'n Nuwe melkportaal is onlangs op Elsenburg in gebruik geneem. Die volgende is 'n klompie vrae wat dikwels oor die melkportaal en die navorsing daar rondom gevra word.

Die nuwe melkportaal op Elsenburg.
- Wanneer is die nuwe melkportaal in gebruik geneem?
Middel Julie 2006.
- Wat was die hoofredes waarom die Wes-Kaapse Landboudepartement besluit het om Elsenburg se melkportaal op te gradeer?
Die oogmerk is om die melkkudde uit te brei na 250 koeie in melk. Om dit te kan akkommodeer is besluit om die melkstal op te gradeer. Die ou melkstal, ‘n 2 X 4 syhek-tandemstelsel, is reeds vanaf 1974 in gebruik. Daar is 2 rye met 4 hokke waarin die koei staan terwyl sy gemelk word. Met so ‘n stelsel word die sykant van die koei gesien. Die stelsel leen hom vir individuele aandag vir elke koei. Syhekke word gebruik om die koeie in te laat en uit te laat. Die deurvloei van dié stelsel of aantal koeie wat per melker en per uur gemelk kan word, is ongelukkig nie baie hoog nie en die melktyd sou aansienlik toeneem indien die kudde sou uitbrei.
- Vertel ons meer oor die Afkin-suiwelprogram en hoe dit werk?
Die Afikimstelsel is ‘n rekenaargedrewebestuursprogram wat in Israel ontwikkel is.
Die stelsel is gebaseer op ‘n elektroniese identifikasiestelsel vir elke koei wat terselfdertyd sekere aspekte van die koei monitor. Die belangrikste eienskap wat gemonitor word is die loopaktiwiteite van elke koei. Die aantal kere wat ‘n koei elke dag rondtrap word gemeet en teen ‘n standaard vergelyk. Koeie wat op hitte is, is baie meer aktief as ander koeie en sal daarom ‘n verhoogde aktiwiteit toon. Dit kan dan gebruik word as ‘n aanduiding dat die koei op hitte is. As dit aktiwiteite bokant ‘n bepaalde norm is, word die koei na melking outomaties met ‘n stel hekke uitgekeer sodat sy ondersoek kan word om te bepaal of sy geïnsemineer kan word of nie. Ander aspekte wat outomaties gemeet word is byvoorbeeld, die aanvang van die melktyd, , hoe lank die melktyd geduur het, ens. ‘n Ander aspek wat tydens melking bepaal word, is die sogenaamde konduktiwiteit van die melk wat ‘n aanduiding is of die koei mastitis het of nie. Indien die konduktiwiteit van die melk bokant ‘n bepaalde norm is, word die koei na melktyd outomaties uitgekeer sodat sy vir mastitis getoets kan word. Indien dit sou blyk dat sy mastitis het, kan die koei dan vroegtydig behandel word. Die voordeel hiervan is dat die behandeling vir mastitis vroeër plaasvind sodat die nadelige effek van mastitis kleiner is.
- Hoe kan die program help om kuddebestuur te optimaliseer?
Die program verbeter bestuur omdat hittewaarneming aangevul word met die meting van die loopaktiwiteite van koeie, terwyl met die meting van die konduktiwiteit van die melk van koeie word ‘n vroeë aanduiding van mastitis verkry. Koeie kan ook elke dag geweeg word om sodoende te sien of hulle inname voldoende is. Koeie wat siek raak, vreet dikwels minder en dit word gereflekteer in ‘n groter as normale daaglikse liggaamsmassaverandering.
- Vertel asb ons meer oor die senders wat aan die koeie gekoppel word?
Die senders wat as indentifikasie gebruik word is ook terselfdertyd ‘n pedometer wat die aantal stappe tel wat die koei elke dag neem.
- Het die hele kudde senders of geld dit slegs vir koeie-in-melk?
Die senders word gewoonlik net aan koeie in melk gesit. Dit word aan die agterbeen bokant die hoef vasgemaak. Dit word sowat 3 weke voor die verwagte kalfdatum aangesit. Dit is die periode waartydens koeie gereed gemaak word vir die volgende laktasie. Hulle moet deur die melkstal beweeg sodat hulle aan die nuwe roetine en omgewing gewoond kan raak en ook sodat die rumen van koeie aangepas is by die hoë kragvoerrantsoen wat hulle gewoonlik na kalf as lakterende koeie ontvang.
- Verduidelik hoe die stelsel help om gesonde koeie se melk van dié wat vir mastitis behandel word, te skei
Op hierdie stadium word die stelsel gebruik om koeie te identifiseer waarvan die melk ‘n hoër as normale konduktiwiteit het. Hulle moet hierna spesifiek vir mastitis getoets word waarna hulle dan in ‘n “siek” span geplaas word waar hulle soos gewoonlik behandel kan word. Die langtermynplan van Afikim is om hierdie melk tydens melktyd in ‘n afsonderlike afvoerpyp na ‘n ander melktenk af te voer sodat dit nie met die gesonde melk vermeng word nie.
- Elsenburg beoog om sy kudde uit te brei. Hoe groot is die kudde tans en hoeveel koeie-in-melk wil julle uiteindelik hê?
