home about contact us news
Inligtingstukke   |   Elsenburg infopaks   |   Diere, siektes: 20

Vuilbek Engels | Xhosa

Kliek om te vergroot!
Sere, met septiese rowe aan lammers se bekke, gaan gewoonlik gepaard met dieselfde sere aan die spene van die ooie en word veroorsaak deur ’n virus. Draerdiere is verantwoordelik vir die infeksie op ’n plaas. Die virus is weerstandig en die omgewing by krale en krippe kan jare lank besmet bly.

Die pokke tipe virusse dring die vel by wonde binne en vestig oppervlakkig. Doringagtige weiding en toestande wat die vel beskadig, is bydraende faktore. Lammers kan aansteek wanneer hulle aan ooie suip met besmette wonde aan die spene . Die letsels kan ook binne in die lammers se bekke voorkom. Bakteriese besmetting bemoeilik die toestand wanneer septiese sere en intense inflammasie ontwikkel.

’n Seldsame vorm van die toestand is die sogenaamde "Aarbei vrotpootjie". In hierdie toestand kompliseer die velbakterieë die pokke virusinfeksie en ontstaan ’n rou seer wat soos ’n aarbei op die pote lyk.

Ekonomiese verliese word veroorsaak deur ernstige verlies aan kondisie by die lammers. Die gebarste lippe is pynlik en lammers suip swak. Wanneer speenletsels sekondêr besmet raak, kan mamilitis en selfs mastitis intree wat melkproduksie permanent kan knou.

Die behandeling is gemik op die bekamping van sekondêre infeksies. Ontsmettingsmiddels soos jodium is geskik, terwyl lanolien die lippe van die lammers saghou en barsies genees. ’n Melksalf wat jodium en lanolien kombineer, is dus ’n uitstekende middel vir lokale aanwending. Inspuitings met antibiotika kan in erge gevalle nodig wees.

’n Goeie, goedkoop entstof is beskikbaar wat die herstel van aangetaste diere sal versnel en die verspreiding na gesonde diere verhoed.

MP van Aardt
ELSENBURG / SPRINGBOK Veeartsenydienste