Resource Utilisation   |   Agri-Outlook   |   State of agriculture

State of agriculture for September 2004

This report is currently only available in Afrikaans.


Landboutoestande vir September 2004

Die landboutoestande vir die Wes-Kaap is volgens die onderstaande afdelings ingedeel:

  1. Akkerbou kontantgewasse
  2. Akkerbou voergewasse
  3. Tuinbou
  4. Weidings
  5. Vee
  6. Reaksie uit die streke / bedryf

Akkerbou kontantgewasse

KORING    
WESKUS   Koringplante het gedurende September geblom. Koringplante was voor die reën van 18 September onder droogte-“stress”. Die droë warm dae ná die 18de sal ook ’n verlaagde opbrengs tot gevolg hê. Suid van Malmesbury en in die Koeberg vertoon toestande meer gunstig met meer ’n normale oes wat daar verwag kan word. Normale siektes kom op koringplante voor.

Noord van Moorreesburg, veral in die Koringberg-gebied, is die koring onder erge vogstremming en het dit begin ryp “brand”. Baie “wit are” het ook na die laaste reën verskyn.

In die Rooikaroo-gebied is ’n totale misoes die boere se voorland.

’n Redelik ernstige plaag van Bolwurms woed tussen Moorreesburg en Piketberg.

OVERBERG   Caledon: Witare verskyn op verskeie lande, vlak gronde en klipkolle lyk sleg, bolwurms is teenwoordig.

In die Swellendam-gebied kry koring nou baie swaar weens geen reën, maar verwag ’n goeie gemiddelde oes van 1.6 ton as daar nou ’n goeie reëntjie val. Blaarroes kom voor en op die kultivar SST 88 kom stamroes voor. Die stamroes kom erg voor op die kultivar SST 88 en die meeste boere moes 2 keer daarteen spuit. Witroes is baie skaars, maar dit is al opgemerk in sommige dele van die distrik. Bolwurms is nou ook ’n groot probleem. Die son het die graan op party plekke wit gebrand en dan is die aar nog binne groen. Baie boere is al aan die platsny.

EDEN   Winterkoring in die George-wyk was in die aarstadium en naby aan normale oesopbrengste word verwag. Koring in die Riversdale- en Heidelberg-gebied lyk goed en normale oeste word verwag. Weens minder reënval lyk koring in die Albertinia-gebied egter swakker. Enkele boere in die Albertinia- en Bergfontein-gebied het al begin stroop. Nog geen gevalle van Meeldou is tot dusver aangemeld nie.
MOUTGARS    
OVERBERG   Caledon: Lyk beter as koring, nog geen bolwurm.

Swellendam: Sien koring. Netvlek kom van vroeg reeds op gars voor, maar is darem onder beheer.

HAWER    
WESKUS   Dieselfde situasie geld as vir die koring.
OVERBERG   Caledon: Gebaal of gesny, enkele lande vir oes, roes erg.

Swellendam: Sien koring. 

EDEN   Lyk baie goed naby Riversdal en ook in Ladismith-omgewing. 
CANOLA    
WESKUS   Plante vertoon goed en staan nog vol in die blom. Waar boere al in April gesaai het, is die blom feitlik verby.
OVERBERG   Caledon: Erge skade van ruitrugmot. Swak beheer met vliegtuig weens lae RH%.

Swellendam: Canola ly ook onder vogstremming. Canola het verlede jaar ’n gemiddelde gehad van 1.24 per ton - verwag die jaar dieselfde gemiddeld, maar dan moet daar nou dringend reën val.

