| Inligtingstukke | | | Elsenburg infopaks | | | Diere, siektes: 12 |
![]() Kliek om te vergroot! |
Knopvelsiekte is n virussiekte van beeste wat gekenmerk word deur koors, veelvuldige ferm, goedomskrewe knoppies in die vel, erosieletsels op die spene, neus, bek en keelholte, vergrote limfknope en swelling van een of meer bene. |
![]() Kliek om te vergroot! |
Knopvelsiekte het n lae sterftesyfer, maar is van groot ekonomiese belang vanweë die uitgerekte nadelige uitwerking op die dier se liggaam. Dit lei weer tot groot produksieverliese weens
vermaering, tydelike of permanente verlies aan melkproduksie, onvrugbaarheid by beide bulle en koeie, aborsies en permanente skade aan velle.
Oordraging Die metode van oordraging van die siekte is nog nie vasgestel nie, maar omstandigheidsgetuienis dui daarop dat bytende insekte n groot rol speel aangesien die siekte meer volop in nat somer- en herfsmaande voorkom. Ander aanduidings dat insekte n rol mag speel, is die onvermoë van afsondering en kwarantyn om verspreiding te verhoed. Alhoewel direkte oordraging van dier tot dier ondoeltreffend is, kan oordraging wel plaasvind wanneer siek en gesonde diere dieselfde waterdrinkbakke gebruik. Suipkalwers kan die siekte opdoen deur besmette melk te drink. Aan die ander kant kan n kalf vir tot 6 maande ouderdom teen die siekte beskerm word as dit genoeg biesmelk van n geënte koei inkry. |
![]() Kliek om te vergroot! |
Siektetekens (simptome)
Sommige diere in n kudde blyk n natuurlike weerstand te hê, aangesien slegs 40 - 50 persent van diere letsels toon met eksperimentele besmetting. Na n inkubasieperiode van 2 - 4 weke ontwikkel die diere n koors wat 4 - 14 dae lank kan duur, met aptytverlies, speekselvloei en neusuitloopsel. |
![]() Kliek om te vergroot! |
Die tipiese velknoppies kom ongeveer 4 - 10 dae na die begin van die koorsreaksie te voorskyn en mag wissel van 5 - 50mm in deursnit, en van n paar tot honderde in getal. |
![]() Kliek om te vergroot! |
Die knoppies is verhewe, rond, goedomskrewe en ferm. Hulle mag vinnig verhard tot harde knoppies wat n jaar of langer kan duur, of hulle kan afval en diep erosies laat. In die meeste gevalle van algemene velletsels is die bene ook geswel en die vel mag afsterf en afval. Dit laat groot oop etterige sere op die bene. |
![]() Kliek om te vergroot! |
Mastitis mag ook volg met groot verliese weens permanente skade aan die
uierweefsel.
Diagnose n Voorlopige diagnose op grond van die siektetekens kan bevestig word deur elektronmikroskopiese demonstrasie van die virus in die knoppies. Hierdie metode bevestig n diagnose binne 24-48 uur. Beheer Aangesien bytende insekte hoogs waarskynlik n rol speel in die oordraging, kan beeste gedurende die gevaarseisoen met insekdoders bespuit word. n Beter metode is egter voorkomende immunisering deur enting. Kalwers van ongeënte moeders of koeie wat nooit aan die siekte blootgestel was nie, kan op enige ouderdom geënt word. Kalwers van geënte koeie moet eers na 6 maande ouderdom geënt word. Enting moet daarna jaarliks geskied. |
DH de Lange
ELSENBURG / GEORGE Veeartsenydienste