| Inligtingstukke | | | Elsenburg infopaks | | | Diere, voeding: 2 |
![]() Kliek om te vergroot! |
Die hoofdoel van kleinveeboerdery is om lammers te produseer. Die meeste lammers word verkoop, terwyl n gedeelte vir verdere teling teruggehou word. Die winsgewendheid van die boerdery word hoofsaaklik bepaal deur die aantal lammers wat speenouderdom of slagouderdom bereik. Kortom, die lammeroes bepaal hoeveel geld die boer gaan maak. |
Voeding is die belangrikste faktor wat die produksievlak van die diere beïnvloed. Voeding is dwarsdeur die jaar belangrik, maar spesiale aandag moet veral aan sekere produksiestadiums gegee word. Die totale voedingsbehoefte tydens sekere stadiums is tot drie maal hoër as tydens die droë periode. Dit is hierdie produksieperiodes wat belangrik is.
Voeding is n belangrike faktor wat die geslagsaktiwiteit van die ooi beïnvloed. Die kondisie van die ooie tydens paring het n groot invloed op die aantal ooie wat gedurende die paringseisoen beset gaan raak en gaan lam.
![]() Kliek om te vergroot! |
n Ander belangrike periode is laatdragtigheid of die laaste 6 - 8 weke voor lam. Voeding gedurende hierdie periode het n besondere groot invloed op die grootte en oorlewingsdrang van die lam by geboorte.
Ondervoeding tydens hierdie periode kan lei tot klein en swak lammers en lae melkproduksie by die ooi. Bo en behalwe voedingstowwe wat vir die groei van die ongebore lam benodig word, vind uierontwikkeling en die produksie van bies ook gedurende die laaste 3 weke van dragtigheid plaas. |
Aan die anderkant is oorvet ooie ook ongewens. Hulle lam moeilik as gevolg van té groot lammers en die aansameling van vet in die geslagskanale van die ooi. Oorvet ooie kry ook maklik domsiekte as daar n skielike kosskaarste ontstaan.
![]() Kliek om te vergroot! |
Die voedingsbehoefte van die ooi is die hoogste wanneer die lam soog. Voeding tydens hierdie periode is belangrik vir goeie melkproduksie en bepaal ook hoofsaaklik die groeitempo van die lam. Die oorlewingskanse van die lam gedurende die eerste 2 - 3 maande is ook grootliks afhanklik van die voeding van die ooi tydens hierdie periode. |
Lammers moet so gou moontlik na geboorte suip en bies inkry. Lammers wat na geboorte nie bies gekry het nie, kan of bevrore skaapbies (ontdooi en effens verwarm) of koeibies, gegee word.
![]() Kliek om te vergroot! |
In noodgevalle kan kunsbies aan lammers gegee
word. Kunsbies bestaan uit 1 liter volmelk, 1 geklitste eier, 1
eetlepel suiker en 1 eetlepel kookolie wat deeglik geklop en verwarm
is tot liggaamstemperatuur.
Die kleinveeboer wil gewoonlik soveel ooie as moontlik aanhou. Te veel diere per oppervlakte stel egter baie hoë eise aan die veld sowel as aan die diere. |
![]() Kliek om te vergroot! |
Dit is veral ooie wat n lam moet grootmaak wat dan baie swaar kry. Skape en bokke kan wel vinnig herstel na n periode van voedingskaarste maar voldoende voeding is belangrik vir die dier tydens die kritieke periodes soos paring, laatdragtigheid en laktasie. Voldoende voeding tydens hierdie periodes is noodsaaklik vir goeie produksie oor die lang termyn. |
TS Brand
ELSENBURG / Navorsing