Resource Utilisation   |   Agri-Outlook   |   State of agriculture

State of agriculture for November 2003

This report is currently only available in Afrikaans.


Landboutoestande vir November 2003

Die landboutoestande vir die Wes-Kaap is volgens die onderstaande afdelings ingedeel:

  1. Akkerbou kontantgewasse
  2. Akkerbou voergewasse
  3. Tuinbou
  4. Weidings
  5. Vee
  6. Reaksie

Akkerbou kontantgewasse

KORING    
SWARTLAND   Piketberg: Koringoeste is selfs laer as aanvanklik verwag. Die Sandveld se oeste wissel tussen 0.6 en 1.3 ton per ha. Die koring in dié area skepel baie swak. Soortgelyke probleme behoort in die res van die gebied voor te kom. Die rede hiervoor is die min bemesting en onkruidbeheer wat a.g.v. min vog agterweë gebly het. In die meeste gebiede is die oeste reeds af.

Malmesbury: Aanvanklik is gedink dat beter oeste afgehaal sou word, maar namate die graan ingekom het silo’s, is gevind dat daar ’n veel kleiner oes op die land staan as wat voorspel is.

Moorreesburg: Ongeveer 30% van die gemiddelde oes is ingesamel. Baie graadprobleme is ondervind. Vir drie dae in die begin van Oktober was die temperature ver bo 30°C en was dit dus die moontlike oorsaak van swak gradering en nog laer opbrengste as wat verwag is.

KLEIN KAROO   Die totale produksie in die Klein Karoo was min as gevolg van die klein oppervlakte wat gesaai is.
SUIDKUS   Die oesproses is 90% - 100% afgehandel en produsente is tevrede met die oesopbrengs: 
  • Mosselbaai: 1.5 ton/ha gemiddeld, proteïen onbevredigend.
  • Riversdal: 2.5 tot 3.0 ton/ha met gemiddeld 2.5 ton/ha.
  • Swellendam: 1.8 ton/ha gemiddeld.
  • Caledon:: 2.8 ton/ha gemiddeld met maksimum 5.2 ton/ha, proteïene laag. 
GARS    
SWARTLAND   Lae opbrengste word verwag.
SUIDKUS   Soos vir koring, maar gars lê nog op plase en moet gelewer word. Geskatte oesopbrengste is as volg: 
  • Swellendam: 1.9 tot 2.0 ton/ha.
  • Caledon: 2.7 ton/ha gemiddeld met ’n maksimum van 4.4 ton/ha.

Vetkorrelpersentassie is hoog, maar proteïene is laag.

HAWER    
SWARTLAND   Minder hawer as ander jare is gelewer, moontlik a.g.v. produsente wat veevoer terughou vir vee.
KLEIN KAROO   Al die gesaaides is geoes en die boere berg soveel as moontlik op. Dit word hoofsaaklik gebruik om mielies in die rantsoene van veral volstruise te vervang.
SUIDKUS   Min gelewer.
CANOLA    
SWARTLAND   Opbrengste was swak weens die laat en onegalige ontkieming.
SUIDKUS   Die oesproses is afgehandel en goeie opbrengste is verkry:
  • Swellendam: 1.5 ton/ha gemiddeld.
  • Caledon: 1.3 ton/ha gemiddeld.
  • Opbrengste van 2.4 ton/ha is in die Canola-kompetisie behaal met ’n maksimum van 3.0 ton/ha.
ANDER    
SWARTLAND   Baie swak rogoeste word verwag. Lae opbrengste het by triticale aanplantings voorgekom omrede daar op marginale gronde geplant word en hierdie gronde vinniger uitgedroog het.
  boontoe

