| Inligtingstukke | | | Elsenburg infopaks | | | Diere, siektes: 18 |
![]() Kliek om te vergroot! |
Die oewers van die Oranjerivier is een van n paar gebiede in die land waar
Miltsiekte nog gevestig is. Die alkaliese neerslag en die afwesigheid van organiese aktiwiteit in die droë warm sand skep gunstige toestande vir
Bacillus anthracis wat eeue lank deur spoorvorming kan oorleef.
Akute vrektes is algemeen by die siekte. Diere word dood aangetref, dikwels met donker bloeduitloopsels by die neus en anus. Die enkele gevalle waar siek diere gesien word, toon hulle n hoë koors, donker slymvliese en totale lusteloosheid voor hulle vrek. |
![]() Kliek om te vergroot! |
Miltsiekte is n belangrike soönose wat na mense oorgedra kan word deur die afslag of hantering van velle van diere wat gevrek het. |
![]() Kliek om te vergroot! |
Bloedvergiftiging met swere by wonde en limfkliere ontwikkel by die mens wat mediese behandeling noodsaak. Die toestand kan beheer word met vroëe toediening van antibiotika. |
Waar enige vermoede bestaan dat n dier van Miltsiekte gevrek het, moet die karkas nie oopgemaak word nie aangesien die miljoene spore wat vorm wanneer die organisme in aanraking met suurstof kom, eeue lank kan oorleef. n Bloedsmeer moet gemaak word deur die rand van die oor af te sny en n druppel bloed op n bloedsmeerglasie uit te stryk wat deur n veearts ondersoek moet word vir die kenmerkende Bacilli.
Miltsiekte is n aanmeldbare siekte en die naaste kantoor van n staatsveearts moet in kennis gestel word van enige verdagte gevalle. Uitbrake word deur kwarantyn en enting beheer. Die siekte kan voorkom word deur die jaarlikse inenting met die Miltsiekte entstof. Die ent van beeste is verpligtend, maar kleinvee word ook in risikogebiede geënt. Waar boerbokke geënt word, moet dit slegs in die lies toegedien word.
MP van Aardt
ELSENBURG / SPRINGBOK Veeartsenydienste