home about contact us news
Inligtingstukke   |   Elsenburg infopaks   |   Diere, voeding: 6

Voere vir melkbeeste Engels | Xhosa

Om ’n voedingsprogram vir melkbeeste saam te stel is dit nodig om kennis te dra van die behoeftes van diere en die kenmerke van voere wat beskikbaar is. In die praktyk is onkunde omtrent voere dikwels die oorsaak dat diere onder- of oorvoed word met ekonomiese verliese.

Voersoorte vir melkbeeste word in ruvoere (hooi, kuilvoer, weidingsgewasse en strooi) en kragvoer (mielies, koring ens.) verdeel. Die voedingswaarde van ruvoere soos hooi en kuilvoer word deur verskillende faktore beïnvloed soos die stadium waarop gewasse geoes is, blaarverliese en opbergingsmetodes.

Die volgende ruvoere is beskikbaar:

  • Peulgewashooie

Lusern is die bekendste peulgewashooi. Dit is besonder smaaklik en is gewoonlik ’n aanwins vir byna alle rantsoene. Dit bevat oor die algemeen hoë proteïenpeile, maar is relatief arm aan energie. Dit kombineer goed met voersoorte soos mieliekuilvoer, mielies en melasse. Geen beperking bestaan op insluitingspeile nie. As gevolg van die hoë kalsiuminhoud daarvan, moet dit egter in die droë periode vermy word by koeie wat geneig is om melkkoors te kry .

Ertehooi is meestal van ’n swakker gehalte as lusernhooi (veral omdat die saad grootliks verwyder is). Dieselfde beginsels geld ten opsigte van die voeding daarvan. As ertestrooi baie stokkerig is, moet dit verkieslik gemaal word om innames te verhoog.

  • Graan- en grashooie

Die hooie het laer proteïen- en kalsiumpeile as peulgewashooie. Die groeistadium waartydens gewasse vir hooi gesny word, het ’n groot invloed op die vrywillige inname en voedingswaarde daarvan. Insluitingspeile by koeie in melk word gewoonlik beperk weens die laer kwaliteit daarvan.

  • Weidingsgewasse

Weiding is as ’n reël die goedkoopste ruvoerbron vir melkbeeste. Faktore wat melkproduksie vanaf weidings beperk, is hoofsaaklik die energie- en die hoë voginhoud van gewasse. Die proteïeninhoud van raaigrasklawerweiding is normaalweg hoog. Kikoejoe het lae vlakke van kalsium. Ander weidingsgewasse daarenteen het hoë vlakke van kalium wat die voorkoms van melkkoors kan verhoog.

  • Strooi

Dit is die stingel- en blaarreste van gewasse waarvan die saad uitgedors is. Graanstrooie is die bekendste laegraadse ruvoere. Dit is gebrekkig aan proteïene, energie en minerale. Van die algemeenste kleingrane is hawerstrooi, gevolg deur gars- en koringstrooi, waarskynlik die meeste werd. Mielie- en graansorghumstrooi is net so goed of beter as hawerstrooi. Strooie moet gemaal word om goeie innames te verkry. Die lae voedingswaarde van strooie beperk die insluitingspeile daarvan. Kleingraanstrooie moet verkieslik nie in rantsoene vir melkkoeie gebruik word nie. Met die nodige aanvulling kan strooie tot ’n beperkte mate in die voeding van vervangingsverse gebruik word.

Kleingraanstrooie word dikwels in die Wes- en Suid-Kaap opgegradeer deur dit met ammoniakgas in ’n oond of mied te behandel. Die energie- en proteïeninhoud, sowel as die smaaklikheid daarvan word daardeur aansienlik verhoog. Dit is gewoonlik nie nodig om geammoniseerde strooi te maal nie. Vir melkkoeie moet dit nie meer as 40% van die rantsoen uitmaak nie. Wanneer geammoniseerde strooi in melkkoeirantsoene gebruik word, is dit belangrik dat fosfor-, magnesium-, sink-, kobalt, selenium- en kopervlakke, asook vitamiene A en E aangevul word.

