home about contact us news
Inligtingstukke   |   Elsenburg infopaks   |   Diere, bestuur: 1

Algemene hondeversorging Engels | Xhosa

Kliek om te vergroot!
Waarom besit jy ’n hond? Hy is jou beste vriend want hy is vir 24 uur van die dag lojaal teenoor jou. Maar hoe versorg jy dié vriend van jou? Die volgende inligting mag vir elke hondeliefhebber van groot waarde wees.

’n Nuwe hondjie moet, indien moontlik, eers na ’n veearts geneem word vir inenting op ouderdom 6 - 8 weke, asook vir ontwurming.


Kliek om te vergroot!
Klein hondjies se magies is soms deurentyd abnormaal geswel. Dit dui op ’n hoë wurmbesmetting. Vir die res van sy lewe moet ’n hond elke ses maande ontwurm word. Dit is belangrik om die middels af te wissel sodat die wurms nie immuun raak teen ’n middel nie. Die huismense moet ook elke ses maande ontwurm word omrede ’n mens baie maklik wurms vanaf troeteldiere kan kry.

Op drie maande ouderdom moet ’n hond sy eerste inspuiting teen hondsdolheid kry. Die inspuiting moet jaarliks herhaal word.


Kliek om te vergroot!
Kom ons kyk nou na kos en water vir ’n hond. As ’n hond net pap kry om te eet, kry hy nie veel voedingstowwe in nie. Gee saam met die pap ’n sop wat gekook is van groenteskille en sopbene of afvalvleis. Klein hondjies moet sagte kos kry en melk om hul bene en tande sterk te hou. Vir goeie spysvertering gee semels en kookolie (een eetlepel vier keer per week) saam met die kos. ’n Dragtige teef of een met kleintjies wat aan haar drink moet ook melk en voedsame kos kry.

Hoenderbene of ander skerp beentjies moet nie aan honde gegee word nie want dit kan in hul kele of dermkanaal vassit. Groot growwe bene en beeshoewe kan egter gegee word. Beeshoewe is veral goed vir klein hondjies wat wissel.


Kliek om te vergroot!
Water moet 24 uur van elke dag beskikbaar wees vir die hond. Plaas die bak in die koelte sodat die water nie warm word in die son nie.

Kliek om te vergroot!
’n Skuiling van sinkplate of hout is nodig sodat die hond beskut is teen wind, reën, koue en vir skaduwee op ’n warm dag. Beddegoed van ’n ou kombers of sak moet gereeld buite gehang word sodat kieme in die son kan doodbrand.

Kliek om te vergroot!
Honde moet so ver moontlik vry gehou word van bosluise, vlooie en luise. In dele waar dit ’n groot probleem is, kan honde in die somermaande een keer elke twee weke gedip word. Die middel KARBADUST is nie duur nie en kan ook vir die doel aangewend word. Dié poeier kan 3 - 4 keer per week op die hond gestrooi en ingevryf word. Dit moet ook op die hond se beddegoed gestrooi word. Dis belangrik om te onthou dat die poeier giftig is en dat jy jou hande na gebruik daarvan baie goed moet was.

Moenie te veel honde aanhou nie. Dit is beter om net een goed versorgde hond aan te hou. ’n Teef moet gesteriliseer word as jy nie wil teel nie.

Daar is mense wat glo dat honde ’n wurm onder hul tonge het wat uitgesny moet word. Dit is net bygeloof want daardie "wurm" is slegs ’n deeltjie van die hond se tong. Nie net is dit baie pynlik vir die hond as die sogenaamde wurm uitgesny word nie, maar baie honde het al doodgebloei as gevolg daarvan. Verder is dit ook nie waar dat ’n siek hond sy siekte sal uitbloei as sy ore afgesny word nie.


Kliek om te vergroot!
Moet nooit toue of drade om honde se nekke vasmaak nie, maar gebruik eerder ’n leerhalsband. Gebruik liewer ’n hardloopketting indien dit nodig is om ’n hond vas te maak. Twee penne word ’n paar tree van mekaar in die grond geslaan. Aan die twee penne word ’n draad vasgemaak. ’n Ketting wat aan die hond se halsband (verkieslik van leer) vasgemaak is, word aan die draad verbind. Die hond kan dan op en af beweeg. ’n Hond wat vasgemaak is moet nooit sonder water wees nie, minstens een keer per dag kos kry en ’n ordentlike skuiling hê.

Honde moet nie geleer word om te jag nie. Honde wat lank vasgemaak word sonder kos hou ’n gevaar op veral plase in omrede sulke uitgehongerde honde skape of selfs beeste sal aanval.

Wees baie versigtig indien jy gif moet gebruik. Rottegif byvoorbeeld moet so geplaas word dat dit buite bereik van enige hond is.


Kliek om te vergroot!
Op ’n ligter noot - moet nooit ’n kwaai hond in die oë kyk nie. Hy sien dit as ’n uitdaging! Verder - moenie honde terg nie. Laat honde alleen terwyl hulle eet. Dit geld ook ’n teef met kleintjies. As honde bedreig voel bestaan die moontlikheid dat hulle sal byt.

Gee genoeg aandag aan jou hond en weet verseker jy het ’n lojale vriend en oppasser.

S Hoffman
ELSENBURG / LYDENBURG Veeartsenydienste