home about contact us news
Inligtingstukke   |   Elsenburg infopaks   |   Diere, voeding: 1

Praktiese wenke vir die voeding van weidende skape en bokke Engels | Xhosa

Kliek om te vergroot!
Skape is wêreldwyd hoofsaaklik van weidings afhanklik vir hul voeding. In die geheel gesien, het die verbetering van skaapproduksie deur middel van voeding dus eerstens met die verbetering van die beskikbare weidings te doen.

Verder kan doeltreffende benutting van die weiding bewerkstellig word deur oordeelkundige aanvulling van tekorte en byvoeding gedurende voedingskaarstes. Alhoewel ’n verskeidenheid voedingstowwe belangrik is wanneer aanvulling tot die veld gedoen word, bly die hoofkomponente energie en proteïene.


Kliek om te vergroot!
Energiebronne wat algemeen gebruik word, is mielies, gars, triticale of korog, voerkoring, hawer en rog.

Kliek om te vergroot!
Proteïenbronne wat algemeen gebruik word, is lusernhooi, lupiene, oliekoekmeel en vismeel. Ureum word gebruik as ’n nie-proteïenstikstofbron.

Wanneer die kwaliteit van die weiding gedurende die droë maande laag is, wys proteïene gewoonlik eerste ’n tekort. Energie en proteïen word in die meeste gevalle in kombinasie voorsien wanneer die voorsiening van kos min is. Dit is belangrik om te onthou dat grane gou suurpens by skape en bokke veroorsaak. 1 kg gebluste kalk op 100 kg graan, deeglik gemeng met die graan, werk suurpens teen en verbeter die benutting van die graan. Diere moet ook geleidelik aangepas word deur aanvanklik min graan te gee.


Kliek om te vergroot!
Wanneer skape en bokke gevoer word, moet genoeg ruvoer (hooi, strooi of weiding) beskikbaar wees.

Ureum is giftig wanneer kleinvee te veel daarvan inneem. Sorg moet gedra word dat skape en bokke nie meer as 10-14 gram / dag daarvan inneem nie. Ureum word gewoonlik in lekke saam met ander bestanddele gebruik. Sout word dan bygevoeg (20-40%) om inname te reguleer. Dit is baie belangrik om te onthou dat indien dit reën op ureumlekke in digte, oop bakke en die diere van dié water drink, hulle gou vergiftig word en vrek.


Kliek om te vergroot!
Die volgende algemene lek kan gebruik word wanneer die veld se waarde laag is in die droë tyd en diere byvoorbeeld laat-dragtig is of lammers soog:
  • Graanmeel 570 kg
  • Vismeel / oliekoekmeel 143 kg
  • Lupienmeel / oliekoekmeel 78 kg
  • Ureum 37 kg
  • Gebluste kalk 15,5 kg
  • Melasse of melassemeel 15 kg
  • Swawel 1,5 kg
  • Sout 140 kg

Hierdie lek kan op die veld of weiding teen 200g per ooi per dag tydens dragtigheid en teen 400g per ooi per dag gedurende laktasie voorsien word.

TS Brand
ELSENBURG / Navorsing