| Inligtingstukke | | | Elsenburg infopaks | | | Meganisasie: 3 |
n Trekker se ouderdom word nie gemeet in jare nie maar in die manier waarop jy die trekker versorg! Daarom is daar sekere dinge waarna die drywer moet kyk voordat hy die trekker soggens aanskakel en ook solank hy met die trekker werk.
Indien daar n fout aan die trekker is, moet dit dadelik herstel word. Omdat daar nie altyd die nodige aandag aan die fout gegee word nie, maar aangehou word met werk, kan dit lei tot groot skade aan die trekker en gevolglike duur herstelwerk.
Dit is altyd goedkoper om n fout reg te maak sodra jy dit hoor of sien. Onthou, spyt kom te laat, en om te sê ek het nie geweet nie is n flou verskoning.
Kom ons gesels kortliks oor die vernaamste onderdele van n trekker:
![]() Kliek om te vergroot! |
Verkoelingstelsel
Die doel van die verkoelingstelsel is om te verhoed dat die enjin nie oorverhit nie. Twee tipes verkoelingstelsels word op trekkers gevind, naamlik lug- en waterverkoeling. |
By lugverkoeling word die waaier (fan) aangedryf deur n waaierband (fan belt) wat koue lug oor die enjin waai om dit af te koel. Die waaierband se speling moet nie te slap wees nie anders sal dit gly en die enjin oorverhit met gevolglike groot skade.
Kyk veral of daar krake of stukkende plekke op die waaierband voorkom. Indien wel, moet die band vervang word. Moet nie wag tot dit breek nie!
By waterverkoeling word water deur middel van n waterpomp deur die enjin gepomp waar dit warm word. Die water beweeg deur die boonste waterslang (hose pipe) na die verkoeler waar dit dan met pypies na die onderste tenk van die verkoeler (radiator) loop. Vandaar loop dit met die onderste waterslang na die waterpomp wat dan weer die water wat afgekoel is, deur die enjin pomp.
![]() Kliek om te vergroot! |
Gaan elke oggend die watervlak in die verkoeler na. Jy sal oplet dat die watervlak
effens gedaal het. Dit is egter normaal. Indien die watervlak baie laer is, is dit n teken dat daar n lekkasie is. Die lekkasie moet opgespoor en herstel word voordat groot skade aan die enjin aangerig word.
Kyk vir tekens van roes in die water. Indien wel, kan die pypies in die verkoeler toeroes en groot skade aanrig. Die verkoelingstelsel moet dus gereeld uitgespoel word en n anti-roesmiddel kan by die skoon water gevoeg word. |
Waterprop : Die doel van die waterprop (radiator cap) is om die hitte en die drukking binne die verkoelingstelsel te hou en te keer dat die water nie uitstort nie.
Indien die spring of seëls stukkend is, moet die waterprop vervang word met n nuwe.
Waaierband : Die doel van die waaierband is om die draai van die krukas oor te bring na die alternator of ontwikkelaar (generator), waterpomp en waaier.
Die waaierband se speling moet elke oggend nagegaan word. n Slap waaierband kan veroorsaak dat die battery pap word en die enjin kan oorverhit raak. Die speling is ongeveer 12-13 mm.
Die termostaat : Die termostaat kom voor waar die boonste waterslang aan die enjin gemonteer is. Wanneer die trekker soggens aangeskakel word, is die termostaat se klep toe wat verhoed dat die enjinwater na die verkoeler gepomp word. Wanneer die water in die enjin n sekere temperatuur bereik, begin die termostaat se klep oopmaak en die warm water vloei na die verkoeler waar dit dan afgekoel word. Wanneer die trekker afgeskakel word en die water begin afkoel, sal die klep toegaan.
As die termostaat foutief raak deurdat die klep nie oopmaak wanneer die enjinwater warm is nie, raak die enjin oorverhit en groot skade kan aangerig word, indien daar nie dadelik stilgehou en die enjin afgeskakel word nie.
Die klep is ook geneig om nie toe te maak wanneer die enjinwater afkoel nie. In dié geval sal die trekker se enjin nooit warm word nie met dieselfde skadelike gevolge.
Vir onverklaarbare redes maak baie mense die fout om die termostaat te verwyder. Indien n trekker sonder n termostaat loop, gebeur die volgende:
Verkoelerslange moet gereeld vir krake en stukkende plekke nagegaan en dadelik vervang word. Moenie wag tot die pyp begin lek of bars nie. Olie of diesel op die pype kan dit ook beskadig.
![]() Kliek om te vergroot! |
Die temperatuurmeter toon hoe warm die enjin is en die drywer moet die meter
gedurig dophou en toesien dat dit in n werkende toestand is.
