home about contact us news
Inligtingstukke   |   Elsenburg infopaks   |   Diere, siektes: 23

Lammervrektes Engels | Xhosa

Die groot skade wat roofdiere onder jong lammers aanrig is welbekend. Daar is egter ’n aantal siektetoestande wat ook swaar verliese kan veroorsaak.

Die kraalstelsel wat dikwels noodsaaklik is om lammers te beskerm, bring mee dat troppe elke nag in krale saamgehok word. Dit bring noodwendig swaar besmettings van verskeie infeksies mee. Pasgebore lammers is baie vatbaar vir sulke besmettings wat die naelstring, bek en neusgate kan indring. Dit is dus belangrik dat siek diere eenkant gehou word in ’n "hospitaalkampie" wat skoongemaak kan word met ’n chloorontsmettingsmiddel en lank leegstaan. In koue, nat wintertoestande is dit ook raadsaam om die naelstring van pasgebore lammers met ’n speendoop te seel. Selfs waar troppe nie gekraal word nie, bou swaar besmettings rondom krippe op waar die diere konsentreer en ’n groot deel van hul tyd deurbring. Lekkende krippe skep ook ideale toestande vir die opbou van besmettings.

Biesmelk is die belangrikste beskerming vir ’n lam teen infeksies. Dragtige ooie dra ’n wye reeks teenliggaampies in hul biesmelk oor. Dit is daarom noodsaaklik dat lammers binne die eerste 12 ure goed suip sodat die teenliggaampies effektief geabsorbeer kan word. Swak lammers en lammers wat moeilik gebore word, kan baie baat by die toediening van uitgemelkte biesmelk. Indien geriewe beskikbaar is, kan gevriesde biesmelk gestoor word.


Kliek om te vergroot!
Escherichia coli (E coli) is ’n bakteriese infeksies wat die grootste oorsaak is van lammervrektes onder ’n maand ouderdom. Die meeste skape en bokke dra ’n wye reeks van die kieme in hul dermkanaal en alhoewel hulle self immuun is daarteen, skei hulle die kieme uit in hul mis en besoedel so die omgewing. Die slagoffers is gevolglik die lammers wat nog nie weerstand teen die infeksies het nie. Lammers kry gewoonlik E coli in wanneer hulle aan vuil spene suip. Stofdampe kan besmet wees en die naelstring is ook ’n belangrike toegangspoort vir kieme. Die bakterieë kan die dermkanaal koloniseer en dermontsteking veroorsaak wat sigbaar is as geel of bloederige diarree. Die lam ontwater en vrek vinnig. E coli produseer verskeie bakteriese toksiene wat die lam aantas. 

Kliek om te vergroot!
Voorts kan die kieme deur die dermwand dring en met die bloedstroom deur die liggaam versprei om ’n toestand te veroorsaak wat verskeie organe aantas en meestal dodelik is, byvoorbeeld breinvliesontsteking. E coli is ook geneig om in gewrigte te setel waar gewrigsontsteking ontstaan wat die lam verhoed om by die ma te bly. Vrekte tree in as die lam heeltemal verswak.

Higiëniese toestande is dus noodsaaklik. E coli entstof is ook doeltreffend teen die probleem en kan twee maande voor lamtyd aan die ooie toegedien word om te verseker dat die biesmelk teenliggaampies teen E coli bevat. In ernstige gevalle kan lammers self vanaf twee weke ouderdom geênt word. Antibiotika soos tetrasiklien kan gebruik word om siek lammers te behandel en ’n oplossing van sout- en suikerwater kan gedoseer word om ontwatering te verhoed. Middels wat lewendige Laktobacillus organismes bevat, word soms gebruik om die dermkanaal met voordelige bakterieë te beset wat E coli deur kompetisie verdring.

Ensoötiese aborsie, veroorsaak deur Chlamydia, veroorsaak ook vrektes onder jong lammers. Dikwels is die lammers swak gebore met derm-, long - of gewrigsontsteking. Die lammers bly kroeserig en vrek dikwels van ander komplikasies. Die gereelde gebruik van die Ensoötiese aborsie entstof is voordelig waar sulke probleme algemeen voorkom.

Klem-in-die-kaak (Tetanus) veroorsaak dikwels onnodige vrektes by lammers. Clostridium tetani is ’n bakterie wat floreer in wonde met swak bloedvoorsiening. Dit produseer ’n senuwee toksien wat langdurige spasmas in diere veroorsaak sodat hulle van versmoring vrek wanneer hulle asemhalingspiere aangetas word. By lammers tree infeksie in by wonde veroorsaak deur kastrasie of stert-afsit. Rekkies veroorsaak ideale toestande vir die kiem omrede dit die bloedtoevoer afsny, en die gevaar is veral groot waar die sterte van ouer lammers afgesit en hulle gekastreer word. ’n Goeie goedkoop entstof teen Tetanus is beskikbaar en die toediening daarvan twee weke voor kastrasie kan vrektes voorkom. Op sommige plase bou swaar besmettings op en maak enting noodsaaklik. Higiëniese praktyke kan egter grootliks bydra om die probleme te verhoed.

MP van Aardt
ELSENBURG / SPRINGBOK Veeartsenydienste