Akkerbou voergewasse

HAWER    
SWARTLAND   Daar is reeds in Oktober hooi gemaak.
KLEIN KAROO   Heelwat oesreste is op stoppellande beskikbaar.
SUIDKUS   Goeie opbrengste is verkry. Die meeste is afgewei of ingekuil.
VOERGARS    
SWARTLAND   Kuilvoer is reeds gedurende Oktober van gars gesny.
TRITICALE    
SWARTLAND   Lae opbrengste het by aanplantings voorgekom omrede daar op marginale gronde geplant word en hierdie gronde vinniger uitgedroog het.
LUPIENE    
SWARTLAND   Min lupiene is vanjaar gesaai en het vanjaar ook min opgekom en is vroeg reeds bewei.
SUIDKUS   Min is gesaai. In Caledon is beter oeste as in baie jare verkry op die klein oppervlaktes gesaai.
LUSERN    
SWARTLAND   Lusernlande gee tans min weiding.
KLEIN KAROO   Goeie snysels is afgehaal en gunstige weer vir hooimaak is ondervind.

Lusernsaad: Stande vir lusernsaad sal eers vanaf Kersfees op die lande gelaat word.

ANDER    
SWARTLAND   Fababoonstande was vanjaar ’n mislukking weens die lang droogte.
  boontoe

Tuinbou

STEENVRUGTE    
BOLAND   Eerste vrugte (Nektarines) is al gepluk. Vrugte en oeste is kleiner as verlede seisoen. Aangesien die oes laat is, sal die vrugte eers ná Kersfees op die Europese markte beskikbaar wees. Dit is ’n gemiddelde seisoen, die oeste lyk belowend. Die grootste probleem is die sterk Rand wat swak pryse vir die vrugte beteken.
SWARTLAND   Steenvrugte word lokaal bemark a.g.v. skitterende pryse. Soos hoeveelhede meer word sal van die vrugte uitgevoer word en lokale daal.
KLEIN KAROO   Oes van appelkose, pruime en perskes is aan die gang. Goeie oeste word ingesamel.
LANGKLOOF   Oes van perskes is in volle swang. Vruggrootte is effe teleurstellend a.g.v. droë weerstoestande, kwaliteit is egter uitstekend.
SUIDKUS   Appelkose word reeds ge-oes, terwyl perskes en pruime besig is om in oes te kom. Produsente is druk besig met spuitprogramme. Verdienste van produsente is tot 34% laer weens die sterk Rand.
KERNVRUGTE    
BOLAND   Die oes-vooruitsigte lyk uiters belowend. Daar word groot oeste verwag. Produsente is in die finale fase van uitdun - daar word baie aandag hieraan gegee sodat die regte vruggroote vir die markte bereik kan word. Daar is groot bekommernis oor die huidige wisselkoers vlakke - dit voorspel ’n baie moeilike 2004. Die klimaat is baie gunstig, maar daar is wel watertekorte by sekere areas.
LANGKLOOF   Die potensiële oes in meeste appel- en peerboorde lyk belowend. Met voldoende water kan ons ’n baie goeie seisoen hê. Verskeie produsente is besorg oor die negatiewe effekte van ’n sterk rand op uitvoere.
SUIDKUS   Goldens, Grannies, Galas en Braeburns is genoeg, saailinge is swak. Pere se set wissel tussen kultivars.
SITRUS    
BOLAND   Eerste vrugval van die sagte sitrus en suurlemoene het plaasgevind. Die Navels se drag is hoër as verlede seisoen. Valencias se drag is ’n bietjie laer as verlede seisoen. Clementines het ’n goeie oes afgesien van die wisselvallige blom. Corausel bespuiting word gedoen vir die uitdunning van vrugte - dit help met seldeling en vrug vergroting. Sover is daar geen probleme met peste en plae nie. Die eerste Rooidopluis bespuitings is so middel November gedoen.
SWARTLAND   Citrusdal is klaar geoes. Piketberg bo berg is besig om finale Valencias te lewer.
SUIDKUS   Bome is in blom en begin set. Swak set word in Caledon verkry. Swak uitbetalings van vorige oes laat produsente oorweeg om bedryfstak te verlaat.
NOORDWESTE   Die verpakking vir die jaar is op sy einde. Op hierdie stadium is die bederfterugvoer vanaf die buiteland nog baie positief. Die bome het vanjaar ’n baie goeie blomdrag gehad, wat ’n goeie oes vir volgende jaar voorspel.
WINGERDE EN DRUIWE    
BOLAND   Produsente is besig met die invleg van lote, tip/top, suier, siekte- en plaagbeheer (Witroes, Donsskimmel, Vaalvrot, Witluis, Kalanders en Blaaspootjie), onkruidbeheer, en besproeiing. Wingerde het klaar geblom en die meeste is in die voor- en in ertjiekorrel stadium.
SWARTLAND   Wyndruiwe: Columbar-oeste lyk potensieel baie goed. Siektedruk is oor die algemeen laag. Besproeide wingerd sal probleme optel later in die seisoen a.g.v. beskikbaarheid van water. Die kwaliteit van druiwe behoort swakker te wees as verlede jaar a.g.v. onegalige rypwording. Dit kan toegeskryf word aan die koue-nat toestande net voor blom.

