| Inligtingstukke | | | Elsenburg infopaks | | | Diere, bestuur: 3 |
![]() Kliek om te vergroot! |
Met die begrip teling vir beter produksie, word bedoel die veredeling of verbetering van die ras vir spesifieke eienskappe. Kortom beteken dit dat beter diere teruggehou word as ouers vir die volgende geslag, terwyl die swakker diere nie vir verdere teling gebruik word nie.
Verbetering deur teling is nooit so skouspelagtig soos byvoorbeeld n goeie reënjaar met baie kos nie, maar is permanent van aard. Die goeie of beter eienskappe word dus van geslag tot geslag oorgedra. Verbetering in produksie deur teling word die maklikste bewerkstellig deur beter of meerderwaardige ramme te gebruik. Die ram dra die helfte by tot die produksie-eienskappe van elke lam, met ander woorde die nageslag. |
![]() Kliek om te vergroot! |
Dit kan soos volg voorgestel word: (sien skets
langsaan)
Aangesien een ram 30 tot 50 ooie per seisoen dek, is die bydrae van die ram tot die totale nageslag aansienlik. By n totale nageslag van 50 ooie, met eenling-lammers, is die ram se bydrae dus 50% en elke ooi se bydrae slegs 1%. |
![]() Kliek om te vergroot! |
Deur swak ooie jaarliks met goeie ramme te paar, sal die nageslag na 4 geslagte of (generasies) feitlik totaal die eienskappe van die ramme besit.
Om goeie vordering met teling te maak, moet slegs die beste diere vir verdere teling gebruik word. Diere kan egter nie gelyktydig vir baie eienskappe gekeur of geselekteer word nie. Besluit dus op n spesifieke eienskap en keur of selekteer die diere daarvoor. Diere wat nie vir die eienskap slaag nie, word geprul en geslag of verkoop. By skape of bokke word ongeveer die helfte van die ooilammers elke jaar vir verdere teling teruggehou. Speenouderdom is n goeie tyd om diere vir liggaamsmassa te keur. Ouer ooie, met ander woorde ouer as 8 jaar of na 6 lamseisoene, ooie wat uierprobleme ontwikkel het of ooie met ander ooglopende gebreke, word dan uitgeskot. Oorslaan ooie kan reeds op n vroeër stadium uitgeskot word. |
![]() Kliek om te vergroot! |
Dit is belangrik om diere uit te soek of te selekteer vir eienskappe wat ekonomiese waarde het, soos vleisproduksie,
wolproduksie en melkproduksie. By vleisskape en boerbokke is vleisproduksie en reproduksie die belangrikste eienskappe waarvoor geselekteer word. By melkbokke is dit melkproduksie en reproduksie. By wolskape is wolproduksie, wolkwaliteit of veseldikte en reproduksie die belangrikste eienskappe.
Die eienskap waarvoor die diere uitgesoek word, moet meetbaar wees. n Boer wat graag goeie vleisskape wil teel, sal byvoorbeeld n skaal besit om sy diere tydens seleksie te kan weeg. |
![]() Kliek om te vergroot! |
Alle eienskappe waarvoor diere uitgesoek word, word egter nie ewe goed na die nageslag oorgeërf nie. Sekere eienskappe soos
vleis-, wol- en melkproduksie is hoog oorerflik, terwyl vrugbaarheid laag oorerflik is. Diere wat vir teling gebruik word, moet op die hoog oorerflike eienskappe uitgesoek word. By uitsoek word die diere met ernstige foute soos te min spene, inrolspene, n swak bek, swak rug en swak bene eerste uitgeskot. Die goeie diere word dan uit die res uitgesoek.
Die omgewing waar die dier wei, beïnvloed ook sy genetiese potensiaal. |
![]() Kliek om te vergroot! |
By swak voedingsomstandighede kan die dier nie voldoende groei nie. Die dier moet daarom ook by sy omgewing aangepas wees. Dit is daarom belangrik om te onthou dat "nuwe bloed" nie noodwendig die oplossing is nie.
Plaaslike diere is aangepas by hul omgewing en besit gewoonlik ook besondere eienskappe. Hierdie eienskappe word na die nageslag oorgedra en dra by tot die beter produksie van die nageslag.
Wanneer diere wat naby verwant is, met ander woorde familie is van mekaar, vir teling gebruik word, praat ons van inteling. Dit gebeur maklik dat inteling n swak nageslag lewer. Wanneer diere van verskillende rasse gebruik word, praat ons van basterkrag en word n nageslag met beter produksie-eienskappe normaalweg verkry. Die basterkrag geld egter net vir die eerste nageslag, en word nie na hulle verdere nageslagte oorgedra nie. Om inteling te bekamp, moet ramme nie langer as twee dekseisoene in dieselfde vryweidende kudde gebruik word nie. Na twee dekseisoene kom die ram gewoonlik by sy eie nageslag. Een derde van die ramme word gewoonlik jaarliks deur aangekoopte ramme vervang. |
![]() Kliek om te vergroot! |
Die algemene beginsel van teling en seleksie berus op die volgende:
Die nageslag van diere presteer meestal gemiddeld. Enkele diere presteer uitsonderlik goed en enkeles uitsonderlik swak. Die uitsonderlik goeie diere word gebruik vir verdere teling. |
TS Brand
ELSENBURG / Navorsing