home about contact us news
Inligtingstukke   |   Elsenburg infopaks   |   Diere, voeding: 3

Die voeding van die plaasperd Engels | Xhosa

Kliek om te vergroot!
Perde se voedingsbehoeftes verskil van byvoorbeeld ’n bees s’n. Perde kan verskeie voertipes, wat maklik op plase verkrygbaar is, benut. Die voertipes sluit onder andere lusern, grashooi en grasweidings, hawer, semels en ’n proteïenbron soos grondboon-oliekoekmeel of sojaboon-oliekoekmeel, in.

Om die voedingsbehoeftes van die plaasperd te verstaan, moet die volgende in gedagte gehou word:

  • Perde pas maklik by ’n gereelde roetine aan. Perde moet elke dag op verkieslik dieselfde tyd gevoer word. Indien die voerroetine verander moet word, moet dit oor ’n tydperk van twee weke gedoen word. Dit geld veral vir perde wat ’n tyd lank gerus het en nou vir byvoorbeeld die ploegseisoen gebruik gaan word.

Kliek om te vergroot!
  • Perde is nie soos beeste daartoe in staat om groot hoeveelhede voer in ’n kort tydperk te vreet nie. Die volume van die maag van ’n perd met ’n massa van 500kg is sowat 7-15 liter, terwyl die volume van die maag van ’n bees met dieselfde massa so groot soos 252 liter kan wees.

Kliek om te vergroot!
  • Perde moet dus aanhoudend vreet om aan hulle voedingsbehoeftes te voorsien en vreet hoofsaaklik gras en growwe plantmateriaal. Perde herkou nie soos beste nie en kan dus growwe plantmateriaal nie so doeltreffend benut nie. Die kwaliteit van die voer is dus van groot belang.

Kliek om te vergroot!
  • Die tipe werk wat die plaasperd verrig, bepaal die energiebehoeftes van die perd. Met ’n toename in werksintensiteit van die plaasperd, mag pitvoeraanvulling noodsaaklik wees.

Kliek om te vergroot!
  • Goed voorbereide, fikse plaasperde is nooit vet perde nie. Te veel vet plaas onnodige stremming op die perd se longe en hart.

Die voermengsel


Kliek om te vergroot!
Die voermengsel kan in twee hoofkomponente verdeel word, nl. ’n hooikomponent soos lusern of gras en ’n

Kliek om te vergroot!
kragvoerkomponent of pitvoere soos mielies, hawer, gras of oliekoekmeel.

’n Volledige voermengsel bestaan uit proteïene, koolhidrate en minerale, saam met vesel om goeie vertering te verseker en wat verseker dat gisting nie plaasvind nie.

Die volgende aspekte is belangrik in die samestelling van die voermengsel:

  • Die ouderdom, grootte, ras en doel waarvoor die perd gebruik word sal die hoeveelheid, tipe en verhouding van die voermengsel bepaal.
  • ’n Teelmerrie in die eerste periode van dragtigheid kan onderhou word op aangeplante weiding of soetveld. Haar behoeftes sal na agt maande toeneem, en om in die vraag na proteïene, energie en minerale te voorsien, sal daaglikse pitvoeraanvulling nodig wees.
  • ’n Ryperd wat vir ’n aantal ure hard gewerk het, sal daarenteen baie meer pitvoer benodig, veral vir energie en mineraal aanvulling.
  • ’n Lakterende merrie benodig ruproteïene met ’n hoë proteïenwaarde soos lusernhooi, terwyl grashooi voldoende is vir ’n volwasse perd wat ligte werk doen.
  • Wat die ruvesel inhoud van die voer asook die gemiddelde daaglikse voer in kilogram per dag betref, sal die lakterende merrie ’n rantsoen benodig met ’n hoë verteerbaarheid en ook soveel as 3 kg meer voer per dag as die volwasse perd in die betrokke voorbeeld.
  • Die kenmerke en tekortkomings van die bekendste voere op ’n plaas sal grootliks die gebruik van voere in die rantsoen bepaal.

