home about contact us news
Inligtingstukke   |   Elsenburg infopaks   |   Gewasse, groente: 9

Produksie van wortelsaad Engels | Xhosa

Kliek om te vergroot!
Wortels is een van die makliker en goedkoper saadgewasse om te produseer. Die geelwortel is ’n koelweergewas en is nie erg gevoelig vir winterkoue en ryp nie. Gedurende die winter ontwikkel die gewas stadiger as gedurende die warmer lente- en somermaande. Die geelwortel kan ook heelwat hitte verdra en dus feitlik deur die jaar in Suid-Afrika verbou word.

Grondvereistes

Geelwortels aard die beste in ’n diep, goed gedreineerde sanderige leem of leemgrond wat effens aan die suur kant is. In swaar humusryke gronde is geelwortels geneig om te veel in die blare te groei en om gevurkte wortels te vorm. Brakgronde moet vermy word.

’n Algemene aanbeveling is dat 1,000 kg van die kunsmismengsel 2:3:4 (24) per hektaar voor planttyd in die grond ingewerk moet word. ’n Kopbemesting van 100 tot 200 kg kalksteen ammoniumnitraat per hektaar word ongeveer 8 weke ná saai toegedien. Kompos of kraalmis word nié aanbeveel nie.

Geelwortels is gevoelig vir ’n boortekort en waar dit in ’n streek bekend is dat ’n boortekort voorkom, kan boor met veiligheid toegedien word, aangesien geelwortels verdraagsaam teen ’n oormaat boor in die grond is.


Kliek om te vergroot!
Verbouingsmetodes

Wortelsaad word direk op die land gesaai. Die grond moet deeglik voorberei, gelyk en fyn wees. Vloedbesproeiing voordat die saad opkom, kan die grond laat toeslaan en ’n swak stand veroorsaak. ’n Wisselboustelsel is belangrik om probleme met siektes uit te skakel. Wortels pas besonder goed in by ’n wisselboustelsel waar gewasse soos kool, blomkool, slaai en tamaties verbou word. ’n Algemene aanbeveling is dat wortels nie meer as een keer elke 3 of 4 jaar op dieselfde grond verbou word nie. Onkruide mag nooit met wortels kompeteer nie.

Saaitye

Vir saadproduksie is die saaityd tussen Februarie en Maart. Ongeveer 4 kg saad/ha word gesaai. Wortels word verkieslik in rye gesaai in plaas van breedwerpig omrede dit onkruidbestryding vergemaklik.

Gedurende die warm somermaande kan groot verliese by die saailinge voorkom as gevolg van omvalsiekte.

Waterbehoeftes

Die voggehalte van die grond beïnvloed die vorm en kleur van geelwortels. ’n Tekort aan grondvog het ’n langer wortel tot gevolg. Baie nat toestande veroorsaak ’n korter en dikker wortel met ’n ligte kleur. As ’n algemene leidraad kan aanvaar word dat wortels ongeveer 25 mm water per week nodig het. In warm, droë toestande sal 50 mm nodig wees.


Kliek om te vergroot!
Bestuiwing en oes

Geelwortels is ’n kruisbestuifde gewas en die blomme word deur ’n groot aantal insekte besoek. Heuningbye, perdebye, verskillende soorte torre en skoenlappers word dikwels op die blomme gesien.

Wanneer die saad gereed is om geoes te word en dit op ’n klein skaal geproduseer word, kan die ryp saadkoppe afgesny en op ’n sementvloer of seil oopgesprei word om te droog.


Kliek om te vergroot!
Wanneer die plante goed droog is, word die wortelgedeelte afgesny en die plante in ’n dorsmasjien gevoer. Saad word ook nog dikwels met ’n trekker op ’n sementvloer uitgetrap. Die saad word daarna so goed moontlik uitgewan voordat dit aan die saadhandelaar gelewer word.

’n Goeie gemiddelde saadopbrengs is ongeveer 600 tot 800 kg/ha. Dit sal egter afhang van die cultivar. Soorte soos Kaapse Mark en Chantenay is ’n sterker en weliger plant en lewer meer saad as byvoorbeeld Nantes.

Die belangrikste siektes by geelwortels is Alternaria skroeisiekte, bakteriese skroeisiekte en wortelvrot as gevolg van swamme. Plantluise, rooispinnekop, aalwurm, bolwurm op saadkoppe en witvliegie is die belangrikste insekteplae.

BFA Visser
ELSENBURG / KLEIN KAROO LOS