home about contact us news
Inligtingstukke   |   Elsenburg infopaks   |   Gewasse, groente: 8

Die verbouing van kopkool Engels | Xhosa

Kopkool groei die beste in koel weer, maar sekere soorte is ook aangepas vir die warmer maande. In die koeler gedeeltes van die land, waar ryp gewoonlik vroeg en laat in die seisoen voorkom, kan Glory of Enkhuizen, Kaapse Spits, Green Coronet en Gloria vanaf Januarie tot Maart geplant word en Green star en Bonanza vanaf Augustus tot Januarie.

In die warmer gedeeltes van die land, waar min tot geen ryp voorkom nie, kan Glory of Enkhuizen, Kaapse Spits, Green Coronet en Gloria vanaf Maart tot Mei geplant word en Green star en Bonanza vanaf Januarie tot Desember.

Kopkool groei die beste wanneer plantjies gekweek en dan uitgeplant word. Onthou dat koolplantjies eers op omtrent 5-6 weke reg is om uitgeplant te word. Wanneer jy byvoorbeeld in die begin van Februarie wil uitplant, moet jy die saad reeds in die middel van Desember saai.

Kopkool sal op die meeste goed gedreineerde grondsoorte groei. Dit beteken dat water nie te lank op die grond moet staan wanneer jy natmaak nie. As dit gebeur moet kompos in die grond ingewerk word. Vlak gronde op ’n harde klipperige, kleierige of kalklaag wat nie water deurlaat nie, moet ook vermy word.

Die plant benodig baie organiese plantvoedsel soos kompos en mis - sowat 4 kilogram kompos of mis per vierkante meter (m2).

Terloops, een vierkante meter (m2) is gelyk aan die grootte van ’n vierkant waarvan die sye uit grawe bestaan.

Indien ’n grondontleding nog nie gedoen is nie, kan die volgende hoeveelheid kunsmis gegee word:

met plant: 75 g 2:3:4 (30) per m2

4 weke ná plant, kan die volgende kunsmis gegee word:

25 g ammoniumsulfaat per m2, of

20 g kalksteenammoniumnitraat (KAN) per m2

Sodra die koolplante begin om koppe te maak kan die volgende gegee word:

25 g ammoniumsulfaat per m2, of

20 g kalksteenammoniumnitraat (KAN) per m2

Wees versigtig om nie die plantvoedsel aan die plante te laat raak nie, aangesien dit die stammetjie kan brand. Maak die plante so gou moontlik nat sodat die plantvoedsel in die grond kan inwas.

Voordat plant moet die grond omgespit, gelyk gemaak en kluite, klippe en onkruide uitgehaal word. Die koolplantjies word in rye uitgeplant - tussen die plantjies in die rye moet ’n spasie van ongeveer 40 cm gelaat word en tussen die rye ’n spasie van 60 cm.

Die grond waarin die plantjies gekweek is moet klam wees wanneer jy die plantjies uithaal om te verplant. Die plantjies moet versigtig uit die grond gelig word sodat die wortels nie beskadig word nie. Kies kort, stewige en gesonde plantjies om uit te plant. Wanneer die plantjies uitgehaal is, moet dit met ’n klam doek of sak toegemaak word totdat dit geplant word.

Plant verkieslik op koel, bewolkte dae of laat in die middag. Die plantjies moet in klam grond uitgeplant en die grond rondom die plantjies goed vasgedruk word. Die plantjies moet so gou moontlik water kry. ’n Grondbedekking van grassnysels, blare of strooi tussen die plantjies hou die plante langer nat en keer ook dat te veel onkruid opkom.

Indien toegelaat word dat die grond te droog word en dit word dan natgemaak, kan dit gebeur dat koolkoppe bars. In koel weer kan kopkool een keer per week natgemaak word en in baie warm weer 2-3 keer per week.

Kopkool kan geoes word sodra goed ontwikkelde harde koppe gevorm het.

Daar is veral vier soorte insekte wat die kopkoolplant gedurende die groeiseisoen beskadig: hulle is:

  • die Amerikaanse bolwurm, 

  • plantluise, 

  • diamantrug-mot, en 

  • die Bagrada-besie.

Die Amerikaanse bolwurm en diamantrug-mot vreet gate in die koolblare. Plantluise suig die sap van die plant uit en die blare raak geel en misvormd. Die Bagrada-besie vreet ook aan die blare en veroorsaak groot skade.

M Jordaan
ELSENBURG / CRADOCK proefstasie