home about contact us news
Inligtingstukke   |   Elsenburg infopaks   |   Meganisasie: 5

Klein grondbewaringstrukture Engels | Xhosa

Kliek om te vergroot!
Die volgende kostebesparende strukture word almal as klein strukture gebruik in opvanggebiede van kleiner as 5 km2. Die strukture word in minder produktiewe tye wanneer arbeid op ekstensiewe plase beter benut kan word, opgerig. Die strukture moet nie op baie steil hellings gebou word nie. Die grondtipe sal egter bepaal watter helling veilig is. Die strukture moet beskou word as deel van ’n veldrehabiliteringsprogram met langtermyn resultate. Die doel daarmee is om vog te bewaar en ’n saadbed te vestig.

Die strukture moet op ’n strategiese plek opgerig word. Dit is gewoonlik waar ’n paar slootjies bymekaar kom, óf waar die helling platter is as in die res van die sloot, óf waar ’n klipbank duidelik oopgespoel is en op die regte plek in die helling van die sloot lê.

Indien die vloei van die water deur die klein struktuur verander word, moet die water op ’n veilige, harde klipbank of in die oorspronklike sloot gelaat word waar geen erosiemoontlikheid bestaan nie.


Kliek om te vergroot!
Geutstrukture

Die geutstruktuur word gebruik om water van ’n hoërliggende deel na ’n slootbodem of laerliggende terras af te voer. Die struktuur kan met beton, stene of gemesselde klip gebou word.


Kliek om te vergroot!
’n Afsnymuur aan die bokant ongeveer ’n halwe meter diep onder die vloer en ’n afsnymuur aan die onderkant tot op die klipbank onder die vloer is baie belangrik. Die vloer moet op ’n vaste basis teen ’n helling gegooi word. Die water moet weer in die bestaande sloot gelos word. Die strukture kan goedkoop opgerig word met materiaal wat in die omgewing beskikbaar is bv. sand en klip.

Kliek om te vergroot!
Bandestrukture

Strukture wat met ou motorbande gebou word, moet baie stewig vasgemaak word aan ysterpale wat in die grond ingekap is in elke stapel bande wat gepak word. Die bande moet aan mekaar vasgemaak word en die bande moet met klippe volgepak word. Daar moet ook ’n laag skadunet aan die stroomopkant van die bande ingesit word. Dit word gedoen vanaf die grond tot aan die bokant van die bande. Die bande moet in die kante van die slote waar dit gebruik word, ingevoeg word sodat die water nie om die bande teen die walkante kan vloei nie. Waar die uitgrawings in die kante van die walle gemaak is, moet grond goed gekompakteer word teen die bande nadat die stapels klaar gepak is. Die ysterpale waarom die stapels gebou is, moet met ’n anker aan een sentrale ysterpaal stroomop vanaf die stapels vasgemaak word. Die ysterpaal stroomop word so diep as moontlik in die grond ingekap.


Kliek om te vergroot!
Die strukture word nie aanbeveel nie tensy dit met groot sorg reggepak word. Baie probleme word met vinnig vloeiende water ondervind.

Kliek om te vergroot!
Klein betonstrukture

Klein betonstrukture, steenmesselwerke of klipmesselwerke kan gebruik word in klein slootjies waar die klipbanke duidelik uitsteek. Die struktuurtjies se oorval gedeelte word nie hoër as ’n halwe meter gebou nie. Die strukture kan enige vorm aanneem. Die vorm moet prakties en eenvoudig wees. Indien strukture hoër as ’n halwe meter gebou word, moet dit ontwerp word en stutte moet aan die stroomafkant op die regte spasiëring ingesit word.


Kliek om te vergroot!
Dit word gebou om vog te bewaar en ’n saadbed te vestig op die kaal klipbank. Die klipbank moet baie goed skoongemaak word sodat die beton kan bind. Alle los materiaal moet verwyder word. Die klipbank kan nie gebruik word as dit bros is nie. Die strukture moet goed in die slootwalle ingegrawe word. Indien netjiese uitgrawings gedoen word, kan die messelwerk of beton in die uitgrawings gebou word sonder bekisting. Bekisting kan gebruik word waar dit nodig is. Dit is baie belangrik dat die strukture ’n vloer aan die stroomafkant het om te verhoed dat die klip verweer en die struktuur beskadig word. Die doel van die werk is nie om damme te vorm nie.

Kliek om te vergroot!
Wanneer die werk toegegroei of toegeslik is met sediment moet dit met die onmiddellike omgewing saamsmelt. Die strukture moet verkieslik met materiaal in die omgewing gebou word om vervoerkoste so laag moontlik te hou. Geen bros klippe moet in messelwerk gebruik word nie, aangesien dit die struktuur benadeel. Gebruik klippe van 150-200 mm in deursnee vir messelwerk.

Kliek om te vergroot!
Kaalkolle (brak kolle)

Takke kan gebruik word om kaalkolle te bedek sodat dit nie so vinnig droog word na reën nie. Die kolle moet verkieslik met ’n implement gebreek word om gate te vorm vir die opgaar van water.


Kliek om te vergroot!
Die losmaakproses breek ook die boonste kors en bring van die ondergrond na bo. Die happloeg of vlekploeg kan vir die doel gebruik word.

Kliek om te vergroot!
Klippakke (met of sonder draadmandjies)

Klippakke kan met groot sukses op die meeste plekke gebruik word. Die klippe moet reg gepak word om die krag van die water te hanteer. Waar steiler hellings voorkom moet klippe verkieslik in draadmandjies gepak word. Die klippe moet stewig teen mekaar gepak word sodat die water nie maklik los klippe kan wegspoel nie. Dit is baie belangrik dat die rigting waarin die water vloei, nie verander word nie. Die water moet steeds in die sloot vloei, en slegs bo-oor die struktuur vloei. Die kante van die klippak moet hoër wees as die deel waaroor die water moet vloei.


Kliek om te vergroot!
Die klippakke word gebruik om plantegroei te vestig wat die drakrag van die omgewing verhoog. Dit laat die water stadig afloop wat beter infiltrasie in die grond tot gevolg het. Dit kan op die langtermyn voordelig wees vir die ondergrondse waterbronne. Die kampe waarin die strukture voorkom moet voortdurend gemonitor word om te verseker dat die plantegroei wat by die strukture vestig, nie deur beweiding beskadig word nie. Wanneer sade gesaai word om die rehabilitasie te versnel, moet daar slegs van saad gebruik gemaak word wat eie aan die onmiddellike omgewing is. Vermy alle indringer of vreemde saad wat indringer probleme skep.

In gebiede wat gemiddeld meer as 500 mm reën per jaar kry, kan rehabilitasie werk met grassooie gedoen word. Die sooie kan op strategiese plekke waar water beskikbaar is, gelê word om die grond te bedek en verdere erosie te verhoed.

Al die werke moet met die agtergrond van seksies 21, 22, en 26 van die Omgewingsbewaringswet, 1989, en die Wet op die Bewaring van Landbouhulpbronne, Wet 43 van 1983, gedoen word.

A Erasmus
ELSENBURG / GRAAFF-REINET, Grondbewaring