home about contact us news
Inligtingstukke   |   Elsenburg infopaks   |   Gewasse, groente: 3

Uitplant van uieplantjies Engels | Xhosa

Kliek om te vergroot!

Die meeste uie wat in Suid-Afrika verbou word, word vanaf saadbeddings op die lande uitgeplant. Daar is verskillende metodes wat gebruik word, elkeen met voor- en nadele. Tot soveel as een derde van die plantjies kan egter tussen uitplant en oes doodgaan as gevolg van die metode van uitplant.

Watter voorsorgmaatreëls kan die uieboer tref?

Die tipe grondbewerking wat toegepas word, moet nie die grond verpoeier nie. Dit moet egter so egalig moontlik wees om die plantjies ’n beter vatkans te gee.

Daar is 3 algemene metodes om uieplantjies uit te plant:

  • Die maak van grippies teen ’n plantlyn met ’n graaf of skoffel. Ná plant word die grippie toegemaak sodat die plante se wit gedeelte met grond bedek is.
  • Voortjies word met ’n handploegie met een skaar gemaak. Ná plant word dit met dieselfde ploegie toegestoot en dan is die volgende grippie terselfdertyd gereed vir plant. Hierdie is ’n metode wat op groot- en klein skaal gebruik kan word.
  • Getande rollers wat plantgate druk. Die tande is op die roller gesweis sover as wat die boer die plantjies uitmekaar wil plant. Plantjies word dan een-een in die gate gesit en vasgedruk met grond.

Kliek om te vergroot!
In albei gevalle moet die plantjies se wit gedeelte deeglik met grond toegemaak word. Dit word aanbeveel om nie dieper as 4 cm te plant nie. Te diep plant strem bolvorming en lei tot lang bolle wat nie baie geskik is vir die koper nie.

Kliek om te vergroot!

Die hantering van die plantjies van die saadbed na die land is baie belangrik. Moet verkieslik nie die blare en wortels afsny nie, want dit veroorsaak dat plantjies makliker van siektes doodgaan of uitdroog deur die wind. Die afdraai van wortels en blare word glad nie aanbeveel nie.

Maak die plantjies in die bedding met ’n vurk los, trek klein bossies plante versigtig uit om kneusing te voorkom. Pak in kiste of kartonne, maar verkieslik nie in sakke nie, want dit kneus die plante tydens vervoer. Die plantjies broei ook in sakke wat lei tot swamsiektes.


Kliek om te vergroot!

Dit is noodsaaklik dat die uieplantjies so gou moontlik na uitplant natgemaak word. Verliese sal beperk word indien die plantjies op die dag van uitplant natgemaak word.

Saadskiet word verhoog deur die plant van groot plantjies. Dié plantjies lei ook tot groter plante vroeg in die seisoen terwyl dit nog koud is. Daarteenoor sal klein uieplantjies maklik doodgaan met te min water of sterk wind. Die ideale plantjie wissel tussen 4 mm en 6 mm (potlooddikte) met geen swelling aan die bolgedeelte nie.

Wat plantdigtheid betref, lei dig plant tot saadskiet, veral by laat uie. Te wyd plant lei tot groot, gesplete bolle.

Ongeveer 600,000 plante per hektaar of 60 plante per vierkante meter word aanbeveel, dit wil sê 7 cm tussen plante in die ry en 25 cm tussen rye.

P Coetzee
ELSENBURG / LNR Groente en sierplante / JW Saad