home about contact us news
Inligtingstukke   |   Elsenburg infopaks   |   Diere, bestuur: 7

Algemene beginsels vir die grootmaak van suiwelkalwers tot op ouderdom drie maande Engels | Xhosa

Kliek om te vergroot!
In talle melkkuddes is die aantal kalwers wat jaarliks vrek baie hoog - selfs tot 25%. By vleisbeeste daarenteen is die aantal kalwers wat vrek slegs sowat 1 tot 2% per jaar.

Daar is ’n aantal faktore wat die hoë vrektesyfer in melkkuddes kan veroorsaak:

  • Die aanhou van te veel diere in ’n beperkte ruimte.
  • Die prys van melk wat die langtermynvoeding daarvan aan kalwers onlonend maak.
  • Kalwerhokke beperk oefening vir die produksie van liggaamshitte op ’n koue dag.
  • Kalwerhokke verhoed ook die beweging van die kalf na ’n gunstiger omgewing wanneer die hok byvoorbeeld koud, nat of bedompig word.

Kalwervrektes kan aansienlik verminder word deur goeie behuising, voeding, bestuur en bepaalde siektevoorkomende maatreëls.

Hoewel ’n kalf dikwels vrek as gevolg van ’n algemene kalwersiekte, is dit eintlik die verlaging van die kalf se weerstand wat die werklike oorsaak van die probleem is. Dit kan dikwels teruggevoer word na spanningsfaktore soos swak behuising, voeding en bestuur.


Kliek om te vergroot!
Behuising

Die koei moet in ’n skoon en kiemvrye omgewing kalf, verkieslik in ’n droë, oop kamp weg van ander beeste.


Kliek om te vergroot!
Kalwers moet verkieslik in afsonderlike kalwerhokke aangehou word. Die hokke moet sowat 1,0 x 1,5 m wees met ’n minimum hoogte van 1 m, met ’n betonvloer en deeglike afskortings tussen die kalwers. Nat beddegoed moet daagliks verwyder en met droë beddegoed vervang word.

Dit is ook belangrik dat die gebou droog moet wees met goeie ventilasie sonder enige trekke. Daarby moet dit gereeld ontsmet word. Onthou dat sonlig die beste ontsmettingsmiddel is.


Kliek om te vergroot!
Kalwers kan ook in verskuifbare hokke buite aangehou word. Skuif hokke elke dag na ’n droë plek.

Kliek om te vergroot!
Voeding
  • Die eerste vier dae:

    Die kalf moet binne 3 ure na kalwing genoeg biesmelk inneem; minstens twee liter vir swaar rasse en 1,5 liter vir ligte rasse. Biesmelk bevat bestanddele wat die kalf immuniseer teen siektes wat die moeder gehad het.

    Na 24 uur word die kalf van die koei weggeneem en in afsonderlike hokke geplaas waar dit melk uit ’n emmer, kunsspeen of maagbuis ontvang. Probeer om biesmelk tot op ouderdom 4 dae te gee omrede dit ’n beskermende invloed op die maag van die kalf uitoefen.

Kliek om te vergroot!
  • Vanaf 4 dae tot speen (± 6 weke):

    Om volmelk of melkvervangers aan kalwers te voer is duur. Daarom moet die kalf so gou moontlik gespeen en verder op droë voer grootgemaak word. Ons noem dit ’n vroegspeenstelsel.

    By geboorte is die grootpens van die kalf nog klein en melk gaan direk na die melkpens. Die kalf kan dan nie ruvoer verteer nie. Die grootpens moet daarom gestimuleer word om te ontwikkel deur die kalf so gou moontlik droë voer te gee.

Kliek om te vergroot!
Dit word soos volg gedoen:
  • Gee kalwers melk of melkvervangers slegs twee keer per dag. ’n Frieskalf moet byvoorbeeld sowat 2 liter in die oggend en 2 liter in die aand kry.

Kliek om te vergroot!
  • Hierdie hoeveelheid bly dieselfde soos die kalf ouer word, aangesien dit ’n manier is om die kalf te stimuleer om droë meel in te neem soos die dier se voedingsbehoeftes toeneem.

Kliek om te vergroot!
  • Voorsien ’n droë aanvangsmeel vanaf 7 dae in ’n bakkie langs die melkbak. Vryf van die meel aan die kalf se bek net nadat sy gesuip het of gooi ’n bietjie in die melkemmer na die kalf klaar gesuip het.
  • Gee daagliks vars meel. Klam, muf of harde meel is onsmaaklik vir die kalf.

Kliek om te vergroot!
  • Voorsien daagliks vars en skoon drinkwater. Hou die water weg van die kalf vir een uur voor en een uur na melktyd. Kalwers kan te veel water suip wat maagwerking tot gevolg kan hê.
  • Sodra die kalf sowat 700g van die kalfaanvangsmeel per dag inneem, dit is gewoonlik op 5 tot 6 weke, kan sy van melk gespeen word.
  • Na speen tot op 3 maande ouderdom kry die kalf ’n maksimum van 1,5 kg aanvangsmeel per dag plus goeie gehalte hooi, byvoorbeeld lusernhooi.
  • Belangrik: skoon en vars drinkwater moet altyd beskikbaar wees.

Kliek om te vergroot!
Bestuur

Goeie bestuur is dié belangrikste aspek by die intensiewe grootmaak van kalwers. ’n Oplettende boer wat minstens een keer per dag sy diere nagaan om enige probleme op te merk en voorkomend optree, is noodsaaklik.

  • Kalwers moet net na kalwing gemerk word.
  • Knip oortollige speentjies af en ontsmet die snyplek. ’n Steek om die vel nader te trek, sal genesing bespoedig.

Kliek om te vergroot!
  • Vanaf 4 tot 6 weke ouderdom kan die horingknoppies gebrand word. Laat ’n kundige persoon hierdie praktyk demonstreer.

Kliek om te vergroot!
  • Bulkalwers kan op 3 maande ouderdom met ’n Burdizzo geknip word.

Kliek om te vergroot!
  • Vanaf 4 tot 5 maande ouderdom moet alle kalwers teen Anaplasmose geënt word. Verskalwers moet ook teen Brusellose geënt word. Die twee enstowwe kan gelyktydig toegedien word.

CJC Muller
ELSENBURG / Navorsing