You are here:
isiXhosa | English
Bewaringsboerdery is 'n
holistiese bewerkingstelsel
Klik vir groter weergawe
Bewaringsboerdery is die naam wat gegee is aan ’n volhoubare boederystelsel en wat nie al die nadele het van die gewone konvensionele boerderystelsels nie. Wat beteken volhoubaar? Dit beteken om iets te doen op ’n manier wat nie nadelig is vir die omgewing nie en oor ’n baie lang tydperk op die manier gedoen kan word.
Bewaringsboerdery bestaan uit drie komponente:
-
Geen of minimum bewerking
- Behoud van plantreste op die lande
- Wisselbou met verskillende gewasse
Geen of minimum bewerking

Toothed implement
Geen of minimum bewerking beteken om te boer sonder om die grond om te ploeg. In plaas van om te ploeg en dan te saai, word die saad en kunsmis direk in die oesreste van die vorige oes gesaai. Dit word gedoen deur met ’n impliment wat staaltande of lemme het te gebruik in plaas van die tradisionele ploegskare. Die tand maak slegs ’n slooitjie in die grond, waarin die kunsmis en saad geplaas kan word. Die slooitjie val weer toe nadat die tand deur die grond beweeg het. Hierdie manier van bewerking voorkom ook dat grondstruktuur agteruitgang aangesien die grond nie omgedolwe en fyngemaak word nie.
Die kunsmis en saad word met buise vanuit die verskillende houers na die grond gelei en so direk in die slooitjie geplaas, op die korrekte diepte vir die betrokke gewas. Daar word dus slegs een keer oor die land beweeg en die koste van bewerking is dus baie minder as met konvensionele bewerking waar daar geploeg, ge-eg en gesaai en ook kunsmis uitgestrooi word.
Behoud van plantreste op die land
Indien die oesreste op die land behou word, voorkom dit erosie van die grond deur wind en water, dit voorkom hoë grondtemperatuur en voorkom so die vernietiging van die bio-organismes in die grond.
Die oesreste voorkom ook dat die vog in die grond verdamp en die vog kan gebruik word vir die afbreek van organiese materiaal in die grond, wat weer die grond verryk. Erdwurms kan onder sulke omstandighede in die grond bestaan en help om die organiese materiaal af te breek.
Wisselbou met verskillende gewasse
Wisselbou beteken dat die gewasse wat geplant word op ’n spesifieke land afgewissel word en daar nie elke jaar dieselfde gewas geplant word nie. Deur die gewasse af te wissel word die grond nie uitgeput nie en kry die grond kans om te herstel. Wisselbou beteken ook dat gewasse wat stikstof in die grond terugsit deel uitmaak van die program en daar dus op bemestig bespaar word.
Konvensionele boerderystelsels
Met konvensionele boerderystelsels word bedoel die tradisionele ploeg en saai werkswyse wat oor baie jare toegepas is. Dit sluit ook in die brand van oesreste op die land. Hierdie werkswyse het die volgende nadele:
Erosie kan duidelik op
hierdie land gesien word.
- Die omdolwe van die grond, om onkruid te vernietig en die grond voor te berei vir die saad, lei tot ’n kaal oppervlakte waar gronderosie baie maklik kan plaasvind
- Tydens die omdolwe van die grond word koolsuurgas (CO2) vrygestel, wat lei tot ’n vermindering van koolstof in die grond en dus die grond verarm. Onthou dat koolstof die basis vorm van die chemiese, fisiese en biologiese prosesse in die grond. Sonder koolstof kan die prosesse nie plaasvind nie.
- Die verlies van CO2 kan vergelyk word met verbranding van die organiese materiaal in die grond, wat die baie waardevolle CO2 in die lug vrystel en dus eintlik vir die produsent verlore geld beteken.
- Hierdie vrygestelde CO2 beweeg na die boonste atmosfeer en dra by tot die kweekhuiseffek en aardverwarming.
- Die organiese materiaal in die grond word na die omploeg aan die sonlig blootgestel, uitgedroog en is dus nutteloos om die grond te verryk.
- Die grond se temperatuur word deur die son verhoog en die bio-organismes kan nie oorleef nie. Loop maar op ’n warm dag kaalvoet oor ’n kaal stuk grond en voel hoe die grond jou brand.
- Aangesien daar talle meganiese bewerkings plaasvind is die insetkoste baie meer as vir bewaringsboerdery
- Die brand van oesreste vernietig die waardevolle beskerming van die grondoppervlak en wind- en watererosie kan plaasvind. Erosie van tot 700 ton grond per hektaar het al in slegs een reënstorm plaasgevind.
- Benewens die verlies aan grond, wat nooit weer vervang kan word nie, kan die saad wat pas geplant is ook wegspoel, wat weer tot ’n baie lae produksie lei.
- Die brand van oesreste verhoed ook dat die grond verryk word deur plantreste wat afgebreek word en die organiese inhoud van die grond verhoog.
- Die ploeg van die grond lei ook tot uitdroging van die grond en die verlies aan vog kan beteken dat daar gewag moet word tot die volgende reën voordat daar geplant kan word.
Bewaringsboerdery
Healthy soil
Bewaringsboerdery aan die anderkant het weer die volgende voordele, nie slegs vir die produsent nie, maar ook vir die nageslag wat in die toekoms die grond wil benut vir boerdery:
- Die grond, wat ons grootste bate is, word beskerm teen erosie en vernietiging van die struktuur van die grond.
- Die verminderde erosie help om ons waterbronne skoon te hou aangesien minder sediment in die water voorkom.
- Dit help weer om te keer dat ons damme toeslik en het ook verminderde koste tot gevolg wanneer die water gesuiwer moet word vir drinkwater aan stede en dorpe.
- Die voginhoud van die grond word bewaar en help om die biologiese prosesse in die grond in stand te hou. Dit lei tot verhoogde organiese inhoud van die grond wat weer ons grond meer vrugbaar en dus meer produktief maak.
- Die koolstofinhoud van die grond word verhoog en soos reeds aangedui, is koolstof die basis van al die chemiese, fisiese en biologiese prosesse in die grond.
- Wisselbou help om stikstof in die grond terug te plaas, wat tot verminderde bemesting lei.
- Minimum bewerking verlaag die meganisasiekoste drasties. Nie net kan baie kleiner trekkers gebruik word nie (die tandimplimente benodig minder krag as ploeë), maar minder bewerking is nodig, met groot besparings vir die produsent
- Bewaringsboerdery is ’n tegniek wat agteruitgang van ons gronde kan verhoed of gronde wat reeds verswak het, weer kan opbou. Dit kan ook help om die te verhoed dat meer grond in woestyne verander, wat ’n groot probleem wêreldwyd is.
- Bewaringsboerdery kan ook help om armoede te verlig, kan help om meer voedsel te produseer terwyl dit ons natuurlike hulpbronne beskerm.
Meer inligting oor bewaringsboerdery kan vanaf die Department van Landbou: Wes-Kaap te Elsenburg verkry word by telefoon 021 808 5366