Tafeldruiwe: Korrelgrootte en drag lyk uitstekend. Onegaligheid in die trosse vereis egter baie arbeid en behoort dus ’n invloed te hê op die uitgawe-rekening van produsente. Die seisoen is oor die algemeen 5 dae later as die norm.

KLEIN KAROO   Goeie oeste word verwag en alhoewel relatief gesonde weersomstandighede ondervind word, word wingerde voorkomend behandel.
SUIDKUS   Druiwe set en is al by ertjiekorrelgrootte. Swamme is nie ’n probleem nie. Produsente is druk besig met normale spuitprogramme. Goeie oeste word verwag.
NOORDWESTE   Die druiwe is tans ertjiekorrelstadium. Produsente wat nou ’n bietjie water wil bespaar, kan van ertjiekorrelstadium na deurslaan water bespaar. Dit is nou ’n goeie tyd daarvoor, maar net nie voor blom nie. Daar was vanjaar redelike onegalige bot gewees, wat weer onegalige rypwording tot gevolg gehad het. Produsente kan dit teenwerk deur trossies af te gooi wat ver agter is om sodoende egalige rypwording te verseker. Produsente word gewaarsku teen donsskimmel en oidium. Die huidige wisselende temperature met gepaardgaande donderweer is gunstig daarvoor. Daar is geen noemenswaardige siektes op die oomblik nie. Op die oomblik is die seisoen vanjaar ’n bietjie later as verlede jaar. Produsente word gemaan om hul spuitprogramme redelik goed te volg. Die rooi-oes, colombar sal vanjaar beter wees as verlede jaar alhoewel die steen en hanepoot weer ’n bietjie af is. 
GROENTE    
SWARTLAND   Aartappels: Pryse blyk onder druk te wees, maar is steeds aanvaarbaar. Oeste is gemiddeld tot goed. Ernstige probleme word egter steeds ondervind met veral rolbladvirus en in sekere gevalle uiterste swak waterkwaliteit.
KLEIN KAROO   Olywe: As gevolg van die koue winter die afgelope jaar het die rypwording van olywe gedurende die afgelope seisoen later geskied. Teen die einde van die seisoen het rypskade voorgekom. As gevolg van later rypwording het die vrugte langer as gewoonlik aan die bome gebly. Blomvorming gedurende die huidige seisoen was heelwat later as die vorige jaar. 

Turksvye: Daar is steeds ’n groeiende belangstelling onder boere wat turksvye betref, maar weens die uiters sensitiwiteit in die mark word hulle tot versigtigheid gemaan.

Groentesaad: Vooruitsigte vir goeie produksie bestaan, maar weens die sterker rand sal die inkomste uit die saad wat hoofsaaklik uitgevoer word, waarskynlik teleurstellend wees. 

Tabak: Tabakplantjies is uitgeplant, maar heelwat plantjies moet ingeboet word vanweë skade as gevolg van uiterse warm dae.

SUIDKUS   Wortels in die George-omgewing vaar beter as wat verwag is en bo-gemiddelde opbrengste word verkry.