EDEN   Die kanola in die omgewing van George wat nie reeds afgewei was nie, het klaar geblom en alreeds begin met saadvorming. Heidelberg en die omgewing daarrond het tans goeie vooruitsigte vir die canola-oes.
ANDER    
WESKUS   Swartland: Die meeste rog in die Sandveld begin al ryp word. In die Vredenburg-gebied begin die boere al triticale platsny. 
SENTRAAL KAROO   Weens oneffektiewe reën sal graan verdor, alhoewel laat lentereën ’n verskil kan maak.
  boontoe

Akkerbou voergewasse

HAWER    
WESKUS   Heelwat boere het reedes hawerhooi gemaak, maar die opbrengste was swak. Hawer kuilvoer is ook reeds gemaak.
EDEN   Wintervoergewasse in die George-wyk was in hulle piek ontwikkelingstadium, dit is net voor of tydens graanvulstadium, en volryp. Die meeste hawer rondom Riversdal is in die sagte- tot hardedeegstadium en is besig om te verkleur. Die meeste kuilvoer is reeds klaar gemaak en boere is besig om hawer hooibale te maak.
SENTRAAL KAROO   Weens oneffektiewe reën sal hawer verdor, alhoewel laat lentereën ’n verskil kan maak.
VOERGARS    
WESKUS   Swartland: Die meeste gars is reeds ryp.
EDEN   Min gars is vir weiding of kuilvoer gesaai.
TRITICALE    
WESKUS   Heelwat triticale kuilvoer is veral in die Vredenburg-omgewing gemaak.
EDEN   In die droër gedeeltes rondom Riversdal lyk die triticale goed in vergelyking met hawer.
LUPIENE    
WESKUS   Lupiene lyk goed, veral in die Hopefield-omgewing. Bolwurms begin egter pla.
EDEN   Die enkele stande in die omgewing van Riversdal lyk goed.
LUSERN    
WESKUS   Lusernlande gee met die warmer dae meer weiding.
OVERBERG   In Swellendam vertoon lusern onder besproeiing baie mooi vir weidings; in Caledon verkeer lusernlande onder druk met lammers.
EDEN   Die lusern groei goed in die Ladismith-wyk. Ná min reën in September is droëland lusern besig om swaar te kry by Riversdal. Onder besproeiing lyk die lusern egter goed en sommige boere het al lusern hooi gesny.
ANDER    
WESKUS   Fababone: Aanplantings vertoon goed. Daar was lae voorkoms van sjokolade-spot en ascocyha
EDEN   Algemeen: Voergewasse wat nog op die lande gestaan het, was op die punt om gesny of bewei te word.
  boontoe

Tuinbou

STEENVRUGTE    
BOLAND   Het goeie blomweer gehad gedurende September. Bome het goed geblom. Dit was ’n droë September, dus was die bye se aktiwiteite baie positief vir kruisbestuiwing. Set lyk goed. Seisoen is 10 dae vroeër as verlede jaar.
OVERBERG   Word gedun.
EDEN   Boorde bot mooi naby Ladismith.
LANGKLOOF   Alle pruimboorde en sommige laat perske kultivars blom steeds en baat met die gunstige groeiomstandighede. Oor die algemeen word ’n goeie potensiële oes verwag.
KERNVRUGTE    
BOLAND   Pere het klaar geblom. Appels is net so verby volblom. Oeste lyk baie goed volgens blom. Dit is baie droog in die Bokkeveld, daar is nie genoeg besproeiingswater nie. Die Warm Bokkeveld het wel genoeg water. Produsente is besig met bespuitingsprogramme.
OVERBERG   Pere blom mooi, wit blom. 4% Lift as rusbreek werk uitstekend op vroeë kultivars.
LANGKLOOF   Meeste peerboorde is vol in die blom en sommige appelboorde begin nou met blom. Oor die algemeen word ’n goeie potensiële oes verwag.
SITRUS    
BOLAND   Valencias word nog gepluk en gepak. Suurlemoene se mark het in duie gestort - daar is dus geen laat-pluk. nie. Nules se blom is gemiddeld tot swak. Die ander kultivars se blom is gemiddeld tot goed. Clementines is so 70 - 80% in volblom, suurlemoene is so 10% in volblom en die ander kultivars is vol in blom.
WESKUS   Swartland: Oeste van gemiddelde omvang is afgehaal.