Groot skade kan aangerig word indien die enjin oorverhit raak. Onthou, moet nie die verkoelerprop afhaal wanneer die trekker warm is nie! |
![]() Kliek om te vergroot! |
Lugsuiweraar (air cleaner)
Die doel van die lugsuiweraar is om stof op te vang, sodat skoon lug na die enjin deurgaan. Daar is twee tipes lugsuiweraars: naamlik die oliebad- en droë tipe. Die droëtipe se voorfilterglas en lugfilter element moet gereeld verwyder en skoongemaak word wanneer daar in stowwerige toestande gewerk word. Onthou om nie die klein element met wind skoon te blaas nie, want dit kan die element beskadig. Die oliebadtipe se oliebak, siwwe, pype en voorfilter moet gereeld skoongemaak word as daar in stowwerige toestande gewerk word. |
![]() Kliek om te vergroot! |
Olie
Die doel van enjinolie is om:
Die oliepomp suig die olie uit die oliebak (sump) en pomp dit teen n hoë druk deur die oliefilter (oil filter) na die verskillende enjinonderdele, waarna die olie na die oliebak terugloop. Die olievlakhoogte (oil level) moet elke oggend gemeet word voordat die enjin aangeskakel word. Hiervoor moet die trekker altyd gelykstaan. |
Indien die enjin olie kort moet dit bygevoeg word. Sorg dat die olievulprop (oil cap) en daar rondom deeglik skoongemaak word voordat dit verwyder word. Sorg ook dat die oliebeker en tregter skoon is voordat dit gebruik word.
Pas op om te veel olie in te gooi, want dit veroorsaak dat die olie by die olieseëls uitgedruk word en lekkasies kan ontstaan.
Indien die olievlak te laag is, is dit n teken dat daar te min olie in die oliebak is. Dit veroorsaak dat die smering by die enjinonderdele swak is en meer slytasie sal plaasvind.
Dit is belangrik dat die olie op die voorgeskrewe ure afgetap word. Wanneer olie afgetap word, moet die enjin warm wees sodat al die aanpaksel, vuil olie en vullis wat in die enjin en oliebak is, kan uitloop. Die trekker moet gelykstaan wanneer olie afgetap word. Wag tot al die vuil olie uitgeloop het. Maak die olieprop (sump plug) netjies skoon en maak seker dat die waster heel is. Indien die waster stukkend is, sal die prop lek.
Vul met nuwe olie tot op die boonste merk van die maatstok (dipstick). Sit die olievulprop (oil cap) op, skakel die enjin aan en laat die enjin vir 1 minuut luier. Skakel die enjin af en wag n tydjie sodat al die olie kan terugloop na die oliebak. Trek die maatstok uit en maak seker dat die olie wel by die boonste merk lê.
Die oliefilter (oil filter) suiwer die olie voordat dit na die enjin se onderdele beweeg. Die oliefilter moet vervang word elke keer wanneer die trekker se olie afgetap word.
![]() Kliek om te vergroot! |
Daar is twee tipes oliefilters naamlik die indraai- en die los element.
Die indraaitipe word met die hande losgedraai of met n oliefilterband (oil filter strap) losgedraai. n Ou oliefilter moet nooit weer gebruik word nie. Voordat die nuwe oliefilter ingedraai word, maak seker dat die rubberseël op die oliefilter goed in die gleuf pas. Smeer n bietjie skoon olie aan die rubberseël. Draai die oliefilter met die hand stewig vas. Skakel die enjin aan en kyk of die oliefilter nie lek nie. Die los elementtipe word los in n dop geplaas wat deur middel van n bout aan die enjin gemonteer word. Hierdie tipe oliefilters word nog net by die ouerige trekkers gevind. |
Draai die bout los en verwyder die dop. Haal die ou element uit en gooi dit weg. Maak die dop deeglik skoon. Voordat die nuwe element in die dop geplaas word maak seker dat die spring en waster onder in die dop is. Plaas die nuwe element in die dop. Sorg dat die nuwe seel in die gleuf pas. Pas die dop met die element in die gleuf en draai die bout goed vas. Skakel die enjin aan en kyk of die oliefilter nie lek nie.
![]() Kliek om te vergroot! |
Die olieliggie moet altyd brand wanneer die trekker met die sleutel aangeskakel word. Indien die liggie nie brand nie moet dit eers herstel word.
