home about contact us news

Genetika toekenning vir Outeniqua Jerseys


Mnr Gerrit van der Merwe, kuddebestuurder op
Outeniqua navorsingsplaas, poseer trots
met die SA Stamboek wisseltrofee by die wenkudde.

Die Wes-Kaapse Departement van Landbou het tydens die onlangse SA Jersey prysuitdelingdinee in Bloemfontein met die trofee vir die hoogste punte in die afdeling vir genetiese meriete weggestap. Die kudde wat dié trotse prestasie behaal en sodoende die SA Stamboek wisseltrofee ontvang het, is die Jerseykudde van die Diereproduksie Navorsingstrust op die Departement se Outeniqua navorsingsplaas buite George.

Volgens dr. Robin Meeske, spesialiswetenskaplike (Diereproduksie) op die Outeniqua navorsingsplaas, is dit die eerste jaar dat hierdie trofee toegeken word. Die kudde se genetiese meriete is beoordeel deur die gemiddelde SAINET (amptelike seleksie-indeks van Jersey SA) van die volwasse koeie en verse met ander kuddes in dieselfde groep te vergelyk soos wat vir produksie-evaluering bepaal word. Beoordeling het ook die vordering van die verse teenoor die volwasse koeie bygereken.

Volgens dr Meeske is hierdie toekenning grootliks bereik deur die kundige insette van die kuddebestuurder, Mnr Gerrit van der Merwe. Gerrit is reeds 36 jaar vir die bestuur en teling van die kudde op Outenqua verantwoordelik. Deur sy toedoen is beproefde bulle met ’n hoë teeltwaarde vir bottervet en proteïen geselekteer terwyl bulle met ’n negatiewe teeltwaarde vir dié eienskappe vermy is. Met sy kennis van Jersey koeie het hy ook veral aandag gegee aan goeie bouvorm met groot klem op die uier, uieraanhegting, hoewe en bene. Volgens Gerrit was sy benadering om te belê in goeie genetika. Die uitgangspunt was om goeie semen van beproefde bulle bekom. Semenkoste word dikwels as ’n hoë koste en struikelblok vir teling gesien. Volgens Gerrit is semenkoste in verhouding met die totale grootmaakkoste van ’n vers, laag. Indien ’n ekstra R150 op semen gespandeer word om ’n vervangingsvers te verkry, is dit slegs 3.3% van die totale versgrootmaakkoste. Hierdie ekstra koste is ’n goeie belegging. Indien die vers oor die eerste laktasie net 200kg meer melk produseer is die semenkoste reeds verhaal.

Volgens dr. Meeske word die Jersey kudde op Outeniqua vir vraaggedrewe navorsing aangewend met die doelwit om die winsgewendheid van melkproduksie vanaf aangeplante weiding te verhoog. Die sukses van die navorsingsprogram op Outeniqua navorsingplaas word grootliks aan noue skakeling tussen die weidingsnavorsing- en die diereproduksienavorsingspanne toegeskryf. Tans word ongeveer 400 Jersey koeie vanaf 80ha be­sproeide en 50ha droëland weiding gemelk. Die voer­vloei­program bestaan hoofsaaklik uit raaigras oorgesaaide kikoejoeweiding. Die gemiddelde daaglikse melkproduksie is 16kg/koei en koeie ontvang 5kg kragvoer. Die kudde word kommersieel bedryf en neem deel aan die Outeniqua Suiwelstudie­groep.

Die Wes-Kaap sluit twee van die ses hoof melkproduserende areas in Suid-Afrika in en voorsien nagenoeg ’n kwart van alle melk wat in Suid-Afrika geproduseer word. In ’n poging om navorsingsondersteuning aan die suiwelbedryf in die Suid- en Wes-Kaap te gee, het die Wes-Kaapse Departement Landbou twee sentrums van voortreflikheid in suiwelnavorsing op sy navorsingsplase by Outeniqua en Elsenburg gevestig. Hierdie twee sentra is deel van die Instituut vir Diereproduksie, een van drie navorsingsinstitute van die Departement. ‘Die Departement se twee kuddes is van uiterste belang in ons navors­ings­poging en dié toekenning is ’n bewys van die gehalte van die dieremateriaal wat in die navorsingsprojekte gebruik word,’ meen Volgens Dr. Ilse Trautmann, Direkteur: Tegnologie, Navorsing en Ontwikkeling.

Navrae: Dr Robin Meeske Sel no: 082 9084110 of Mnr Gerrit van der Merwe Sel no: 0829071132