home about contact us news
Inligtingstukke   |   Elsenburg infopaks   |   Diere, bestuur: 15

Bemarking van oorskot diere Engels | Xhosa

Die ouderdom en kondisie van diere bepaal wanneer dit oortollig en bemarkbaar is. Met ’n kuddeboerdery word oortollige diere hoofsaaklik vir slagdoeleindes bemark.

Die volgende groepe diere in skaap- en bokboerdery is gewoonlik oortollig:

Ou ooie, ramme en hamels of kapaters

  • Diere se ouderdom word bepaal deur na hul tande te kyk. Die melktande begin wissel vanaf 13 tot 15 maande. Die eerste 2 permanente snytande verskyn op 14 - 18 maande ouderdom (2- tandskaap), die tweede paar snytande op 2 jaar (4- tandskaap), die derde paar snytande op 3 jaar (6-tandskaap) en die vierde paar snytande op 4 jaar (volbek). Afhangend van die tipe weiding kan die tande slyt en begin los raak. As die tande kort en los of misvormd raak, kan die diere nie meer behoorlik vreet nie en produksie begin afneem. Tande kan reeds op ’n vroeër ouderdom begin slyt as die voedingstoestande swak is soos tydens droogtes en diere gedwing word om harde, houtagtige plante te vreet. Dit mag dan al nodig wees om diere op sestand ouderdom uit die kudde te verwyder. In gebiede waar die voedingstoestande van so ’n aard is dat die tande nie slyt nie, is dit belangrik dat die diere se geboortejaar deur ’n oormerk of oorplaatjie bepaal kan word. In sulke omstandighede kan die diere se tande te lank en los raak.
  • Skape en bokke se produksie- en reproduksievermoëns begin vanaf 5 na 6 jaar ouderdom afneem en moet eerder vervang word met jong diere. Ooie behoort dan al minstens 4 lamkanse gehad het en sal maklik ’n bemarkbare kondisie bereik.
  • Die reproduksievermoë van ooie is ook ’n belangrike oorwegingsfaktor wat uitskot kan bepaal. Ooie wat na 2 lamkanse nie dragtig raak nie of weens swak moedereienskappe nie hul lammers grootmaak nie, moet uit ’n kudde verwyder word. Goeie rekordhouding is hiervoor noodsaaklik.
  • Ramme se vermoë om groot troppe ooie te dek neem met ouderdom af en moet vroegtydig vervang word. Die gevaar van inteling en vertraging in teelvordering is egter van groter belang met ramme. Ramme moet verkieslik na 2 jaar vervang word of na ander kuddes geruil word om te voorkom dat hulle met hul eie nageslag paar.
  • Diere met bogemiddelde prestasies kan langer gehou word, maar dan moet goeie voorsiening gemaak word sodat hulle swakker vreetvermoë nie hul produksie benadeel nie.
  • Dit is belangrik om nà speen of vòòr die ooie weer gepaar word op die tande te let. Ooie wat begin slyt, moet uitgeklas word.
  • Die afronding van ouer diere vir bemarking moet baie oordeelkundig hanteer word. Weens die gesondheidsbewustheid van verbruikers is daar ’n groter vraag na, en word beter pryse vir maerder vleis betaal. Ouer diere wat redelik goeie kondisie vertoon, kan voor die voet bemark word. Voerdery is nie winsgewend nie omrede ouer diere nie vinnig in massa toeneem nie en gou vet aansit.
  • Kondisiebepaling vir slaggereedheid van skape word gewoonlik gedoen deur oor die lende te voel. Die mate waarin die rugwerwels gevoel kan word, gee ’n aanduiding van ’n dier se kondisie. Die vetdikte oor die lende het ook ’n invloed tydens die gradering van die karkas.

