home about contact us news
Inligtingstukke   |   Elsenburg infopaks   |   Diere, siektes: 10

Algemene siektetoestande by volstruise Engels | Xhosa

Kliek om te vergroot!
Volstruise lê gemiddeld onder natuurlike toestande, ’n nes van 10 eiers wat hulle oor ’n tydperk van 42 dae uitbroei.

Kliek om te vergroot!
Onder kunsmatige toestande, word broeivoëls in pare afgekamp en die eiers verwyder om in ’n inkubator, dit is ’n kunsmatige broeimasjien, uit te broei.

Onder sulke omstandighede word produksie van eiers verhoog en lê ’n wyfie gemiddeld 50 eiers per seisoen.

Dit neem 42 dae om eiers kunsmatig te bebroei teen 36,5°C.


Kliek om te vergroot!
Kuikens word vanaf dagoud geleer om ’n gebalanseerde rantsoen te eet en moet verhit word gedurende die eerste paar weke van hul lewe.

Kliek om te vergroot!
Onder alle omstandighede, maar spesifiek onder kunsmatige intensiewe toestande, is kuikens vatbaar vir parasiete en siektes.

Kliek om te vergroot!
Ons verdeel die toestand soos volg:

Uitwendige parasiete

Bosluise

Verskillende tipes bosluise dra verskeie soorte siektes oor, onder andere Kongokoors, wat ook die mens kan aantas. Voorts veroorsaak die bosluis se lang monddele groot skade aan die vel wanneer hulle deur die vel "boor". In die volstruisbedryf word die bontpoot bosluis as die grootste bedreiging beskou.

Behandeling van bosluise word uitgevoer met Pyrethroid-bevattende middels bv. Bayticol.


Kliek om te vergroot!
Luise

Veerluise word beskou as die parasiet verantwoordelik vir skade aan die veerdons. Die feit dat veerluise veerdons vreet, verlaag die geldwaarde van veral die langwit vere, maar ook van die lyfstof (kort vere) en gee die veer ’n motgevrete voorkoms. Noodwendig verlaag dit die gebruikswaarde van die vere en gevolglik die inkomste.

Behandeling met piretroïde, bv Bayticol word aanbeveel.


Kliek om te vergroot!
Inwendige parasiete

Lintwurm

Lintwurms is lang, plat wurms van ongeveer 50 tot 100 cm in lengte wat leef in die dunderm en die dier beroof van voedsel.

Newe effekte op die lewende dier is vermaering as gevolg van die feit dat nie genoeg voedingstowwe deur die dier opgeneem word nie, maar in stede deur wurms geabsorbeer word. Erge besmetting kan selfs verstopping van die derms veroorsaak. Gereelde behandeling elke drie maande met bv. Lintex bekamp die parasiet effektief.


Kliek om te vergroot!
Haarwurm

Haarwurms is baie klein, ronde, rooi wurmpies van ongeveer 3 mm lank wat in die maagwand leef. Hierdie parasiet is feitlik onsigbaar vir die blote oog en veroorsaak groot skade aan die maagwand wat aanleiding gee tot skielike vrekte weens die feit dat hulle bloedsuiend is en dus die dier beroof van lewegewende bloed asook die feit dat hulle erge inflammasie in die maag veroorsaak.

Gereelde behandeling met bv. Panacur is noodsaaklik om hierdie probleem en gevolglike vrektes te bekamp.


Kliek om te vergroot!
Aansteeklike siektes

Rooiderm

Dit is die mees gevreesde siekte van jong kuikens binne die ouderdomsgroep 1 tot 3 maande. Hierdie toestand word deur ’n klein kiem (bakterie) veroorsaak wat derm inflammasie tot gevolg het sodanig dat vertering nie kan plaasvind nie. Boonop skei die organismes ’n gifstof af wat vinnige dood veroorsaak.

Voorkomende enting met rooiderm entstof is belangrik om die siekte te bekamp.


Kliek om te vergroot!
Influenza

Groen uriene (influenza), oftewel voëlgriep, is ’n dodelike siekte wat alle voëlspesies kan aantas. Hierdie siekte kan aanleiding gee tot grootskaalse vrektes veral in volstruise jonger as ses maande. Aangesien dit ’n virussiekte is, bestaan daar geen behandeling nie. Kenmerkend van die siekte is groen uriene.

Die siekte is aanmeldbaar m.a.w. dit moet onmiddellik by die naaste staatsveearts aangemeld word.


Kliek om te vergroot!
Pokke

Voëlpokke kom by verskeie voëlspesies voor en word gekenmerk deur vratagtige, bruin, verhewe knoppe rondom die oë en veral mondhoeke en snawel. Die siekte kan tot groot vrektes lei indien dit nie betyds gekeer word nie.

Bytende vlieënde insekte soos muskiete, dra pokke oor en is die siekte veral volop in nat, somerseisoene. Enting met pokke entstof kan wel die verspreiding van hierdie toestand bekamp.


Kliek om te vergroot!
Newcastlesiekte

Dit is die mees gevreesde hoendersiekte wat verantwoordelik is vir gereelde epidemies en die dood van derduisende hoenders. Volstruise, veral jong kuikens, is uiters vatbaar vir hierdie siekte. Duiwe en watervoëls is ook kwesbaar. Siektetekens sluit in verlies van balans, dronk in die kop, agteruit steier, sywaarts slinger en driepoot houding met kop op grond.

Geen behandeling bestaan vir hierdie toestand nie en dit kan slegs voorkom word deur gereeld elke drie maande teen Newcastle te ent met ’n geskikte Newcastle entstof. Alle ander pluimvee, eende en duiwe behoort ook gereeld geënt te word.

Aangesien hierdie siekte so gevrees is en verantwoordelik is vir derduisende mortaliteite, is dit belangrik om te beheer deur enting en is aanmelding by die naaste staatsveearts ook verpligtend.

W Burger
ELSENBURG / Klein Karoo Koöp