home about contact us news
Inligtingstukke   |   Elsenburg infopaks   |   Gewasse, groente: 10

Droëboonsaadproduksie in die Klein Karoo Engels | Xhosa

Kliek om te vergroot!
Die produksie van droëboonsaad en meer spesifiek rooi gespikkelde suikerboonsaad is vanweë sy kort groeisiklus van vier maande en goeie winsmoontlikhede ’n gewas met baie potensiaal, mits kwaliteit saad geproduseer word. Om goeie gehalte, siektevrye saad met ’n ontkieming van ten minste 85% en ’n hoë opbrengs te produseer, moet die volgende riglyne en bestuur toegepas word.

Grondvereistes

Bone presteer die beste op diep gronde wat goed gedreineer is en wat ontkieming en die opkoms van saailinge bevorder. Sandleem, sandkleileem- of kleileemgronde is geskik. Sanderige gronde kan probleme soos lae vrugbaarheid of aalwurmskade meebring. Die gewas is gevoelig vir brak. Oor die algemeen word droëbone geplant op gronde wat voorheen goed bemes is.

Die toediening van veral stikstof met planttyd word aanbeveel. Wees versigtig vir te veel stikstof veral met kopbemesting of blaarvoeding. ’n Toediening van 30 tot 45 kg stikstof per hektaar word aanbeveel. Fosfaat is normaalweg nie ’n opbrengsbeperkende faktor nie. Die toediening kan varieer van 10 tot 25 kg fosfaat per hektaar. Kaliumtekorte is die waarskynlikste op sanderige gronde. ’n Toediening van 20 tot 30 kg kalium per hektaar word aanbeveel.

Spoorelemente kan gewoonlik met blaarvoeding aangevul word indien tekortsimptome waargeneem sou word.


Kliek om te vergroot!
Verbouingsmetodes

Rooi gespikkelde suikerbone se produksiesiklus is ongeveer 100 tot 115 dae en plant tot blom 45 tot 55 dae. Die gewas kan van einde September tot einde Januarie geplant word. Die beste planttyd is einde September wanneer die gevaar van ryp verby is. Minder siekteprobleme word ook gewoonlik met vroeë aanplantings ondervind.

’n Plantdigtheid van ongeveer 140,000 tot 160,000 plante/ha (75kg saad/ha) word aanbeveel. Plantrye van 7 tot 9 cm word aanbeveel en die spasiëring tussen plante in die ry 8 tot 10 cm. ’n Plantdiepte van 3 tot 5 cm is ideaal.

Watervereistes

Besproeiing moet volgens die plante se behoeftes aangepas word. Van week een tot week ses moet nie te veel besproei word nie. Plante moet goed afdroog tussen besproeiings. Van week ses tot week twaalf, neem waterverbruik toe en plante kan tot 60 mm water per week gebruik. Vanaf week dertien tot oestyd moet minder besproei word, totdat 25% van die peule vergeel het, en besproeiing heeltemal gestaak word.

Onkruidbeheer

Onkruide kompeteer direk met die gewas en moet dus beheer word. Onkruidbeheer kan meganies gedoen word solank plante nie beskadig word nie en dit kan voortgesit word tot voor die blomstadium. Skoffelbewerkings is ook voordelig in dié opsig dat dit die grond beter sal deurlug.


Kliek om te vergroot!
Plaagbeheer

Probleeminsekte in die Klein Karoo is hoofsaaklik bolwurm, CMR kewers en rooispinnekop en moet chemies beheer word.

Wat siektebeheer betref moet gesertifiseerde saadaanplantings vry wees van gewone skroeisiekte, vetvleksiekte en bakteriese bruinvlek.


Kliek om te vergroot!
Oestyd

Oestyd is die belangrikste tydperk van saadproduksie. Begin oes wanneer 70% van die peule van groen na strooi verkleur het. Die plante word getrek en in hope of windrye gegooi. As dit in die stadium reën, sal die sade vlek, wat nie aanvaarbaar is nie. Indien ’n moontlikheid van reën bestaan moet die plante liewer onderdak gebring word.

Die dorsproses vind plaas as die saad ongeveer 16% vog bevat. As die saad droër is, sal dit makliker in die dorsproses beskadig word wat ontkieming nadelig sal beïnvloed. Indien baie droë toestande gedurende die dorsproses heers, is dit beter om net gedurende die oggend wanneer dit klammer is, te dors.

In die Klein Karoo waar boontjiedorsmasjiene nie algemeen is nie, word dieselfde dorsmasjien dikwels deur verskeie kwekers gebruik. Ten einde siekteverspreiding en saadvermenging te voorkom, moet ’n dorsmasjien deeglik skoongemaak en die dele wat in aanraking met die saad kom, ontsmet word wanneer dit van een aanplanting na ’n ander verskuif word.

Die sakke moet eers toegemaak word as die bone se vog minder as 14% is, en daarna versigtig hanteer word, aangesien hardhandige hantering die saad kan beskadig.

’n Opbrengs van 2 ton en meer is moontlik met ’n bruto inkomste van R10,000/ha wat ’n netto inkomste van R7,500/ha kan beteken.

BFA Visser
ELSENBURG / KLEIN KAROO LOS