Valencias word nou ontvang. Die kwaliteit van die vrugte is goed en die seisoen word vinnig afgehandel teenoor verlede jaar en kan toegeskryf word aan die vinnige pluktempo.

WINGERDE EN DRUIWE    
BOLAND   Die wingerde bol almal baie mooi en die werksprogram vir die somer het in alle erns begin. Produsente het begin suier en dit sal nou prioriteit wees vir die volgende maand. Produsente is ook besig met voorkomende bespuitings vir hoofsaaklik onkruid-, siekte- en plaagbeheer. Besproeiingstelsels word gespoel en reggekry vir die eerste besproeiings.
WESKUS   Swartland: Wyndruiwe het stadig gebot. Vogtoestande in wingerde is tans genoeg vir optimale plantontwikkeling. Goeie opvolgreën word nog afgewag. Die dekgewasse wat gedurende Augustus doodgespuit is, is gedurende September-maand in die grond begin inwerk.

Tafeldruif produsente het gedurende die laaste twee weke van September begin met voorkomende swambespuitings. Wingerd rybewerking het ook plaasgevind.

Noordweste: Die nuwe seisoen is in aanvang. Wingerde wat ge-dormax is kan duidelik gesien word dat die botpersentasie hoër is. Onkruid moet nou bespuit word sodat kompetisie vir water uitgeskakel kan word.

EDEN   Wyndruiwe: Die enkele stokke wat naby Stilbaai geplant is, het begin bot en ook die stokke rondom Ladismith.
GROENTE    
WESKUS   Swartland: Aartappels en uieplante groei goed.

Noordweste: By aartappels is die blaarmyner besig om ernstige afmetings aan te neem. Die Amerikaanse sowel as die aartappelbladmyner.

Tamaties: Beoog om eers teen Oktober met nuwe aanplantings te begin . Die tonne wat vir vanjaar gekontrakteer is, is 27,000 teenoor verlede jaar se 32,000. Die verlaging word hoofsaaklik toegeskryf aan die sterker Rand.

OVERBERG   Eerste koolgewasse is in Caledon geoes. Gewasse wat in Swellendam geoes word is Broccoli (nou baie skaars en pryse onder druk), Peppers (pryse laag weens oorproduksie), Sweetcorn (het ’n goeie seisoen), brussels word nou gesaai vir volgende jaar.

Kleinboere plant nou op klein skaal aan, vervoer en insetkoste is baie hoog.

EDEN   Algemeen: Gedurende die begin van die maand in die George-wyk het die oesperiode vir klein wortels geëindig. Opbrengste hiervan was slegs 80% van verlede jaar s’n gewees, want die boere het met droogte gedurende die groeiseisoen gesukkel. Aan die einde van die maand het die oesperiode van groot wortels begin. Alternaria siekte het onder die wortels uitgebreek, maar dit was vinnig onder beheer gebring en kon nie groot skade aangerig nie. Suikermielie- en groenboon aanplantings het begin.

Groentesaad: Dit lyk steeds of daar goeie oeste in die Klein Karoo behaal gaan word.

SENTRAAL KAROO   Groentesaad: Gewasse groei optimaal, begin blom en bestuiwing vind plaas.
  boontoe

Weidings

NATUURLIKE WEIVELD    
WESKUS   Swartland: Natuurlike veld se toestand is goed.

Noordweste: Toestande het verbeter, maar is nog nie normaal nie. In die Kliprand- en Bitterfontein/Nuwerus-omgewings het redelike goeie neerslae voorgekom en die veld lyk nie sleg nie. In groot dele in die res van die streek, bv. Biedouw-vallei, is toestande nog uiters kritiek en is reën dringend nodig om voldoende veld te verseker.

OVERBERG   Caledon: word nie intensief benut nie.