Dit is ook belangrik dat die drywer die liggie moet dophou solank daar met die trekker gewerk word. Indien die liggie sou aankom, moet die trekker dadelik afgeskakel en die probleem gesoek word. Die oliemeter (oil gauge) moet altyd in n werkende toestand wees. n Stukkende oliemeter kan die trekkerdrywer nie waarsku indien daar n fout by die oliestelsel is nie. |
![]() Kliek om te vergroot! |
Battery
Die battery voorsien krag aan al die elektriese onderdele van die trekker. Batterywater moet elke oggend nagegaan word. Maak die battery bo-op skoon voordat die proppies verwyder word. Verwyder die proppies en kyk of daar genoeg water in al die selle is. Maak met gedistilleerde water (battery water) vol tot bokant die plate. Indien die selle te vol is, sal dit uitkook en die suur sal skade aanrig as dit op metaal val. Sorg dat die batteryklampe (battery terminals) en pole skoon is. Wanneer die klampe (terminals) verwyder word, moet die gronddraad eerste afgehaal word. Indien die kragdraad eerste afgehaal word en die sleutel raak teen die yster sal n kortsluiting plaasvind en dit kan die alternator of ontwikkelaar beskadig. Maak die klampe met n oplossing van water en koeksoda skoon deur dit in n blikkie te gooi en die klampe vir n rukkie daarin te laat lê. |
Indien daar van die klampe is wat weggevreet is deur batterysuur (battery acid), moet dit vervang word. Sorg dat jy die regte klamp opsit want die positiewe (positive) klampe se gat is groter as die negatief (negative). Wanneer die klampe teruggeplaas word op die battery moet die kragdraad eerste opgesit word.
Wanneer n battery uitgehaal word, moet dit nooit op koue sement geplaas word nie. Sit die battery op n plank as dit op n sementvloer moet staan.
Die alternator- of ontwikkelaar liggie moet altyd brand wanneer die trekker met die sleutel aangeskakel word. Indien die liggie nie brand nie moet dit eers herstel word voordat daar met die trekker gewerk word.
Nadat die enjin loop, moet die liggie doodgaan. Indien die liggie bly brand, moet die fout gesoek en herstel word voordat daar met die trekker gewerk word.
Wanneer met die trekker gewerk word en die liggie begin brand, moet dit dadelik herstel word. Indien nie, sal die battery afloop.
![]() Kliek om te vergroot! |
Alternator- of ontwikkelaar meter: Wanneer die trekker aangeskakel word, moet die naald beweeg om aan te toon dat die alternator of ontwikkelaar laai. Indien nie, sal die battery afloop. |
Diesel
Die trekker se dieseltenk moet saans volgemaak word as die trekker warm is. Indien die dieseltenk nie vol is nie, sal die tenk gedurende die nag aan die binnekant sweet wat die dieselsisteem kan benadeel.
Die trekker moet altyd gelyk staan as die dieseltenk volgemaak word. Maak die dieseltenk se prop en daar rondom skoon voordat die prop (cap) verwyder word.
Maak die pyp se bek skoon voordat diesel ingegooi word. Moenie die tenk in die somer te vol maak nie. As die trekker in die warm son staan, kan dit gebeur dat diesel by die prop uitgestoot word. Onthou: moet nooit rook solank die tenk gevul word nie.
Dieselfilters suiwer die diesel voordat dit na die inspuitpomp (injector pump) gaan.
Die dieselfilters moet op die voorgeskrewe ure vervang word. Indien nie, sal die filters verstop raak en die trekker gaan staan. Wanneer dieselfilters vervang moet word, moet die kraantjie by die dieseltenk eers toegedraai word.
![]() Kliek om te vergroot! |
Daar is drie tipes dieselfilters, naamlik:
|
Die los-elementtipe word meesal op ouerige trekkers gevind. Die filter word op dieselfde manier verwyder en gemonteer as die olie-filter.
Voordat die metaaltipe filter verwyder word, moet die filter en daar rondom eers skoongemaak word. Draai die boutjie wat bo-op die filter is, los. Verwyder die onderste dop en die metaalfilter. Verwyder alle rubberseëls. Maak die onderste dop skoon. Plaas die nuwe seels, metaalfilter en onderste dop in posisie en draai die boonste boutjie in en vas.
Die indraaitipe word op dieselfde manier verwyder en gemonteer as die oliefilter.
Die bloei van die dieselsisteem : Wanneer die dieselfilters vervang word, moet die dieselsisteem gebloei word om lug uit die sisteem te verwyder. Begin altyd by die dieselfilters. Draai die kraantjie by die dieseltenk oop. Draai die lugklep bo-op die filter effens los. Pomp die brandstofpompie deur die hefboom op en af te druk. Hou aan met pomp totdat skoon diesel by die lugklep uitspuit. Draai die lugklep weer toe.
