| Inligtingstukke | | | Elsenburg infopaks | | | Diere, soorte: 2 |
![]() Kliek om te vergroot! |
In die vroeë 1930s het daar n oorskot aan skaapvleis in Suid-Afrika ontstaan. Saam met die val van die wolprys in die depressiejare het dit skaapboere gedwing om die uitvoermark vir skaapvleis te ontgin. Die vetsterttipes wat die grootste gedeelte van vleisskape in Suid-Afrika verteenwoordig het, was vreemd vir die Europese mark en het swak gevaar op grond van die karkasgraderingstelsels.
Om meer aanvaarbare karkasse te lewer, is met kruistelingproewe begin. Britse vleisrasse is met die inheemse rasse soos die Afrikaner en Swartkoppersie gepaar. Die vernaamste kenmerke waarvoor geselekteer was, is die volgende:
|
![]() Kliek om te vergroot! |
Kruisings tussen die Britse Dorsethorn ramme en Swartkoppersie ooie het die beste
aan dié vereistes voldoen. Dit het gelei tot die ontwikkeling van n nuwe ras wat
vanaf 1950 bekend staan as die Dorper.
Die Dorper is getalsgewys die grootste vleisskaapras in Suid-Afrika vandag. Die hoë aanpasbaarheid van die ras het tot gevolg dat Dorpers in elke provinsie van die land floreer. Die ras is egter uiters geskik vir veral die droër streke waarvoor dit oorspronklik ontwikkel is en waar weinig ander boerdery-aktiwiteite ekonomies moontlik is. |
![]() Kliek om te vergroot! |
Die winsgewendheid van vleisskaapboerdery hang af van die hoeveelheid vleis wat teen die laagste moontlike koste geproduseer word. Behalwe die kenmerke waarvoor oorspronklik geteel is, moet Dorpers die fisiese eienskappe vertoon wat hulle in staat stel om soveel moontlik lammers wat so vinnig moontlik groei, groot te maak. Dit bepaal die hoeveelheid vleis wat verkoop kan word. |
![]() Kliek om te vergroot! |
Die Dorper kan beskryf word as n goed geboude vleisskaap waarvan volwasse ramme n lewendige massa van 100-120 kg en ooie 75-85 kg haal. Die ras kan enige tyd van die jaar gepaar word. Hoë vrugbaarheid het tot gevolg dat lampersentasies van 120 % en hoër behaal word met goeie voeding en bestuur. Lammers word vanaf 3½ tot 4 maande geslag wanneer n lewendige massa van 36 kg bereik word en n karkas van 15 kg en meer met goeie bouvorm en vetverspreiding. |
![]() Kliek om te vergroot! |
Die ideale Dorper moet die volgende fisiese eienskappe toon:
Bouvorm: Kop en nek - n Lang kop met n sterk breë nek. Die nek moet van matige lengte wees. Prul skape met te lank of te kort onderkake. Bokaak en tande moet reg oormekaar sluit. |
![]() Kliek om te vergroot! |
Liggaam - n Breë bors wat nie te ver uitstaan nie. Dit moet genoeg ruimte vir die longe skep om die skaap in staat te stel om ver te stap. Die lyf moet lank en diep wees met n breë sprong van rib. Dit huisves organe soos die rumen of grootpens waar die gevrete plantmateriaal verwerk moet word tot voedingstowwe vir die liggaam. Die kruis moet breed en reguit wees sodat geboorteprobleme voorkom word. Die dye moet binne en buite goeie spierontwikkeling toon. Van bo en van die sy gesien moet die lyf n wigvorm toon met die breë kant na agter. Die bene moet goed geplaas wees met n goeie lengte en stewige gewrigte sodat die dier sonder moeite lang afstande kan aflê op soek na kos.
Prul skape wat knyp agter die blaaie, rankerig is en hangkruise, swak hakke, kootgewrigte wat deurtrap en holrûe vertoon. |
![]() Kliek om te vergroot! |
Grootte: n Goeie balans tussen lengte, hoogte en diepte in verhouding met die dier se massa en ouderdom. Vetverspreiding: Vet moet egalig oor die hele lyf versprei wees. Diere met vetaansameling op sekere dele soos die kruis, is ongewens. Kleur: Swart en wit Dorpers verskil slegs wat kleur betref. Wit Dorpers het n wit wol en haarbedekking met pigment verkieslik op die kaal dele. Dieselfde geld by Swart Dorpers, maar swart kolle mag op die kop of voorlyf voorkom. Haarbedekking: Die ideaal is n mengsel van kort hare en wolbedekking oorwegend op die voorkwart. n Lang maanhaar is ongewens. |
![]() Kliek om te vergroot! |
Met die aankoop of seleksie van ooie en ramme moet veral op die volgende gelet word:
|
![]() Kliek om te vergroot! |
Die gebruik om ramme permanent by ooie te laat, word nie aanbeveel nie. Paar- en lamtyd moet beplan word volgens die voedingsbehoeftes van die diere en die beskikbaarheid van voeding. In die somerreënvalstreke met herfs as hoof reënseisoen waar beskikbare voeding meestal net een lamseisoen per jaar toelaat, is laat lente/vroeë somer die beste paartyd. Die lammers word in die herfs of vroeë winter gebore wanneer dit normaalweg koeler word en die veld goeie groen bossiegroei toon. Voedingstoestande is dan gewoonlik gunstiger wanneer die ooie se voedingsbehoeftes hoër is soos tydens laatdragtigheid en laktasie. Die lammers groei ook beter in die koeler maande. Oorslaan ooie kan in die lente lam. In die warm somermaande groei lammers stadig. n Vaste lamseisoen hou, behalwe voedingsvoorsiening, die volgende voordele in:
Winsgewende langtermynboerdery met n vleisskaap soos die Dorper op hoofsaaklik ekstensiewe natuurlike weiveld, noodsaak baie goeie veldbestuur. |
![]() Kliek om te vergroot! |
Dorpers vreet minder selektief as wolskape. Gevolglik word meer onsmaaklike plante ook deur Dorpers benut, waardeur die veelading maklik oorskry kan word. Pas die veelading dus by die langtermyndrakrag aan. In die praktyk beteken dit om verkieslik meer lammers vinniger groot te maak as om meer ooie aan te hou. Die waarde hiervan word veral gedurende droogtes besef. Hou slegs soveel vee aan dat n gedeelte van die beskikbare weiding vir n groeiseisoen of meer vir saailingvestiging kan rus. Die saailinge wat vestig is gewoonlik n aanduiding van die veld se toestand en die boer se veldbestuursvernuf. |
TS Brand & BB Aucamp
ELSENBURG / Navorsing