home about contact us news
Inligtingstukke   |   Elsenburg infopaks   |   Diere, bestuur: 4

Hoefversorging en beslaan van die trekdier Engels | Xhosa

Kliek om te vergroot!
Hoefversorging is belangrik vir veral twee redes:
  1. Trekdiere word onder kunsmatige omstandighede aangehou, dikwels in klein ruimtes en redelike nat toestande.
  2. Daarby word trekdiere gebruik vir werk wat hoër eise aan die hoewe stel as wat die geval sou wees as diere slegs normaal rondbeweeg soos wanneer hulle wei. Die beperkte ruimte asook nat toestande voorkom dus normale afsluiting van die hoef en kraal- of staltoestande sonder korrekte sorg is dikwels ideale omstandighede vir hoefverrotting.

Kliek om te vergroot!
Wat bedoel ons met goeie hoefversorging?

Dit beteken dat die hoewe van die trekdier so na as moontlik aan die natuurlike vorm en hoek behou moet word. Ons sal dus van basiese hoefgereedskap soos ’n hoefkrapper, ’n hoefmes, ’n rasper en ’n knipper gebruik moet maak. Ook moet die soepelheid van die hoef behou word deur te nat of te droë toestande te voorkom. In dié geval kan ’n goeie hoefolie baie handig wees. As trekdiere oor lang afstande en op klipperige terrein gebruik word mag die aansit van hoefysters noodsaaklik wees.

Vullens van trekdiere moet van jongs af geleer word om hulle pote op te tel sodat hoefversorging gedoen kan word. Begin met die hoefkrapper en krap alle los materiaal soos klippies en mis uit die hoef. Hoewe wat stink is ’n aanduiding van verrotting.


Kliek om te vergroot!
Gebruik die hoefmes en sny alle dooie weefsel weg sodat die hoef van onder skoon en wit vertoon. Let veral op bloedblase en krake waaruit etter vloei.

Kliek om te vergroot!
Knip dan die oortollige hoef af - dit is dié gedeelte wat bokant die sool van die hoef uitstaan. By perde word die voorpunt van die hoef nie korter as viervinger diktes geknip nie. Ten einde die hoefhoek onveranderd te laat word minder van die agterkant van die hoef geknip.

Kliek om te vergroot!
Die hoefhoek is dié hoek wat gevorm word deur die middel van die kootbene en die hoef. Die ideale hoef lyk asof dit ’n verlenging van die middel van die koot is.

Kliek om te vergroot!
Nadat die hoef op die vereiste lengte en korrekte hoek geknip is, word dit aan die onderkant gelyk gerasper. Om te voorkom dat die hoef onnodig bars, word die hoefrande rond gerasper.

Basiese beginsels om te onthou is die volgende:

  • Verwyder daagliks alle klippies en vreemde materiaal uit die hoef voor die dier gebruik word. Gaan draf dan met die dier. Indien enige mankheid voorkom, moet dit nie gebruik word nie.
  • As bloedblase onder die hoewe van die trekdier voorkom, oorweeg dit om die diere te beslaan.

Kliek om te vergroot!
  • Gereelde olie van die hoewe sal barste voorkom
  • Indien die hoef oop en plat vertoon, knip dit so kort as moontlik en rasper die hoef rond.
  • Indien krake voorkom wat by die haarlyn begin, moet die hoewe geolie word.
  • As die trekdier se hoef by aanraking warm is, moet die dier nie gebruik word nie. Onttrek alle pitvoer dadelik uit die voer
  • As die hoewe van die diere sleg ruik, maak dit deeglik skoon en sny alle verrotte dooie materiaal weg. Wend daarna ’n swamdodende middel aan die hoef.
  • Moenie die muishare van die trekdiere kort afskeer nie.
  • Droog die kootgedeelte af wanneer die trekdier tydens werk baie sweet.
  • Moenie ’n trekdier met pitkos oorvoer nie, en moenie koue water aan warmgewerkte diere gee nie.

Kliek om te vergroot!
  • Lei alle diere altyd deeglik koud na werk of voordat hulle gevoer word.
  • Onthou: die hoef van die trekdier bestaan nie uit dooie materiaal nie en kan vergelyk word met die nael van ’n mens. Dink maar hoe ongemaklik is ’n lang nael of hoe pynlik is ’n gebarste of blou nael.

’n Laaste gedagte: as jy vir jou trekdier omgee, sal jy sy hoewe altyd goed versorg.

AG Erasmus
ELSENBURG / KLEIN KAROO LOS