home about contact us news
Inligtingstukke   |   Elsenburg infopaks   |   Diere, siektes: 14

Algemene beginsels tot inwendige parasiete Engels | Xhosa

Inwendige parasiete kan in drie hoofgroepe ingedeel word naamlik rondewurms, lintwurms en slakwurms. Ongeag met watter diersoort geboer word, is daar inwendige parasiete op ’n plaas teenwoordig. Inwendige parasiete is in kompetisie met diere vir die beskikbare voedingstowwe wat die dier inneem. Verliese is dus meestal onopsigtelik en hoofsaaklik ekonomies van aard. Produksie en reproduksie word ten aanvang negatief beïnvloed. Inwendige parasiete kan egter ook vrektes tot gevolg hê as omstandighede vir veral haarwurm (’n rondewurm) gunstig is.

Die tekens van inwendige parasiete kan moeilik waargeneem word sonder ’n skaal of akkurate rekords, van veral produksie-en reproduksieverliese. Verliese wat ondervind word is die volgende:

  • gewigsverlies of verminderde toename in gewig (stadige groei en later markklaar)

  • vermindering van melkproduksie

  • vermindering van wolproduksie

  • vermindering van wolgehalte

  • vermindering van karkasgehalte

  • brommeraanvalle kan toeneem (maagwerk en dus vuil agterstewe)

  • diere met ’n lae kondisietelling (een of twee) reproduseer swak

As daar van die volgende tekens by diere waargeneem word, het die probleem reeds ver gevorder:

  • verlies van eetlus

  • vermaering

  • bleek tot geelbleek slymvliese

  • maagwerk

  • kwakkeel (swelsel onder die ken)

  • algemene swakheid en swak groei

  • vrektes

Dit is gevolglik noodsaaklik dat die veeboer antwoorde sal soek op die volgende vrae:

Watter inwendige parasiete kom op ’n plaas voor?
Watter tyd van die jaar kom dit voor?
Wanneer kan verliese verwag word?

  • Elke plaas verskil en daar is selfs verskille tussen kampe op dieselfde plaas.

  • Vooropgestelde beskikbare doseerprogramme bied nie ’n kitsoplossing nie - daarvoor is die probleem te kompleks.

  • Die goedkoopste beskikbare middel bied ook nie die antwoord nie.

  • Daar is verskillende groepe wurmmiddels in die handel beskikbaar.

  • Daar bestaan alternatiewe metodes van inwendige parasietbeheer, maar inwendige parasiete kan nie sonder kundige bystand van ’n dieregesondheidstegnikus of veearts effektief beheer word nie.

Die volgende algemene beheermaatreëls geld:

  • Droëlandweidings is ongunstig vir haarwurm maar bruinmaagwurm en die bankrotwurms gedy daarop.

  • Besproeide weidings, veral kikoejoe, is bevorderlik vir haarwurm.

  • Lintwurms benodig ’n tussenganger terwyl slakwurms ’n tussenganger en staande water benodig.

  • Die identifikasie en omvang van die probleem vereis nadoodse ondersoeke, larfkulture en eiertellings.

  • Gebruik die korrekte middels vir die parasiete op ’n plaas en wissel dit af.

  • Toets gereeld vir parasietweerstand teen middels (eier reduksie toets).

  • Pas alternatiewe inwendige parasietbeheer toe, waaronder die afwisseling van diere van verskillende spesies en die rus en afwisseling van weidings en landerye. Die afkamp van gronddamme en vleie kan ook oorweeg word indien dit prakties moontlik is.

Die belangrikste alternatief is die teel en seleksie van diere vir weerstand teen inwendige parasiete, maar wat veral die vermoë het om te produseer ten spyte van ’n inwendige parasietlading. Wilde diere beskik oor die vermoë weens langdurige blootstelling.

LJ Hon
ELSENBURG / SWELLENDAM Veeartsenydienste