Hittewaarneming by plaasdiere
|
Engels | Xhosa |
SKAPE
- Jong ooie bereik geslagsrypheid of puberteit tussen 7 en 12 maande ouderdom. Verskille kom tussen rasse voor en omgewingstoestande soos voeding en versorging beïnvloed die tyd wanneer diere puberteit bereik.
- Die verskyning van bronstigheid dui geslagsrypheid aan.
- Jong ooie wat geslagsrypheid bereik, is nie noodwendig dadelik geskik vir teeldoeleindes nie aangesien hulle nog nie uitgegroei is nie.
- Ooie moet ten minste n liggaamsmassa van sowat 40 kg of twee-derdes van volwasse massa bereik voordat hulle die eerste keer gepaar word. Die ontwikkeling van n ooi en haar produksievermoë kan benadeel word as sy te vroeg vir teeldoeleindes gebruik word.
- Bronstigheid is die tyd wanneer paring by diere sal plaasvind. Dit word gevolg met n tyd van teelrus wanneer paring nie sal plaasvind nie.
- Hierdie bronstigheid en teelrus volg n siklus wat deur hormone beheer word en elke 14 tot 19 dae met n gemiddelde van 17 dae by skape herhaal word.
- Bronstigheid duur gemiddeld 27 uur, maar dit kan so kort as 3 ure by jong ooie wees.
- Onder gunstige omstandighede kan rasse soos die Merino, Dohné Merino, SA Vleismerino en Dorper dwarsdeur die jaar bronstig word, maar in die algemeen is geslagsaktiwiteit seisoensgebonde.
- Geslagsaktiwiteit word grotendeels deur dagliglengte bepaal. Wanneer die dae korter word in die herfs, verhoog die geslagsaktiwiteit. In die begin van die somer, met die verlenging van dagliglengte, is geslagsaktiwiteit op sy laagste. n Periode van geslagsrus mag dan voorkom waartydens bronstigheid nie plaasvind nie.
- Die bronstigheidsiklus staak tydens dragtigheid.
- Voeding en die algemene versorging van skape het n groot invloed op die geslagsiklus en seisoenale voorkoms van geslagsaktiwiteit.
- Ramme kan vrugbare saad op 6 - 8 maande produseer maar word gewoonlik nie vir dekking voor 18 - 24 maande ouderdom gebruik nie.
- Ramme se geslagsaktiwiteit is nie so seisoensgebonde soos die van ooie nie, maar is wel die hoogste in die herfs. Hoë omgewingstemperatuur (bo 27°C) kan semenkwaliteit negatief beïnvloed.
Waarneming van hitte
- Bronstigheid waarneming by ooie is nie so opmerkbaar soos by koeie nie.
- Ooie toon rusteloosheid.
- n Geweldige skudding van die stert is kenmerkend.
- Die vulva mag effens geswel wees.
- Bronstigheid word die beste aangedui deur die teenwoordigheid van ramme by ooie.
- Ooie op hitte sal ramme opsoek.
- Ooie op hitte bly gewoonlik naby die ram en vryf haar nek of liggaam herhaaldelik teen dié van die ram.
- Die sekerste aanduiding van bronstigheid by die ooi is wanneer sy stilstaan as n ram haar bespring.
- Koggelramme of ramme met voorskote, wat penetrasie verhoed, kan gebruik word om ooie op hitte te identifiseer.
- Waar deurlopende observasie nie moontlik is nie, kan merkers aan die bors van ramme gebruik word om bronstige ooie te merk. n Mengsel van okur kleurstof en margarien kan aan die ram se bors gesmeer word as merktuie nie beskikbaar is nie.
Dekking
Verskeie metodes van dekking word gebruik:
- groep- of kuddeparing waar onderskeidelik een of meer ramme gebruik word om n trop ooie te dek
- handparing waar bronstige ooie gewoonlik deur koggelramme geïdentifiseer en dan individueel met n spesifieke ram gepaar word
- kunsmatige inseminasie waar bronstige ooie met saad geïnsemineer word.