![]() Kliek om te vergroot! |
Koppelaar (clutch)
Die leeftyd van n koppelaar hang van die trekkerdrywer af. Die trekkerdrywer moet nie met sy voet op die koppelaarpedaal (clutch pedal) ry nie. Dit is nie n rusplek vir n voet nie. Deur met die voet op die pedaal te ry kan groot skade aan die koppelaaronderdele aangerig word. Wanneer n trekker vasval en die trekkerdrywer probeer dit self uitkry, kan hy met al die sukkel die koppelaar uitbrand en groot skade aanrig. Dit is goedkoper en gouer om n ander trekker te kry om die trekker uit te sleep. |
![]() Kliek om te vergroot! |
Brieke
Die briekpedale moet altyd aanmekaar gekoppel wees as daar gewoonweg gery word. Sorg dat die rempedale ewe hoog vat. Om dit te toets moet die pedale van mekaar ontkoppel word. Druk die pedale met albei hande af. Indien die een pedaal laer is, moet daardie rem opgestel word totdat albei pedale ewe hoog is. Hierdie tipe verstelling word net by meganiese remme gedoen. |
Indien die trekker n hidrouliese remstelsel het, moet die remvloeistofhoogte (brake fluid hoogte) in die reservoir elke oggend nagegaan word.
As remvloeistof gereeld bygevoeg moet word, is dit n teken dat daar n lekkasie is. Die lekkasie moet gesoek en herstel word.
Wanneer daar geen remvloeistof in die reservoir is nie, is daar ook geen remme nie. Wanneer die reservoir volgemaak word, moet die remstelsel eers gebloei word omrede daar lug in die remstelsel is.
Handbriek: Die beste manier om die handrem te toets is om die trekker teen n skuinste te trek met die handrem vas. Indien die trekker beweeg, met die handrem vasgetrek, moet dit dadelik herstel word.
Ratkas en ewenaar (Diff and gearbox)
In die ratkas en ewenaar is baie ratte en laers (bearings). Die olievlakhoogte (oil level) moet gereeld nagegaan word om te verhoed dat daar te min olie in die ratkas en ewenaar is.
Sorg dat die prop of oliemaatstok (oil dipstick) skoon is voordat dit verwyder word. Indien olie benodig word, vul slegs aan tot by die merk.
Hidrouliese filter
Aangesien die filter die olie moet suiwer voordat dit na die driepuntstelsel gaan, moet die filter gereeld skoongemaak of vervang word voordat dit verstop raak. Indien die filter verstop raak, kan die olie nie deur die filter gaan nie en die driepunt sal nie die implement kan oplig nie.
![]() Kliek om te vergroot! |
Stuur
Wanneer die speling by die stuurwiel groter word, moet daar vasgestel word waar die slytasie is. Om dit te doen moet die voorwiele op die grond staan en die stuurwiel heen en weer gedraai word. Wanneer die trekker n kragstuur het, moet die trekker eers aangeskakel word voordat die stuurwiel heen en weer gedraai word. |
Die stuurkas (steering box) se olievlakhoogte (oil level) moet gereeld nagesien word. Gooi altyd die regte tipe olie in.
Wanneer die trekker n kragstuur het moet die olievlakhoogte ook gereeld nagesien word. Indien verkeerde olie gebruik word, sal die kragstuur nie reg werk nie.
Ghries
Voordat geghries word, moet die ghriesnippels eers skoongemaak word. Indien daar van die ghriesnippels verstop is, moet dit uitgedraai en die gaatjie met wind skoongeblaas word.
![]() Kliek om te vergroot! |
Bande
Kyk gereeld na die banddruk veral wanneer n implement aan die driepunt gehaak word en dit word van die grond opgelig. Pap bande veroorsaak dat dit beskadig word en die trekker meer brandstof gebruik. By voorwiele kan dit veroorsaak dat die stuur moeilik draai wat nadelig vir die stuurstelsel is. Indien krake en stukkende plekke op bande voorkom en dit word dadelik herstel, kan baie geld later bespaar word. |
Indien die kappe van agterbande weggeslyt is, sal die trekker net gebruik kan word vir sleepwerk op die pad. Sorg dat daar altyd genoeg water in die agterwiele is. Indien nie en daar word geploeg, sal die agterwiele baie glip, die bande baie gou slyt en die trekker sal baie brandstof gebruik.
Wanneer die wiel met water gevul word, moet dit met n domkrag (jack) van die grond opgelig word met die klep na bo. Indien te veel water in die wiel ingelaat is, wag totdat al die oortollige water by die klep uitloop. Draai die klep in en pomp die wiel op. Sorg daarna vir die korrekte hoeveelheid lug in die band.
Ghries, diesel of olie op bande kan dit beskadig.
![]() Kliek om te vergroot! |
Veiligheid
Vir jou eie veiligheid onthou die volgende:
|
D Louw
ELSENBURG / Opleiding