| Inligtingstukke | | | Elsenburg infopaks | | | Bome: 4 |
Boomaanplanting is n belangrike deel van die langtermyn- en korttermynbeplanning van elke plaas, veral indien daar met vee geboer word. Dink maar aan die nadelige invloed van hitte, sowel as koue, op die produksie van melk en vleis, die oorlewing van pasgebore diere, asook die verwering van wol waar geen koelteskuilings verskaf word nie.
Skape wat hygend in die somermiddagson staan met die kop in die skaduwee van n ander, of diere wat in die winter met die kop wind-af in die koue staan, is bekende tonele. In beide gevalle verloor die diere onnodig gewig, maar dit kan reggestel word deur bome in die weiveld aan te plant.
Waar die winters besonder koud en winderig is, kan n windskerm in die vorm van n vierkant, reghoek of ronde vorm aangeplant word. n Niervorm is egter ideaal. n Windskerm bied beskerming oor n afstand van ongeveer tien keer die hoogte van die bome. Dit wil sê, as die windskerm byvoorbeeld 20 meter hoog is, sal dit jou oes oor n afstand van 200 meter beskerm.
Ten einde maksimum doeltreffendheid te verkry, kan daar aan die teenoorgestelde kant van die heersende koue wind n digte heining aangeplant word waar die diere onder uiterste toestande kan skuil. Die heinings kan voor die bome aangeplant word. Hierdie skuilingaanplantings dien ook as bron van brandhout en pale.
Met die boomkeuse moet die volgende faktore in ag geneem word. Verskeie immergroen boomsoorte is geskik byvoorbeeld denne-, bloekom-, kasuarina-, sederbome en sipresse. Die kasuarina-, peper-, Braziliaanse peper- asook karobbome groei redelik vinnig en is bestand teen droogte, ryp, termiete en brak grond. Die vroulike karobbome dra n groot massa eetbare peule en saad wat baie hoog in proteïene is en wat as addisionele voer tydens somermaande aan skape en beeste gegee kan word. Bloekom, peper- en die Braziliaanse peperbome produseer ook nektar en stuifmeel vir heuningproduksie.
Immergroen bome kan tesame met bladwisselende bome wat wyer uitmekaar geplant word, binne die windskerm gevestig word. Voorbeelde is eikebome, soetpeul, populier en skaapvrug. Soetpeul is n uitstekende skaduwee boom en is ook bestand teen lae temperature, droogte, brak of suurgronde. Die peule produseer n hoë kwaliteit veevoer wanneer dit fyngemaak word om die proteïenryke sade meer verteerbaar te maak.
Veesuipings moet saam met die aanplant van skadubome beplan word. By suipings of in weikampe moet ten minste twee of meer bome aangeplant word, afhangend van die aantal vee, om n opeenhoping van diere onder n enkele boom te voorkom. Te veel mis en urine, tesame met grondkompaksie, veroorsaak dat n enkele boom sal doodgaan.
Waar bome gevestig moet word in die veld waar daar nie gereelde toesig is nie, kan diere weggehou word deur byvoorbeeld n paar doringtakke of selfs doringdraad bo-oor die boompie te pak.
Baie boere in die bos- en boomryke dele van die land neig om nuwe lande totaal te ontbloot. Bome word teen groot koste uitgehaal. Stofstorms, wind- en watererosie is direkte gevolge van die praktyk. Oeste wat op sulke nuwe lande geplant word, is dikwels blootgestel aan warm, droë winde. Nadat die oeste verwyder is, moet diere wat op die stoppels wei, die koue en hitte sonder skuiling verduur.
Dit is slegs enkele voorbeelde van die kettingreaksie van omgewingsagteruitgang en kan voorkom word indien natuurlike bome selektief op lande gelaat is as enkelbome, of in rye, om skaduwee en skuiling te verskaf en sterk winde te stabiliseer.
Onthou, die aanplant of behoud van bome op vee- of saaiplase is n gesonde boerderybeginsel.
S Steyn
ELSENBURG / WES-KAAP bosbouvoorligting