die span. Met die ondersteuning van die Wes-Kaapse Departement van Landbou is sy vanjaar weer daar om die land te verteenwoordig. Die grootste wynskou in die wêreld is onlangs in Duitsland gehou. Besoekers het die geleentheid gekry om met Suid-Afrikaanse teenwoordigers te skakel, en om die diversiteit van die land wyn eerstehands te beleef.
Saterdag, 29 Maart 2025
Op die bessieplaas Haygrove buite Hermanus, is ‘n sonderlinge inisiatief van stapel gestuur. Jaarliks word plukkers en agri-werkers na Engeland gestuur om op plase daar kennis in te win. Met die ruilooreenkoms word hulle vaardighede verbreed, en verdien hulle Pond.
Vrydag, 4 April 2025
Elunda Basson is Sauvignon Blanc Suid-Afrika se nuwe voorsitter. Sy speel van 2019 af as keldermeester by Steenberg Vineyards ‘n sleutelrol om die Constantia-vallei se reputasie vir wêreldgehalte Sauvignon Blanc te versterk. Sy is ‘n bekende Cap Classique-spesialis, en ondervoorsitter van die Cap Classique Produsentevereniging, en het voorheen by wynkelders soos Nederburg, Pongrácz en J.C. Le Roux gewerk. Mentorskapsprogramme lê haar na aan die hart. Maritjie Cornelissen, adjunkdirekteur van kwaliteitsbestuur by die Elsenburg Landbou Opleidingsinstituut, vertel van vanjaar se opedag op 12 April.
Saterdag, 5 April 2025
Deon Joubert is die spesiale gesant vir marktoegang vir die VSA en Europese markte by die Sitruskwekers Assosiasie van Suider Afrika. Hy kyk met dankbaarheid terug op ‘n landbouloopbaan van 44 jaar. Hy neem ons op reis met verhale oor die 1 400 sitrusboere in Suid-Afrika. En hy vertel van vreemde Vlaamse verskynsels in landbou, soos die Belgiese Bloubees.
Vrydag, 11 April 2025
Die minister van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme in die Wes-Kaap, dr. Ivan Meyer, verduidelik die verband tussen lugvrag en die Groei vir Werk-strategie. Mariëtte Kotzé, hoofbestuurder vir bedryfsondersteuningsdienste by Hortgro, praat oor die belangrikheid van lugvrag, watter markte geteiken word, en die produkte wat met lugvrag vervoer word.
Saterdag, 12 April 2025
Landbouers in Suid-Afrika is besige mense. Hulle neem verantwoordelikheid vir mense, plante, diere, hulle plaaslike gemeenskappe, en soveel meer. Maar, hoe gereeld word daar ‘n bestekopname oor boere se geestesgesondheid gedoen? Dr. Louise van Coller is ’n spesialisberader, en stel veral belang in die welstand van mense wat die aarde bewerk. Ons praat met haar oor die waarde van introspeksie, en praktiese maniere om na die geestesgesondheid van produsente, hulle gades, gesinne en agriwerkers om te sien.
Vrydag, 18 April 2025
Eloise Pretorius gesels met spesialisberader Dr. Louise van Coller oor die geestesgesondheid van landbouers.
Saterdag, 19 April 2025
Eloise Pretorius gesels met ‘n boer oor hoe hy in die Guiness World Record-boek beland het met ‘n pruim wat byna ‘n halwe kilogram weeg. Dit is 11 cm lank en lyk meer soos ‘n mango.
Vrydag, 25 April 2025
Agri-Expo het die 31-jarige Pamella Dzindikwa, produksiehoof by Puglia Cheese, met die tweede jaarlikse Hollard Game Changer-toekenning vereer. Die SA Suiwelkampioenskappe, wat vanjaar sy 192ste bestaansjaar vier, is die grootste en oudste suiwelkompetisie in Afrika. Nasionale Besigheidontwikkelingsbestuurder van Hollard, Andries Wiese verduidelik waarom sy as wenner aangewys is.
Saterdag, 26 April 2025
RSG Landbou kuier diep in die Hantam en Boesmanland. Op die platorand tussen bossieveld en windplase is dit ‘n voorreg om met ‘n vrou kennis te maak wat haar wy aan ander. Op ‘n plaas buite Loeriesfontein in die Noord-Kaap is die sein swak, maar die menslike konneksie sterk. Mens is dankbaar vir die satellietfoon wat jou ‘n geselsie gun met Claudie Lintvelt. Sy vertel van haar betrokkenheid by die VLV, en ‘n nege jaar lange droogte.
Vrydag, 2 Mei 2025
Professor Brand Wessels, medeprofessor in Houtkunde by Universiteit Stellenbosch, verduidelik waarom hout as boumateriaal van die toekoms bestempel word. Die dennewoud op Delheim in Stellenbosch is deesdae ‘n plek waar navorsing gedoen word deur studente. Louw Pienaar, senior landbou-ekonoom by die Buro vir Voedsel en Landboubeleid, vertel van navorsing oor andbougroei.
