home about contact us news
Inligtingstukke   |   Elsenburg infopaks   |   Diere, siektes: 19

Plantvergiftiging in Namakwaland Engels | Xhosa

Kliek om te vergroot!
Omstandighede eie aan Namakwaland dra by tot die verliese wat gely word as gevolg van plantvergiftiging, soos byvoorbeeld die gladdehaarbossie.

Die lae reënval en gevolglike swak weidingstoestande noop diere dikwels om meer te vreet van plante wat hulle onder goeie toestande sou vermy het.


Kliek om te vergroot!
So byvoorbeeld veroorsaak Waterpens groot verliese as gevolg van die oormaat inname van kraalbos (Galenia africana).

Die trekboerstelsel tussen winter- en somerrëengebiede bring mee dat honger diere langs die trekpad aan die enigste beskikbare, maar dikwels ongewenste plante soos Asclepia en Gnidia vreet. Die ekstensiewe boerderystelsels noodsaak dat vee soms lank in en om krale moet staan en verhongerde vee is dan baie kwesbaar vir vergiftiging wanneer hulle uitgejaag word. Die baie geil opslag wat selfs na ligte rëen opskiet, is ’n groot aantrekkingskrag vir vee in ’n swak kondisie. Plante van die bietou familie wat ’n groot gedeelte van Namakwaland se aantrekkingskrag vir toeriste uitmaak, is baie hoog in blousuur wat ernstige veeverliese onder sekere omstandighede meebring.

Goeie rëen in die voorsomer lei tot digte plate van Duifiedoring (Tribulus terrestis) wat Geeldikkop tot gevolg het met grootskaalse vrektes onder skape in sommige jare.

Krimpsiekte as gevolg van Cotyledon en Tylecodon species is baie algemeen. Die gifstof bou op in diere en akute vrektes kom voor wanneer groot hoeveelhede van die plante gevreet word. Selfs die langdurige inname van enkele plante kan tot vrektes lei. Die gifstof kan ook deur die melk uitgeskei word. Boklammers wat afgehok word, vrek van Krimpsiekte as die ooie van die plakkies vreet.

Krimpsiekte is een van die min toksiene wat sekondêre vergiftiging veroorsaak wanneer honde byvoorbeeld aan karkasse vreet van diere wat aan die siekte gevrek het.

Die volgende gifplante kom in Namakwaland voor:

Cotyledon Plakkie Krimpsiekte
Tylecodon Plakkie Krimpsiekte
Ornithoglossum Gif-ui Hart en senuweegif
Ornithogalum Tjienkerientjee Blindheid, diarree
Thesium Vaalstorm Hartskade
Melianthus Kruidjie-roermy-nie Hartskade
Geigeria Vermeerbos Slukdermverswakking
Homeria Tulp Hart, senuweegif
Trachyandra Gladdehaarbossie Spierskade, senuweegif
Euphorbia Melkbos Senuweegif
Sarcostemma Melkbos Senuweegif
Tribulus Duwweltjie, Duifiedoring Galbuisskade, Liggevoeligheid
Athanasia Klaaslouwbos Lewerskade, liggevoeligheid
Asaemia Vuursiektebos Vuursiekte
Galenia Kraalbos Waterpens
Pteronia Scholtzbossie Lewergif
Ricinus Kasterolieboom Diarree, senuweegif

Benewens die bekende gifplante is daar nog talle ander wat onder verdenking staan en waarop gekontroleerde ondersoeke nog gedoen moet word.


Kliek om te vergroot!
Behandeling van plantvergiftiging is moeilik en dikwels slegs suksesvol wanneer die diere binne enkele ure ná die inname van die plante behandel word. Geaktiveerde koolstof is die belangrikste teenmiddel teen gifplante. Wanneer dit in ’n baie vroëe stadium toegedien word, bind dit met die gifstowwe in die grootpens en verhinder so die opname van toksiene. Roulynolie en kalkwater kan die dermkanaal teen irriterende bestanddele van gifplante beskerm en diarree beperk. Lewerstimulante kan teen Geeldikkop en Waterpens gebruik word en kortisone teen Krimpsiekte, maar met beperkte sukses. Hypo is doeltreffend teen blousuur, mits dit vroeg toegedien word. Hypo kan ook voorkomend in drinkwater bygevoeg word .

Die voorkoming van plantvergiftiging berus laastens op die toepassing van bestuursmaatreëls wat daarop gemik is om die veroorsakende faktore te beperk.

MP van Aardt
ELSENBURG / SPRINGBOK Veeartsenydienste