Ongeag die metode wat gebruik word, moet kuddebestuur gerig wees op die verhoging van geslagsaktiwiteit en goeie toestand van ramme en ooie om suksesvolle dekking te verseker.
- Verskaf byvoeding aan ramme voor en tydens dektyd.
- Gee prikkelvoeding aan ooie vanaf 3 weke voor dektyd tot n maand na dektyd, in ag genome die kondisie van die ooie. Moet nie die diere oorvet voer nie.
- Toets ramme vir vrugbaarheid en dekbehendigheid voor paring en gee ramme oefening om fiks te wees (stap daagliks 1 - 2 km teen n vinnige pas).
- Vermy kontak tussen ramme en ooie voor dektyd.
- Koggelramme kan 2 weke voor dektyd by ooie geplaas word om geslagsaktiwiteit te prikkel.
- Die behandeling teen uitwendige en inwendige parasiete en die immuniseerprogram moet n maand tot twee weke voor dektyd afgehandel word.
- Mikskeer ooie met wolgroei langer as 6 maande.
- Gebruik voldoende ramme met kuddeparing (3 - 4 persent).
- Paar jong ooie verkieslik apart.
- Paar vir ten minste 2 bronstigheidsiklusse, dit wil sê 34 dae.
- Gebruik klein kampies met voldoende weiding of voer, water en skadu.
- Hou ooie rustig vir 4 weke na dektyd.
BEESTE
- Puberteit by verse word tussen 6 en 15 maande ouderdom bereik. Verskille kom tussen rasse voor en voeding beïnvloed ook die groei en ontwikkeling van die dier.
- Verse moet verkieslik eers op 18 tot 24 maande ouderdom vir teeldoeleindes gebruik word. Verlaagde vrugbaarheid en verminderde melkopbrengs kan verwag word by verse wat gedek word sodra puberteit bereik word, aangesien dit groei en ontwikkeling benadeel.
- Bronstigheid dui geslagsrypheid aan.
- Koeie het n bronsigheidsiklus van 21 dae, dit wil sê koeie behoort elke 21 dae op hitte te kom alhoewel dit kan wissel van 18 tot 23 dae.
- Bronstigheid kan tussen 3 tot 24 uur duur met n gemiddelde van 16 uur. Paring kan in die tydperk plaasvind.
- In die teelrusperiode van ongeveer 20 dae sal paring normaalweg nie plaasvind nie.
- Die duur van die hittesiklus kan deur dragtigheid en siekte onderbreek word.
- Die hittesiklus hervat ongeveer 2 maande na kalwing.
- Die koeie se geslagsiklus is nie seisoensgebonde nie en kan dwarsdeur die jaar duur. Daar kan n rustyd in die winter- en lentemaande voorkom as voeding - en klimaatstoestande ongunstig is. Dit kom meer algemeen by verse voor.
Waarneming van hitte
§ Die waarneming van bronstigheid by koeie is gewoonlik baie opsigtelik.
§ Rusteloosheid is een van die eerste simptome.
§ Die koei bulk asof sy haar kalf soek.
§ Die bronstige koei sal haar soms afsonder en ronddwaal.
§ Die koei urineer bietjie-bietjie en snuif in die lug.
§ Die ore beweeg aktief en die oë het n verwilderde uitdrukking.
§ Die bronstige koei lek aan ander koeie, speel met die kop en rus haar kop op ander koeie.
§ Die koei probeer op ander koeie ry en laat toe dat ander koeie op haar ry.
§ Die vulva is geswel en slym hang soms by die vulva uit. Die stert hang langs die vulva en is effens gelig.
Dekking
Kunsmatige inseminasie word baie algemeen as dekkingsmetode by veral melkkoeie gebruik. Groepparing deur een of meer bulle per trop word weer algemeen by vleisbeeste gebruik.
Die fisiese gesondheid en goeie geslagsaktiwiteit van bulle en koeie is nodig vir suksesvolle dekking.
- Bulle en koeie moet voor dektyd in n goeie kondisie wees.
