| Inligtingstukke | | | Elsenburg infopaks | | | Gewasse, groente: 6 |
Waatlemoene aard die beste op nuwe, vrugbare sand- leemgronde met n hoë humusinhoud. Die grond moet goed gedreineer wees. Swaar gronde moet vermy word. n Redelike soet grond is verkieslik.
Drie waatlemoenpitte word per gat van 5 cm diep geplant. Dit kan later uitgedun word. Die plantwydte wissel tussen 50-60 cm vanmekaar in die ry en 150-200 cm tussen rye. Die volgende waatlemoencultivars word aanbeveel: Charleston Grey, Sweet Princess, Crimson Sweet en Kongo.
In die Suid- en Wes-Kaap kan waatlemoene in September / Oktober geplant word en in die Noord-Kaap nog vroeër, afhangende van die temperature. Moet egter nie plant voordat die grondtemperatuur hoog genoeg is nie. Voor planttyd word n bemesting van 500 kg 2:3:4 per hektaar aanbeveel, asook twee toedienings van 100 kg KAN waarvan die eerste twee weke na plant en die tweede een 2 - 3 weke later toegedien word. Wanneer die eerste vroulike blomme verskyn kan n kalsiumnitraat blaarbespuiting toegedien word, indien beskikbaar.
Vloedbesproeiing word verkies om blaarsiektes tot n minimum te beperk. Besproei voor planttyd tot op n diepte van 1,5 - 2m aangesien die wortels tot daardie diepte kan deurdring. In warm en droë gebiede moet een goeie besproeiing elke 14 dae gegee word. Ligte besproeiings wat kort-kort gegee word, word geensins aanbeveel nie.
Bestuiwing is baie belangrik. Wanneer die blomme verskyn moet byekorwe in die land geplaas word (indien moontlik tot 3 byekorwe per hektaar).
Fusarium is n algemene oorsaak van swak oeste. Dit kan voorkom word deur n wisselboustelsel, met ander woorde plant waatlemoene slegs een keer in vyf jaar op dieselfde land.
Onkruide moet nie toegelaat word nie want dit kompeteer met waatlemoene. Ander oorsake van swak opbrengste is te min water wat toegedien word en koueskade wat voorkom as waatlemoene te vroeg geplant word.
Met opkoms moet snywurms met lokaas beheer word. Pampoenvlieë is n algemene plaag wat met Lebaycid (fention) beheer kan word. Lebaycid moet met suiker gemeng en op die kant van die land gespat word. Indien gespuit word, sal dit bye doodmaak.
PP Brink
ELSENBURG / NOORDWESTE LOS