  • Kuilvoergewasse

Dit is die goedkoopste metode om ruvoere op te berg. Mielies word hoofsaaklik hiervoor aangewend. Goeie kwaliteit kuilvoer kan ook van die meeste grassoorte en peulplantgewasse gemaak word. Kuilvoer het hoë vogpeile en is daarom lywig. Die ruproteïnpeil van kuilvoere is dikwels hoër as dié van hooie. Dit is uitstekende voeding vir jong diere ouer as 9 maande. Geen beperking bestaan op die insluiting daarvan in melkkoeirantsoene nie. Gemufte kuilvoer bevat dikwels swamme met gevaarlike gifstowwe en moet dus nie gevoer word nie.

  • Kragvoere en minerale

Die tekorte wat in ruvoere voorkom, word met kragvoer- en mineralebronne aangevul om in die behoeftes van diere te voorsien. Kragvoere moet nie as die enigste voerbron gevoer word nie. Die volgende is algemene kragvoere:

Beenmeel: Dit is gekookte, gedroogde en gemaalde bene en word primêr as kalsium en fosforbronne gevoer. Dit is ’n goeie bron van spoorelemente.

Bloedmeel: Dit is ’n goeie proteïenbron. Smaaklikheid kan ’n probleem wees, veral as dit saam met karkasmeel gevoer word.

Brouersgraan (gars): Dit is die oorblyfsels van die brou van Lager bier en is ’n mengsel van gars, mielies en brouersgis. Die produk is baie smaaklik en die produk is veilig om te gebruik.

Gars: Dit kan alleen of saam met ’n ander kleingraan tot 70% van mielies vervang, mits die kwaliteit goed is.

Graansorghum: Graansorghum moet deur ’n rollermeul gebreek word aanbeveel aangesien ’n hamermeul dit te fyn maal. Die stoffigheid sal smaaklikheid beperk. Dit kan mielies teoreties verplaas.

Grondbone: Diarree en ’n verlaging in die persentasie bottervet en proteïen kom voor by te hoë insluitingspeile.

Grondboonoliekoekmeel: Dit is hoog in proteïen en smaaklik, maar hou ’n groot risiko van aflatoksien in.

Hawer: Dit het ’n hoë veselinhoud, maar is baie smaaklik en kan mielies by jong diere vervang.

Hoendermis: Twee soorte is beskikbaar - lêhenne- of braaikuikenmis. Lêhenmis bevat gewoonlik nie beddegoed nie en het ’n hoër proteïeninhoud as braaikuikenmis, wat beddegoed soos saagsels en papier bevat. Hoendermis is die geskikste in die rantsoene van groeiende diere bo 6 - 9 maande ouderdom. Ent alle diere teen botulisme voor gebruik.

Karkasmeel: Dit het ’n hoë persentasie proteïen maar smaaklikheid kan ’n probleem wees, veral as dit saam met bloedmeel gebruik word.

Koring: Die energiewaarde daarvan is effens laer as mielies. By hoë innames kom asidose gouer voor as by mielies.

Koringsemels: Dit is relatief laag in energie met sowat 14 persent proteïen en is hoog in fosfaat.

Korog (Triticale): Die energiewaarde en proteïeninhoud daarvan is grootliks soos vir koring.

Lupiensaad: Dit is relatief proteïenryk en hoog in energie.

Mielies: Beide geel- en witmielies is geskik as veevoer en die beste resultate word verkry indien grof gemaal of gerol. Die hoë styselinhoud beperk die toekenning per dag.

Sojabone: Dit is hoog in proteïen en energie as gevolg van ’n hoë vetinhoud. Dit word nie aanbeveel vir insluiting in rantsoene van kalwers en in melkbeesrantsoene wat ook ureum bevat nie.

Sonneblomsaad: Die saad het ’n hoë energiepotensiaal as gevolg van die hoë olie-inhoud, maar proteïen is relatief laag. Dit mag bottervet en proteïen in melk verlaag en diarree teen hoë insluitingspeile veroorsaak.

Ureum: Dit is nie werklik ’n proteïenbron nie, maar wel ’n gekonsentreerde vorm van stikstof. Mikrobes in die rumen kan dit gebruik om mikrobe-proteïen te bou. Ureum word baie vinnig in die rumen afgebreek tot ammoniak en te veel ureum kan soveel ammoniak in die bloedstroom laat beland dat die dier daaraan vrek. Die gebruik van ureum in rantsoene van diere op aangeplante weidings word normaalweg nie aanbeveel nie.

Vismeel: Dit is ’n goeie bron van proteïen. Smaaklikheid kan ’n probleem wees as diere nie daaraan gewoond was nie.

CJC Muller
ELSENBURG / Navorsing