Uitskot jong ooie, hamels- en ramlammers

  • Die verkoop van jong diere of lammers is die hoofbron van inkomste in die meeste skaap- en bokboerderye. Dit beklemtoon die belangrikheid van hoë lam- en speenpersentasies. Hoe meer lammers gespeen word, hoe meer kan verkoop word en hoe meer ouer diere kan vervang word. Die vleis van lammers en jong diere tot 2- tand ouderdom, behaal ook die hoogste markprys per kilogram.
  • Winsgewendheid vereis dat die diere so gou moontlik slaggereed en bemark moet word teen die laagste moontlike koste.
  • Die ideaal is om jong uit skotdiere met speen of so gou moontlik daarna van die veld af te bemark. Die voedingstoestande en die keuse van ras speel hierin ’n belangrike rol. Lammers kan vanaf 35 tot 40 kg lewende massa bemark word.
  • Lammers kan winsgewend in voerkrale afgerond word omdat jong lammers groei en hul liggaamsmassas onder goeie voedingstoestande daagliks kan toeneem. Die ekonomie van enige voerdery moet egter met groot noukeurigheid bereken word. Die massatoename/lam moet in verhouding wees met die voerkoste/lam. Die tyd om slaggewig te bereik, moet so kort moontlik wees.

Bemarking

Die bemarking van oorskotdiere kan op verskillende maniere gedoen word. Die boer moet na gelang van die hoeveelheid bemarkbare vee en die afstande vanaf markte en beskikbaarheid van vervoer, ’n keuse maak. Die diere kan:

  • deur agente aan abattoirs bemark word
  • aan plaaslike abattoirs gelewer word
  • op veeveilings verkoop word
  • aan veekopers op die plaas verkoop word
  • lewendig of geslag direk aan verbruikers verkoop word.

Bemarking aan abattoirs het tot gevolg dat karkasse geklassifiseer en pryse daarvolgens bepaal word.

Dit is nodig om kennis te dra van die karkas- klassifikasiestelsel wat by abattoirs gebruik word asook die pryse wat die verskillende klasse gewoonlik behaal. Diere word volgens ouderdom in 4 klasse verdeel:

  1. Klas A : lammers ongewissel
  2. Klas A/B : 1 - 2 snytande
  3. Klas B : 3 - 6 snytande
  4. Klas C : meer as 6 snytande

Die karkasse word verder volgens vetheid en bouvorm geklassifiseer. Benewens ouderdom, het vetheid die grootste invloed op prysbepaling. Die klasse wissel van 0 tot 6:

  • 0 : geen vet
  • 1 : baie maer
  • 2 : maer
  • 3 : medium
  • 4 : vet
  • 5 : oorvet
  • 6 : uitermate oorvet

Lammers in klas A2 en A3 behaal die hoogste pryse. Baie maer diere behaal beter pryse as oorvet diere, terwyl ouer diere ook laer pryse behaal.

Die karkasse van ramlammers word as ramme gemerk sodra hulle begin wissel en behaal laer pryse.

Dit kan voordelig wees om vee op die plaas te verkoop aangesien dit vervoerprobleme uitskakel. Verkoop verkieslik per gewig en aan agente van bekende instansies om betalingsprobleme te voorkom.

Die bemarking van lewendige of geslagte diere direk aan verbruikers kan soms ’n hoër inkomste lewer, veral waar klein hoeveelhede vee beskikbaar is. Wanneer diere self geslag word, moet streng wetlike higiëne- en slagstandaarde geld.

In tye van droogte kan dit oorweeg word om diere wat nie slaggereed is nie aan voerkrale te verkoop, veral as voerkraalgeriewe of voer nie self beskikbaar is nie. In droogtetye moet slegs die vee behou word wat nodig is om die boerdery te laat oorleef en waarmee voortgegaan kan word in beter jare. Alle slagvee, ouer ooie en hamels moet bemark word om die jong ooie ’n goeie kans op oorlewing te gee.

TS Brand & B Aucamp
ELSENBURG / Navorsing