home about contact us news
Inligtingstukke   |   Elsenburg infopaks   |   Diere, siektes: 9

Die gesonde vark Engels | Xhosa

Soos met enige lewende wese het die vark ook sekere behoeftes waaraan voldoen moet word om optimale groei en gesondheid te verseker. Die behoeftes kan kortliks soos volg saamgevat word.


Kliek om te vergroot!
Wat die omgewing betref, is temperatuurbeheer van baie groot belang. Die vark is swak aangepas by temperatuur uiterstes. Indien varke in hokke aangehou word, wissel die diere se behoeftes volgens hulle ouderdom. Klein varkies se optimale temperatuur wissel tussen 27°C - 30°C, terwyl dit by ouer varke heelwat laer is.

Kliek om te vergroot!
’n Vark se longe is baie klein. Vars lug is noodsaaklik om longprobleme soos longontsteking te voorkom. ’n Hok wat swak deurlug is, kan lei tot die opbou van ammoniak wat die longe van die vark irriteer en uiteindelik longontsteking tot gevolg mag hê. Ammoniak is ’n swaar gas wat veral soggens vroeg op kniehoogte van die mens, of die hoogte van die vark, hoë vlakke bereik.

Alhoewel vars en skoon lug dus ’n vereiste is, is ’n wind of ’n trek in die hok ongewens.


Kliek om te vergroot!
Die varkhok moet altyd skoon wees aangesien kieme onder vuil toestande opbou wat tot siektes kan lei. Die beheer van rotte in die hok is baie belangrik aangesien siektes soos leptospirose deur rotte oorgedra kan word. Vlieë, myte, luise en inwendige parasiete soos spoelwurms kan bestry word met goeie parasietbeheer. Masels in varkvleis kan voorkom word deur varke nie toe te laat naby menslike afloopwater nie.

Enige veearts of dieregesondheidstegnikus sal jou verder inlig oor die beheer van parasiete.

Vermy rowwe vloeroppervlaktes in die varkhok aangesien dit kan lei tot gewrigsontsteking of beserings. ’n Warm en gemaklike slaapplek is noodsaaklik.

Moet nooit te veel varke in ’n beperkte hok oppervlakte aanhou nie. Dit het die opbou van ammoniak, mis en kieme tot gevolg. Voorts lei dit tot stertbyt en bakleiery om die varkrangorde te verseker.

Benewens omgewingsbehoeftes het die vark ook definitiewe voedingsvereistes.

Klein varkies moet so gou moontlik voldoende bies na geboorte inneem. Van alle plaasdiere is die vark die mees onvolwasse by geboorte en het die klein varkie besondere behoeftes vir oorlewing.


Kliek om te vergroot!
Alhoewel die vark normaalweg alles vreet, beteken dit nie dat die dier slegs van afval kan leef nie en is ’n gebalanseerde dieet noodsaaklik. Indien dit nie gebeur nie, kan tekortsiektes, swak groei en selfs vrektes voorkom.

Kliek om te vergroot!
Voere wat muf moet nooit aan varke gevoer word nie aangesien dit swamgifstowwe mag bevat waarvoor varke baie gevoelig is. Genoeg en skoon water moet ook altyd beskikbaar wees.

Vreet- en drinkoppervlaktes moet groot genoeg wees om stres, stertbyt en bytwonde te voorkom. Dit mag absesse en velsiektes tot gevolg hê.

Benewens die aantal kere wat varke daagliks gevoer moet word en die hoeveelheid van die voer, vereis voedingsbestuur ook dat vinnige verandering van voer vermy moet word. ’n Stadige aanpassing is wenslik.

Varksiektes

Stres is een van die belangrikste oorsake van varksiektes. Indien daar nie aan die behoeftes van die vark voldoen word nie, ontstaan strestoestande wat die liggaam se vermoë om siektes te beveg, verminder.


Kliek om te vergroot!
Benewens die vermindering van strestoestande, word van ent gebruik gemaak as ’n bestuurshulpmiddel om sekere siektes te beheer.

Kliek om te vergroot!
Van die belangrikste siektes waarvoor entstowwe beskikbaar is, is onder meer E. coli, Leptospirose, Erysipelas en Parvovirus.

Onthou egter dat ent van varke slegs ’n hulpmiddel teen siektes is en dat nie slegs alleen daarop staatgemaak moet word nie.

Die belangrikste varksiektes kan ingedeel word volgens die liggaamsdeel wat aangetas word.


Kliek om te vergroot!
Spysvertering- of dermsiektes soos E. coli en 

Kliek om te vergroot!
varkdisenterie word dikwels geken aan skittery of maagwerk. In sommige gevalle vrek die vark voor enige sodanige simptome. Voeding en higiëne is ’n belangrike beheermaatreel. 

Met longsiektes hoes of nies varke en in ernstige gevalle lyk die vark kroes. Die vark mag selfs vrek voordat siektetekens gesien word. Om longsiektes te voorkom, is baie vars lug noodsaaklik en temperatuur uiterstes moet vermy word wat gesamentlik bydra tot strestoestande.


Kliek om te vergroot!
Velsiektes kan die vel verdik en swere mag daarop voorkom. Sommige velsiektes veroorsaak erge jeuk sodat die vark gedurig krap.

Velsiektes het baie oorsake en dit is belangrik dat vasgestel word watter siekte betrokke is om die regte behandeling te gee.


Kliek om te vergroot!

Teelprobleme kan deur ’n verskeidenheid van siektes veroorsaak word. Dit mag voorkom as aborsie of ’n miskraam, doodgebore varkies of klein werpsels, of sôe wat gedek word maar nie beset raak nie. Parvovirus en Leptospirose kan hiervoor verantwoordelik wees. Beide die siektes kan voorkom word deur enting. Higiëne is egter ook belangrik. Indien sôe in vuil hokke kraam mag dit lei tot baarmoeder-ontsteking na kraam.


Kliek om te vergroot!
Arthritis, dit is gewrigs- en skeletprobleme, word gesien as mankheid of ’n geswel van die vark se gewrigte of pote. In erge gevalle wil die vark nie opstaan nie. Die oorsake kan gesoek word in bakleiery, stertbyt, naelstringbesmetting, rowwe vloeroppervlaktes en swak higiëne tydens ent. Arthritis is ’n belangrike oorsaak van afkeurings by slagpale.

Ter opsomming onthou altyd: dit is goedkoper en makliker om varksiektes te voorkom as om dit te behandel.

A van Halderen
ELSENBURG / Provinsiale Veterinêre Laboratorium