home about contact us news
Inligtingstukke   |   Elsenburg infopaks   |   Gewasse, groente: 5

Die verbouing van paprika Engels | Xhosa

Kliek om te vergroot!
Paprika is ’n tweejarige kruidagtige struik wat sensitief is vir lae temperature. Temperature van 24-30°C is baie geskik vir paprikaverbouing.

Daar word tans gebruik gemaak van oop bestuifde cultivars soos UF15, Papri Queen en Papri King. Papri Queen toon die beste resultate ten opsigte van opbrengs, staanvermoë en kwaliteit.

Paprika is gevoelig vir ’n vlak watertafel en vir alkaliese sowel as soutbrakgronde.

Indien paprika op grond met ’n hoë klei-inhoud geplant word, moet dit verkieslik op beddings gedoen word om dreinering te verbeter.


Kliek om te vergroot!
Grondvoorbereiding vir paprika vereis ’n fyn saadbed wat voorsiening maak vir goeie dreinering. Die grond moet so gelyk moontlik wees. Voor plant benodig paprika ’n bemesting van 2:3:4 (30) teen 450 kg/ha.

Gedurende die eerste twee weke na plant benodig die plante 50 - 100 kg KAN/ha. In weke 6-8, 14-16, 20-22 en 31-32 kan jy 1:0:1 (36) toedien teen 200 kg / ha.

Plantjies word in Oktober uitgeplant sodra die gevaar van ryp verby is en die grondtemperatuur hoër is na die winter.

Dit word aanbeveel dat paprika soos volg uitgeplant word. Plant tussen 40,000 - 50,000 plante / ha.

Dit word soos volg verkry: 

Plante word in dubbelrye wat 1,6 m van mekaar af is, geplant. Die twee rye in ’n dubbelry is ± 30 cm van mekaar af. Die spasiëring tussen plante in ’n ry is 23 - 25 cm uitmekaar.


Kliek om te vergroot!
Besproeiing net ná plant is baie belangrik om goeie wortelkontak te verseker. Plante moet in nat grond geplant word, waarna gereelde ligte besproeiings nodig is vir die eerste 2-4 weke. Dit is baie belangrik om genoeg water toe te dien terwyl en na die plante blom. ’n Droogte op hierdie stadium sal ’n verlaging in oes lewer.

Paprika is uiters gevoelig vir onkruidkompetisie.

Meganiese beheer word tans deur die meeste kwekers toegepas. Geen plante moet egter beskadig word nie. Meganiese bewerking moet sover moontlik tot ’n minimum beperk word, aangesien dit, tesame met wind, reën en insekte, bydra om virussiektes te versprei.


Kliek om te vergroot!
Plukgereedheid: Paprika is gereed om gepluk te word indien die peul om die vinger gedraai kan word sonder dat dit breek.

PP Brink
ELSENBURG / NOORDWESTE LOS