Bone se produksie en kwaliteit van vroeë oeste is nie na wense nie, maar verbetering word verwag soos die seisoen vorder. Plae soos blaaspootjie en steekvlieë is nog in beginstadium. In die George-omgewing het die oppervlakte bone aangeplant gehalveer weens arbeidswetgewing.

Soetmielies lyk belowend en oes sal in Desember/Januarie begin.

NOORDWESTE   As gevolg van die hitte word heelwat besendings op die Kaapse mark afgemerk vir ondermassa a.g.v. die hitteverlies. Al hoe meer aartappels word bemark vanuit die Sandveld. Aartappels se kwaliteit is baie goed op die oomblik. 
  boontoe

Weidings

NATUURLIKE WEIVELD    
SWARTLAND   Natuurlike veld se weidingskapasiteit is swak.
KLEIN KAROO   Veldtoestande in die Klein Karoo het verswak weens die warm en droë weer. Oor die grootste gedeelte van die Groot Karoo het die veld verder verswak en word al hoe meer diere gevoer. In sommige gebiede is aansienlike voerkostes reeds aangegaan, omdat ekonomiese produksie van die veld nie meer moontlik is nie.
SUIDKUS   Natuurlike weiveld vertoon nog goed weens die afgelope seisoen se reën.
NOORDWESTE   Weiveldtoestande is swak tot baie swak en ’n krisis is op hande. Boere sukkel om voer in die hande te kry om hulle skape te voer. Daar word op die oomblik groot skade aan die veld aangerig, a.g.v. die diere wat op die veld aangehou word om self kos te soek.
DROËLAND WEIDINGS    
SWARTLAND   Volop droë ru-voer en peule is vir diere beskikbaar.
KLEIN KAROO   Beskikbare weiding op droëlande is redelik tot swak.
SUIDKUS   Het goed gevestig, maar produksie is besig om te daal weens die lae reënval in November. Eenjarige raaigrasse gaan in saad.
BESPROEIDE WEIDINGS    
SWARTLAND   Besproeide kikoejoeweiding kry swaar, maar gee goed kos.
KLEIN KAROO   Optimale produksie word verkry.
SUIDKUS   Kikoejoe begin nou volop raak. Weens die warm en droë toestande is weiding onder druk en moet meer dikwels besproei word. Water raak skaars in plekke in die Caledon-wyk.
STOPPELLANDE    
SWARTLAND   Minder stoppelweiding sal vanjaar beskikbaar wees, omdat baie van die strooi gebaal word en verkoop word aan melkboere.
SUIDKUS   Word deur beeste, skape en volstruise benut.
  boontoe

Vee

KLEINVEE    
SWARTLAND   Vee se kondisie is goed, met droë ru-voer wat nou volop is. Lammers van hierdie jaar word nou begin bemark.
KLEIN KAROO   In die Klein Karoo is veekondisie oor die algemeen redelik tot goed. In die Groot Karoo is veekondisie oor die algemeen besig om drasties af te neem. Slegs in dele van Beaufort-Wes en Georgida is die kondisie van vee nog redelik. In ander gebiede moet al hoe meer vee gevoer word en boere sukkel om vee slaggereed te kry veral in Murraysburg, Rietbron en Nuveldberge. Duisende stuks vee moet reeds in voerkrale afgerond word.
SUIDKUS   Kondisie is nog goed en min siektes kom voor.
NOORDWESTE   Die meeste boere sukkel om hul lammers markklaar te kry. Omtrent 95% van die boere in die streek voer hul skape. Voer raak egter baie skaars en die meeste boere kan nie meer voer aankoop nie, a.g.v. ’n geldtekort. Oor die algemeen is die kondisie van aanteel-ooie swak tot baie swak en word dit sterk betwyfel of daar ’n gemiddelde lammer-oes volgende jaar verwag kan word, aangesien dit nou paarseisoen is.
SUIWEL- EN VLEISBEESTE    
SWARTLAND   Suiwelbeeste se kondisie is goed.Daar kan dalk ’n ru-voer tekort ontstaan a.g.v. lae kuilvoer opbrengste en min strooi op die stoppellande. Vleisbeeste se kondisie is goed met die oormaat droë kos beskikbaar.
KLEIN KAROO   Produksie by suiwelbeeste is goed. Vleisbeeste se kondisie is oor die algemeen redelik tot goed.
SUIDKUS   Suiwelbeeste se kondisie en produksie is goed, alhoewel weidings benadeel word weens warm droë toestande. Laer produksiepieke as die vorige somerseisoen word verkry. Vleisbeeste se kondisie is steeds goed. Voedingstoestande is steeds positief en in sekere dele van Swellendam en Riversdal word weiding aangevul met ru-voer.
VOLSTRUISE    
SWARTLAND   Die volstruisbedryf is stabiel.
KLEIN KAROO   Hoë temperature is vroeër as gewoonlik ondervind, maar die effek daarvan op veral klein volstruiskuikens was dieselfde en die normale verliese het voorgekom. ’n Ondervoorsiening van volstruiskuikens het tot gevolg dat pryse steeds hoog is.
SUIDKUS   Kondisie is goed. Pitvoer en strooi word by groeiende volstruise aangevul. Weens R/$ wisselkoers word minder kuikens geproduseer en grootgemaak. Die verwagting is dat die mark sal krimp.
  boontoe