Swellendam: Groei stadig weens droogte.

EDEN   Weiveld in die Heidelberg/Riversdal-gebied lyk goed, maar daar is enkele plase in die Albertinia/Stilbaai-gebied waar die toestand van veld swak lyk. As gevolg van die wisselende reënval deur die distrik was produksie ook wisselend gewees.
SENTRAAL KAROO   Laingsburgkantoor: Weiveldpotensiaal is in 40% van die wyk onder druk vanweë voortdurende droogte.

Beaufort-Weskantoor: Weiveld is rampdroog in Murraysburg-distrik waar reën dringend nodig is. Beaufort-Wes se boere sê dat hulle vroeg in die somer moet reën kry anders het hulle ook probleme.

DROËLAND WEIDINGS    
WESKUS   Swartland: Medics is besig om af te gaan (hulle groeiperiode te voltooi), maar daar is darem nog genoeg droëmateriaal. Oulande is feitlik opgeëet en so ook hawer weiding. In die Rooikaroo-gebied is daar egter reeds ’n weidings tekort.
OVERBERG   Begin swaarkry weens droogte in Swellendam.
EDEN   Weens die wisselende reënval deur die distrik was produksie ook wisselend gewees. Lusern weiding naby Riversdal lyk goed, terwyl medics en ondergrondseklawer swakker as ander jare lyk.
BESPROEIDE WEIDINGS    
WESKUS   Swartland: Besproeide kikoejoe weidings groei tans vinnig.
OVERBERG   Caledon: Genoeg, water is skaars.

Swellendam: Goed. Kikoejoe is volop. Skoon raaigras en klawers is ook goed gevestig.

EDEN   Kikoejoe weidings wat met raaigras oorgesaai is, lyk baie goed in die Riversdal-gebied en boere is besig om van surplus weiding kuilvoer te maak. Goeie lentereëns word nog rondom George benodig want besproeiingsdamme was nog nie heeltemal vol nie. September is deel van die oorgangperiode van winter- na somerweidings.
SENTRAAL KAROO   Laingsburgkantoor: Produksie optimaal.
STOPPELLANDE    
WESKUS   Swartland: Nog geen weiding beskikbaar nie.
OVERBERG   Lande nog nie beskikbaar nie.
EDEN   Stoppellande by Riversdal bied goeie weiding vir skape en beeste nadat kuilvoer van die hawer en triticale gemaak is.
SENTRAAL KAROO   Laingsburgkantoor: Reserwes is uitgeput.
  boontoe

Vee

KLEINVEE    
WESKUS   Swartland: Vee se kondisie is goed, met weidings en opslag wat nou volop is. Lammers groei vinnig uit op die oormaat kosvoorraad.
OVERBERG   Kondisie van kleinvee is goed. Geen vermelding van enige siektes nie.
EDEN   Die algemene kondisie by Riversdal was redelik en besig om te verbeter en in die Klein Karoo lyk dit goed.
SENTRAAL KAROO   Laingsburgkantoor: Veekondisies goed, maar 40% verswak weens min reserwes op veld en kry droogte byvoeding.

Beaufort-Weskantoor: Die kondisie van die vee is op die meeste plekke swak tot baie swak.

SUIWEL- EN VLEISBEESTE    
WESKUS   Swartland: Suiwel- en vleisbeeste se kondisie is goed met die oormaat kos beskikbaar. Natuurlike weidings se toestand is nog goed met die reën van die afgelope twee maande.
OVERBERG   Kondisie van suiwelbeeste is goed. Produksie is ook baie goed.

Kondisie van vleisbeeste is ook goed. Wat betref voedingstoestande in Swellendam, boere begin ekstra voer.

EDEN   Melkbeeste: Die algemene kondisie in die George-wyk was normaal onder weidingstoestande. Melkproduksie was beter as in Augustus gewees want raaigrasweidings het in die algemeen begin optel. Daar was geen noemenswaardige probleme met reproduksie of siektes nie.

