home about contact us news
Inligtingstukke   |   Elsenburg infopaks   |   Diere, bestuur: 5

Praktiese wenke vir doeltreffende varkboerdery Engels | Xhosa

Kliek om te vergroot!
Rasse

Die bekendste inheemse varkras is die Kolbroek wat vermoedelik vanuit Asië na Suid-Afrika gekom het. Algemene moderne suiwer rasse sluit die Groot Wit en Landras in.


Kliek om te vergroot!
Reproduksie

Die sog is ongeveer 116 dae (3 maande, 3 weke en 3 dae) dragtig. Die gemiddelde werpselgrootte is 8-10. Die kleintjies word op 35 dae gespeen.

Die sog kom 4-6 dae na speen op hitte en moet dan ten minste twee maal oor ’n 12-24 uur-periode deur ’n beer gedek word vir doeltreffende reproduksie. As die sog dan nie bevrug is nie, moet sy binne 21 dae weer gedek word. Bronstigheid by die sog word bevorder as daar kontak met die beer is. Jong sôe word die eerste maal op ongeveer 7-8 maande op ongeveer 100 kg gedek, terwyl bere ook vir die eerste maal op hierdie ouderdom gebruik word. Een beer word gebruik vir elke 12 sôe. Dit is belangrik dat seker gemaak word dat die beer vrugbaar is en dek.


Kliek om te vergroot!
Voeding

Die voedingsbehoeftes van varke verskil in die verskillende lewensfases. Algemene riglyne vir die hoeveelheid en kwaliteit voer wat aan die dier voorsien moet word tydens verskillende lewensfases is soos volg:

Stadium Varke voor speen Speenvarke
Ouderdom 0 - 35 dae 35 - 56 dae
Massa 1.5 - 9kg  9 - 20kg
Inname 50 - 250g per dag ± 800g per dag
Proteïeninhoud 21% proteïene 18% proteïene

 


Kliek om te vergroot!
Stadium Groeivarke Afrondvarke
Ouderdom 56 - 110 dae 110 - 160 dae
Massa 20 - 50kg 50 - 90kg
Inname ± 1.9kg per dag ± 3kg per dag
Proteïeninhoud 16% proteïene 15% proteïene

 


Kliek om te vergroot!
Stadium Droë sôe en bere Lakterende sôe
Voerperiode 285 dae per jaar 80 dae per jaar
Massa 140 - 200kg 140 - 200 kg
Inname ± 4kg per sog per dag vanaf speen tot dekking. Algemeen 2kg per sog per dag vir die dragtigheidsperiode. 2kg plus 0.4kg per varkie tot 8kg per dag
Proteïeninhoud 13% proteïene 16% proteïene

 


Kliek om te vergroot!
Die dieet kan grane (byvoorbeeld mielie, koring, gars, korog), vleis en visprodukte, melk asook proteïenbronne, soos lupiene, bone en erte, insluit. Vir doeltreffende produksie moet die dier ’n gebalanseerde dieet met genoeg energie en proteïen ontvang. Voldoende skoon drinkwater moet altyd beskikbaar wees. Lakterende sôe suip veral baie water.

Produktiwiteit

Elke sog kan onder normale omstandighede gemiddeld 2,2 werpsels per jaar grootmaak. Dit verteenwoordig ongeveer 20 varkies per sog per jaar. Indien al die kleintjies tot 90 kg grootgemaak word, kan een sog dus tot 1800 kg lewende massa of 1400 kg vleis per jaar lewer. Hierteenoor is die voerinname per sog ongeveer 1,2 ton per jaar en kan elke vark soveel as tot 270 kg voer opvreet om ’n massa van 90 kg te bereik.


Kliek om te vergroot!
Seleksie
  • Teelsoggies word op 5 - 6 maande-ouderdom of 100 kg lewende massa uitgesoek.
  • Elke sog moet ses gesonde, goedgeplaaste spene aan elke kant hê.
  • Die bene moet reguit en goed geplaas wees. ’n Lang lyf en goeie pote is belangrik.
  • ’n Sog word gewoonlik uitgeskot na sy 6-8 werpsels gelewer het. Indien produksie onbevredigend is, word die sog gewoonlik vroeër uitgeskot.

Kliek om te vergroot!
Algemene versorging
  • Vyftig persent van alle vrektes by varke geskied voor speen, veral gedurende die eerste twee dae na geboorte. Dit is belangrik dat die jonghok so ontwerp moet wees dat die sog nie bo-op die kleintjies kan lê nie.
  • Dit is belangrik dat die jonghok deeglik ontsmet word voordat die sog daarin geplaas word; dit is een week voor jong.
  • Spesiale aandag moet aan die kleintjies gegee word.
  • Die punte van die tandjies moet op ongeveer 3 dae geknip word.
  • Ysterinspuitings moet aan die kleintjies gegee word, wanneer sôe binnenshuis jong.
  • Diarree is een van die grootste oorsake van produksieverliese by klein varkies. Voorkom dit deur skoon, ontsmette jonghokke en beddegoed te voorsien. By ernstige diarree moet die nodige medikasie toegepas word.
  • Die sog moet gedurig dopgehou word vir mastitis en melkprobleme.
  • ’n Volledige inentingsprogram moet gevolg word om diere voorkomend teen moontlike siektes te beskerm.
  • Sôe behoort 3 - 4 weke voor jonging teen inwendige parasiete gedoseer te word.

TS Brand
ELSENBURG / Navorsing