home about contact us news
Inligtingstukke   |   Elsenburg infopaks   |   Diere, bestuur: 14

Kunsmatige inseminasie Engels | Xhosa

Kliek om te vergroot!
’n Goeie bul kos vandag sowat R10,000 terwyl voerkoste ’n verdere R3 per dag bedra -  met ander woorde ’n uitgawe van sowat R1,100 per jaar. Die kostes moet egter gesien word teen die agtergrond dat een bul siektes na talle koeie kan oordra, òf die bul kan skielik siek word en doodgaan.

Kunsmatige inseminasie (KI), daarteenoor, is ’n metode om koeie te bevrug en dragtig te kry met saad wat van ’n beproefde bul getap is. Normaalweg kan ’n bul 25 tot 30 koeie gedurende ’n seisoen dek. Indien die semen van ’n bul egter getap en dit verdun word, kan een bul duisende koeie beset.


Kliek om te vergroot!
’n Belowende bul word beproef deur hom op koeie te toets en wanneer sy nageslag goed presteer en baie melk gee, is dit moontlik dat sy semen wêreldwyd verkoop kan word.

Boere pas KI toe vir die volgende redes:

  • verbetering van diere en kuddes kan vinnig deur middel van KI plaasvind
  • deksiektes kan nie oorgedra word nie, terwyl die oordrag van besmetlike siektes soos tuberkulose en geslagsiektes voorkom word omdat bulle wat moontlik dié siektes kan oordra, nie gebruik word nie
  • onvrugbare koeie word makliker geïdentifiseer
  • saad van die beste bulle ter wêreld kan op ’n kudde gebruik word
  • ’n bul word nie benodig vir min koeie nie

Kliek om te vergroot!
Vir suksesvolle KI is die volgende nodig:
  • ’n persoon wat opgelei is in KI
  • die regte hitte-waarneming om te bepaal wanneer ’n koei geïnsemineer moet word
  • ’n drukgang waar die koei kan staan

Kliek om te vergroot!
  • ’n kan vloeibare stikstof waarin die semen gehou moet word ( ± R3,700)
  • semen wat in strooitjies gevries is (tussen R25 en R65)

Kliek om te vergroot!
  • die pistolet waarmee die saad in die koei geplaas word (R120)
  • die skede wat oor die pistolet geplaas word (40c)
  • ’n KI handskoen (50c)

Kliek om te vergroot!
’n termometer (± R20)

Die persoon wat die koei insemineer moet die reproduksiestelsel van ’n koei verstaan, asook hoe die koei van binne "lyk". Tydens inseminasie word die linkerhand in die rektum van die koei gesit en die serviks vasgehou. Die pistolet word deur die serviks gesteek en die semen in die baarmoeder gedeponeer.


Kliek om te vergroot!
In die praktyk gebeur die volgende:

’n Koei wat stilstaan wanneer ander koeie op haar ry, is op hitte. Melkkoeie wat in die oggend op hitte is, word in die middag geïnsemineer en koeie wat in die middag op hitte is, word die volgende oggend geïnsemineer. Vleisbeeste wat in die veld loop, kan geïnsemineer word sodra die koei op staande hitte is.


Kliek om te vergroot!
Wanneer slym uit die koei se geslagskanaal sigbaar is met 

Kliek om te vergroot!
vars rymerke op haar rug, is sy reg om gedek te word.

Kliek om te vergroot!
Die koei word rustig in die drukgang gesit en gevoel of sy nie dragtig is nie.

Kliek om te vergroot!
Die strooitjie word vir 15 sekondes in water by ’n temperatuur van tussen 32°C en 35°C geplaas. Dit word drooggemaak en in die pistolet gesit.

Kliek om te vergroot!
Die punt van die strooitjie word afgesny. Die skede word oor die pistolet geplaas. Ten einde infeksie te vermy, mag daar nie aan die voorste punt van die skede geraak word nie. Die KI handskoen word aangetrek en smeermiddel op die hand geplaas. Die hand word in die koei se rektum geplaas en die pistolet word versigtig in die vroulike geslagskanaal gesit.

Kliek om te vergroot!
Die pistolet word versigtig deur die serviks gewerk en die semen in die baarmoeder geplaas. Een derde van die semen word in die serviks geplaas omdat sperme langer daar oorleef. Die pistolet word verwyder en die koei kan uit die drukgang gelaat word.

Teken aan wanneer en met watter bul die koei geïnsemineer is. Let op of die koei weer na drie weke op hitte kom. Na twee maande kan ’n dragtigheidsondersoek gedoen word om te bepaal of die koei dragtig is.


Kliek om te vergroot!
Dit verg heelwat oefening en ondervinding om KI suksesvol te doen, maar die beloning is ’n mooi kalf met ’n baie goeie pa.

KI kan slegs suksesvol toegepas word deur ’n opgeleide persoon.

KI kursusse word aangebied deur semenverskaffers, waaronder Taurus en ABS.

R Meeske
ELSENBURG / SUID-KAAP LOS