Daar is tans 104 Holstein- en 79 Jerseykoeie in die kudde. Hiervan is sowat die helfte staatskoeie en die ander behoort aan die Eenkant Melkery van die Diereproduksie Navorsingstrust. Hiermee word fondse vir navorsing gegenereer. Later vanjaar sal sowat 47 Holstein- en Fleckvieh x Holsteinverse kalf om die aantal koeie in kudde verder te vergroot. Hierdie diere is by ‘n kommersiële produsent gekoop vir ‘n kruistelingsprojek wat tans op Elsenburg gedoen word. Die oogmerk is om die kudde tot sowat 250 koeie in melk te vergroot.
- Hoe gaan ‘n uitgebreide kudde Elsenburg se navorsing beïnvloed?
Die grootste probleem wat ons al baie jare op Elsenburg het, is die feit dat die aantal koeie wat vir navorsing beskikbaar is, heeltemal te min is. Met ‘n klein getal koeie neem dit lank om proewe te doen. Dit word tot ‘n mate oorkom deur spesifieke proefontwerpe te gebruik. Hiermee word egter ander probleme geskep. Daar kan byvoorbeeld oordragingseffekte tussen behandelings wees. Dit beteken dat ‘n bepaalde behandeling die resultate van die volgende behandeling kan beïnvloed. Dit is baie tydrowend om langtermynproewe te doen en kan die effek van ‘n behandeling oor ‘n laktasie moeilik gemeet word. ‘n Bepaalde voedingsbehandeling beïnvloed koeie nie net vandag nie, maar ook oor ‘n langer termyn. So sal koeie wat in ‘n beter kondisie by kalwing is, ‘n beter melkproduksie in die daaropvolgende laktasie lewer as koeie wat in ‘n swakker kondisie by kalwing is. Met ‘n groter aantal koeie tot ons bekikking kan meer praktykgerigde behandelings toegepas word om bepaalde vrae uit die bedryf te beantwoord.
- Watter navorsing is Elsenburg tans mee besig?
Die navoringsprojekte wat tans op Elsenburg gedoen word is onder andere die volgende: ‘n telingsprojek met beide die Holstein- en Jerseykuddes om die kuddes geneties te verbeter (hiervoor word ‘n kommersiële paringsprogram gebruik met ‘n spesifieke seleksiedoelwit), voedingsproewe waarin die voedingswaarde van fababoonkuilvoer as ruvoerbron bepaal word en die verplasing van mielies met koring in volledige diete vir lakterende koeie, ‘n behuisingsproef waarin die gedrag van Holsteinkoeie met toegang tot verskillende slaapkratte bepaal word, twee kruistelinsprojekte waarbinne drie proewe elk gedoen word. Vir die een projek is Holstein- en Fleckvieh x Holsteinbul- en –verskalwers van ‘n produsent aangekoop. Bulkalwers is grootgemaak tot op sowat 5 maande ouderdom waarna hulle as kalfsvleis bemark is. ‘n Ander groep bulkalwers word op18 maande ouderdom bemark. Verskalwers van dieselfde rasse word grootgemaak om op sowat 2 jaar ouderdom in melk te kom waarna hul melkproduksie, reproduksie en produktiewe leeftyd bepaal sal word. ‘n Soortgelyke projek word met Jerseys gedoen. Hiervoor word ‘n gedeelte van die Jerseykudde op Elsenburg met Fleckviehsemen gedek. Bulkalwers word ook vir kalfsvleis grootgemaak terwyl ossies op 24 maande ouderdom as beesvleis bemark sal word. Die kwaliteit van die vleis van beide hierdie projekte word ook bepaal wanneer die diere geslag word. Ander studies wat gedoen word is gerig op die verwerking van rekords wat oor jare in die kuddes opgebou word. Die inseminasiedatums van koeie en resultate van dragtigheidstoetse word byvoorbeeld gebruik om genetiese parameters van spesifieke vrugbaarheidseienskappe te bepaal. Op dié manier kan ‘n vrugbaarheidsindeks vir koeie verkry word. Deur gebruik te maak van die uitskotdatums van koeie, kan ‘n kudde-uitskot indeks beraam word. Dit is ‘n aspek wat nog min aandag in die bedryf kry en produsente weet nie wanneer die beste tyd is om koeie uit te skot nie.
- Hoe kan navorsing help om kuddegesondheid te optimaliseer, asook om winsgewndheid op plaasvlak te verbeter?
Die voedingsnavorsing wat op Elsenburg gedoen word is hoofsaaklik daarop gerig om die rumengesondheid van koeie te verbeter. Tradisioneel is die kwaliteit van die ruvoer wat in die Wes-Kaap geproduseer word, nie baie hoog nie. Vir hierdie rede ontvang koeie diete met hoë kragvoerpeile. Dié peile kan laer wees indien die ruvoerkwaliteit beter is. Daar is nog baie werk wat gedoen moet word oor alternatiewe gewasse wat in die winterreënvalgebied van die Wes-Kaap verbou kan word. Die stadium van inkuiling van gewasse bepaal ook die kwaliteit van kuilvoer. Daar is aanduidings dat ‘n beter rumengesondheid ‘n positiewe effek op produktiewe leeftyd het. Die teelt- en bestuursprogramme van produsente in die Wes-Kaap moet daarom ingestel wees om koeie langer te laat lewe. Hiervoor moet seleksiedoelwitte opgestel word om meer funksionele koeie daar te skep. Die hoeveelheid melk wat koeie produseer is maar net een aspek wat winsgewendheid van ‘n bepaalde stelsel bepaal.