Reaksie uit die streke / bedryf

HUIDIGE SITUASIE, NEIGINGS EN UITSPRAKE
SWARTLAND Produsente ervaar ’n dubbele slag a.g.v. die droogte met sy lae koring opbrengste en ook relatiewe lae koring prys a.g.v. die sterk Rand (±R6.70/Dollar).
KLEIN KAROO Die droogte in die Groot Karoo raak ’n al hoe groter probleem. In die winterreëngebied is dit die Touwrivier-area en die aangrensende Ceres Karoo wat die grootste onder die droogte gebuk gaan. (Sutherland en Calvinia in die Noord-Kaap is reeds as rampgebiede verklaar.) Toestande hier kan as kritiek beskou word. Die graanoes kan basies as ’n mislukking beskou word, maar stoppelweiding sal wel gebruik kan word om die kleinveebedryf met betrekking tot oorsomering te ondersteun. Ongelukkig is dit net sowat 15 % van boere wat nog saai, dit wil sê 85 % besit geen stoppelweiding wat as reserwe deur die somer kan dien nie. Die vrugte- en groentebedryf in die gebied is ook onder groot druk vanweë ’n tekort aan besproeiingswater. Wanhopige pogings om nuwe boorgate te boor of pomptoerusting dieper te installeer, kom algemeen voor.

In die somerreënvalgebied van die Groot Karoo is daar drie gebiede wat baie droog is, naamlik Rietbrongebied, Murraysburg (vlakte) en die gebied bo-op die Nuveldberge. Die res van die gebied is ook droog met sekere areas wat reën gekry het en ander dele waar nog redelike veldreserwes bestaan (lappieskomberspatroon). By laasgenoemde (res van die gebied) kan lammers egter in die meeste gevalle nie van die veld af bemark word nie en is daar dus duisende stuks vee wat in voerkrale vir die huidige markseisoen afgerond word.

Die huidige toestand plaas kontantvloei van boere onder druk. Dit het tot gevolg dat geen nuwe projekte (byvoorbeeld infrastruktuurskepping) aangepak word nie. Kontrakarbeid word dus al hoe minder benut en werkverskaffing in dié verband droog op. ’n Verdere tendens is dat permanente werkers nie meer in diens geneem word nie en gekwalifiseerde werkers wat nuwe werksgeleenthede soek (normale proses) word dus nie meer opgeneem nie. In totaliteit vind ’n netto verlies van werksgeleenthede in die landbou plaas wat die werkloosheidsituasie in die omliggende dorpe stelselmatig vererger.

SUIDKUS Die sterk Rand het ’n negatiewe invloed op die volstruis- en vrugtebedryf. 
  boontoe

added:


Copyright | Disclaimer | Print page | www.elsenburg.com

©2003 Elsenburg