home about contact us news
Inligtingstukke   |   Elsenburg infopaks   |   Diere, siektes: 11

Skaapbrandsiekte Engels | Xhosa

Kliek om te vergroot!
Skaapbrandsiekte is gewis die gevaarlikste, mees verwoestende, gevreesde en bekendste van die siektetoestande wat deur myte veroorsaak word.

Kliek om te vergroot!
Skaapbrandsiekte word veroorsaak deur die skaapbrandsiektemyt. Die wyfiemyt lê 40 tot 90 eiers in haar leeftyd van sowat 30 dae. Uit die eier broei ’n larf, wat ontwikkel en vervel tot ’n nimf waaruit die volwasse myt ontwikkel. In gunstige toestande kan die lewensiklus vanaf die lê van die eiers tot ’n volwasse eierproduserende wyfie so kort as nege dae wees. Gevolglik kan ’n besmette skaap binne vier tot ses weke ernstige letsels toon.

Die myte word deur regstreekse kontak tussen diere in die kudde versprei. Individuele myte kan egter so lank as 12 dae nadat dit van die skape af is, lewensvatbaar vir herbesmetting bly en deur voertuie, die skeer van die skape en hanteringstoerusting, die klere en slaapgoed van skeerspanne, ens., oorgedra word.

Die volgende feite rondom brandsiekte moet in gedagte gehou word:


Kliek om te vergroot!
Hulle leef en voed op die veloppervlakte. Die myte prik die vel met hul monddele en voed op die limf en weefselvloeistowwe wat uit die gaatjies vloei.

Kliek om te vergroot!
Die limf en vloeistowwe meng met dooie weefsel, stof en vuilheid, sekresies van die myte en wolvesels en -olie. Daarna droog dit uit en vorm die kenmerkende skubbe of skurfte wat duidelik sigbaar is; vandaar die Engelse benaming scab.

Kliek om te vergroot!
Letsels wat deur brandsiekte veroorsaak word, is rosetvormig omdat die skubbe voeding vir die myte bemoeilik en hulle voortdurend onder die skubbe uitbeweeg na nuwe dele van die vel.

Kliek om te vergroot!
Latente myte oorleef tot 10 maande in die voue van die skaap se vel, om die horingbasisse en in die skaap se ore.

Kliek om te vergroot!
Brandsiekte veroorsaak intense irritasie en laat die wol breek. Van die eerste sigbare simptome is wolpluise wat loskom wanneer die skape aan letsels krap of byt.

Kliek om te vergroot!
Letsels is gewoonlik eerste op die skouers en flanke van die skape sigbaar. By ramme kom dit dikwels eerste op die bors en nekgedeeltes voor as gevolg van besmetting wanneer hulle ooie dek. In die dektyd sal besmette ramme weer veroorsaak dat ooie die eerste letsels op hul kruis en heupe toon.
  • Tradisioneel word brandsiekte as ’n wintersiekte beskou. In die herfs, wanneer die temperatuur in die wolvag daal, die intensiteit van die sonlig afneem en wolvogtigheid toeneem, gedy die myte en loop die besmetting gewoonlik uit op ’n "uitbraak" in die vroeë tot middel winter.

 

  • Daar is gevind dat swak voedingstoestande ook verband hou met brandsiekte. Someruitbrake is nie onbekend in Suid-Afrika nie en hou gewoonlik verband met skape wat in ’n swak kondisie is of onder voedingstres verkeer.

Kliek om te vergroot!
Skaapbrandsiekte is kragtens die Wet op Dieresiektes ’n aanmeldbare siekte en enige vermoede of bevestigde gevalle van dié siekte moet by die naaste staatsveearts, dieregesondheidstegnikus, voorligtingsbeampte of polisiekantoor aangemeld word. Versuim om dit te doen mag tot vervolging lei.

Omdat skaapbrandsiekte so gevaaarlik is en maklik epidemiese afmetings kan aanneem, moet alles gedoen word om die verspreiding daarvan so vinnig moontlik te bekamp.

’n Paar belangrike riglyne wat die boer kan volg, is:


Kliek om te vergroot!
Raadpleeg ’n veearts sodra enige velaandoening of gejeuk by die skape waargeneem word sodat die organisme wat dit veroorsaak, vroegtydig gediagnoseer kan word.
  • In die geval van skaapbrandsiekte moet geen diere van die plaas af vervoer of verskuif word nie. Dit sal die siekte versprei. Die plaas word ook dadelik deur ’n veearts of dieregesondheidstegnikus onder kwarantyn geplaas.

Kliek om te vergroot!
Dip die skape twee maal (met ’n tussenpose van agt tot tien dae) met ’n geregistreerde skaapbrandsiekte dip. Inspuitbare middels is ook beskikbaar. Wees egter bedag daarop dat diere wat per abuis behandeling met hierdie middels vryspring en in die behandelde trop beland, nie soos in die geval van die gedipte diere, maklik uitgeken kan word nie. Sulke diere sal die kudde gou weer besmet. Dit is dus raadsaam om alle vee in die kraal te kol tydens ’n dipbehandeling (gebruik twee kleure verf, een vir elke behandeling). Vee wat nog glad nie of slegs een keer gedip is, word dus met die tweede dipproses of daarna geïdentifiseer. Hierdie vee kan dadelik uitgeken, afgesonder en gedip word om herbesmetting te voorkom. Dit voorkom voorts die koste van ’n derde of vierde dip. 

Met dip ontvang elke dier ’n volle dosis dipstof in ooreenstemming met sy liggaamsgrootte. In die geval van inspuitbare middels is die dosis gegrond op die dier se gewig. Waar groot gewigverskille in troppe voorkom, moet seker gemaak word dat die swaar diere ’n volle dosis toegedien word. Net ’n paar myte wat nie gedood word nie, kan die hele kudde herbesmet.

Hou ook die volgende in gedagte:

  • Volg die instruksies op die etiket noukeurig.

Kliek om te vergroot!
Volg die 4 x 100 persent-reël by dip, d.w.s. dip 100 persent van alle kleinvee (skape en bokke) op die plaas in een sessie; onderdompel 100 persent van elke dier se liggaam in die dipmengsel; hou die diere 100 persent van die aanbevole diptyd (60 sekondes) in die dipmengsel; dip teen 100 persent van die aanbevole dipmengselsterkte totdat die laaste dier gedip is.

 

  • Dip of behandel al die skape op die plaas een maal per jaar teen brandsiekte.

 

  • Maak skape wat van elders ingebring word, soos teelramme, vry van brandsiekte deur hulle te dip en twee weke onder kwarantyn te plaas, voordat hulle in die kudde losgelaat word.

 

  • Tref die beste voorsorg met skeerspanne en -toerusting asook met voertuie wat gedurende die skeertyd gebruik word. Besmettings kan op dié wyse voorkom word. Was en ontsmet die toerusting deeglik.

 

  • Wees bedag op rondloperskape en -bokke.

J du Plessis
ELSENBURG / NWKV Port Elizabeth