Lusernhooi

Blaarryke lusernhooi van ’n hoë kwaliteit, is ’n uitstekende ruvoer vir perde. Dit het ’n hoë proteïenwaarde en is ryk aan Vitamien A en kalsium. Dit mag egter te lywig wees vir perde wat harde werk verrig en met die hoë kalsium inhoud daarvan is ’n ander bron van fosfor noodsaaklik om wanbalanse te voorkom.

Tefhooi

Dit is baie smaaklik met ’n goeie verteerbaarheid sodat dit veral gebruik word vir perde wat teen ’n vinnige tempo werk.

Hawer

Dit is die beste pitvoer vir perde. Dit is baie smaaklik en met ’n goeie kalsium : fosfor verhouding is dit altyd ’n goeie keuse waar lusern die enigste hooivoeding is. Dit is ook ’n veilige energievoer.

Koringsemels

Dit is smaaklik en het ’n ligte lakterende uitwerking. Dit is energieryk en is ook ’n goeie bron van fosfor.

Grondboon oliekoekmeel en sojaboon oliekoekmeel

Dit is albei hoë gehalte proteïenbronne wat in klein hoeveelhede gebruik word om te verhoed dat sekere proteïentekorte voorkom, veral waar die kwaliteit van hooie swak is of waar ’n perd harde werk verrig en ’n groot behoefte aan proteïen het.


Kliek om te vergroot!
In die praktyk moet die volgende altyd onthou word:
  • Deel perde in klasse (bv. hingste, dragtige merries, merries met vullens, 

Kliek om te vergroot!

jong perde, werksperde, ou perde, ens.) en voer daarvolgens.


Kliek om te vergroot!
  • Volg ’n vaste voerroetine.
  • Voer die hooi gedeelte van die rantsoen in lae krippe of vanaf

Kliek om te vergroot!

grondhoogte, want dit is die natuurlike vreetposisie van ’n perd.

  • Voer ’n perd minstens twee ure voordat die dier werk of oefen.
  • Voer perde verskeie kere per dag en liefs nie groot hoeveelhede voer minder dikwels nie. Voedingsveranderings moet geleidelik geskied; byvoorbeeld nie meer as 200 gram pitvoerverhoging per dag nie. By verlaging geskied dieselfde reël.
  • ’n Werksperd moet verkieslik saans op stal ’n groter hoeveelheid voer ontvang om te verseker dat die perd rustig vreet en sy kos doeltreffend verteer.

Kliek om te vergroot!
  • Stalperde moet genoeg daaglikse oefening kry.

Kliek om te vergroot!
  • ’n Perd moet behoorlik koudgelei word voordat voer aan die perd gegee word.

Kliek om te vergroot!
  • Gebruik altyd die beste beskikbare voere. Vermy stowwerige of muf voere en moet nie voer wat grassade of gifplante bevat, aan perde voer nie.
  • Indien die voer lank geberg is, mag dit nodig wees om die perde teen lamsiekte te ent. Voere ouer as een seisoen moet verkieslik nie aan perde gevoer word nie.
  • Fyn gemaalde voer moet nie gevoer word nie. Gebruik verkieslik ’n voerkerwer of ’n growwe sif in ’n hawermeule. Geen probleme word egter met gebaalde lusernhooi ondervind nie.
  • Die hooigedeelte van die voer word altyd voor die pitvoergedeelte gevoer.
  • Die byvoeging van 1% sout en 1% beenmeel tot die rantsoen is raadsaam.

Kliek om te vergroot!
  • Vars en skoon drinkwater te alle tye is noodsaaklik.
  • ’n Werksperd se ribbes moet nie sigbaar wees nie. In die praktyk word gevind dat sommige perde vet en andere maer word op dieselfde rantsoen.
  • Stalperde benodig gereelde daaglikse oefening.
  • ’n Ontwurmingsprogram twee keer jaarliks is noodsaaklik om alle parasiete dood te maak.

Kliek om te vergroot!
  • Stalperde en ouer perde se kiestande slyt soms abnormaal en word skerp sodat die perd se wange seerkry. Wanneer ’n perd swak kou, word die voedsel nie opgebreek nie, met gepaardgaande onvoldoende speekselvloei wat goeie vertering belemmer.

AG Erasmus
ELSENBURG / KLEIN KAROO LOS