home about contact us news
Inligtingstukke   |   Elsenburg infopaks   |   Diere, bestuur: 13

Die trekdier in opkomende landbou Engels | Xhosa

Kliek om te vergroot!
Hoë brandstofkoste, hoë rentekoerse op geleende kapitaal, hoë eenheidskoste van trekkers en laer en steeds krimpende boerderywinste, is enkele faktore wat dit noodsaak om opnuut te kyk na die gebruik van trekdiere in opkomende boerdery.

Wat is die eienskappe van ’n geskikte trekdier?

Terloops, ’n trekdier hoef nie noodwendig soos ’n skouperd te lyk nie!


Kliek om te vergroot!
Die belangrikste eienskappe van ’n trekdier is ’n kalm, rustige geaardheid en ’n paslike bouvorm.

Om ’n rustige geaardheid te beoordeel is nie maklik nie, maar deur bloot na die dier se oë, ore en liggaamshouding te kyk, kan ’n redelike afleiding van geaardheid gemaak word.


Kliek om te vergroot!
Dit is ’n feit dat sekere perderasse meer geskik is om as trekdier gebruik te word en ander as ryperde of skoudiere.

Kliek om te vergroot!
Die sogenaamde trekrasse met die kenmerkende langer koothare is ’n voorbeeld hiervan. Dié tipe diere is ook van geskikte grootte en bouvorm wat meer geskik is vir die teel van muile.

Kliek om te vergroot!
By toepaslike bouvorm moet daar veral gekyk word na die hoewe en bene van die trekdiere. Gee voorkeur aan ’n dier met mooi hoewe wat nie skeef afslyt nie. Wees versigtig vir ’n dier met klein "boksvormige" hoewe of sigbare knoppe aan die bene of skewe knieë.

Kliek om te vergroot!
’n Gewone plaasperd, groot donkie of ’n muil kan met ’n bietjie afrigting ’n baie geskikte en nuttige trekdier word.

’n Rustige en geduldige persoon is gewoonlik suksesvol met die afrigting van trekdiere.


Kliek om te vergroot!
Die volgende is van belang om trekdiere beter te verstaan en te benut.:
  • Perde, donkies en muile is tropdiere. Waar dit moontlik is, hou verkieslik twee of meer diere aan aangesien hulle mekaar rustig maak. Wanneer ’n perd alleen moet werk, moet die hanteerder dissipline so handhaaf dat die dier die persoon respekteer en vertrou.
  • Diere van die perdefamilie is baie kleinserig en sal van nature van pyn en gevaar wegvlug. Dit is soms die rede waarom ’n perd op loop sit met ’n karretjie wanneer ’n harde geluid gehoor word wat die dier met pyn assosieer. Daar moet nooit op diere geskree of geslaan word nie.

Kliek om te vergroot!
  • Daar moet ook altyd daarop gelet word dat die tuie in perfekte toestand is sodat diere nie daardeur beseer word nie.

Kliek om te vergroot!
  • Dit is baie belangrik om die perd se lyftaal te verstaan. Die skielike terugtrek van die nek en ore, snork, omkyk, ontblote tande of staan op die agterpote kan tekens wees van ongemak, vrees of moegheid. ’n Sagte aanraking en ’n sagte stemtoon het altyd ’n kalmerende uitwerking op ’n perd. Dit is ook belangrik dat ’n perd bekend moet wees met sekere woorde soos "hokaai", "omdraai" of "back".

Kliek om te vergroot!
’n Trekdier verrig heelwat take teen ’n stadige stapspoed en in ’n beperkte ruimte. Daarom is dit nodig dat die perd op die regte wyse gelei moet word:
  • die dier word verkieslik vanaf die linkerkant hanteer
  • die hanteerder moet in dieselfde rigting as die dier kyk
  • die leiriem word met die regterhand naby die halter vasgehou en met die linkerhand aan die punt van die riem - die leiriem moet nooit om die hand gedraai word nie
  • aan die begin van afrigting moet die afstand tussen die hanteerder se hand en die halter kort wees en namate die afrigting vorder, kan die afstand na 45 cm verleng word
  • beveel die perd om vorentoe te beweeg deur ’n klapgeluid met die tong te maak en met die regterhand en elmboog liggies vorentoe te druk
  • indien die perd sou skrik, moenie te stewig aan die leiriem vashou nie, maar probeer slegs om die dier rustig terug te hou.

Kliek om te vergroot!
Trekdiere moet geleidelik aan nuwe dinge blootgestel word. Daar moet byvoorbeeld nooit aanvaar word dat ’n perd wat jare lank ’n karretjie trek ook ’n ploeg of ’n ghrop sal kan trek nie.

AG Erasmus
ELSENBURG / KLEIN KAROO LOS