- Bulle moet vir vrugbaarheid en dekbehendigheid getoets word.
- Behandeling teen inwendige en uitwendige parasiete moet voor dektyd plaasvind.
- Met vleisbeeste moet elke bul verkieslik met sy eie trop koeie ( 30 tot 40 koeie per bul ) in n kamp afgesonder word.
- Bulle behoort na 2 - 3 maande uit n koeitrop verwyder te word.
- Met melkbeeste word die bronstige koeie na die bul gebring of kunsmatige inseminasie toegepas.
VARKE
- Die bronstigheidsinterval is gemiddeld 21 dae.
- n Sog bly 2 - 3 dae bronstig.
- Bronstigheid word bepaal deur die sôe vir die "staanrefleks" te toets deur op die agterlyf te druk of eenvoudig op die rug van die sog te ry. Ry die sog in haar eie omgewing en nie naby die beer of wanneer sy vreet nie.
- Die vulva sal rooi en geswel wees. n Slymerige, wit afskeiding kan ook waargeneem word.
- Die sog sal rusteloos raak.
- Vrugbaarheid bereik n hoogtepunt ongeveer 30 uur na die aanvang van die bronstigheidstydperk.
- Hoe korter die periode van jonging tot speen, hoe groter is die moontlikheid dat daaropvolgende hitteperiodes van die sog ongereeld sal wees.
- Sôe moet baie goed vir bronstigheid dopgehou word. Bring dus die beer elke môre na die groep sôe. Sôe wat bronstig is, sal die "geselskap" van die beer opsoek.
- n Sog is 4 tot 6 dae na speen weer op hitte.
Dekking
- Sôe behoort voor paring betreklik skraal te wees, maar op n voedingspeil waarop hul gewig toeneem. Vanaf speen tot eerste bronstigheid moet sy ongeveer 3 kg/dag vreet.
- Sôe wat meer as twee keer oorslaan, moet uit die kudde verwyder word.
- n Sog moet nie die eerste keer gedek word voor sy n massa van ongeveer 110 kg bereik het en 7-8 maande oud is nie. Dit behoort ongeveer die derde keer te wees waarop die sog na geslagsrypheid op hitte sal kom.
- Dit is raadsaam om die soggie drie keer met 12-uur intervalle na die beer te neem. Die sog word dus drie keer gedurende haar hitteperiode gedek.
- By die beer kom die eerste ryp sperme op ouderdom 5-6 maande voor, en die eerste ejakulasie kan ook nou plaasvind. n Beer behoort nie vir dekking gebruik te word voordat hy 8 maande oud is nie.
- Die vrugbaarheid van n beer verbeter tot op 12 maande ouderdom. Voor 12 maande behoort n beer nie meer as 4 dekkings per week, en n maksimum van een per dag te behartig nie. n Dag se rus tussen dekkings moet toegelaat word.
- n Jong beer moet eers n paar klein soggies dek alvorens hy op groot sôe gebruik word, aangesien n volwasse sog hom weens bakleierigheid kan afskrik.
- Geslagsrypheid van die beer word bevorder deur bronstige bere en soggies in hokke langs mekaar te huisves.
- n Volwasse beer behoort nie meer as een sog per dag te dek met nie meer as 6 dekkings per week nie en rusperiodes van 1-2 dae tussenin.
- n Beer moet nie meer as 15-20 sôe per seisoen dek nie.
- n Oorwerkte beer se vrugbaarheid kan baie afneem.
- n Beer wat te min gebruik word, kan verdere dekkings nadelig beïnvloed.
- Indien n groot, swaar beer n jong soggie moet dek, is n dekkrat noodsaaklik.
- Die vloer van die dekgedeelte moet nie te glad wees nie, en die beer moet bekend wees aan die omgewing.
- Dekking moet nie sonder toesig geskied nie. Verleen hulp indien nodig.
- Die sog word altyd na die beer gebring.
- Na dekking moet die sog terug na haar eie hok toe om besering deur die beer te voorkom.
TS Brand, B Aucamp, J Botha & A Kruger
ELSENBURG / Navorsing