Saterdag, 3 Mei 2025
Ons hoor die storie van ‘n gemeenskapsgroentetuin wat vir talle mense hoop en uitkoms gebring het. Dis geplant deur ‘n groep spesiale landboustudente.
Vrydag, 9 Mei 2025
Lindie-Alet van Staden is verlede jaar aangewys as die Wes-Kaap se algehele wenner van die provinsie se Agriwerker van die Jaar-kompetisie. Wie beter om by aan te klop vir raad oor die plant van ‘n groentetuin gedurende die wintermaande? Dr. Ilse Trautmann van die Departement Landbou in die Wes-Kaap vertel van die hoogtepunte van die jongste uitgawe van die landboupublikasie, Agriprobe.
Saterdag, 10 Mei 2025
Die vroueboere van Philippi is al jare daarmee doenig om douvoordag hulle gemeenskap te dien. Ons gesels ook sitrus. Vir elke tien miljoen kartonne sitrus wat uitgevoer word, word tien duisend permanente werksgeleenthede geskep. Dan kuier ons in Europa op ‘n plek waar sigorei met ham bedien word, en ons ontmoet paddaboere in Maleisië. Ons toergids is Deon Joubert. Voorheen in sy loopbaan was hy landbou-attaché in België.
Vrydag, 16 Mei 2025
Ná 21 jaar verlaat dr. Gert van Coller die Departement van Landbou in die Wes-Kaap as plantpatologienavorser. Hy gesels oor onlangse proefresultate, en deel van die interessantste bevindings wat hy gesien het. NID Opleiding is ’n organisasie sonder winsbejag vir persone met gestremdhede. Ons hoor van suksesvolle plasings die in landbou, en die pad vorentoe. Die Ashton Vaardigheidsakademie is die resultaat van ’n droom van drie vroue van die omliggende landbougemeenskap, wat vlerke gekry het.
Saterdag, 17 Mei 2025
Dr. Ilse Trautmann, adjunkdirekteur-generaal: landbounavorsing en regulatoriese dienste by die Departement Landbou Wes-Kaap, deel haar onlangse wedervaringe by die Namakwaland VLV-sirkel in Loeriesfontein. As gasspreker by hul geleentheid, het sy gesels oor hoe om jou lewe te kleur, aan die hand van onvergeetlike landboustories.
Vrydag, 23 Mei 2025
Metereoloog Anika de Beer praat oor die faktore wat Suid-Afrika se weer beïnvloed. Sy bespreek haar betrokkendheid by landbou, en die verwantskap tussen verbouingstgenieke en klimaatsverandering, asook die seisoenale voorspelling. Die Wes-Kaapse departement van landbou en kommoditeitsvennote het vergader om hulle memorandums van verstandhouding vir vyf jaar te hernu. Dit stel die platform vir kommoditeitsorganisasies om voort te gaan om nuwe boere te ondersteun met advies, mentorskap, opleiding, insette en marktoegang.
Saterdag, 24 Mei 2025
Dr. Jeanne Brand, ‘n dosent in wingerd en wynkunde aan die Universiteit Stellenbosch, en Taryn Pantony, ’n meestergraadstudent in wynbiotegnologie, vertel hoe ’n navorsingstudie, enig in sy soort, begin is. Honde word tans in Suid-Afrika opgelei om landboupeste uit te snuffel. Op dié manier vind talle viervoete sonder heenkome ‘n tuiste op plase waar hulle daagliks aanmeld as mens, en veral boer, se beste vriend.
Vrydag, 30 Mei 2025
Span Suid-Afrika het vir die tweede agtereenvolgende jaar goud gewen by die gesogte Chelsea-blommeskou in Londen. Dié skou word sedert 1913 jaarliks op die terrein van die Royal Hospital Chelsea aangebied, en word as die Olimpiese Spele van blommeskoue beskou. Suid-Afrika se deelnemers het vanjaar hulle groen vingers ingespan om ‘n skepping die lig te laat sien wat geïnspireer is deur die ontmoeting van die Indiese en Atlantiese Oseaan aan die kus van Suid-Afrika. Ons praat hieroor met die besturende direkteur van die De Fynne-kwekery buite Paarl, Jacky Goliath. Wynkundige dr. Carien Coetzee van Sauvignon Blanc SA was een van 60 beoordelaars wat in Bulgarye, byeengekom het vir die Sauvignon Selection by die Concours Mondial de Bruxelles-kompetisie. Suid-Afrikaanse produsente het weer ‘n rits toekennings daar ingepalm.
