home about contact us news
Inligtingstukke   |   Elsenburg infopaks   |   Bome: 5

Prosopis Engels | Xhosa

Kliek om te vergroot!
Vir die reisiger in die Groot Karoo en dele van Noord-Kaapland is die Prosopisboom of muskietboom ’n welkome gesig. Die boom met sy kenmerkende lang peule kan ’n hoogte van 25 m of selfs meer bereik en bied skadu aan mens en dier.

Die boom se geaardheid en besondere aanpassingsvermoë in ekstreme klimaatstoestande, saam met die hoë proteïeninhoud van die peule vir aanwending in droogtetye, het dit dan ook die aanbevole boom gemaak tot in die jare vyftig.


Kliek om te vergroot!
Die boom het sy oorsprong in die droë suidwestelike dele van die VSA, Mexiko en Chili vanwaar dit na Suid-Afrika ingevoer en gevestig geraak het. Van die verskillende Prosopis-spesies en hul basters het veral twee soorte onder Suid-Afrikaanse toestand gedy, naamlik heuningprosopis en fluweelprosopis. Die klein, geel blommetjies word in vingeragtige trosse gedra. 

Die peule wissel in skakerings van geel tot geelbruin of pers en is reguit of effens gekrom. Namate die peule ouer word, word dit houtagtig maar bars nie oop om sade vry te stel nie.


Kliek om te vergroot!
Aanvanklike vestiging begin naby waterryke gebiede en daarom vind indringing veral plaas in rivierbeddings, vloedvlaktes en naby veesuipings vanwaar dit vinnig na vlakteveld, 

Kliek om te vergroot!
voorskootveld en selfs in klipperige rande versprei.

Kliek om te vergroot!
Onder gunstige toestande produseer ’n volwasse Prosopisboom tot 1,000,000 sade per jaar. Skape en wild vreet die onverteerbare sade. Die verteringsproses bevorder ontkieming alvorens die saad in die mis uitgeskei word. Sade kan tot 10 jaar rustend in die grond lê, maar ontkiem geredelik in die mis.

Prosopis-saad word ook deur lopende water tot ver van hul oorsprong weggevoer. Prosopis kan egter ook vegetatief voortplant deur groeinodes of knoppe net onder die grondoppervlak. Indien die bogrondse gedeeltes van die plant doodgaan, kan nuwe lote uit die knoppe ontwikkel.

Prosopis het geen natuurlike vyande in Suid-Afrika nie en weens hul gehardheid word rampdroogtes maklik oorleef. Die boom is besonder goed bestand teen brakwater wat andersins geheel en al ongeskik vir landboukundige gebruik is.


Kliek om te vergroot!
Dié unieke eienskap maak Prosopis een van slegs ’n paar droëlandgewasse wat ’n groot hoeveelheid peule en brandhout kan lewer van swak gehalte water.

Veldkenners het egter in die laat sestigerjare met ’n skok tot die besef gekom dat die Prosopisboom ongekende afmetings begin aanneem het en dié voorheen gewilde boom is oornag as ’n indringer geklassifiseer.

Elke grondbewoner in hierdie land moet dus kennis neem van Prosopis en saamstaan om die indringer uit te roei. In een distrik in die Groot Karoo het dit binne 17 jaar ’n toename van meer as 400% getoon. Die gevolg is ’n ondeurdringbare stand van bome wat geen peule dra nie en ontblote grond in die plek van kosbare Karoo weiding!

Dit verklaar waarom alle Prosopis-species ingevolge die Wet op die Bewaring van Landbouhulpbronne (Wet 43 van 1983) tot indringer verklaar is.


Kliek om te vergroot!
Beheermaatreëls berus op die beginsel van voorkoming is beter as genesing. Wat meganiese beheer betref: waar ligte besmetting voorkom, kan klein boompies tydens gunstige vogtoestande met die hand uitgetrek word. Jonger bome kan met bospikke uitgekap word terwyl groot bome afgekap of gesaag word en daarna met pikke en grawe uit die grond gehaal word.

Saadvretende kewers word biologies aangewend om die indringer te bekamp. Die kewers dring die peulwand binne waarna die sade gevreet word. Die kewers is egter net ondersteunend tot ander bestrydingsmetodes.


Kliek om te vergroot!
Ten opsigte van chemiese beheer is die geregistreerde produk Tordon Super ontwikkel wat op die stamgedeelte van bome gespuit of geverf word.

Belowende resultate word verkry wanneer die boom naby die grondoppervlak afgekap of gesaag word waarna die middel aangewend word sodat dit teen die stomp afbeweeg.


Kliek om te vergroot!
Met beide meganiese en chemiese bestrydingsmetodes moet alle groeinodes of knoppe wat tot sowat 8 cm onder die grondoppervlak voorkom, permanent vernietig word om enige latere hergroei te voorkom.

Die beslissing berus by die grondbewoner - voorkom en bestry die Prosopisgevaar en verseker ’n toekoms vir jouself en jou vee, of laat dit oogluikend toe en neem vroegtydig afskeid van jou kosbaarste hulpbron.

AJ Wild & CG du Plessis
ELSENBURG / Voorligting BEAUFORT-WES, LAINGSBURG