| Inligtingstukke | | | Elsenburg infopaks | | | Diere, siektes: 21 |
![]() Kliek om te vergroot! |
n Wond in enige deel van n dier se liggaam kan in n sweer ontwikkel wanneer ettervormende bakterieë daar vestig. n Groot oorsaak van verliese onder kleinvee kom voor waar
limfkliere versweer.
Staphyllococcus, Streptococcus en Pasteurella is algemene bakterieë in die omgewing wat verswering van wonde veroorsaak. Corynebacterium pseudotuberculosis en Arcanobacterium pyogenes (voorheen Actinomyces) is die twee belangrikste oorsake van limfklierverswering. |
Hierdie besmettings kan in die omgewing opbou waar krale, krippe en heinings dikwels die bron van infeksies is. Vee kan ook aangesteek word deur draerdiere wat die toestand byvoorbeeld in hul longe dra.
Kieme dring die liggaam binne deur wonde of slymvliese. Wanneer die bakterieë dan deur die bloed versprei, lokaliseer hulle in die limfkliere wat as filters dien. As infeksie die oorhand kry, ontwikkel n abses in die klier. Die inhoud van die abses bestaan uit afgebreekte en dooie selle, witbloedselle en bakterieë. Absesse wat oopbars, besoedel die omgewing en besmet die volgende dier.
Bosluisbyte is n baie belangrike oorsaak van wonde wat besmet raak. Onhigiëniese praktyke gedurende skeer, merk, kastrasie en inspuitings dra ook grootliks by tot probleme met absesse.
![]() Kliek om te vergroot! |
Absesse veroorsaak ekonomiese verliese deur die afkeuring van dele van die karkas tydens slagting. Swaar besmettings kan groei belemmer en enkele vrektes veroorsaak as absesse op
belangrike organe voorkom.
Dit is belangrik dat sigbare absesse onder beheer gedreineer word. Die oppervlakte moet ontsmet en n kruisvormige snit op die laagste sagste punt van die sweer gemaak word. Die etter moet opgevang en verbrand word. Soveel moontlik etter moet uitgemasseer word. n Ou lepel kan gebruik word om n abses skoon te skraap. Die lokale toediening van n antibiotiese middel binne in die gedreineerde abses is raadsaam indien dit saam met n binnespierse toediening van die middel gebruik word. n Aërosol produk wat vlieë weghou, is ook n goeie bykomende maatreël. |
Higiëniese praktyke soos die verbranding van karkasse en vroegtydige dreinering van absesse is basiese voorkomingsmaatreëls. Entstowwe is verkrygbaar teen Corynebacterium pseudotuberculosis.
Sorg moet gedra word dat wonde aan mense nie met die besmetting in aanraking kom nie, aangesien ernstige infeksies by mense kan intree. Tydens die slagproses kan gevaarlike besoedeling van vleis plaasvind as absesse raakgesny word.
MP van Aardt
ELSENBURG / SPRINGBOK Veeartsenydienste