home about contact us news
Inligtingstukke   |   Elsenburg infopaks   |   Diere, siektes: 6

Rooiwater Engels | Xhosa

Kliek om te vergroot!
Rooiwater is een van die belangrikste siektes van beeste in Suidelike Afrika. Gedurende 1972 is byvoorbeeld 10 000 beeste in Transkei aan die siekte dood.

Die siekte word deur besmette bloubosluise oorgedra. Bloubosluise kom voor in die hoër reënval dele van die land soos Wes- en Oos-Kaap, Kwazulu-Natal en Mpumalanga. Alle beesrasse is vatbaar vir rooiwater maar inheemse rasse soos Ngunis en Sangas is meer bestand teen die siekte.


Kliek om te vergroot!
Die "kiem" (organisme) beland in die bees se bloedstroom deur die byt van die bosluis, waar dit rooibloedselle vernietig. Tekens van hoë koors, aptytverlies, lusteloosheid, swakheid, maagwerk, rooi uriene (=rooiwater) en geelsug, as die dier lank genoeg leef, is algemeen. Soms vrek die dier voordat enige siektetekens waargeneem kan word. 

Senusimptome soos oorgevoeligheid, sirkelbewegings, aggressie, stuiptrekkings en verlamming is ook soms eie aan rooiwater.

Die diagnose van rooiwater word bevestig deur ’n bloedsmeer vir parasiete te ondersoek. Dis belangrik om ’n bloedsmeer te ondersoek want ’n paar ander siektes kan met rooiwater verwar word, bv. bosluisgalsiekte (anaplasmose), leptospirose en koper- of koolvergiftiging.

Die beheer van rooiwater is gebaseer op twee aksies naamlik die enting van jong diere en bosluisbeheer.


Kliek om te vergroot!
Eerstens kyk ons na enting as beheermetode:

In gebiede waar besmette bosluise teenwoordig is, sal die meeste kalwers op ’n jong ouderdom besmet raak, maar weens ’n kalf se natuurlike weerstand teen dié siekte toon hul min of geen siektetekens en herstel vinnig waarna hulle immuun is teen die siekte vir ’n wisselende tydperk van enkele jare tot feitlik lewenslank afhangende van die bosluislading op die plaas.

Aangesien bosluisgetalle egter nie beheer kan word nie, is dit daarom veiliger om alle kalwers teen die siekte te ent.


Kliek om te vergroot!
Rooiwater entstowwe bevat lewendige organismes wat ouer diere ernstig siek kan maak of selfs laat vrek. Ent kalwers tussen 3 en 9 maande ouderdom, aangesien jong diere selde ernstige simptome ontwikkel. Nogtans moet geënte diere vir 2-3 weke na enting fyn dopgehou word. Indien ’n dier siek word moet dit dadelik behandel word. U is welkom om u naaste veearts in die verband te nader.

Onthou, immuniteit ontwikkel eers sowat 4 - 6 weke na enting. Dit is dus belangrik om diere ten minste 2 maande voordat hulle na ’n rooiwater gebied geneem word, te ent.


Kliek om te vergroot!
’n Tweede beheermetode is bosluisbeheer. Dit moet daarop gemik wees om ’n stabiele siektesituasie te probeer skep, met ander woorde, waar daar genoeg besmette bosluise is om jong kalwers te sout (immuniseer) en so te voorkom dat ouer diere siek word. Dit is natuurlik ook meer koste-doeltreffend aangesien bosluisbeheermaatreëls verslap kan word. Indien volwasse diere egter siek word, dui dit daarop dat jong diere nie aan voldoende besmette bosluise blootgestel word om effektief te sout nie wat dui op ’n onstabiele siekte-situasie, met ander woorde te streng bosluisbeheer.

DH de Lange
ELSENBURG / GEORGE Veeartsenydienste