home about contact us news
Inligtingstukke   |   Elsenburg infopaks   |   Diere, voeding: 5

Voeding van vervangingsverse tot by eerste kalf Engels | Xhosa

Die meeste melkprodusente maak hul eie vervangingsverse groot. Hierdie praktyk word om die volgende redes verkies teenoor die praktyk om verse vanaf ander produsente aan te koop:

  • Die herkoms van aangekoopte verse is dikwels swak en/of onbekend.
  • Aangekoopte diere kan besmet wees met aansteeklike siektes, soos besmetlike misgeboorte en beestering.
  • Die aankooppryse van verse is dikwels buite verhouding met hul produksievermoëns.
  • Verse is nie altyd op die verlangde tydstip beskikbaar nie.

Verse moet so vroeg as moontlik in produksie kom, aangesien dit die enigste metode is om grootmaakkoste te bespaar. Daar moet net voorkom word dat verse vet word. Vetneerlegging vermeerder egter soos verse ouer word. Vetneerlegging in die uier voor puberteit sal melkproduksie nadelig beïnvloed.

Hoe vinniger ’n dier groei, hoe meer doeltreffend word voer in liggaamsgewig omgesit, omrede ’n kleiner gedeelte van die voer vir onderhoud en meer vir groei aangewend word. Verse moet dus so gou as moontlik uitgroei om dekgewig te bereik inaggenome ’n minimum ouderdom. Dekking voor hierdie ouderdom sal lae produksie en meer kalwingsprobleme gee. Verse moet verkieslik nie jonger as 22 maande en nie later as 27 maande kalf nie. Die grootte en kondisie van verse by eerste kalwing het ’n duidelike effek op hul produksie gedurende die eerste drie laktasies.

Hoe swaarder, met ander woorde hoe nader aan volwasse liggaamsmassa ’n vers by eerste kalwing is, hoe hoër is haar melkproduksie gedurende die eerste drie laktasies. Die swaarder vers het gewoonlik ook meer liggaamvetreserwes om in haar energiebehoefte gedurende die eerste drie maande van laktasie te voldoen. Dit is veral belangrik, aangesien dit die stadium is waartydens die hoeveelheid energie in die voer nie in haar behoeftes vir melkproduksie kan voorsien nie. Verse wat meer uitgegroei is, benodig minder energie gedurende eerste laktasie om volwasse gewig te bereik. Daar is daarom meer energie beskikbaar vir melkproduksie. Die effek word tot in die derde laktasie behou.

Die rede vir die laer produksies van sommige verse, is omrede vetweefsel in plaas van uierweefsel in die uier neergelê word. Dit vind gedurende of selfs voor puberteit plaas.

VOEDING

Voeding is dié faktor wat die grootste rol speel by die groei van verse. Oorvoeding sowel as ondervoeding is nadelig. Verse se voedingsbehoeftes verander soos hulle ouer word. Gevolglik moet hulle voerprogram volgens die volgende ouderdomsgroepe aangepas word:

  • 3 tot 6 maande;
  • 6 tot 12 maande;
  • 12 maande tot kalf

Drie tot ses maande

Verse kan tydens hierdie fase in vergelykbare ouderdomsgroepe in hokkies of klein kampe uitgeplaas word. Die ouderdomsverskil binne ’n groep moet verkieslik nie meer as 2 maande wees nie. Die grootpens is op hierdie stadium nog nie ten volle ontwikkel nie en die verse moet net die beste gehalte ruvoer in die vorm van weidings en/of peulgewashooi ontvang. Strooi, kaf, stoppellande en swak ouland of stoppelweidings sal die groei van die diere nadelig beïnvloed. ’n Volvoer met hierdie samestelling wat ad lib gevoer word, of goeie gehalte ruvoer (lusernhooi, gras-peulplanthooi of gras-klawerweidings) saam met 1,5 kg kalfgroeimeel, sal aan die kalf se behoeftes voldoen.

Ses tot twaalf maande

Op hierdie stadium is die grootpens ten volle ontwikkel en is die vers in staat om ruvoer doeltreffend te benut. Goeie gehalte ruvoer in die vorm van weidings, kuilvoer en/of hooi moet die belangrikste bron van voeding wees. Swak ruvoergehalte, gebrekkige en lae inname is op hierdie stadium die belangrikste oorsaak van swak groei en ondervoeding.

Twaalf maande tot kalf

Afhangende van die soort, hoeveelheid of kwaliteit ruvoer wat beskikbaar is, kan enige van die volgende voedingsprogramme gedurende hierdie stadium gevolg word:

  • Program 1 - met baie goeie gehalte hooi

    Voorsien goeie kwaliteit peulgewashooi (lusern) of jong, aangeplante weidings plus 1 kg mieliemeel (of kleingrane) per dag tot op dekstadium. Staak daarna kragvoervoeding tot 3 maande voor kalwing waarna die vers weer 1 kg suiwelmeel/dag moet ontvang.

 

  • Program 2 - met medium gehalte hooi

    Voorsien ’n gemiddelde kwaliteit hooi plus 2 kg 16% ruproteïen kragvoer per dag tot op dekstadium.

    Na besetting: 1 kg graanmeel per dag plus ruvoer
    Vanaf 3 maande voor kalwing: 2 kg suiwelmeel per dag plus ruvoer

    Die ekstra kragvoer oor die laaste 3 maande voor kalwing is belangrik aangesien die voedingsbehoeftes van die vers baie toeneem as gevolg van fetus- en plasentagroei.

    Indien verse geneig is om te vet te word, moet kragvoervoeding beperk word.

BESTUUR

  • Verse moet in groepe ingedeel word volgens ouderdom, veral waar hulle gevoer word. Die ouderdomsverskil moet liefs beperk word tot ’n maksimum van 2 maande.
  • Geen duur behuising is nodig nie, maar samedromming in nat en vuil krale moet verhoed word. Beskerming teen uiterste temperature, veral skaduvoorsiening gedurende warm somerdae, is egter ’n vereiste.
  • Waar gevoer word, moet doeltreffende krippe voorsien word wat vermorsing uitskakel.
  • Kalwers en verse moet maandeliks geweeg of gemeet word om hulle groei te bepaal. ’n Kaart van elke veskalf se gewig met elke weging, is aan te beveel. Aanpassings van voerprogramme kan gevolglik betyds gemaak word voordat dit ’n blywende en nadelige effek op die groei van die dier het.
  • Hou die verse mak en rustig. Beweeg gereeld tussen hulle rond. Gedurende die laaste 3 maande voor kalf kan hulle, indien prakties moontlik, gewoond gemaak word aan die stalroetine.
  • Verskalwers moet voor ouderdom een maand met ’n brandyster onthoring word en die oortollige speentjies verwyder word.
  • Volg ’n siektebeheerprogram wat in samewerking met die veearts of dieregesondheidstegnikus opgestel is.
  • Die inenting van die verskalf op 5 maande teen besmetlike misgeboorte, is volgens wet verpligtend en noodsaaklik omdat die koei daarna nie weer daarvoor geënt kan word nie.

CJC Muller
ELSENBURG / Navorsing