Saterdag, 31 Mei 2025
Professor Marena Manley van die Universiteit Stellenbosch se Departement Voedselwetenskap is deur die Internasionale Raad vir Nabye Infrarooi Spektroskopie aangewys as die 2025-ontvanger van die gesogte Tomas Hirschfeld-toekenning. Sy is die eerste Suid-Afrikaner wat dié toekenning kry.
Vrydag, 6 Junie 2025
Deona Strydom van die Wes-Kaapse Departement van Landbou vetrel van die provinsie se prestige agri-toekennings. Ter herdenking van Wêrelddag vir Werksveiligheid en -Gesondheid word ‘n kernboodskap beklemtoon: nakoming in landbou gaan nie meer net oor wetgewing nie – dit is ’n strategiese, etiese én omgewingsverantwoordelikheid. Professor Brand Wessels, medeprofessor in Houtkunde by Universiteit Stellenbosch, vertel van onlangse gebruike van hout, wat insluit die oprigting van ‘n 25-verdieping gebou van hout, en ‘n Japanese satelliet wat onlangs gelanseer is, wat van hout aanmekaar gesit is.
Saterdag, 7 Junie 2025
In Jeugmaand fokus op ‘n jong Suid-Kapenaar wat verlede jaar aangewys is as Agri Wes-Kaap se Jong Boer van die Jaar. By die Oppie Plaas Boerdery buite George word daar gewoeker met hops en vrugte. Aan die stuur van sake is ‘n pa van twee wat onverskrokke deelneem aan die lewe. Dis juis die storie oor sy reis na binne, wat Dean Barnard graag deel. In ‘n tyd van donkerte waar alle hoop verlore was weens sy stryd teen depressie, was sy wil om aan te gaan bloot nie meer daar nie. Vandag kyk Dean terug op ‘n hoofstuk van loutering, en rig sy visie na ‘n toekoms van avontuur en liefde.
Vrydag, 13 Junie 2025
Dr. Chanel Lombard, ‘n staatsveearts op Vredendal, verduidelik watter diere deur bek-en-klouseer geraak word, en hoe produsente hulle kuddes daarteen kan beskerm. Dei uittredende hoof van Historic Wines of the Cape, Hein Koegelenberg, praat oor Franse invloed op van ons landboupraktyke, met Bastille-dag wat eersdaags op Franschhoek gevier word. Dr. Ilse Trautmann van die Wes-Kaapse Departement van Landbou, vertel van die hoogtepunte in die Junie-uitgawe van Agriprobe.
Saterdag, 14 Junie 2025
Peta Malan se liefde vir tuinmaak het in haar kinderdae begin, waar sy baie oor boerdery en plante op haar ouers se plaas geleer het. Vandag is tuinmaak vir haar ’n veilige hawe. Sy het aanvanklik haar Instagramprofiel begin om deur middel van foto’s rekord te hou, maar toe talle mense na haar uitreik, het sy besef dit kan veel meer wees as net ’n dagboek.
Vrydag, 20 Junie 2025
Inskrywings vir Agri’s Got Talent se 12de seisoen is oop. Dis nie net ‘n sangkompetisie nie, dit is ‘n lewensveranderende reis van selfontwikkeling. Professor Marena Manley van die Universiteit Stellenbosch se Departement Voedselwetenskap is deur die Internasionale Raad vir Nabye Infrarooi Spektroskopie aangewys as die 2025-ontvanger van die gesogte Tomas Hirschfeld-toekenning. Sy is die eerste Suid-Afrikaner wat die toekenning kry. Sy verduidelik hoe haar navorsing nie kan geskied sonder die bydraes van haar studente nie.
Saterdag, 21 Junie 2025
Arie van Ravenswaay, assistentdirekteur van innovasie, tegnologie-ontwerp en -oordrag by die Departement van Landbou in die Wes-Kaap word internasionaal gereken as iemand op die voorpunt van tegnologiese ontwikkelings in die landbou. Hy praat oor die stand van hommeltuigtegnologie in Suid-Afrika. Lisette Nowers doen wetenskaplike navorsing op veral plantsiektes. Volgens haar is die omarming van tegnologie deur boere ‘n sleutelkomponent in vooruitgang.
Vrydag, 27 Junie 2025
Daneel Rossouw van Nedbank praat oor internasionale handelsonsekerheid, en hoe landboubesighede in nuwe markte kan floreer. Dr. Dirk Troskie van die Wes-Kaapse Department van Landbou verduidelik die departement se strategie-ontwikkeling en -evaluering.
Saterdag, 28 Junie 2025
Luiperds verdien om in bewondering beskerm te word, sê dr. Chavoux Luyt van die Cape Leopard Trust. Sy dagtake sluit in om met boere te skakel, die aanbied van werkwinkels, en om produsente touwys te maak oor die beskerming van hulle vee. Navorsing oor roofdiergedrag is onlangs in ‘n boek vervat, wat in samewerking met CapeNature saamgestel is.