home about contact us news
Inligtingstukke   |   Elsenburg infopaks   |   Diere, siektes: 22

Brucella ovis Engels | Xhosa

Kliek om te vergroot!
Vrugbare ramme is ’n basiese vereiste vir reproduksie en dus vir winsgewende kleinveeboerdery. Gereelde ramtoetse is ’n kragtige instrument waarmee ’n boer sy sukses kan verhoog.

Brucella ovis is ’n bakterie wat onvrugbaarheid in ramme veroorsaak deur letsels wat hoofsaaklik in die bybal vorm. Dit is hoogs aansteeklik en versprei van ram tot ram wanneer hulle aan mekaar ruik. Die infeksie kom voor in sowat 40 persent van die kuddes in Namakwaland en in besmette troppe is gemiddeld 20 persent van die ramme aangetas. Lang dekseisoene en die gebruik van meer ramme verbloem dikwels die effek van Brucella ovis.


Kliek om te vergroot!
Brucella organismes vestig binne witbloedselle en die effektiwiteit van behandeling is swak. Die verwydering van een aangetaste testis is nie doeltreffend nie omdat die organisme ook in die blaas en sekondêre kliere kan skuil en ander ramme kan aansteek. Indien die besmetting uit ’n kudde geweer word, kan:
  • lampersentasie verhoog word
  • lamtyd verkort word
  • minder en dus beter ramme aangehou word
  • duur aangekoopte ramme beskerm word teen besmetting.

Deur palpasie van die testes kan ’n veearts bepaal of daar reeds letsels teenwoordig is. ’n Baie effektiewe bloedtoets kan bepaal of ’n ram ’n draer van die toestand is. Besmette ramme behoort uitgeskot te word. Indien die eenvoudige ondersoek herhaal word tot die kudde twee keer skoon getoets het, kan aanvaar word dat die besmetting uitgeroei is. Daarna moet alle aangekoopte ramme getoets word om te verseker dat hulle skoon is en nie weer die infeksie in die trop sal indra nie.

Ooie speel nie ’n belangrike rol in die oordrag van Brucella ovis nie omrede hulle nie permanente draers bly nie.

Inenting van ramlammers op 2 maande ouderdom met die Rev I entstof moet ook gedoen word om jong rammetjies te beskerm.

 

MP van Aardt
ELSENBURG / SPRINGBOK Veeartsenydienste