Vleisbeeste: Die kondisie het goed gelyk deur die distrik en daar was genoeg kos, alhoewel besproeiingsdamme meestal nog nie vol was nie. Min siektes was aangemeld.

VOLSTRUISE    
WESKUS   Swartland: Volstruisbedryf stabiel.
OVERBERG   Volstruise se kondisie is goed. In die Swellendam omgewing het die broeiseisoen nou begin. Produksie is gemiddeld.
EDEN   Die staatsvearts en sy tegniese personeel het deurlopend getoets vir voëlgriep en daar is nog geen uitbraak hiervan nie.
  boontoe

Reaksie uit die streke / bedryf

HUIDIGE SITUASIE, NEIGINGS EN UITSPRAKE
WESKUS   Produsente is bekommerd oor die lae reënval van die afgelope twee jaar, met die gepaardgaande impak wat dit op die kontantvloei- en skuldsituasie van produsente het.
EDEN   Die verbod op die uitvoer van volstruisvleis weens die Avian influenza uitbreek, veroorsaak steeds onsekerheid in die bedryf. Die moontlikheid dat hierdie verbod voor die nuwe jaar opgehef sal kan word, raak al hoe skraler.
SENTRAAL KAROO   Laingsburgkantoor: Die gebied vanaf Matjiesfontein weswaarts, insluitende Touwsrivier en Ceres-Karoo, bly rampdroogte. Droogtetoestande brei ook uit vanaf Klaarstroom noordwaarts verby Beaufort-Wes en brei vanaf Beaufort-Wes ooswaarts uit verby Merweville tot by Laingsburg.

In die Koo- en Hexvallei is stoordamme leeg of half vol. Norwaalweg word vars en hoë kwaliteit winterwater vanuit die bergstrome en rivier in hierdie damme gestoor vir besproeiingsdoeleindes.

Om hierdie gestoorde water aan te vul ná die huidige swak winter vind abnormale hoë ontginning van boorgatwater in hierdie valleie plaas.
Hierdie boorgatwater word dieper as normaal ontgin en teen geweldige groter volumes onttrek as normaalweg. Hierdie waterbron is in die verlede aanvullend tot die winterwater gebruik en tans moet dit die tekorte aan die winterwater aanvul waarna voortdurende ontginning as aanvulling tot die winterwater sal moet plaasvind.

Die hoogliggende Touwsrivier en Ceres-area toon reeds astronomiese daling in die watervlak en heelwat boorgate, fonteine en bergstrome droog nou in Septembermaand op. In hierdie areas was die waterkwaliteit uiters swak reeds voor die aanvang van die seisoen.

Ondanks die feit dat die droogte in groot dele van die wyk voortduur, is wolpryse uiters swak en die geneigdheid van die vleisprys is ook tans afwaarts.

Beaufort-Weskantoor: Weidingsnoodsituasie in die Murraysburg-distrik, Laer en Hoër Buffelsrivier-gebiede en ’n gedeelte van die Sneeuberg-gebied.

Murraysburg: Boere is baie bekommerd oor die droogte en die feit dat daar op dié stadium nie droogtehulp is nie.

Groot veeverliese het voorgekom met die reën van 25 en 26 September.

Beaufort-Wes: Daar was nie soveel reën soos in Murraysburg nie en verder oos en dit begin nou oral baie droog word.

IMPLIKASIE VAN KLIMAAT EN LANDBOUTOESTANDE
EDEN   Soos algemeen reg deur die land, lyk dit of wisselvallige en verspreide reënval hier in die Eden-distrik ook nou die norm word. Dit bemoeilik langtermynbeplanning en skattings in die landboubedryf as ’n geheel.
  boontoe

added:


Copyright | Disclaimer | Print page | www.elsenburg.com

©2004 Elsenburg