home about contact us news
Inligtingstukke   |   Elsenburg infopaks   |   Gewasse, ander: 8

Dagga Engels | Xhosa

Kliek om te vergroot
Dagga is die gedroogde blare en blomme van die plant Cannabis Sativa en dit is groen/bruin van kleur.

Dagga groei baie maklik in swak toestande en daarom verbou sekere mense dit as enigste produk. Dit word gewoonlik tussen ander gewasse of in die klowe van berge geplant.


Kliek om te vergroot
Ná oes word die dagga van die berge af met perde of donkies na laagliggende dele vervoer waar dit op vragmotors gelaai en na smokkelaars vervoer word.

Kliek om te vergroot
Dagga word in die volgende vorms verkoop:
  • los dagga
  • ’n stop dagga
  • ’n vinger dagga
  • ’n parcel dagga
  • ’n arm dagga
  • ’n vuurhoutjiedosie vol dagga
  • ’n banksakkie vol dagga
  • ’n streepsak vol dagga

Dagga verkoop tans teen R1.00 per gram en die pryse wissel vanaf R1.00 vir ’n stop dagga van 1 gram tot R2,000 vir ’n streepsak van 20 kg.

Dagga word gewoonlik gerook, of geëet as daggakoekies, of gedrink as tee.


Kliek om te vergroot
Die algemeenste gebruik is om dit deur ’n bottelnek te rook. Die nek van ’n bottel word afgeslaan en ’n filter, bekend as ’n "diamond", word van opgerolde papier gemaak. Die filter word dan in die mond van die bottelnek geplaas met die dagga bo-op. Persone wat dagga deur ’n bottelnek rook se hande word gewoonlik geelbruin gevlek.

Dagga kan ook in ’n sigaretvorm, bekend as ’n "slowboat" gerook word.

Dagga brand vanself baie moeilik. Daarom word dit gewoonlik met sigarettabak gemeng. Die proses staan bekend as "sout".

Die aktiewe bestanddeel van dagga, THC, word deur die vetweefsel van die liggaam opgeneem en baie stadig vrygestel. Die meeste vetselle in die liggaam kom in die brein en die geslagskliere voor. Dagga van een "slowboat" kan tot na 3 weke nog in die liggaam opgespoor word.

Dagga hou baie gevare vir die mens se liggaam in. Een slowboat is byvoorbeeld gelyk aan 5 sigarette.


Kliek om te vergroot
Wanneer iemand dagga deur ’n bottelnek rook, word dit direk in die longe ingetrek. Dink maar watter skade dit net aan jou longe kan doen.

Daggarokery lei tot die volgende gevare:

  • ongelukke omrede jy nie afstand en tyd kan skat nie
  • oormatige agressie in kombinasie met alkohol
  • ernstige skade aan die asemhalingstelsel
  • skade aan longe
  • longkanker
  • keelkanker
  • versteuring van die vroulike hormone
  • onvrugbaarheid
  • versteuring van die liggaam se natuurlike siekteweerstand
  • afname in die seksdrang
  • verlaagde of verhoogde eetlus
  • skade aan die ongebore baba as ’n swanger vrou rook

Wat sê die Wet?

Jy mag nie dagga in jou besit hê, gebruik, verkoop, aankoop, vervoer, verbou, versend, verskaf of dit verskuif nie.

Indien jy dagga besit of daarmee handel dryf, kan die hof jou ’n groot boete of gevangenisstraf vir tot 10 jaar oplê.


Kliek om te vergroot
Mandrax

Mandrax of "buttons" is naas dagga die algemeenste onwettige dwelmmiddel wat in Suid-Afrika misbruik word. Die aktiewe bestanddeel van mandrax is metakaloon en dit bevat ook anti-histamien.

Mandrax tablette verskil van kleur en grootte en word volgens die vorm wat daarop gedruk is genoem, byvoorbeeld mercedes, volkswagen, german, flowers, ens.

Mandrax was gedurende die sestigerjare as ’n slaapmiddel voorgeskryf. Aanvanklik is geglo dat dit ’n baie goeie en veilige middel was, maar in 1977 is dit tot ’n verbode middel verklaar nadat ontdek is dat dit tot grootskaalse afhanklikheid lei.

Suid-Afrika is die enigste land ter wêreld waar mandrax en dagga saam gebruik word. Dit kan egter ook opgelos en ingespuit word.


Kliek om te vergroot
Mandrax word fyngemaak en met dagga gemeng. Dit word dan deur ’n bottelkop, wat as "witpyp" bekend staan, of as ’n "slowboat" gerook. Die fyngemaakte mandrax kan ook oor die dagga gestrooi word, wat as "cremora" of "cream" bekend staan.

Suid-Afrika is die grootste verbruiker van mandrax ter wêreld. Daar word beraam dat sowat 80% van die mandrax wat wêreldwyd geproduseer word na Suid-Afrika gesmokkel word. Die meeste mandrax word in Indië vervaardig. Dit word dan deur lande soos Swaziland en Mosambiek na Suid-Afrika gesmokkel. Daar is egter ook mandrax fabrieke in Suid-Afrika.

Mandrax kos tans tussen R30 - R60 per tablet, afhangende van die beskikbaarheid en kwaliteit daarvan.


Kliek om te vergroot
Aangesien mandrax gewoonlik saam met dagga gebruik word, is die gevare daaraan verbonde dieselfde as met dagga. Saam daarmee gaan ook die volgende:
  • dit tas jou rugmurg aan
  • dit kan tot verstandelike vertraagdheid lei
  • die ineenstorting van die asemhaling- en bloedsirkuleringstelsel

Net soos met dagga, word mandrax ook deur die Wet verbied. Die besit of handel daarmee kan lei tot ’n groot boete of gevangenisstraf vir tot 10 jaar.


Kliek om te vergroot
Waar kan ek hulp verkry?

Onthou, daar is altyd mense wat bereid is om te luister en te help as iemand ’n dwelm- of drankprobleem het. Probeer gerus enige van die volgende plaaslike instansies:

  • SA Narkotika Buro
  • Drugwise sentrum
  • SANRA kantoor
  • Alkoholiste Anoniem
  • Maatskaplike dienste
  • Munisipale gesondheidskliniek
  • Heilsleër
  • Apteker

P Mans
ELSENBURG / Narkotika buro