| Inligtingstukke | | | Elsenburg infopaks | | | Gewasse, groente: 7 |
Beet groei die beste wanneer dit koel is, maar kan regdeur die jaar geplant word. Die beste tye om beet te plant is vroeg in die lente tot vroeg in die somer (Augustus, September, Oktober) en weer laat in die somer tot in die herfs (Februarie, Maart, April). Hierdie tye is die koel tye van die jaar. Beet groei nie goed as dit baie warm is nie, of in die middel van die winter wanneer dit baie koud is nie.
Crimson Globe en Detroit Dark Red kan geplant word.
Beet sal op enige tipe grond goed groei, behalwe op suur gronde. Beet groei goed op brakgronde en soetgronde, maar die grond moet goed gedreineer wees. Dit beteken dat water nie te lank op die grond moet staan wanneer jy natmaak nie. As dit gebeur moet kompos in die grond ingewerk word. Dit sal ook help dat die grond nie n kors vorm nie. Wanneer daar n kors op die grond vorm, kom die plantjies moeilik deur die grond. Kompos moet egter nie ingewerk word net voordat die beet gesaai word nie, anders sal dit harig wees en dik sywortels vorm. Werk die kompos reeds die vorige seisoen in die grond in. Plant eers n groentesoort soos kool en plant dan beet in die volgende seisoen. Dit is n vorm van wisselbou wat beteken dat jy nie elke jaar op dieselfde stuk grond beet plant nie. Dit voorkom ook dat siektes en insekte in die grond opbou.
Die belangrikste plantvoedsel wat beet nodig het is stikstof (N), fosfor (P), kalium (K) en boor (B). Beet het baie stikstof, fosfor en kalium nodig, maar min boor. Gronde het egter nie altyd genoeg hiervan vir die beet nie. Gevolglik moet dit aangevul word. Voordat mens weet hoeveel om te gee, moet die grond eers ontleed word om te kyk hoeveel van die plantvoedsel daar in die grond is. Dit is belangrik om nie te veel of te min plantvoedsel te gee nie. Te veel sal die plante brand en te min die plante swak laat groei.
As jy nie n grondontleding laat doen nie, kan die volgende hoeveelheid gegee word:
Met plant: 80 gram 2:3:2 (22) met sink (Zn) per vierkante meter (m2).
Hierdie plantvoedsel is n mengsel van stikstof, fosfor en kalium met n bietjie sink wat goed in die grond ingewerk moet word voor plant.
3 tot 4 weke ná plant, of as die plante 15 sentimeter hoog is, kan die volgende gegee word:
25 gram ammoniumsulfaat per (m2) of
20 gram kalksteenammoniumnitraat (KAN) (m2)
(een vierkante meter (m2) is gelyk aan die grootte van n vierkant waarvan die sye uit grawe bestaan)
Wanneer daar te min boor in die grond is, sal die beet swart vlekke aan die binne- en buitekant hê, asook swart krake en gate toon. As dít gebeur, kan jy 1 gram Solubor per vierkante meter in die grond inwerk voordat daar weer beet geplant word. Te veel is egter giftig vir die plante.
Voordat jy beetsaad saai, moet die grond gelyk gemaak word en kluite, klippe en onkruide uitgehaal word. Die saad word in grippies of voortjies van 2 sentimeter diep gesaai. Wanneer dit opkom, trek die plantjies uit sodat daar tussen elkeen n spasie van 7 sentimeter is. Tussen die rye moet n spasie van 20 sentimeter wees.
Dit is belangrik om te onthou dat die grond klam gehou moet word totdat die plantjies bo die grond uitkom. As dit baie warm is, kan grassnysels, strooi of lang grashalms as n grondbedekking bo-op die beddings gegooi word om die saad teen uitdroging te beskerm. Wanneer die saad begin opkom, moet die grondbedekking verwyder word sodat langbeenplante nie sal vorm nie.
Beet se wortels groei vlak onder die grond en dit is belangrik om die grond gereeld nat te maak. As daar tye van lang droogtes is, sal die beet harig en stokkerig word. Met koel weer kan beet een keer per week natgemaak word.
In baie warm weer kan minder water 2 - 3 keer per week gegee word in plaas van baie water slegs een keer per week.
Beet kan geoes word wanneer dit 7.5 sentimeter breed is.
M Jordaan
ELSENBURG / CRADOCK proefstasie