home about contact us news
Inligtingstukke   |   Elsenburg infopaks   |   Besproeiing: 2

Die installering, onderhoud en bestuur van besproeiingstelsels Engels | Xhosa

Vir die doeltreffende werking van enige besproeiingstelsel is die korrekte metode van installering, onderhoud en bestuur daarvan noodsaaklik om te verseker dat die besproeiingstelsel reg sal werk.

Kom ons kyk na die punte van belang by die installering van die toebehore by die verskillende stelsels.


Kliek om te vergroot!
Sprinkelstelsels:
  • Installeer alle pype en toebehore soos beplan, want die stelsel is volgens ’n plan ontwerp.
  • Onderdele wat kan roes, moet met ’n roeswerende verf behandel word.
  • Plaas aftapkrane weg van paaie en verf dit met ’n helder kleur sodat dit nie raakgery word nie.
  • Met permanente sprinkel moet in gedagte gehou word dat veral beeste graag daarteen skuur. Sodoende beskadig dit sprinkelaars en poliëtileenstaanpype.
  • Spoel alle hooflyne en pype met spuite na installasie om ontslae te raak van enigiets wat tydens installasie in die pype beland het.

Kliek om te vergroot!
  • Ondergrondse pype moet diep genoeg gelê word sodat dit nie deur grondbewerkingspraktyke beskadig word nie.
  • Dit is raadsaam om permanente merkers op geskikte plekke bo-op die grond te plaas om die diepte en posisie van die ondergrondse pyplyn aan te dui.
  • Drukmetingspunte moet aangebring word na elke beheerkraan by ’n blok of aftappunt sodat die regte werksdruk van die stelsel ingestel kan word.

Kliek om te vergroot!
Mikrobesproeiingstelsels:
  • Swart poliëtileenpyp wat gebruik word vir die pype met spuite moet vir ’n paar dae in die son gelaat word. Die pyp is daarna sag en makliker hanteerbaar en sonder enige buigings wat die pyp kan verswak. Verder moet die pyp nie reguit in ’n sloot gelê word nie om voorsiening te maak vir uitsetting, inkrimping en normale grondbeweging as gevolg van versakking. Die pype met spuite moet verder in korrekte lengtes volgens die plan op die regte posisie geïnstalleer word.
  • Hooflyne: Alle koppelstukke moet skoon wees. Indien nie, kan die sanderigheid lekkasies by die laste veroorsaak. Grond wat gebruik word as terugvullingsmateriaal, moet vry wees van groot klippe en rommel sodat die grond deeglik gekompakteer kan word in lae van ongeveer 300 mm dikte.

Kliek om te vergroot!
  • Plaas die pyp met die mikrospuite aan die kant van die boomry vanwaar die heersende windrigting is. Die pyp kan óf ondergronds begrawe word óf op paaltjies (300 mm hoog) geïnstalleer en met behulp van ’n draad vasgemaak word. Indien van meganiese bewerking gebruik gemaak word, is dit verkieslik dat die pype aan ’n draad opgehang word.
  • Die krane vir die besproeiingsblokke moet weg van boordverkeer geplaas word sodat dit nie beskadig kan word nie.

Kliek om te vergroot!
  • Nadat die stelsel uitgelê is, moet alle pype gespoel word voordat dit aanmekaar gekoppel word.
  • Alle bogrondse PVC-pype moet teen son beskerm word deur dit te verf.
  • Drukmetingspunte moet ook aangebring word na elke beheerkraan by ’n blok of aftappunt sodat die regte werksdruk van die stelsel ingestel kan word.

Kliek om te vergroot!
Vervolgens kyk ons na die onderhoud wat gereeld by die verskillende stelsels gedoen moet word om te verseker dat die besproeiingstelsel vir ten minste die gewas se leeftyd doeltreffend sal werk.

Sprinkelstelsel:

  • Gaan sprinkelaars na vir slytasie en vervang vere, wassers en tuite, waar nodig
  • Maak alle lekkende krane reg
  • Spoel hooflyne minstens een keer per seisoen
  • Vervang rubbers by goukoppelpype

Kliek om te vergroot!
Mikrobesproeiingstelsels:
  • Die filter van die besproeiingstelsel moet gereeld gespoel word om die effektiewe werking van die filter te verseker. By skyffilters moet die element verwyder en skoongespuit word.
  • Spoel die lyne met die spuite minstens twee maal per seisoen.
  • Stap ten minste een keer per week deur die mikrobesproeiingsblokke om te kyk of daar verstopte of stukkende spuite is wat skoongemaak of vervang moet word.
  • Aan die einde van die besproeiingseisoen, moet die stelsel met gefiltreerde water gespoel word.

Kliek om te vergroot!
Laastens moet ons besluit wanneer en hoeveel besproei moet word. Dit word besproeiingskedulering genoem. Die maklikste manier om dit vas te stel, is om ’n gat in die land te grawe en te voel hoe nat die grond is. Grondvogsensors, byvoorbeeld tensiometers, is ’n meer wetenskaplike metode om grondvog te meet. Twee tensiometers word geplant, een in die wortelgebied waar die meeste wortels voorkom en wat aandui wanneer besproei moet word. ’n Tweede tensiometer word net onderkant die wortels geplant wat sal aandui of daar onder- of oorbesproei word.

Om meer te wete te kom oor die werking en die installering van tensiometers, skakel gerus met jou naaste landboukantoor.


Kliek om te vergroot!
Ten slotte moet die besproeiingstelsel teen die regte werksdruk besproei word om die onegalige verspreiding van water te vermy. Nagbesproeiing is effektiewer as dagbesproeiing as gevolg van die laer verdamping in die nag.

FH Koegelenberg
ELSENBURG / Landbou-ingenieurswese