| Inligtingstukke | | | Elsenburg infopaks | | | Besproeiing: 3 |
![]() Kliek om te vergroot! |
Talle vrugte- en wingerdprodusente is onkundig en selfs onbeholpe ten opsigte van grondvogbestuur. In die praktyk word gevind dat baie min produsente besproeiingsbestuur toepas. Die produsente se besproeiingsbestuur is nie gegrond op plant- en grondtoestande en behoeftes nie. |
![]() Kliek om te vergroot! |
Wanbenutting van die hulpbron water vind dwarsdeur die groeiseisoen plaas - gewoonlik te veel aan die begin en die einde en te min in die piekperiode van die seisoen. |
![]() Kliek om te vergroot! |
Met vrugte- en wingerdverbouing speel kwaliteit n belangriker rol as kwantiteit en doeltreffende grondvogbestuur is een van die belangrikste bestuurshulpmiddels waarmee kwaliteit en kwantiteit verseker kan word.
Die doelwit met grondvogbestuur is nie slegs waterbesparing nie, maar doeltreffende, ekonomiese en verantwoordelike waterverbruik. Die gevolge van besproeiingsfoute is toe te skryf aan oorbesproeiing of onderbesproeiing. Oorbesproeiing gee gewoonlik aanleiding tot onder meer swakker vrugkwaliteit, n verkorte boord- of blokleeftyd, die ontwikkeling van n swak en siek wortelstelsel, vrugte met n kort raklewe, verbrakking en geen ondergrondse mikrobelewe nie. |
![]() Kliek om te vergroot! |
Oorbesproeiing gee ook aanleiding tot die uitwas van voedingstowwe en onkruidbesmetting en is verantwoordelik vir hoë energiekoste. Onoordeelkundige grondvogbestuur kan voorts direk aanleiding gee tot oormatige geil groei wat Botritis vrot, vertraagde rypword en onvrugbaarheid tot gevolg het. Dit gee weer aanleiding tot min en klein vrugte, n swak set, n hoë produksie met lae suiker, met ander woorde suur vrugte, oormatige potasopname en n verhoging van die pH van die sap. |
![]() Kliek om te vergroot! |
As n boord of n blok onderbesproei word, sal die bome of die wingerd verdroog, onderpresteer en mettertyd doodgaan.
Die beginsel van n doeltreffende grondvogbestuursmodel word vervat in die uitdrukking: "Irrigate, then wait". Dit berus op die feit dat die wortelvolumes by permanente gewasse n belangrike rol speel. Die gewig hout onderkant die grond behoort dieselfde te wees as die gewig hout bokant die grond. Daarvoor moet wortelontwikkeling en veral haarwortels gestimuleer word deur vog, suurstof en voeding in die potensiële worteldiepte te verseker. Dit is dus belangrik dat die produsent moet weet hoeveel en wanneer om te besproei. |
![]() Kliek om te vergroot! |
Die grondvogreservoir is bepalend ten opsigte van die hoeveelheid wat besproei moet word. Die reservoir waaroor grond beskik, word bepaal deur die persentasie klei, slik, sand, klip en growwe fragment in die grond, die grond se struktuur, deurlugting en kompaksie asook die vermoë tot verdigting en herverdigting.
Die potensiële worteldiepte speel ook n rol in die vraag na hoeveel besproei kan word. Worteldiepte kan bepaal word deur n profielgat wat die potensiële worteldiepte aandui. Die hoeveelheid vog wat op enige stadium deur enige plant onttrek word, kan deur niemand presies bepaal word nie. Vir die berekening daarvan is verdamping gegewens en gewasfaktore nodig. |
![]() Kliek om te vergroot! |
Die besproeiingstempo waarteen n besproeiingstelsel water aan grond toedien, kan deur n spesifieke formule bereken word, maar indien n grondvogbestuurstegniek toegepas word waar die grondvog op n deurlopende basis gemeet word, word alle onsekerhede uitgeskakel. |
![]() Kliek om te vergroot! |
Grondvogmeting kan deur verskillende apparate gemeet word, waaronder die tensiometer en die
Diviner 2000. Grafieke word weekliks saamgestel met die hulp van daaglikse tensiometer lesings. Daarmee kan oordeelkundige afleidings gemaak word en besproeiingsriglyne neergelê word ten opsigte van die hoeveelheid en tydigheid van besproeiing.
Waar die tensiometer op verskillende dieptes bv. 30, 60 en 90 cm geplaas word om grondvogspanning te meet, meet die Diviner die grondvoginhoud (%) op elke 10 cm diepte. Voglesings word op n datavaslegger afgeneem en op n persoonlike rekenaar afgelaai, waarop grondvogwaarnemings grafies aangedui kan word. Dit verseker noukeuriger en meer korrekte grondvogbestuur. As algemene riglyn kan aanbeveel word dat n tensiometer of die grondvogspanningsmodel doeltreffend gebruik kan word op n eenheid van naastenby 10 hektaar. Die Diviner 2000 kan met groot voordeel op groter eenhede benut word, aangesien dié apparaat tot 99 meetpunte kan hanteer. |
CPJ de Jager
ELSENBURG / WORCESTER voorligting