home about contact us news
Inligtingstukke   |   Elsenburg infopaks   |   Diere, bestuur: 16

Droëkoeibestuur Engels | Xhosa

Die droë periode strek vanaf die einde van laktasie tot wanneer die koei weer kalf. Dit is ’n kritieke periode in die produksie-siklus van die koei aangesien sy dan swaar dragtig is, met ’n vinnig groeiende fetus. Tydens hierdie periode moet die voeding van droë koeie nie verwaarloos word nie.

Die doel van die droë periode is om die melkvormende weefsel in die uier ’n geleentheid te gee om te hernu. Hierdie proses duur ongeveer ses weke. Indien koeie geen droë periode het nie, kan die verlies in melkproduksie tydens die daaropvolgende laktasie soveel as 30% wees. Die droë periode bied ook die geleentheid vir die grootpens om te herstel Gedurende die droë periode moet die kondisie van koeie behou word. ’n Poging kan aangewend word om die kondisie van koeie wat baie swak is, te verbeter.

Die dragtigheidsperiode van koeie is nege maande en die fetus groei gedurende die laaste agt weke voor kalwing besonder vinnig. Sowat 60% van die toename in die geboortemassa van die kalf vind in hierdie periode plaas. Die voedingsbehoeftes van die koei gedurende die droë periode moet ten minste verseker dat fetale groei plaasvind.

Lengte van die droë periode

Die droë periode moet sowat 42 tot 60 dae lank wees. Sowel ’n kort as ’n baie lang droë periode het ’n nadelige effek op die melkproduksie van koeie in die daaropvolgende laktasie.

Opdroogdatum

Om die opdroogdatum te bepaal, moet die verwagte kalfdatum bekend wees. Dit word vanaf die dekdatum bereken, nadat die koei dragtig bevestig is. Die gemiddelde dragtigheidsperiode van koeie varieer tussen 275 tot 283 dae. Vanaf die verwagte kalfdatum word dan 60 dae afgetrek om die opdroogdatum te bepaal.

Opdroogmetode

Die melkproduksie van koeie moet voor opdroging verminder word. Staak kragvoervoeding terwyl strooi ook gevoer kan word. Koeie word op die volgende wyse opgedroog:

  • Koeie word opgedroog deur hulle nie meer te melk nie. Indien ’n koei ’n hoë melkproduksie van 20 kg of meer het, kan sy oor die laaste twee tot drie dae voor opdroog slegs een maal per dag gemelk word. Strooi kan ook gevoer word om die melkproduksie van die koei te laat daal. Hoewel waterinname ook beperk kan word, moet dit nie tydens baie warm weerstoestande gedoen word nie.
  • Met die laaste melking moet ’n langwerkende droëkoei-antibiotikum in elk van die vier kwarte toegedien word om te verseker dat mastitisveroorsakende-bakterieë nie die uier gedurende die droë periode besmet nie. Koeie moet vir die eerste week na opdroog goed dopgehou word. Die druk van melk in ’n uier wat nie geledig word nie, lei tot die geleidelike herabsorpsie van die melk wat melkproduksie onderdruk. Dit laat die koei opdroog en sy kan na die droëkoei-groep verskuif word.

Voeding in die droë periode

Die laaste 2 tot 3 weke voor kalwing blyk ’n kritiese tydperk vir die droë koei te wees, aangesien haar hormonale status ’n dramatiese verandering ondergaan ter voorbereiding vir die komende kalwingsproses en daaropvolgende laktasie. Die koei verloor gewoonlik haar aptyt en vreet daarom minder, veral in die dae net voor kalwing. Dit kan lei tot die voorkoms van siektetoestande na kalwing soos ketose, vet lewers, misplaasde abomasums en nageboortes wat vassit.

Daar bestaan ’n sterk verwantskap tussen droëmateriaalinname voor en na kalwing. Dit beteken dat koeie wat swak vreters voor kalwing is, geneig sal wees om na kalwing ook swak te vreet. Gevolglik sal sulke koeie swakker produseer en meer fisiologiese en reproduksieprobleme toon.

Dit is belangrik dat koeie in ’n goeie kondisie moet wees wanneer hulle opgedroog word. Maer koeie het nie genoeg energiereserwes om in vroeg laktasie ’n hoë produksie te kan handhaaf nie, aangesien hulle energiebehoeftes hul energie-inname oorskry. Oorvet koeie is ook ongewens - hulle vreet minder en is meer geneig tot metaboliese en reproduksieprobleme.

Gedurende die eerste vier tot ses weke van die droë periode is dit belangrik dat koeie goeie kwaliteit ruvoer met ’n growwe tekstuur ontvang. Mieliekuilvoer, grashooi, kleingraanhooi/-kuilvoer, grasweiding of gras-klawerweiding kan gedurende hierdie periode suksesvol as voedingsbronne vir droë koeie gevoer word. Beperk die inname van mieliekuilvoer om oorvetheid te voorkom. Saam met die ruvoer moet altyd ’n geskikte lek gevoer word om te verseker dat die koei se mineraal-spoorelementstatus opgebou word.

Gedurende die laaste drie weke van die droë periode kan die koei aan kragvoer gewoond gemaak word. Kragvoervoeding kan met 1kg/koei/dag begin word en stelselmatig verhoog word tot sowat 3kg/dag net voor kalwing. Alleen lae kalium-bevattende ruvoere behoort in hierdie periode gevoer te word. Goeie voorbeelde hiervan is mieliekuilvoer en kleingraanhooi of -kuilvoer. Ruvoere met hoë kaliumpeile soos kikoejoe, raaigras en klawers het tot gevolg dat kalsium-mobilisasie onderdruk word met gepaardgaande probleme soos melkkoors en nageboortes wat vassit.

Omdat spoorelementstatus met kalf so belangrik is om nageboortes wat vassit en mastitisinfeksie na kalf te voorkom, kan mekkoeie 14 dae voor kalf vitamien A en E met inspuitbare sink en selenium toegedien word.

CJC Muller
ELSENBURG / Navorsing